thumb|230px|Die Skhul V-skedel van tussen 80 000 en 100 000 jaar oud uit Israel. Vroeë moderne mens of anatomies moderne mens is terme wat gebruik word om Homo sapiens (die enigste oorlewende Hominina-spesie) wat anatomies met huidige mense ooreenstem, te onderskei van argaïese mense. Dié onderskeid is veral nuttig vir tye en streke waar anatomies moderne en argaïese mense saam bestaan het, soos in die Paleolitikum van Europa. Van die oudste bekende oorblyfsels van Homo sapiens is dié wat ontdek is by Omo-Kibish I in Ethiopië van sowat 196 000 jaar gelede, Florisbad in Suid-Afrika van sowat 259 000 jaar gelede en Jebel Irhoud in Marokko van sowat 300 000 jaar gelede.
Uitgestorwe spesies van die genus Homo sluit in Homo erectus en ’n aantal ander spesies (wat deur sommige taksonome as subspesies van óf H. sapiens óf H. erectus beskou word). Die vertakking van die lyn wat van H. erectus (of ’n tussengangerspesie soos Homo antecessor) tot H. sapiens gelei het, het na raming rofweg 500 000 jaar gelede in Afrika plaasgevind. Die vroegste fossielvondste van vroeë moderne mense is van sowat 300 000 jaar gelede in Afrika, met die vroegste genetiese vertakking onder moderne mense in min of meer dieselfde tyd, volgens sommige bewyse.
’n Kruisteling tussen argaïese en moderne mense het in beide Afrika en ná die uittog uit Afrika in Eurasië plaasgevind, tussen sowat 30 000 en 100 000 jaar gelede.
Naam en taksonomie Die binomiale naam Homo sapiens is in 1758 deur Linnaeus begin gebruik in die 10de uitgawe van Systema Naturae. Die Latynse woord homō (genitief: hominis) beteken "mens" en sapiēns beteken "wys, verstandig".
Aanvanklik is geglo die spesie het sowat 300 000 tot 200 000 jaar gelede uit ’n voorouer binne die genus Homo ontstaan. Die probleem met die morfologiese klassifikasie "anatomies modern" was dat dit sekere bestaande bevolkings sou uitsluit. Om dié rede is ’n lyngebaseerde (kladistiese) definisie van H. sapiens voorgestel waarin H. sapiens by definisie sou verwys na die moderne menslike lyn ná die vertakking van die Neanderdaller-lyn. So ’n kladistiese definisie sou die ouderdom van H. sapiens verleng tot meer as 500 000 jaar.
Ramings vir die vertakking russen die H. sapiens-lyn en die gesamentlike Neanderdaller/Denisova-lyn wissel tussen 503 000 en 565 000 jaar gelede; tussen 550 000 en 765 000 jaar gelede; en (gabaseer op tempo's van tandevolusie) moontlik meer as 800 000 jaar gelede.
Bestaande menslike bevolkings is histories verdeel in subspesies, maar sedert omstreeks die 1980's word almal in net een spesie, H. sapiens, saamgevat en word subspesies heeltemal vermy.
Sommige bronne noem die Neanderdallers (H. neanderthalensis) ’n subspesie (H. sapiens neanderthalensis). Net so word H. rhodesiensis soms geklassifiseer as die subspesie H. sapiens rhodesiensis. Dié twee groepe word egter meer dikwels as aparte spesies binne die genus Homo hanteer.
Alle mense word beskou as deel van die subspesie H. sapiens sapiens, maar daar word oor die naam gedebatteer omdat ’n spesie gewoonlik nie ’n subspesiekategorie kry tensy daar bewyse van verskeie aparte subspesies is nie.
Ouderdom en spesievorming Afskeiding van H. erectus thumb|260px|’n Skematiese voorstelling van die afskeiding van H. sapiens van vroeëre spesies van Homo. Die horisontale as verteenwoordig geografiese ligging en die vertikale as tyd in miljoene jare gelede (blou streke wys die teenwoordigheid van ’n sekere spesie van Homo op ’n gegewe tyd en plek; die laat oorlewing van Paranthropus robustus word in pers aangedui). Gebaseer op Springer (2012), vertak Homo heidelbergensis in Neanderdallers, Denisova-hominiene en H. sapiens. Met die verspreiding van H. sapiens ná 60 000 jaar gelede word Neanderdallers, Denisova-hominiene en ongespesifiseerde argaïse Afrika-hominiene weer in die H. sapiens-lyn opgeneem. thumb|260px|’n Model van die filogenie van H. sapiens tydens die Middel-Paleolitikum. Die horisontale as verteenwoordig geografiese ligging en die vertikale as tyd in duisende jare gelede. Neanderdallers, Denisova-hominiene en ongespesifiseerde argaïese Afrika-hominiene raak weer vermeng met die H. sapiens-lyn. Ook prehistoriese argaïese mense en Eurasiese groepe word weer in moderne Afrika-bevolkings opgeneem.
