Spanje (Spaans: España, [esˈpaɲa], ), amptelik die Koninkryk Spanje (Spaans: Reino de España, Katalaans: Regne d'Espanya, Aragonees: Reino d'Espanya, Asturies: Reinu d'España, Baskies: Espainiako Erresuma, Galicies: Reino de España, Oksitaans: Reiaume d'Espanha), is 'n land in die suidweste van Europa. Dit deel die Iberiese Skiereiland met Portugal en Gibraltar. In die noorde word Spanje begrens deur die Pireneë van Frankryk en die landjie Andorra. Die Baleariese Eilande in die Middellandse See, die Kanariese Eilande langs die weskus van Noord-Afrika, asook die eksklawes Ceuta en Melilla in Noord-Afrika, wat deur Marokko omring word, maak deel uit van Spanje se staatsgebied. Dit beslaan 'n oppervlakte van 505 370 km² en het in 2026 'n bevolking van 49 687 120 gehad.
duimnael|links|Nasa-satellietbeeld van Spanje duimnael|links|Geografiese kaart van Spanje Spanje is 'n grondwetlike erflike monargie nadat dit dekades lank, tot die fascistiese leier of caudillo Francisco Franco se afsterwe in 1975, deur 'n diktatoriese regime beheer is. Administratief word die land onderverdeel in 17 outonome gemeenskappe en twee outonome stede, die eksklawes Ceuta en Melilla. Die hoofstad en grootste metropool is Madrid. Ander belangrike metropolitaanse gebiede sluit in Barcelona, Valencia, Sevilla, Zaragoza, Málaga en Bilbao.
Spanje is 'n lidland van die Verenigde Nasies (VN, sedert 14 Desember 1955), die Organisasie vir Ekonomiese Samewerking en Ontwikkeling (OESO, sedert 1961), die Europese Unie (EU, sedert 1 Januarie 1986) en die Noord-Atlantiese Verdragsorganisasie (NAVO, sedert 30 Mei 1982). Dit is een van die hoogs ontwikkelde nywerheidslande en word ook onder die wêreld se grootste twintig in- en uitvoerlande gereken. Danksy 'n hoogs ontwikkelde toerismesektor is Spanje die tweede meesbesoekte land op aarde ná Frankryk. In 1999 het die land by die eurosone aangesluit; sedert 2002 is Eurobanknote en -muntstukke in omloop.
Die amptelike taal is Spaans (oftewel Kastiliaans, Castellano), met Katalaans as tweede ampstaal in die outonome gemeenskappe van Katalonië, Valencia en op die Baleariese Eilande; Baskies in die Baskeland en dele van Navarra; Galicies in Galisië en Aranees in die Val d'Aran. Aragonees en Asturies word as streekstale erken. Die bevolking word volgens taal of dialek en kultuur onderverdeel in Kastiliane in Noord- en Sentraal-Spanje, Andalusiërs in die suide, Galiciërs in die noordweste, Baske in die noordoostelike Atlantiese kusgebied en Katalane in die noordoostelike Mediterreense streek.
Die geskiedenis van Spanje se kultuur strek terug tot in die prehistoriese tydperk toe die land omstreeks 15 000 v.C. deur die Iberiërs bewoon is wat hul naam aan die Iberiese Skiereiland verleen het. Die geskiedenis van kuns in Spanje strek oor byna twintig millennia, van paleolitiese kuns wat in grotte in die noordweste van die land aangetref word tot Salvador Dalí se 20ste eeuse surrealistiese skilderye.
Etimologie Die naam "Spanje" (España) is afgelei van Hispania, die Romeinse naam vir die Iberiese Skiereiland en sy provinsies tydens die Romeinse Ryk. Die etimologiese oorsprong van die term Hispania is onduidelik, hoewel die Fenisiërs na die gebied verwys het as Spania (wat "land van die konyne" beteken), gevolglik is die Fenisiese teorie die mees aanvaarde. Daar was 'n aantal teorieë en hipoteses oor die oorsprong daarvan:
Jesús Luis Cunchillos het gemeen dat die wortel van die woord span die Fenisiese woord spy is, wat "smee" beteken. Gevolglik sou i-spn-ya "die land waar metale gesmee word" beteken. #Linch, John (direkteur), Fernández Castro, María Cruz (del segundo tomo), Historia de España, El País, volumen II, La península Ibérica en época prerromana, bl. 40. Dossier. La etimología de España; ¿tierra de conejos?, Dit kan ook afgelei gewees het van die Fenisiese woord I-Shpania wat "eiland van konyne", "land van konyne" of "hoek" kan beteken; laasgenoemde verwys na Spanje se ligging aan die einde van die Middellandse See; Romeinse munte wat in die gebied onder keiser Hadrianus gemunt is, toon 'n vroulike figuur met 'n konyn langs haar voete, en Strabo het dit die "land van die konyne" genoem. Die betrokke woord beteken eintlik "dassie", moontlik omdat die Fenisiërs die twee diere met mekaar verwar het.
