Die huis in die Kaaps-Hollandse boustyl op die historiese plaas La Provence word deur kenners as die aantreklikste in die Franschhoekvallei beskou. '' Ligging La Provence lê net wes van Franschhoek in die rigting van Simondium, Paarl en Wellington en by die koordinate 33° 53′ 33″ suid en 19° 5′ 9″ oos. Ander bekende plase in die omgewing uit dieselfde tydperk is Allée Bleue, Bien Donné, Babilonstoring, Boschendal, Laborie, L’Arc d’Orleans, La Concorde, La Motte, La Paris, Lekkerwyn, L’Ormarins, Meerlust, Rhône, Simonsvlei en Zorgvliet.

Huis Hierdie plaas van meer as 60 hektaar is in 1694 deur die VOC toegken aan die Hugenoot Pierre Joubert uit De la Motte d’Aigues in Provence. In 1756 bou Pieter de Villiers die huis en in 1800 word die huis tot ‘n H-vorm omskep met ‘n holbol-gewel. Op hierdie gewel staan D3MD13D, met die betekenis “die derde maand, die 13de dag”, dus 13 Maart 1800. ‘n Volgende eienaar. Pieter Joubert, bou in 1815 aan die westelike kant van die huis nog ‘n gewel. Dus het die huis nou twee perfekte neo-klassieke gewels. Dit het ‘n rietdak, vensters met klein ruitjies en hortjies en bo- en onderdeure. Binne die huis is ingeboude kaste van stinkkout. Met die Bolandse aardbewing van 1969 is die huis beskadig, maar met die hulp van Gawie Fagan is dit so herstel dat dit nou as een van die besbewaarde opstalle uit die 18de eeu in die Boland is.

Bibliografie Fransen, Hans: A guide to the old buildings of the Cape. A survey of extant architecture from before c1910 in the area of Cape Town, Calvinia, Colesberg, Uitenhage. Kaapstad: Jonathan Ball, 2004. ISBN 1-86842-191-0 https://artefacts.co.za/main/Buildings/bldgframes_mob.php?bldgid=377 https://www.grandeprovence.co.za/ https://www.wineries.co.za/franschhoek/la-provence

Kategorie:Wes-Kaap