Marcus Tullius Cicero (uitspraak in Klassieke Latyn: ˈkikeroː; 3 Januarie 106 v.C. – 7 Desember 43 v.C.) was 'n Romeinse filosoof, staatsman, regsgeleerde, politieke teoretikus en Romeinse konstitusionalis.HAT Taal-en-feitegids, Pearson, Desember 2013, Hy is in 'n ryk stedelike familie van ridderstand gebore, en is algemeen as een van Rome se vernaamste redenaars en prosaskrywers beskou.Rawson, E.: Cicero, a portrait (1975) bl. 303Haskell, H.J.: This was Cicero (1964) bl. 300-301
Hy het die Romeine bekendgestel aan die hoofstrominge van Griekse filosofie en het 'n Latynse woordeskat daarvoor opgestel, wat neologismes bevat het soos humanitas, qualitas, quantitas en essentia,Conte, G.B.: "Latin Literature: a history" (1987) bl. 199 en hom onderskei as 'n taalkundige, vertaler en filosoof. Alhoewel hy 'n imponerende redenaar en suksesvolle regsgeleerde was, het Cicero nogtans sy politieke loopbaan voorgehou as sy vernaamste onderskeiding. Vandag word hy hoofsaaklik gehuldig vir sy humanisme en filosofiese en politieke geskrifte. Sy aansienlike korrespondensie, grootliks aan sy vriend Atticus gerig, was besonder invloedryk, en het die kuns van verfynde briefskrywing aan die Europese kultuur bekendgestel. Cornelius Nepos, biograaf van Atticus in die eerste eeu v.C., het opgemerk dat Cicero se briewe sodanige rykdom van besonderhede bevat "rakende die ingesteldhede van leiersfigure, die foute van generaals en die omwentelinge van die regering" dat die leser daarvan weinig bykomende geskiedskrywing van die era benodig.Cornelius Nepos, Atticus 16, vertaal deur John Selby Watson. Cicero se toesprake en briewe is van die belangrikste eietydse bronne wat oorleef rakende die laaste dae van die Romeinse Republiek.
Gedurende die woelinge in die laaste helfte van die eerste eeu v.C., wat gekenmerk is deur burgeroorloë en die diktatorskap van Gaius Julius Caesar, was Cicero 'n voorstander vir 'n terugkeer na die tradisionele republikeinse regeringsvorm. Sy loopbaan as staatsman is egter gekenmerk deur inkonsekwente beleid en 'n wispelturigheid in sy standpunte na gelang van die politieke klimaat. Sy besluiteloosheid kon miskien aan sy sensitiewe en beïnvloedbare geaardheid toegeskryf word; hy was geneig tot oorreaksie in die aanskyn van politieke en private veranderinge. "Sou hy maar in staat wees om voorspoed met groter selfbeheersing te verduur en teëspoed met meer vasberadenheid!" het sy tydgenoot C. Asinius Pollio, 'n Romeinse staatsman en historikus, van hom geskryf.Haskell, H.J.: "This was Cicero" (1964) bl. 296Castren en Pietilä-Castren: "Antiikin käsikirja", i.e. "Handboek van die oudheid" (2000) bl. 237 Cicero het 'n teenstander van Marcus Antonius geword, en 'n reeks toesprake teen hom gerig. Hierna is hy as 'n vyand van die staat geag en is voëlvry verklaar deur die Tweede driemanskap, wat hom in die jaar 43 v.C. om die lewe gebring het.