Daar is ook beweer dat "Hispania" afgelei is van die Baskiese woord Ezpanna, wat "rand" of "grens" beteken, nog 'n verwysing na die feit dat die Iberiese Skiereiland die suidwestelike hoek van die Europese vasteland vorm.
Geskiedenis
Vroeë geskiedenis en oudheid duimnael|'n Diorama van die Altamira-grot (Katalaanse Argeologiese Museum, Barcelona) Die eerste mense het hulle volgens die huidige stand van navorsing sowat 1,5 miljoen jaar gelede op die gebied van die huidige Spanje gevestig. Die Neanderdaller het vermoedelik 45 000 jaar gelede verdwyn. Die Neolitikum (van die 6de millenium v.C.), die oorgang van die die toeëiening van die lewenstyl as jagters, vissers en versamelaars na die produserende, uiteindelik landelike lewenswyse het begin met die migrasie uit die sentrale Middellandse Seegebied wat sy oorsprong in die Nabye Ooste gehad het.
duimnael|links|'n Romeinse teater in Mérida Uit die 10de eeu v.C. getuig die handel van Fenisiese seevaarders met die Suid-Spaanse kusstreke. Ten minste van die 8ste eeu af het hulle kolonies gestig wat as handelsplekke gedien het, waarvan hul bekendste Cádiz (Gades) was; later het Grieke gevolg, veral die Fokeërs uit Massalia. In die 5de en 4de eeu v.C. het Kelte uit die noorde hulle op die Iberiese Skiereiland gevestig en in die noordelike en westelike gebiede gemeng met die inheemse Iberiërs (sien Keltiberiërs). In hierdie tydperk is Oud-Spaanse skrifte gebruik. 'n Ander belangrike vroeë inheemse volk is die Baske in die noorde van die land. Tydens die Puniese Oorloë het die Kartage, nasate van die Fenisiërs, groot dele in die suide en ooste van die skiereiland verower. Tydens die Tweede Puniese Oorlog het die Romeine spoedig die suide en weste van die Kartage verower. Dit het egter 200 jaar geneem totdat die Romeine ook die noorde kon verower. Die provinsies Hispania Baetica in die suide en Hispania Tarraconensis in die noorde en ooste het in belangrike dele van die Romeinse Ryk ontwikkel. Uit die Romeine se Latynse taal het later Spaans en ander Romaanse tale in Spanje ontwikkel.
Van Moorse heerskappy tot Spaanse Ryk
Tydens die Volksverhuising, waartydens die Wes-Romeinse Ryk in die 5de eeu ineengestort het, het die Suebe hulle op die Iberiese Skiereiland gevestig, terwyl die Wes-Gote na Gallië beweeg en ook groot dele van die Iberiese Skiereiland verower het. Ná 'n vernietigende nederlaag teen die Frankiese Ryk het die Wes-Gote Gallië ontruim en hul sentrum na die skiereiland verskuif. Na hierdie tweede en laaste fase van die Wes-Gotiese Ryk word vanweë sy nuwe hoofstad Toledo ook as Toledaanse Ryk verwys. Hulle heerskappy is van 711 af deur Islamitiese troepe beëindig, nadat die Wes-Gotiese koning Roderik verslaan is. Die Arabiese nalatenskap het ná eeue se heerskappy die argitektuur en die taal beïnvloed. Hierdie Berbergroepe, waarna as More verwys is, het die grootste deel van die skiereiland verower, maar hulle het nie daarin geslaag om hulle in die noorde van die skiereiland te vestig nie. Die Goot Pelayo (hy word slegs in 'n vervalste kroniek genoem) het hul uitbreiding in die Slag van Covadonga in Noord-Spanje gestuit. Dié slag het – terugskouend – die begin van die Christelike herowering gemerk, die Reconquista, wat in 722 begin en oor eeue gestrek het. Die Moorse Spanje het ná 750 onafhanklik geword van die Arabiese Ryk, in 929 het Abd al-Rahman III in Al-Andalus 'n eie kalifaat uitgeroep. Geskille tussen die adelsgesinne het daartoe gelei dat die kalifaat 'n eeu later in verskeie Taifas verbrokkel het.