Die afskeiding van die H. sapiens-lyn van die argaïese mense wat van H. erectus afgeskei het, word geraam op sowat 500 000 jaar gelede. Die oudste vertakking onder moderne menslike bevolkings (soos die Khoisan se vertakking van ander bevolkings) was meer onlangs – tussen 350 000 en 260 000 jaar gelede volgens ’n studie in 2017, en die vroegste bekende fossiele van H. sapiens dateer van min of meer dieselfde tyd; dit sluit die Jebel Irhoud-oorblyfsels van Marokko (sowat 300 000 of 350 000 - 280 000 jaar gelede), die Florisbad-skedel van Suid-Afrika (sowat 259 000 jaar gelede) en die Omo-oorblyfsels van Ethiopië (sowat 195 000 jaar gelede) in.
’n Studie met mitochondriale DNS in 2019 stel ’n oorsprong van moderne mense in Botswana (en ’n Khoisan-vertakking) omtrent 200 000 jaar gelede voor. Ander geleerdes het dié voorstel egter gekritiseer. Onlangse geneties, fossiele en argeologiese bewyse dui op ’n oorsprong van H. sapiens sowat 100 000 jaar vroeër en in ’n groter streek van Afrika as wat in die studie voorgestel is.
In September 2019 het wetenskaplikes voorgestel dat die vroegste H. sapiens (en die laaste laaste gemeenskaplike menslike voorsaat van die modern mens) tussen sowat 350 000 en 260 000 jaar gelede ontwikkel het deur ’n vermenging van bevolkings in Oos-Afrika en Suid-Afrika.
’n Alternatiewe voorstel definieer H. sapiens kladisties as insluitende die lyn van moderne mense sedert die vertakking vanaf die Neanderdaller-lyn rofweg 500 000 tot 800 000 jaar gelede.
Die tyd van die vertakking tussen die argaïese H. sapiens en die voorouers van die Neanderdallers en Denisovas, wat deur ’n genetiese bottelnek van laasgenoemde veroorsaak is, word geraam op 744 000 jaar gelede. Dit was gekombineer met herhaalde vroeë kruistelings en die Denisovas se vertakking van die Neanderdallers 300 generasies nadat hulle van H. sapiens vertak het, soos bepaal deur Rogers et al. (2017).
In die 1980's is gedebatteer oor die afskeiding van die enkele, redelik homogene spesie H. sapiens van meer uiteenlopende variëteite van argaïese mense (wat almal afgestam het van die vroeëre verspreiding van H. erectus sowat 1,8 miljoen jaar gelede) in terme van twee mededingende modelle: die model "onlangse ontstaan in Afrika", waarvolgens H. sapiens uit ’n enkele bron in Afrika ontstaan het wat uitgebrei en tot die uitsterwing van alle ander menslike variëteite gelei het, en die model "multistreek-evolusie", waarvolgens streekvorme van argaïese mense oorleef het en geleidelik dwarsdeur die Pleistoseen in die moderne menslike variëteite saamgevloei het deur onder meer geenvloei en natuurlike seleksie.
Sedert die 2000's het die beskikbaarheid van data van argeo- en bevolkingsgenetika gelei tot ’n meer gedetailleerde prentjie, wat tussen bogenoemde twee modelle val: Die onlangse Uit Afrika-verspreiding gee rekenskap van die grootste deel van die menslike stamboom, terwyl daar ook aansienlike kruisteling met argaïese mense was.
Sedert die 1970's word die Omo-oorblyfsels van sowat 195 000 jaar gelede dikwels beskou as die konvensionele afsnypunt vir die opkoms van "anatomies moderne mense". Sedert die 2000's het die ontdekking van ouer oorblyfsels met ooreenstemmende eienskappe en die ontdekking van voortgesette verbastering tussen "moderne" en "argaïese" bevolkings ná die tyd van die Omo-oorblyfsels ’n nuwe debat in vaktydskrifte laat ontstaan oor die ouderdom van H. sapiens. H. s. idaltu van 160 000 jaar gelede is in 2003 ’n uitgestorwe subspesie van H. sapiens genoem.Human evolution: the fossil evidence in 3D, deur Philip L. Walker en Edward H. Hagen, Dept. of Anthropology, University of California, Santa Barbara. Besoek op 5 April 2005. H. neanderthalensis, wat sowat 40 000 jaar gelede uitgesterf het, is ook in ’n stadium beskou as ’n subspesie, H. s. neanderthalensis.
