Joan Helene Hambidge (gebore 11 September 1956, Aliwal-Noord) is 'n Suid-Afrikaanse digter, akademikus en letterkundige kritikus. Sy is welbekend vir haar uit-die-kas-skryfstyl. Haar teoretiese bydraes handel meestal oor Roland Barthes, dekonstruksie, post-modernisme, psigoanalise en die metafisiese.

Vir haar tweede bundel, Bitterlemoene (1986), ontvang sy die Eugène Maraisprys vir letterkunde. Meer onlangs ontvang sy ook die Litera-prys vir haar poësie.http://www.litnet.co.za/joan-hambidge-1956/

Lewe en werk

Herkoms en opleiding Joan Helene Hambidge is op 11 September 1956 op Aliwal-Noord gebore as die tweede oudste van vier dogters. Haar pa se voorgeslagte is Iers en haar ma s'n Afrikaans. Weens haar pa se betrekking in die versekeringsbedryf trek hulle baie en sy gaan op haar geboortedorp, op Witbank, in Pretoria by Hoërskool Wonderboom en op Hoërskool Standerton skool, waar sy in 1974 matrikuleer. In matriek ontvang sy die Beheerraadsmedalje vir die beste matriekuitslae. Sy studeer vanaf 1975 tot 1979 aan die Universiteit Stellenbosch waar sy die BA-graad en BA Honneurs-graad verwerf. In hierdie tyd publiseer sy 'n openlike gay-verhaal in die Stellenbosse Student wat groot opspraak verwek, maar D.J. Opperman moedig haar aan op grond van die letterkundige meriete daarvan. Sy is dan ook deel van D.J. Opperman se bekende Letterkundige Laboratorium en is in 1978 en 1979 Opperman se persoonlike assistent. Aan hierdie universiteit begin sy met 'n MA-graad wat sy later met lof aan die Universiteit van Pretoria voltooi, onder leiding van professor Elize Botha. Haar tesis gaan oor “Die ek-verteller in die belydenisroman”. In 1985 promoveer sy (PhD-graad) aan die Rhodes-universiteit in Grahamstad onder leiding van professor André P. Brink met 'n verhandeling oor Die metaroman: 'n dekonstruksie-ondersoek, wat die eerste doktorale proefskrif oor dekonstruksie in Afrikaans is. Daarna doen sy 'n ruk lank navorsing oor literêre teorie aan die Universiteit van Yale in Amerika.http://www.litnet.co.za/joan-hambidge-1956/

Loopbaan as akademikus Sy word in 1980 aangestel by die Universiteit van die Noorde in Pietersburg (tans Polokwane) as senior lektrise en waarnemende departementshoof van die Departement van Algemene Literatuurwetenskap en in 1990 word sy bevorder tot hoogleraar. Hierna aanvaar sy in Julie 1992 'n pos as lektor (later senior lektor, professor en vise-dekaan) in Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit van Kaapstad. Tans doseer sy kreatiewe skryfwerk in die digkuns aan nagraadse studente en bied ook kursusse in gender en letterkunde aan. Sy doen 'n studie oor gender-konstruksies in Afrikaans wat in 2001 met 'n tweede doktorsgraad aan die Universiteit van Kaapstad bekroon word. Die titel van haar proefskrif is “Gender-konstruksie in die Afrikaanse letterkunde: 'n ondersoek in kultuurstudies, literêre teorie en kreatiewe skryfwerk”. In Mei 2003 lewer sy haar intreerede as professor onder die titel “Whose inaugural is it anyway? Modern criticism in crisis”. Sy is in 2007 Direkteur van die Skool vir Tale en Letterkundes.

In 1999 behartig sy saam met Ingrid Winterbach en Marlene van Niekerk 'n weeklange kursus in kreatiewe skryfwerk aan die Universiteit van Port Elizabeth, terwyl sy in 2011 die digtersfokusgroep lei by die Winterskool van die Universiteit van Pretoria se Eenheid vir Kreatiewe Skryfkuns en in 2008 insette lewer tydens 'n Kreatiewe Beraad aan die Universiteit van die Vrystaat. By verskeie geleenthede lewer sy ook openbare voorlesings van haar werk, onder andere by die jaarlikse Woordfees en Versindaba op Stellenbosch. Vanaf 2011 behartig sy ook op gereelde basis die radioprogram Leeskring op Radio Sonder Grense. Breyten Breytenbach voer 'n onderhoud met haar oor haar digkuns wat oor KykNet uitgesaai word.

