Die migrasie na Abessinië (Arabies: الهجرة إلى الحبشة, al-hijra ʾilā al-habaša), ook bekend as die Eerste Hidjra (الهجرة الأولى, al-hijrat al'uwlaa), was 'n episode in die vroeë geskiedenis van die Islam, toe die eerste volgelinge van die profeet Mohammed (hulle was bekend as die Metgeselle van die Profeet) uit Arabië migreer het weens hulle vervolging deur die Koeraisj, die regerende Arabiese stamkonfederasie van Mekka. Hulle het in  in 9 BH (613 n.C.) of 7 BH (615 n.C.) skuiling in die Koninkryk Aksoem gesoek en dit gekry. Die koninkryk was 'n staat in die hedendaagse Noord-Ethiopië en Eritrea, en was ook bekend as Abessinië. Die hoofstad was Aksoem, 'n antieke stad in die Tigrai-streek van Ethiopië. Die regerende Aksoemitiese koning wat hulle ontvang het, is in Islamitiese bronne bekend as die Nadjasji (نجاشي). Moderne historici het hom geïdentifiseer as óf Armah óf Ella Tsaham.

Sommige van die metgeselle het na Mekka teruggekeeer en die migrasie na Medina saam met Mohammed aangepak, terwyl ander in Aksoem gebly en in 628 in Medina aangekom het.

Die metgeselle van die Eerste Hidjra was 11 mans en 4 vroue, en hulle het Oethman ibn Mazoen as hulle leier gekies. Terwyl hulle in Abessinië was, het hulle gehoor die mense van Mekka het hulle tot die Islam bekeer. Van hulle het na Mekka teruggekeer, maar uitgevind dit is nie waar nie. Hulle het dus na Abessinië teruggekeer, en nog 'n groep het saam met hulle gegaan. Dit was die Tweede Hidjra. In dié groep was 83 mans, hulle vroue en hulle kinders onder leiding van Ja'far ibn Abi Talib.

Agtergrond Volgens die tradisionele siening het vervolging lede van die vroeë Islamitiese gemeenskap in Mekka in die gesig gestaar, en Mohammed het hulle aangeraai om skuiling in Aksoem te gaan soek. Die vroegste bestaande weergawe kom voor in die biografie van die 8ste-eeuse Moslemse historikus Ibn Isjak:

'n Ander siening, wat op die politieke ontwikkelings van die tyd geskoei is, is dat baie volgelinge ná die verowering van Jerusalem in 614 deur die Sassanidiese Ryk 'n potensiële gevaar vir die gemeenskap gesien het, omdat hulle nie aanhangers van die Perse was nie weens hulle aanhang van Zoroastrisme en hulle vroeëre steun aan die Jode van Arabië in Himjar. Die aanvaarding van dié Moslems in Aksoem op presies die oomblik van Persiese triomf in die Levant roep in herinnering die Aksoemitiese buitelandse beleid van die vorige eeu, toe Aksoem en Persië meegeding het om invloed in Arabië.Bowersock, G.W (Dr). The Throne of Adulis: Red Sea Wars on the Eve of Islam. Oxford University Press, 2013.

Die migrasie(s) Volgens historici van die Islam was daar twee migrasies, hoewel hulle verskil oor die datums.Rafiq Zakaria, 1991, Muhammad and The Quran, Nieu-Delhi: Penguin Books, pp. 403-4.

Die eerste groep het in die jaar 7 BH of 9 BH uit Arabië na Aksoem gevlug en het asiel van die Nadjasji gekry. In dié groep was Mohammed se dogter Roekajja en skoonseun Oethman ibn Affan, wat ná Mohammed se dood die derde kalief van die Rasjidoen-kalifaat geword het. Voor hulle uittog het Mohammed Oethman ibn Maz'oen, een van sy belangrikste metgeselle, as leier van die groep gekies. Ná 'n jaar het die groep gerugte gehoor dat die Koeraisj tot die Islam bekeer is, en hulle het na Mekka teruggekeer. Toe hulle besef dit is nie waar nie, het hulle in 6 BH (616 n.C.) of 7 BH (615 n.C.) na Aksoem teruggekeer, vergesel van ander nuut bekeerde Moslems.

Sommige Westerse historici, soos Leone Caetani (1869-1935) en William Montgomery Watt (1909-2006), bevraagteken die feit dat daar twee migrasies was. Hoewel Ibn Isjak twee oorvleuelende lyste van migrante verskaf het, het hy nie genoem dat die eerste groep weer teruggekeer het nie. Watt reken daar was 'n paar kleiner groepe eerder as twee groot migrasies.

Einde van die Moslemse bannelingskap Baie van die uitgewekenes in Aksoem het in 622 na Mekka teruggekeer en saam met Mohammed na Medina migreer, terwyl 'n tweede groep in 628 gevolg het.

Verwysings

Skakels

Kategorie:Koninkryk Aksoem