Thailand (Thai: ประเทศไทย, Prathet Thai, [pra.tʰêːt tʰaj], ), amptelik die Koninkryk Thailand (ราชอาณาจักรไทย, Ratcha-anachak Thai, [râːt.t͡ɕʰa.ʔaː.naː.t͡ɕàk tʰaj], ), is 'n land in Suidoos-Asië met 'n oppervlakte van 513 120 km² en 'n bevolking van byna 70 miljoen. Thailand word ook Siam (สยาม, Sayam, [sa.jǎːm]) genoem, wat die land se amptelike naam was tot 24 Junie 1939 en van 1945 tot op 11 Mei 1949. Die woord "Thai" beteken "vry" in die Thaise taal. Die hoofstad en grootste stad van Thailand is Bangkok.
duimnael|links|Nasa-satellietbeeld van Thailand 'n Burger van Thailand word gewoonlik geïdentifiseer as 'n "Thai" of "Siamees" (verouderd), wat streng gesproke slegs na etniese Thais verwys. Meeste Thais is Theravada-Boeddhiste van Thai-afkoms, maar die land het ook 'n beduidende aantal minderhede, veral Han-Chinese, maar ook Moslemse Maleiers in die suide.
Thailand is in die sentrum van die Indo-Chinese Skiereiland geleë. Dit grens in die ooste aan Laos en Kambodja, in die suide aan die Golf van Thailand en Maleisië en in die weste aan die Andamanse See (deel van die Indiese Oseaan se Golf van Bengale) en Mianmar (vroeër Birma). Wes van Thailand is die Andaman- en Nicobar-eilande geleë wat aan Indië behoort en in die suidweste is die Indonesiese eiland Soematra geleë. Daarbenewens deel Thailand 'n maritieme grens met Viëtnam in die Golf van Thailand.
Thailand se hoofnywerhede is vervaardiging, landbou en toerisme. Dit word as 'n nuut-geïndustrialiseerde land beskou en is 'n lidland van die streekorganisasie ASEAN.
Etimologie Die land se amptelike naam was "Siam" tot 24 Junie 1939, maar dit het weer as "Siam" bekend gestaan tussen 1945 en 11 Mei 1949, voor dit weer deur 'n amptelike bekendmaking verander is na Thailand (Thai: Prathet Thai). Reeds voor die amptelike naamsverandering het Thais na hulle land verwys as Muang Thai. Die woord "Thai" (ไทย) is afgelei van die woord "Tai" (ไท), wat in Thai "vryheid" beteken. Thai is ook die naam van die grootste etniese groep in Thailand.
Siam duimnael|links|SPPM Mongkut Rex Siamensium, Koning Mongkut se handtekening Die land is deur sy inwoners nog altyd Mueang Thai genoem. Voor 1949 is na die land deur buitestaanders gewoonlik verwys as Siam (Thai: สยาม, sayam, [sajǎːm], ook gespel Siem, Syâm of Syâma). Die woord Siam is dalk van Pali afkomstig (suvaṇṇabhūmi, "land van goud") of Sanskrit श्याम (śyāma, "donker") of Mon ရာမည (rhmañña, "vreemdeling"). Die name Shan en A-hom blyk variante van dieselfde woord te wees. Die woord Śyâma is waarskynlik nie die oorsprong nie, maar 'n kunsmatige aanpassing oor die jare heen. 'n Ander idee is dat die naam van Chinese afkomstig is: "Ayutthaya het na vore gekom as 'n oorheersende sentrum laat in die 14de eeu. Die Chinese het hierdie streek Xian genoem wat die Portugese herskep het na Siam. 'n Verdere moontlikheid is dat Mon-pratende mense wat suid migreer het hulself syem genoem het, soos die inheemse Mon-Khmer-pratende inwoners van die Maleise Skiereiland.
Koning Mongkut (aan bewind 1851–1868) se handtekening het SPPM gelees vir Somdet Phra Poramenthra Maha of Latyn: Mongkut Rex Siamensium ("Mongkut, Koning van die Siamese"). Dit het amptelike status aan die naam Siam gegee tot 24 Junie 1939, toe die landsnaam verander is na "Thailand". "Thailand" het van 1945 tot 1949 terug geval na Siam, nadat dit op 11 Mei finaal verander is na "Thailand".