Reise en skryfwerk Haar voorliefde vir reis neem haar regoor die wêreld en sy onderneem feitlik elke jaar 'n oorsese reis, na verskillende bestemmings. Sy besoek feitlik al die kontinente en lande soos Japan, Kuba, Kanada, Indië, Turkye, Thailand, Egipte, Brasilië, Frankryk en Zanzibar. Op versoek van Die Burger behartig sy dan ook die weeklikse reisrubriek Wegkomkans in hierdie koerant. Ander rubrieke uit haar pen is Op my literêre sofa (waarin sy geen doekies omdraai oor die letterkunde en die beoefenaars daarvan nie, sodat daar vele polemieke hieruit voortspruit wat aanleiding gee tot baie briewe aan die koerante) en Kopstukke, beide in Beeld. Sy skryf ook verskeie resensies en maak ander bydraes tot die Internet webwerf LitNet. Sy is veral bekend as digter en skrywer wat openlik die vroulike gay-saak bevorder en oopskryf en as besonder produktiewe kritikus en resensent, wat meermale in polemieke betrokke raak. In 1994 dien 'n oudstudent van die Universiteit van Kaapstad 'n klag van seksuele teistering teen haar by die universiteitsowerheid in, waarna sy deur die universiteit vermaan word. Hierdie ervaring vind later neerslag in die roman Die Judaskus.

Skryfwerk

Poësie Reeds in standerd vier skryf sy in vir Die Transvaler se poësiewedstryd en wen 'n prys met haar gedig Die verlange passer vannag in my. Sy begin egter eers ernstig dig op 26-jarige ouderdom. Temas waarna sy gereeld terugkeer in haar poësie is gay liefde, familie, die dood, die digkuns, reis en portrette van digters en bekendes. Telkens gebruik sy motto’s uit ander skrywers en digters en tree haar gedigte ook bewustelik in gesprek met die werk van andere. Hierdie tegniek is partykeer geslaag en bring ekstra betekenislae, maar ontkom nie altyd aan die gevaar van 'n te verliteratuurde poësie nie. Dwarsdeur haar oeuvre is daar ook 'n boeiende wisselwerking tussen die intellektuele en die emosionele, veral soos dit uiting vind in besinning oor die digkuns en veral gedigte oor die liefde. Deurentyd slaag sy daarin om haar digbundels onderling en individueel in 'n hegte eenheid saam te bind. Haar gedigte verskyn in verskeie tydskrifte, waaronder Standpunte, Tydskrif vir Letterkunde en Literator.

Sy debuteer met Hartskrif, waar die titel reeds aandui dat die oorwegende motief van hierdie gedigte die menslike emosies of die hart is, wat dan op skrif gestel moet word, wat weer die rasionele impliseer. Telkens bevat die gedigte dan ook teenstellings. Die bundel bevat ook gedigte oor jeugherinneringe.Le Roux, André. Die Burger, 16 Januarie 1986Grové, A.P. Tydskrif vir Geesteswetenskappe. Jaargang 26 no. 3, September 1986Interne verhuisingKannemeyer, J.C. Op weg na 2000. Tafelberg-Uitgewers Beperk Eerste uitgawe 1998Viljoen, Louise. Insig, Desember 1995Marais, René. Rapport, 30 Julie 1995Olivier, Fanie. Rapport, 6 Junie 1999Van Vuuren, Helize. Die Burger, 6 September 1995

Bitterlemoene neem die tema van emosies verder en ondersoek veral die impak van verlies en teleurstelling, soos reeds deur die titel gesuggereer word. Daar is verskeie liefdesgedigte en menige gedig bevat 'n vorm van persoonlike belydenis. Deurlopend is die strewe om deur middel van die vers persoonlike gevoelens, hartseer, frustrasie en teleurstelling te verwerk.Brink, André P. Rapport. 15 Februarie 1987Grové, A.P. Tydskrif vir Geesteswetenskappe. Jaargang 27 no. 2, Junie 1987Van der Lugt, Pieter. Die Burger, 26 Februarie 1987 In 1987 word hierdie digbundel met die Eugène Marais-prys bekroon.http://joanhambidge.blogspot.co.za/

In Die anatomie van melancholie oorheers die tema van verlies, nie net in die sin van liefdesverlies nie, maar ook in die vervreemding van die self.Brink, André P. Rapport. 29 November 1987Gouws, Tom. Insig, Maart 1988

