Moritz (soms Maurits) Hermann Otto Wucke (later geskryf as Woeke) was van 1785 tot 1792 die eerste landdros van Graaff-Reinet en moes die probleme tussen die Xhosa, Boesmans en die blanke boere op die verre oosgrens van die kolonie besweer.

Afkoms Woeke is op 29 Mei 1743 in Ketz in Brandenburg an der Havel gebore. Sy pa was daar ‘n plaaslike Lutherse predikant.

Vertrek na die Kaap In 1768 sluit die jong Moritz by die VOC aan en arriveer die volgende jaar aan boord van die Ouder Amstel as soldaat in Kaapstad. Hierna vind ontwikkelinge vinnig plaas: in 1772 word hy geregsbode in Stellenbosch en Drakenstein, op 10 Januarie 1773 trou hy met Engela van As, in 1781 word hy deur die VOC die status van burger verleen en in 1783 koop hy die plaas Oude Molen by Stellenbosch. Saam met 14 ander boere nader hy die bewindhebbers aan die Kaap om groter ekonomiese vryhede vir die boere. Hy maak so ‘n goeie indruk op die gemeenskap dat hulle hom by die VOC aanbeveel as landddros vir ‘n beoogde nuwe distrik.

Landdros Op 13 Desember 1785 is hy deur die Politieke Raad aangestel as die eerste landdros van die distrik Graaff-Reinet. Hy kies die geskikte plek in die draai van die Sondagsrivier vir die beoogde drosdy en lê die dorp uit. Woeke en ‘n geselskap reis deur die nuwe administratiewe gebied om die grense daarvan te beskryf alvorens dit op 19 Julie 1786 in ‘n plakkaat publiek bekend gemaak is. In Oktober 1786 vestig hy die hof van landdros en 6 heemrade. Aanvanklik lyk dit of die energieke optrede van Woeke vrugte afwerp, maar die probleme is baie en groot. Die grensboere voel onveilig weens die aanvalle en plunderinge deur die Boesmans, die Xhosa en die blanke leeglêers en drosters uit die Kaap wat in die grensgebiede lastig is. Strooptogte deur alle partye vind plaas, derduisende beeste, skape en bokke is ooswaarts oor die Visrivier gedryf en veewagters word vermoor. Die blanke boere ly reusagtige skade.

Grensbotsing Woeke se belangrikste taak by sy aanstelling was om die vrede tusssen die trekboere en die Xhosa op die grens, die Visrivier, te handhaaf en toesien dat die koloniste en die Xhosa aan hulle eie kant van die grens bly. Nie een van die partye eerbiedig die grens nie. Blankes neem nog steeds deel aan onwettige veehandel, blanke olifantjagters ignoreer die grens en die Xhosa-plunderinge en -invalle gaan onverminderd voort. Boonop word bewerings gemaak van mishandeling van bediendes deur die boere. In so ‘n situasie was dit moeilik om wet en orde te handhaaf. Onderhandelinge met die Xhosa misluk aaneen weens die magstryd binne die Xhosa-leierskap. Weens die Xhosa se getalsoorwig besef Woeke dat vrede slegs gehandhaaf kan word deur ‘n sterk en goedbewapende kommandomag, maar die Politieke Raad wil geweld vermy. Die nuwe politieke gees van die Franse Rewolusie speel boonop sy rol. Daarby het in Graaff-Reinet Woeke en sy assistent Honoratus Maynier so sleg klaargekom dat Woeke aan die drank geraak het. Teen 1789 het sake erg versleg: die VOC was so te sê bankrot en kon nie bekostig om troepe na die oosgrens te stuur nie.

Ontslag Kol. Robert Jacob Gordon belê vir 1 Julie 1792 ‘n gesamentlike vergadering van die landdroste van Swellendam, Graaff-Reinet en Kaapstad met al hul heemrade om die bedreiging van die Boesmans op die plase te bespreek. Woeke daag egter nie op nie. Weens hierdie minagting van hoër gesag, maar ook weens sy drankmisbruik en slegte humeur word Woeke on Oktober 1792 as landdros ontslaan en opgevolg deur Maynier. Toe Woeke in 1803 die VOC nader om in sy status herstel te word, word dit van die hand gewys. Op 5 Augustus 1814 is hy in die distrik van Stellenbosch oorlede.

Bibliografie de Wet, Con en Leon Hattingh en Jan Visagie (reds.): Die VOC aan die Kaap, 1652-1795. Pretoria: Protea, 2016. Standard Encyclopaedia of Southern Africa, deel 11. Kaapstad: Nasou, 1975. Suid-Afrikaanse Biografiese Woordeboek, deel 2. Kaapstad: Tafelberg Uitgewers vir die Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing, 1972. wikitree.com/wiki/Woeke-5

Kategorie:Geskiedenis van Suid-Afrika