Thailand duimnael|links|"Koninkryk Thailand" in Thai-skrif, 'n plaaslike uitdrukking wat na Thailand verwys Volgens George Cœdès beteken Thai (ไทย) "vrye man" in Thais, "om die Thaise te onderskei van die inboorlinge wat in die Thaise samelewing as slawe bestaan". 'n Bekende Thaise geleerde argumenteer dat Thai (ไท) eenvoudig "mense" of "menswees" beteken, aangesien sy ondersoeke wys dat in sommige landelike gebiede die woord "Thai" gebruik is pleks van die algemene Thai-woord khon (น) vir mense. จิตร ภูมิศักดิ์ 1976: "ความเป็นมาของคำสยาม ไทย ลาวและขอม และลักษณะทางสังคม ของชื่อชนชาติ" (Jid Phumisak 1976: "Coming into Existence for the Siamese Words for Thai, Laotian and Khmer and Societal Characteristics for Nation-names") Volgens Michel Ferlus het die etnonieme Thai-Tai (of Thay-Tay) ontwikkel van die etimon *k(ə)ri: ("menswees") deur die volgende ketting: *kəri: > *kəli: > *kədi:/*kədaj > *di:/*daj > *dajA (Proto-Suidwestelike Tai) > tʰajA2 (in Thai en Lao) of > tajA2 (in die ander Suidwestelike en Sentrale Tai-tale soos klassifiseer deur Li Fangkuei). Michel Ferlus se werk is gebaseer op eenvoudige reëls van fonetiese veranderinge wat in die Sinofeer waarneembaar is en vir die meeste deel deur William H. Baxter (1992) ondersoek is.
Terwyl Thais na hul land met die beleefde vorm prathet Thai (ประเทศไทย) wil verwys, gebruik hulle algemeen veral die term mueang Thai (เมืองไทย) of net Thai; die woord mueang, wat oorspronklik na 'n stadstaat verwys het, is veral gebruik om na 'n stad te verwys as die sentrum van 'n gebied. Ratcha Anachak Thai (ราชอาณาจักรไทย) beteken "Koninkryk Thailand" of "Koninkryk Thai". Etimologies bestaan dit uit: ratcha (Sanskrit: राजन्, rājan, "koning, koninklik, ryk"); -ana- (Pali: āṇā "gesag, bevel, mag", op sy beurt afgelei van Sanskrit आज्ञा, ājñā, met dieselfde betekenis) -chak (van Sanskrit चक्र, cakra- "wiel", 'n simbool van mag en heerskappy). Die Thaise Volkslied (เพลงชาติ), geskryf deur Luang Saranupraphan gedurende die 1930's, verwys na die Thaise nasie as prathet Thai (ประเทศไทย). Die eerste reël van die volkslied lees: prathet thai ruam lueat nuea chat chuea thai (ประเทศไทยรวมเลือดเนื้อชาติเชื้อไทย), "Thailand is die eenheid van Thaise vlees en bloed".
Geskiedenis duimnael|links|Siam se territoriale verliese aan Britte en Franse volgens jare duimnael|Skildery van Ayutthaya deur Johannes Vingboons, ca. 1665 duimnael|Franstalige kaart van Siam in 1686 Verskeie inheemse kulture het reeds sedert die tyd van die Ban Chiang-kultuur (ongeveer 2000 v.C.), in Thailand bestaan. As gevolg van die land se geografiese ligging is die kultuur van Thailand nog altyd sterk deur Indië, China en ander buurkulture van Suidoos-Asië beïnvloed. Boeddhisme is vir die eerste keer in die 5de eeu in die Chaopraya-bekken in die vorm van Indiese gode ingevoer; waarskynlik sonder goed gedefinieerde sektes en tradisies. In die 12de eeu het monnike uit Sri Lanka egter die Theravada-vorm van Boeddhisme na Thailand gebring waar dit vinnig floreer het. Die eerste Siamese/Thai-staat word tradisioneel as die Boeddhistiese Koninkryk Sukhothai beskou. Dié koninkryk was 'n vroeë koninkryk in die omgewing van die stad Sukhotai in Noordsentraal-Thailand, wat van 1238 tot 1438 bestaan het.
Die koninkryk se mag is later oorskadu deur die groter Siamese Koninkryk Ayutthaya wat in die middel van die 14de eeu gestig is. Dié koninkryk was geleë om die huidige stad Ayutthaya in die gelyknamige provinsie in Sentraal-Thailand. Na die Siamese magte Angkor in 1431 geplunder het, is baie van die Khmer-ryk en sy Hindoe-gewoontes na Ayutthaya teruggeneem, en is baie van die gewoontes en rituele in die kultuur van Siam aangeneem.
Na Ayuthaya in 1767 deur die Burmese verower is, was Thonburi vir 'n kort periode die hoofstad van Thailand, onder leiding van Koning Taksin die Grote. Die huidige era van Thailand se geskiedenis het in 1782 begin, na die instelling van Bangkok as die hoofstad van die Chakri-dinastie, onder leiding van Koning Rama die Grote.
