Die Luangwarivier in Zambië is een van die grootste sytakke van die Zambezirivier.
Oorsprong Die rivier ontspring op 1 500 m bo seevlak in die Mafinga-heuwels net-net op die grondgebied van Malawi. Dit is naby die grenspos Chitipa, 'n paar kilometer wes van die noordelike punt van die Malawimeer, net suidwes van die grenspunt waar Zambië, Tanzanië en Malawi ontmoet en noordoos van die dorp Isoka. Nie ver wes hiervandaan ontspring die Kalungurivier, 'n groot boloop van die Chambeshirivier.
Stroomgebied Die Luangwa vloei suidweswaarts deur die Luangwavallei en oos van die Muchinga-berge. Die rivier is 770 km lank, het 'n opvanggebied van 145710 km² wat 'n reënval kry wat wissel tussen die 760 tot 1770 mm per jaar. Dus word die vloedvlakte elke jaar oorspoel. Na 'n 150 km is die rivier reeds slegs 690 m bo seespieël en meander daarna deur die vloedvlakte wat daar 10 km breed is in 'n vallei van tot 100 km wyd. Na 500 km is die vallei 'n 50 km breed. Die T4-hoofpad (tussen Lusaka en Lilongwe) met sy historiese Luangwabrug is die enigste groot pad wat die rivier kruis. Effens stroomop van die brug sluit ook die enigste beduidende sytak van die rivier aan, naamlik die Lukusashirivier uit die noordweste. In laasgenoemde rivier se boloop is die Kundalila-waterval. Afgesien van die laaste amper 100 km loop die Luangwa heeltemal deur Zambië. Hierdie laaste deel vorm dit die grens met Mosambiek. Waar die rivier by Zumbo in die westelike hoek van die Cahora Bassa-dam uitmond, is die punt waar Zimbabwe, Zambië en Mosambiek ontmoet.
Natuurreservate Wat mense aangaan, is die afgeleë stroomgebied baie dun bevolk. Maar dit is baie ryk aan wild en daar is verskeie wildreservate. Daar kan nie net slegs voëls en krokodille bekyk word nie. Die meeste grootwildspesies kom voor.
Bronne remoteafrica.com Standard Encyclopaedia of Southern Africa, deel 7. Kaapstad: Nasou, 1972.
Kategorie:Riviere in Malawi Kategorie:Riviere in Mosambiek Kategorie:Riviere in Zambië