Wahl Justice Bartmann (gebore 13 Junie 1963) is 'n voormalige Suid-Afrikaanse rugbyspeler.

Rugbyloopbaan Bartmann het in 1981 gematrikuleer en in dieselfde jaar die Suid-Afrikaanse Skolerugbyspan verteenwoordig. In 1982 het Bartmann by die Randse Afrikaanse Universiteit (RAU) in Johannesburg ingeskryf en as negentienjarige sy debuut vir die Transvaalse rugbyspan gemaak. Sy twee broers, Leon en Francois, het Transvaal ook op provinsiale vlak verteenwoordig. Bartmann het ook die Natalse rugbyspan 45 keer aangevoer en was deel van hierdie span wat die Curriebeker in 1990 en 1992 gewen het.

Bartmann het op 10 Mei 1986 op Nuweland in Kaapstad sy toetsbuiging vir die Springbokke teen die besoekende Nieu-Seelandse Kavaliers gemaak. Sodoende het Bartmann die eerste alumnus van RAU geword wat Springbokkleure vir rugby ontvang het. Hy het in 1993 saam met die Springbokke na Argentinië getoer en in 1994 na Nieu-Seeland, maar het nie in enige toetswedstryde op hierdie toere gespeel nie. Hy het agt toetse gespeel sonder om enige drieë vir die Springbokke te druk en ook in sewe toerwedstryde gespeel en een drie gedruk.

Toekennings Bartmann is vir twee agtereenvolgende jare aangewys as Suid-Afrikaanse rugbyspeler van die Jaar, 1990 en 1991.

Verwysings

Eksterne skakels

Wahl Bartmann op ESPNscrum

Kategorie:Geboortes in 1963 Kategorie:Lewende mense Kategorie:Springbokrugbyspelers