Europese moondhede het in die 16de eeu na Thailand begin reis. Ondanks die druk wat deur Europa uitgeoefen is, is Thailand die enigste Suidoos-Asiatiese land wat nooit deur 'n Europese mag gekoloniseer is nie. Die twee hoofredes hiervoor is dat Thailand 'n lang reeks suksesvolle leiers in die 1800's gehad het en dat dit die vyandigheid en spanning tussen die Franse en Britte uitgebuit het. As gevolg hiervan het die land 'n bufferstaat tussen dele van Suidoos-Asië wat deur die twee kompeterende Europese koloniale magte gekoloniseer is geword. Die invloed van 'n nabygeleë Britse kolonie het egter gelei tot baie hervormings in die 19de eeu en groot toegewings aan Britse handelsbelangstellings. 'n Voorbeeld hiervan was die verlies van die drie suidelike provinsies, wat later Maleisië se drie noordelike deelstate sou word. Vervolgens is die onafhanklike Thailand in die weste deur Brits-Indië, in die ooste deur Frans-Indo-China en in die suide deur Brits-Malaya begrens.
'n Niegeweldadige rewolusie in 1932 het gelei tot 'n nuwe grondwetlike monargie. Tydens die Tweede Wêreldoorlog was Thailand geallieerd met Japan, maar het na die oorlog 'n bondgenoot van die Verenigde State van Amerika geword en onder meer aan die Korea-oorlog en die Viëtnamoorlog deelgeneem. Na 'n reeks staatsgrepe het Thailand in die 1980's begin nader beweeg aan 'n demokrasie. Op 13 Oktober 2016 is Thailand se monarg, Bhumibol Adulyadej op die ouderdom van 88 oorlede. Hy was ook bekend as Rama IX en die wêreld se langsdienende staatshoof.
In 1997 is Thailand getref deur die Asiatiese finansiële krisis en die geldeenheid van Thailand, die baht, het vir 'n kort periode daaronder gely: voor 1997 was VS$1 gelykstaande aan 25 baht, maar tydens die krises was $1 gelykstaande 56 baht. Sedertdien het die baht egter sterker geword en, in Augustus 2024, was $1 gelyk aan 34,63 baht.
Die amptelike kalender wat in Thailand gebruik word is gebaseer op die Oostelike weergawe van die Boeddhistiese kalender wat die Gregoriaanse kalender met 543 jaar voorloop. Die jaar 2024 n.C. staan byvoorbeeld in Thailand bekend as 2567 BE.
Die onlangse jare is veral gekenmerk deur grenskonflikte met die buurland Kambodja rondom die Prasat Preah Vihear wat in 2008 deur Unesco as wêrelderfenis gelys is. In Suid-Thailand pleit etniese Maleiers al sedert jare vir 'n vereniging met Maleisië.
Geografie duimnael|links|Topografiese kaart van Thailand duimnael|Kaart van Thailand Thailand is die 50ste grootste land in die wêreld met 'n oppervlakte van 513 120 km². Dit kan vergelyk word met die grootte van Jemen en is ietwat groter as Spanje.
Groot stede sluit in die hoofstad Bangkok, Chiang Mai, Hat Yai, Nakhon Ratchasima, Nonthaburi, Pak Kret, Surat Thani en Udon Thani.
Thailand het verskeie gebiede wat geografies van mekaar verskil; hierdie gebiede kom ook min of meer ooreen met die onderskeie provinsies van die land. Die noorde van die land is bergagtig, met die piek van die berg, Doi Inthanon, as die hoogste punt met 'n hoogte van 2576 m. Die noordooste bestaan uit die Khorat-plato en strek oor 'n area van 155 000 km². Die plato word in die ooste deur die Mekongrivier begrens. In die weste vorm die Salweenrivier vir 'n kort stukkie die grens tot Mianmar. Die middel van die land word oorheers deur die hoofsaaklik plat Chao Phraya-riviervallei, wat inloop by die Golf van Thailand. Die suide bestaan uit die dun landengte wat breër word nader aan die Maleise Skiereiland.
Die plaaslike klimaat is tropies en word gekenmerk deur moesons: reënerige seisoene wat etlike maande aanhou. Vanaf die middel van Mei tot September is daar 'n reënerige, wolkerige dog warm suidwestelike moeson en 'n droër, koel noordoostelike moeson van November tot die middel van Maart. Die suidelike landengte is altyd warm en bedompig.
Demografie duimnael|links|Etniese kaart van Thailand duimnael|'n Vrou van die klein Kayan-etniese groep, waarvan sommige lede in die 1990's uit Mianmar na Thailand gevlug het