American Son is 'n Amerikaanse dramarolprent met Kenny Leon as regisseur en Christopher Demos-Brown as skrywer. Dit is geskoei op Demos-Brown se Broadway-toneelstuk van dieselfde naam.

Die akteurs is Kerry Washington, Steven Pasquale, Jeremy Jordan en Eugene Lee. Die première was op 12 September 2019 op die Toronto- Internasionale Rolprentfees en dit het op 1 November 2019 op Netflix begin wys.

Die prent is benoem vir 'n Emmy vir voortreflike televisieprent.

Rolverdeling Kerry Washington as Kendra Ellis-Connor Steven Pasquale as Scott Connor Jeremy Jordan as die polisieman Paul Larkin Eugene Lee as luitenant John Stokes

Storielyn

Op 'n stormagtige nag wag Kendra Ellis-Connor in 'n polisiekantoor in Miami vir 'n verslag oor waar haar seun, Jamal, is, want hy het skielik verdwyn. Sy vra die hulp van die polisieman Paul Larkin, wat haar niks kan vertel nie. Vanweë protokol en 'n gebrek aan kennis sê hy vir haar hy moet vir luitenant John Stokes wag. Haar vervreemde man, die FBI-agent Scott Connor, kom by die polisiekantoor aan en eis om te weet waar Jamal is.

Larkin vertel vir Scott dat Jamal en nog twee swart mans deur die polisie van die pad af getrek is. Hy sê Jamal se motor het 'n uitdagende bufferplakker opgehad oor geweld teen polisiemanne. Dié onthulling lei tot 'n lang argument tussen Kendra en Scott, waarin hulle hulle stormagtige huwelik bespreek, asook hulle ondervindings om 'n seun van gemengde afkoms in 'n bevoorregte gemeenskap groot te maak. Kendra vertel herhaaldelik hoe depressief en geïsoleer Jamal voel as een van baie min swart seuns in sy skool (hy verwys na homself as "die gesig van die ras"). Scott sê Jamal moes beter geweet het as om hom as 'n "gangsta" voor te doen.

Larkin keer terug en sê Jamal was saam met twee ander swart mans, en daar was 'n lasbrief vir dwelmbesit vir een man uitgereik. Hierna raak Kendra en Scott weer betrokke in 'n lang rusie oor hoe Jamal grootgeword het in 'n omgewing van rassespanning, spesifiek in die lig van Kendra se eie ervarings as 'n swart vrou en haar vrese oor 'n moontlike konfrontasie tussen Jamal en die polisie. Kendra sê ook Jamal was kwaad vir Scott omdat hy hulle verlaat het, en dit is hoekom hy die bufferplakker op die motor geplak het. Scott ontvang 'n video van sy broer, wat 'n opname toon van die padblokkade waarin Jamal betrokke was. In die video skiet 'n polisiebeampte op 'n verdagte wat probeer vlug, terwyl 'n omstander dit opneem.

Net toe kom luitenant Stokes daar aan en arresteer Scott omdat hy hom gestamp het. Nadat Scott vrygelaat is met 'n hofbevel om te verskyn, onthul Kendra dat Jamal die huis verlaat het na 'n argument met haar.

Stokes kry toe 'n volledige verslag van die voorval: Bell, Rolle en Jamal het in Liberty City rondgery, waar Bell (wat die motor bestuur het) gestop het om dagga te koop. Rodney Banks, 'n swart polisiebeampte, het die transaksie gesien en die motor afgetrek. Nadat Bell en Rolle uit die voertuig geklim het om Banks te konfronteer, het Bell gevlug nadat Banks sy geweer op albei gerig het. Jamal het intussen ook uitgeklim en probeer om homself met sy hande op die enjinkap te posisioneer. Banks het drie skote op Bell gevuur. Een van die koeëls het Jamal per ongeluk in die kop getref en hy is op slag dood.

Ontvangs Die prent het negatiewe resensies gekry en sy kommentaar op die rassekwessie is as "lomp" beskryf. Op Rotten Tomatoes het dit 'n goedkeuringsyfer van 46% gekry, gebaseer op 26 resensies. Op Metacritic het die prent 'n punt van 33 uit 100 gekry, gebaseer op 6 resensies.

American Son is in 2021 benoem vir 'n Emmy vir voortreflike televisieprent.

Verwysings

Skakels

Kategorie:Amerikaanse rolprente