Intussen is die verenigingsproses in die noorde veral deur Kastilië aangedryf. Die Koninkryk León is in 1037 deur koning Ferdinand I die Grote verower; boonop het die Kastiliërs imperiale doele nagejaag en tydelik die keisertitel aangeneem. Vername figure in die Reconquista rondom die 11de eeu was Raymond Berengarius III van Barcelona en El Cid; laasgenoemde is later as nasionale held van Spanje vereer. Albei koninkryke het in 1157 verbrokkel, toe koning Alfonso VII 'n erfdeling uitgevoer het. Teen 1230 is hulle deur Ferdinand III in die Koninkryk Kastilië herenig. In 1469 het die troonopvolger van Kastilië, Isabella, in die huwelik getree met Ferdinand, die troonopvolger van Aragon. Ná die regeringsoorname in 1474 in Kastilië en in 1479 in Aragon het hulle albei heerskappye saam regeer. Hulle het die twee koninkryke egter nie in een enkele staat verenig nie.
duimnael|upright|Christophorus Columbus (ca. 1451–1506): Genuese seevaarder in diens van die Kroon van Kastilië (portret deur Ridolfo Ghirlandaio) In 1492 het Christelike troepe die laaste oorblywende gebied op die skiereiland onder Islamitiese bewind verower. In dieselfde jaar het Christophorus Columbus Amerika vir Europa ontdek. Ná die einde van die Reconquista is ook ander godsdienstige minderhede geteiken. Die "Katolieke konings" Isabella I en Ferdinand II wou geen nie-Christene meer in hulle ryke duld nie. Moslems en Jode is gedwing om hulle te laat doop. In 1478 is die Spaanse Inkwisisie ingestel om "ongelowiges" wat net uiterlik bekeer het, maar in die geheim steeds hul ou godsdiens nagekom het, op te spoor en te straf (onder andere deur auto de fe). Op 31 Maart 1492 het Isabella I en Ferdinand II die uitsettingsbevel uitgevaardig, waarvolgens al die 300 000 Jode, wat hulle nie wou laat doop nie, die Koninkryk Kastilië en die ryke van die Kroon van Aragon moes verlaat (Sefardiese Jode). In 1609 het Filips III ook die Moriske, afstammelinge van bekeerde More, uitgesit.
In die 16de eeu is die heerskappye van Kastilië en Aragon tot een koninkryk verenig. Aragon was reeds 'n gevestigde seemag in die Middellandse See, terwyl Kastilië meegeding het met Portugal oor invloed op die Atlantiese Oseaan. Met die ontdekking van die Amerikas deur Kolumbus vir Europa het Spanje 'n Christelike groot moondheid geword. In 1504 is Johanna I ná die dood van haar moeder Isabella I tot koningin van Kastilië geproklameer. Deur haar huwelik met Filips I, die seun van die Rooms-Duitse keiser Maksimiliaan I, het 'n blywende verbintenis ontstaan tussen die Spaanse koninkryke en die Huis van Habsburg (Spaans: Casa de Austria). Hul seun, koning Karel I, van 1516 af Spaanse koning, het in 1519 as Karel V keiser van die Heilige Romeinse Ryk geword. Onder sy bewind het Hernán Cortés die Asteekse Ryk in Meksiko, Francisco Pizarro die Inka-ryk in Peru en ander conquistadores die Yucatanskiereiland verower. Vervolgens het Nieu-Spanje in Noord-Amerika Spanje se rykste kolonie geword. Nadat Karel in 1556 afstand gedoen het van al sy poste, is die heerskappye tussen die Spaanse en Oostenrykse lyne van die Huis van Habsburg verdeel. Daarmee het die Habsburgse Nederland as Spaanse Nederland aan die Spaanse Ryk geval.
duimnael|Die Iberiese Unie in 1640, Spaanse gebiede in rooi