Vroeë lewe Cicero is in 106 v.C. in Arpinum gebore, 'n heuweldorp 100 km (62 myl) suid van Rome. Sy vader was 'n welgestelde lid van die ridderstand met goeie kontakte in Rome, wat egter as verswakte kranklike nie die openbare lewe kon betree nie. Hy het hiervoor vergoed deur omvangryke studies. Min is oor Cicero se moeder Helvia bekend, maar dit was normaal vir die vroue van belangrike Romeinse burgers om na huishoudelike sake om te sien. Cicero se broer Quintus skryf in 'n brief dat sy 'n spaarsamige huisvrou was.Rawson, E.: Cicero, a portrait (1975) bl. 5-6; Cicero, Ad Familiares 16.26.2 (Quintus tot Cicero)
Cicero se cognomen, of persoonsvan, is afgelei van die Latynse woord vir kekerertjie, cicer. Plutarchus verduidelik dat die naam oorspronklik aan een van Cicero se voorsate gegee is weens 'n keep op die punt van sy neus wat aan 'n kekerertjie herinner het. Meer waarskynlik egter, het Cicero se voorgeslagte muntgeslaan uit die verbouing en verkoop van kekerertjies.Trollope, Anthony. The Life of Cicero Band 1. bl. 42 Romeine het dikwels beskeie persoonsname gekies: die vername familiename Fabius, Lentulus en Piso is onderskeidelik geskoei op die Latynse woorde vir boontjies, lensies en ertjies. Plutarchus skryf dat Cicero aangemoedig is om van hierdie verkleinerende naam ontslae te raak toe hy die politiek betree het, maar hy het geweier deur te sê dat hy Cicero meer roemryk as Scaurus ("Dikenkel") en Catulus ("Hondjie") sou maak.Plutarchus, Cicero 1.3–5
links|duimnael|300px|Die jong Cicero lesendUit 'n fresco van 1464, tans in die Wallace-versameling Om as gekultiveerd beskou te word, was dit in hierdie era van die Romeinse geskiedenis nodig om Latyn sowel as Grieks magtig te wees. Die Romeinse hoëlui het dikwels Grieks bo Latyn verkies in hul onderlinge korrespondensie en Cicero, soos meeste van sy tydgenote, is daarom opgevoed in die leerstellings van die antieke Griekse filosowe, digters en geskiedskrywers. Die mees vooraanstaande retoriekleraars van die tyd was eweneens Grieks.Rawson, E.: "Cicero, a portrait" (1975) bl. 8 Cicero het sy kennis van Grieks benut om verskillende teoretiese konsepte van die Griekse filosofie in Latyn te vertaal, waardeur Griekse filosofiese werke aan 'n groter gehoor bekendgestel is. Sy omvattende opvoeding was juis sy aanknopingspunt by die tradisionele Romeinse elite.Everitt, A.:"Cicero: The Life and Times of Rome's Greatest Politician" (2001) bl. 35
Volgens Plutarchus was Cicero 'n besonder skrander student, wie se leerlingskap regoor Rome aandag getrek het,Plutarchus, Cicero 2.2 wat hom die geleentheid verskaf het om die Romeinse Reg onder Quintus Mucius Scaevola te bestudeer.Plutarchus, Cicero 3.2 Cicero se medestudente was Gaius Marius Minor, Servius Sulpicius Rufus (wat 'n beroemde advokaat sou word, een van weinige wat Cicero in regsake meer voortreflik as homself geag het), en Titus Pomponius. Die laasgenoemde twee het Cicero se lewenslange vriende geword, en Pomponius (wat later die cognomen "Atticus" ontvang het vir sy philhellenisme) sou Cicero se lewenslange vertroueling en hoofraadgewer word.
Cicero het homself 'n aanstelling in die openbare diens as doelwit gestel, as eerste stap in die voorskriftelike erekursus. In 90 v.C.–88 v.C., het hy onder Gnaeus Pompeius Strabo asook Lucius Cornelius Sulla diens gedoen tydens hul kampanjes in die Sosiale Oorlog, maar as 'n intellektueel in die eerste instansie, was die militêre lewe geensins na sy smaak nie. Cicero het sy loopbaan as advokaat om en by 83-81 v.C. begin. Sy eerste opsienbare saak, waarvan 'n skriftelike verslag behoue gebly het, was sy verdediging in 80 v.C. van Sextus Roscius op die aanklag van vadermoord.Rawson, E.: "Cicero, a portrait" (1975) bl. 22 Die aanvaarding van hierdie saak was 'n waagmoedige skuif vir Cicero; vadermoord is as 'n laakbare misdaad geag, en die persone wat deur Cicero van die moord beskuldig is, waaronder die berugte Chrysogonus, was gunstelinge van Sulla. Op hierdie tydstip sou Sulla dit maklik gevind het om die onbekende Cicero uit die weg te ruim. Cicero se verdediging was by implikasie 'n uitdaging van die diktator Sulla, en op die sterkte van sy saak, is Roscius vrygespreek.
In 79 v.C. het Cicero na Griekeland, Klein-Asië en Rhodos vertrek, miskien weens die moontlike toorn van Sulla.Haskell, H.J.: "This was Cicero" (1940) bl. 83 Cicero het na Athene gereis, waar hy Atticus weereens teëgekom het, wat intussen 'n ereburger van Athene geword het, en vervolgens vir Cicero aan sekere vooraanstaande Atheners voorgestel het. In Athene het Cicero die gewyde oorde van die filosowe besoek, maar nie voor hy verskillende retorici geraadpleeg het omtrent 'n fisies minder uitputtende redenaarstyl nie. Sy hoofinstrukteur was die retorikus Apollonius Molon van Rhodos. Hy het Cicero onderrig in 'n meer uitgebreide en minder intense redenaarstrant, wat die waarmerk van Cicero se persoonlike styl in die komende jare sou wees.