H. heidelbergensis van sowat 600 000 tot 300 000 jaar gelede is lank beskou as ’n waarskynlike kandidaat vir die laaste gemeenskaplike voorsaat van die Neanderdallers en moderne mense. Dit lyk egter of genetiese bewyse van die Sima de los Huesos-fossiele wat in 2016 gepubliseer is, daarop dui dat H. heidelbergensis ingesluit behoort te word in die Neanderdaller-lyn, as óf "voor-Neanderdaller" óf "vroeë Neanderdaller". Terselfdertyd is die tyd van die vertakking tussen die Neanderdallers en moderne lyne teruggeskuif na voor die opkoms van H. heidelbergensis, na byna 800 000 jaar gelede, min of meer die tyd toe H. antecessor verdwyn het.
Vroeë Homo sapiens Die term middel-Paleolitikum is geskep om die tydperk te dek tussen die opkoms van H. sapiens (rofweg 300 000 jaar gelede) en die tyd wat volgens sommige dui op volle moderne gedragspatrone (rofweg 50 000 jaar gelede, toe die laat Paleolitikum begin het).
Baie vondste van vroeë mense, soos dié by Jebel Irhoud, Omo, Herto, Florisbad, Skhul, die Edelhertgrot en Peștera cu-oase, toon ’n mengsel van argaïese en moderne eienskappe. Skhul V het byvoorbeeld prominente oogkaste en ’n uitstaangesig. Die breinkas is egter taamlik rond en, anders as Neanderdallers se brein, soortgelyk aan dié van moderne mense. Dit is onseker of die rubuuste eienskappe van sommige van die vroeë moderne mense, soos Skhul V, gemengde afkoms of die behoud van ouer eienskappe weerspieël. Die "skraal" skelet van anatomies moderne mense is al verbind aan ’n verandering in gedrag.
Daar is bewyse dat die kenmerkende ontwikkeling van die menslike brein, veral die prefrontale korteks, was as gevolg van "’n buitengewone versnelling van metaboloom-evolusie ... wat saamgeloop het met ’n drastiese afname in spierkrag. Die waargenome vinnige metaboliese veranderings in die brein en spiere, tesame met die unieke menslike kognitiewe vermoëns en lae spiergebruik, kan parallelle meganismes in menslike evolusie weerspieël." Spiese en ander artefakte wat tussen 1994 en 1998 in Duitsland opgegrawe is, bewys komplekse tegnologiese vermoëns het reeds 300 000 jaar gelede bestaan; dit is die oudste duidelike bewyse van ’n aktiewe (grootwild)jagtog. H. heidelbergensis het reeds intellektuele en kognitiewe vermoëns gehad, soos om vooruit te beplan en dink – iets wat gewoonlik net aan die moderne mens toegeskryf word.
Die voortgesette verbastering tussen moderne mense en ander bevolkings maak dit moeilik om die ouderdom van die mees onlangse moederlike en vaderlike gemeenskaplike voorsaat (die sogenaamde mitochondriale Eva en Y-chromosomale Adam) te raam. Ramings van die ouderdom van laasgenoemde is aansienlik teruggeskuif sedert die ontdekking van ’n antieke Y-chromosomale lyn in 2013, na moontlik verder as 300 000 jaar gelede. Daar is egter geen verslae oor Y-chromosomale of mitochondriale DNS wat van argaïese mense behoue gebly het (en die ouderdom van die mees onlangse vaderlike en moederlike gemeenskaplike voorsaat verder sou terugskuif as 500 000 gelede) nie.
Anatomie Oor die algemeen is moderne mense ligter, of skraler, gebou as die "robuuster" argaïese mense. Moderne mense toon egter groot liggaamlike verskeidenheid en sommige is taamlik "robuus". Daar is wel ’n paar liggaamlike besonderhede wat ’n verskil aandui tussen die anatomie van Neanderdallers en dié van moderne mense.
Anatomiese moderniteit Die term "anatomies moderne mense" (AMM) word algemeen gebruik om te onderskei tussen die moderne Homo sapiens en argaïese mense soos Neanderdallers en hominiene uit die middel- en vroeë Paleolitikum wat oorgangseienskappe gehad het van H. erectus. Hoewel Neanderdallers eers as H. s. neanderthalensis geklassifiseer is, word hulle nou algemeen as ’n aparte spesie, H. neanderthalensis, beskou. Die term H. sapiens verwys dus na die moderne mens, maar die saak is geensins finaal opgelos nie.