Palinodes se titel kom van die Grieks “palin” (weer of herhaal) en “ode” ('n lied). 'n Palinode is 'n digsoort wat poog om 'n ander gedig ongedaan te maak of terug te trek. In die bundel oorheers die gedig self dan as tema, veral in die sin daarvan dat dit nie net bevrydend en skeppend is nie, maar ook destruktief werk deur iets terug te trek of ongedaan te maak. Op hierdie manier word dit dan 'n toespeling op die lewe en liefdes van die mens, wat tydelik van aard is en as gevoelens verander tot niet gaan. Deurlopend in die bundel is die besef dat waarnemings, vriendskappe en selfs liefde opgeneem en dus as’t ware oorheers word in die poësie. Die poësie dien dus nie die lewe nie, maar dit is die lewe wat in diens staan van die poësie, soos geïllustreer in Dichtung und Wahrheit. Die erotiese verse in hierdie bundel word koud en klinies, sodat dit in die teken van eensaamheid en afskeid staan, waardeur ook die liefde geparodieer en as post mortem betrag word.Brink, André P. Rapport, 6 Maart 1988Grové, A.P. Tydskrif vir Geesteswetenskappe. Jaargang 28 no. 3, September 1988

Die titel van Geslote baan kommunikeer reeds die sentrale tema van sirkelgang en reis, waar die onvermoë om uit die baan te ontsnap en die doel van alles te verstaan sentraal staan. Die bundel bevat ook gedigte oor kunstenaars en die wisselwerkings tussen kuns en die werklikheid.Grové, A.P. Tydskrif vir Geesteswetenskappe. Jaargang 29 no. 3, September 1989Schutte, Roswitha. Rapport, 12 Februarie 1989

Gesteelde appels verwys na die Paradysverhaal, waar die appel wel beskikbaar is as voedsel maar tegelykertyd verrotting uitbeeld. Weereens besin die digter hier oor die digkuns en die aard daarvan, maar in teenstelling met ander bundels staan 'n konkrete gegewe (soos die reis in die vorige bundel) nie sentraal nie en is die verse meer besinnend van aard, met die appel-motief wat as vernaamste bindingsmiddel dien.Britz, Etienne. Die Burger, 7 Desember 1989Conradie, Pieter. Rapport, 5 November 1989Grové, A.P. Tydskrif vir Geesteswetenskappe. Jaargang 30 no. 3, September 1990

Die titel van Kriptonemie kan verwys na die kriptiese aard van die gedigte, maar kan ook verwant wees aan Cryptogamen of verborge huwelik, die titel wat die Nederlandse digter Gerrit Achterberg aan sy versamelbundels gee. In so 'n geval sal die titel ook kan verwys na verborge herinnerings wat in die geheue agterbly. In die bundel verskyn dan ook meer kriptiese gedigte, waar die betekenis doelbewus versluier word en ontsyfer moet word. Die temas van die gedigte sluit steeds by die sentrale tema van haar digkuns aan, naamlik liefdesverlies, die projeksie en vergestalting van hierdie verlies in die woord en gedig, die geliefde wat in die gedig 'n soort alter ego word, en die komplekse verhouding tussen gedig en lewe as beelde van mekaar.Crous, Marius. Rapport, 26 November 1989Kannemeyer, J.C. Op weg na 2000. Tafelberg-Uitgewers Beperk Eerste uitgawe 1998

Die aard van Kriptonemie word voortgesit in die daaropvolgende bundel, Donker labirint. Die sentrale motief van die bundel is 'n donker doolhof wat bewandel word, waaraan die bundel sy titel te danke het. Hierdie reis gaan gepaard sonder lig en met weinig hoop op verlossing of uitkomkans.

Die betekenis van die titel Tachycardia is “abnormale hartklop-frekwensies”, en die bundel bevat hoofsaaklik liefdesgedigte, maar dan gefokus op 'n verhouding wat verby is. Hierdie pyn word beleef teen die agtergrond van 'n aantal literêre geliefdes, met die digkuns wat 'n mate van verligting bring.Van Vuuren, Helize. Die Burger, 1 November 1990Scholtz, Merwe. Insig, November 1990 Tachycardia word in 1990 genomineer vir die Rapportprys.

Die somber muse se titel word in die insetgedig, Ek wonder of jy soms verklaar, waar die gewese liefde nie meer vreugde bring nie, maar steeds die inspirasie is vir die digter se poësie. Die bundel se motto verkondig dat die mens nie sonder verdriet kan bestaan nie, maar ook dat verdriet nie kan bestaan sonder poësie nie.Scholtz, Merwe. Insig, November 1990 Die somber muse word in 1990 genomineer vir die Rapportprys.