Cicero se belangstelling in filosofie het in sy latere loopbaan sterk na vore getree, sodat hy aangespoor is om Griekse filosofie aan die Romeinse kultuur bekend te stel deur die samestelling van 'n filosofiese woordeskat in Latyn. In 87 v.C. het Philo van Larissa, die hoof van die Akademie wat 300 jaar tevore deur Plato in Athene gestig is, in Rome aangekom. Cicero, "begeester met 'n buitengewone hartstog vir filosofie",Rawson, E.: "Cicero, a portrait" (1975) bl. 18 het aandagtig by sy voete gesit en Plato se filosofie ingeneem, en Plato selfs sy god genoem. Hy het die omvang van Plato se verbeelding hoog geag, maar veral sy morele en politieke erns bewonder. Cicero het nietemin Plato se teorie van idees verwerp.
Familie Cicero het met Terentia getrou; blykbaar in 79 v.C. op die ouderdom van 27. Volgens die hoër stande se norme van die dag, was dit 'n gerieflikheidshuwelik, wat tog vir sowat 30 jaar gemoedelik standgehou het. Terentia se familie was welgesteld, waarskynlik die plebeiese adelhuis van Terenti Varrones, wat met ander woorde voldoen het aan Cicero se politieke aspirasies in ekonomiese sowel as sosiale opsigte. 'n Suster (of niggie) aan haar ma se kant, genaamd Fabia, het as kind 'n Vestaalse maagd geword, 'n baie groot eer. Terentia was 'n vrou met 'n sterk wil, wat (volgens Plutarchus) "meer belangstelling in haar gade se politieke loopbaan getoon het, as wat sy hom by huishoudelike sake toegelaat het".Rawson, E.: "Cicero, a portrait" (1975) bl. 25
In die 50's v.C. het Cicero se briewe aan Terentia korter en killer geword. Hy het by sy vriende begin gekla dat Terentia hom in die steek gelaat het, maar het nie aangedui in watter opsig nie. Miskien kon die huwelik bloot nie die stremming van die politieke omwentelinge te Rome, Cicero se betrokkenheid daarby, en etlike ander onderlinge dispute deurstaan nie. Die egskeiding blyk in 51 v.C. plaas te gevind het, of kort daarvoor.Susan Treggiari, Terentia, Tullia and Publilia: the women of Cicero's family, Londen: Routledge, 2007, bl. 76f. In 46 of 45 v.C.Treggiari, op. cit., bl. 133 het Cicero met 'n jong meisie, Publilia, getrou, van wie hy voorheen die voog was. Dit word vermoed dat Cicero haar geld benodig het, veral ná die terugbetaling van Terentia se bruidskat, aangesien Publilia uit 'n welgestelde familie afkomstig was.Rawson, E.: Cicero bl. 225 Hierdie huwelik het nie lank geduur nie.
Alhoewel sy huwelik met Terentia een van gerieflikheid was, is dit algemeen bekend dat Cicero 'n groot liefde vir sy dogter Tullia gekoester het.Haskell H.J.: This was Cicero, bl. 95 Toe sy skielik in Februarie 45 v.C. siek word, en te sterwe kom na 'n blykbare herstel van die geboorte van haar seun in Januarie, was Cicero oorstelp. "Ek het die een ding verloor wat my tot die lewe verbind het" het hy aan Atticus geskryf.Haskell, H.J.: "This was Cicero" (1964) bl. 249 Atticus het hom genooi vir 'n besoek tydens die eerste weke van sy routyd, sodat hy hom kon onderskraag toe sy pyn die grootste was. In Atticus se groot biblioteek het Cicero alles gelees wat die Griekse filosowe oor herstel van droefheid geskryf het; "maar my verdriet oortref alle vertroosting."Cicero, Letters to Atticus, 12.14. Rawson, E.: Cicero bl. 225 Caesar en Marcus Brutus asook Servius Sulpicius Rufus het aan hom briewe van meegevoel gestuur.Rawson, E.: Cicero bl. 226Cicero, Samtliga brev/Versamelde briewe