Die Cuylerville-kerkie (die St. Mary’s Anglikaanse kerk) naby Bathurst is ‘n belangrike historiese gedenkwaardigheid vir die nasate van die 1820-Setlaars.

Ligging Hierdie klipgeboutjie is by 33° 29′ 36″ suid, 27° 00′ 49″ oos, langs ‘n gruispad wat ewewydig aan die kus van Bathurst na die mond van die Groot-Visrivier loop. Ongeveer halfpad en aan die regterkant van die pad onder bome staan die geboutjie. Dit moet nie verwar word met die Shaw Metodiste kerk effens verder op dieselfde pad nie.

Geskiedenis Die eerste groep Britse Setlaars het met die skip Chapman in Algoabaai aangekom. Hulle was ‘n groep van 259 onder leiding van lt. John Bailie. Hierdie eerste groep is met 490 waens deur kol. Jacob Cuyler, die landdros van Uitenhage en bevelhebber van Fort Frederick na hul beoogde plek van vestiging vergesel. Op 30 Aprill 1820 het hulle daar aangekom waar 64 kleinhoewes van een akker vir hulle uitgemeet is. Uit erkentlikheid aan die landdros is die vestiging Cuylerville genoem. In 1825 is ‘n geboutjie wat as kerk en skool moes dien, opgerig. Tydens die Kaapse grensoorloë is die gemeenskappie herhaaldelik deur die Xhosa aangeval en het die kerk selfs as fort gedien. Veral tydens die Sesde Grensoorlog van 1834 het die kerk erg gely. Op 15 September 1840 het kol. Henry Somerset die hoeksteen van die nuwe kerk en skool gelê. ‘n Klipmuur is in 1834 om die kerkwerf gebou en tydens die Oorlog van die Byl in 1846 is herhaaldelike aanslae suksesvol afgewend. Weens die aanhoudende aanvalle van oor die grens, die Groot-Visrivier, het van die idee van dorpstigting niks gekom nie. Tans btaan nog slegs die kerkie uit daardie tyd. Dit is in 1961 tot monument verklaar.

Betrokke persone John Bailie (*Carnatuk, Indië, 5 Julie 1788 - †naby Port St. Johns, Pondolandse kus, 27 Julie 1852), 1820-Setlaar, pionier-seevaarder, feitlik stiger van Oos-Londen Henry Somerset (*Londen, 30 Desember 1794 - †Gibraltar, 15 Desember 1862), Britse soldaat

Bronnelys Hatfield, Denis: Some South African monuments. Kaapstad: Purnell, 1967 Oberholster, J.J.: Die historiese monumente van Suid-Afrika. Kaapstad: Kultuurstigting Rembrandt van Rijn vir die Raad vir Nasionale Gedenkwaardighede, 1972

Verwysings

Kategorie:Monumente en gedenkwaardighede in Suid-Afrika Kategorie:1820-Setlaars