Arnold Schoenberg of Schönberg (; ; 13 September 1874 – 13 Julie 1951) was 'n Oostenryks-gebore komponis, musiekteoretikus, onderwyser, skrywer en skilder. Hy word algemeen beskou as een van die invloedrykste komponiste van die 20ste eeu. Hy was verbonde aan die ekspressionistiese beweging in die Duitse poësie en kuns en die leier van die Tweede Weense Skool. Met die opkoms van die NSDAP is Schoenberg se werke as verdorwe musiek bestempel aangesien dit modernisties en atonaal was. Hy emigreer in 1933 na die Verenigde State en word 'n Amerikaanse burger in 1941.
Schoenberg se benadering ten opsigte van harmonie en ontwikkeling het baie van die 20ste-eeuse musikale denke help vorm. Baie Europese en Amerikaanse komponiste van minstens drie generasies het sy denke bewustelik uitgebrei, terwyl ander hartstogtelik daarteen gereageer het.
Schoenberg was al vroeg in sy loopbaan bekend daarvoor dat hy die Duitse Romantiese style van Brahms en Wagner gelyktydig uitgebrei het. Later sou sy naam sinoniem wees met die vernuwings in atonaliteit (alhoewel Schoenberg self die term verafsku het) wat die mees polemiese kenmerk van die 20ste-eeuse kunsmusiek sou word. In die twintigerjare het Schoenberg die twaalftoon-tegniek ontwikkel, 'n invloedryke komponeermetode om 'n geordende reeks van die twaalf note in die chromatiese skaal te manipuleer. Hy het ook die term "ontwikkelende variasie" geskep.
Schoenberg was ook 'n invloedryke onderwyser in komposisie; onder sy studente tel Alban Berg, Anton Webern, Hanns Eisler, Egon Wellesz, Nikos Skalkottas, Stefania Turkewich en later John Cage, Lou Harrison, Earl Kim, Robert Gerhard, Leon Kirchner, Dika Newlin en ander prominente musici. Baie van Schoenberg se praktyke, waaronder die formalisering van die komposisiemetode en sy gewoonte om gehore openlik uit te nooi om analities te dink, vind inslag in die avant-garde musikale denke wat dwarsdeur die 20ste eeu geëggo is. Sy dikwels polemiese beskouings van musiekgeskiedenis en estetika was van deurslaggewende belang vir baie belangrike 20-eeuse musiekwetenskaplikes en -kritici, waaronder Theodor W. Adorno, Charles Rosen en Carl Dahlhaus, sowel as die pianiste Artur Schnabel, Rudolf Serkin, Eduard Steuermann en Glenn Gould.
Schoenberg se argivale nalatenskap word in die Arnold Schönberg-sentrum in Wene gehou.
Biografie Vroeë lewe Arnold Schoenberg is gebore in 'n lae-middelklas Joodse familie in die Leopoldstadt-distrik (vroeër 'n Joodse ghetto) van Wene, in "Obere Donaustraße 5". Sy vader Samuel, 'n boorling van Szécsény, Hongarye , wat later verhuis het na Pozsony (Pressburg, destyds Koninkryk van Hongarye, nou Bratislava, Slowakye) en daarna na Wene, was 'n skoenwinkelier. Sy moeder Pauline Schoenberg (gebore Nachod), 'n boorling van Praag, was 'n klavieronderwyseres . Arnold was grotendeels selfgeleer. Hy het slegs lesse in kontrapunt geneem by die komponis Alexander Zemlinski, wat sy eerste swaer sou word.
In sy twintigerjare het Schoenberg 'n lewe gemaak deur die orkestrasie van operette terwyl hy sy eie werke gekomponeer het, soos die stryksekstet Verklärte Nacht (1899). Hy het later 'n orkesweergawe hiervan gemaak, wat een van sy gewildste stukke geword het. Beide Richard Strauss en Gustav Mahler het Schoenberg se belang as komponis erken; Strauss, nadat hy Schoenberg se Gurre-Lieder gehoor het, en Mahler, nadat hy verskeie van Schoenberg se vroeë werke gehoor het.
Strauss het hom na 1909 wat sy eie werk betref tot 'n meer konserwatiewe idioom gewend en op daardie stadium vir Schoenberg verwerp. Mahler het hom as 'n protégé aangeneem en hom bly ondersteun, selfs nadat Schoenberg se styl 'n punt bereik het wat Mahler nie meer kon begryp nie. Mahler was bekommerd oor wie na hom sou omsien . Schoenberg, wat Mahler se musiek aanvanklik verag en bespot het, is bekeer deur die "donderslag" van Mahler se Derde simfonie, wat hy as 'n werk van genialiteit beskou het. Daarna het hy "van Mahler as 'n heilige gepraat" (; ).
In 1898 het Schoenberg hom tot die Christendom in die Lutherse kerk bekeer. Volgens MacDonald (2008, 93) was dit deels om sy verknogtheid aan Wes-Europese kulturele tradisies te versterk, en deels as 'n middel tot selfverdediging "in 'n tyd van groeiende antisemitisme". In 1933 het hy, na lang meditasie, teruggekeer na die Judaïsme, omdat hy besef het dat "sy ras- en godsdienstige erfenis onafwendbaar is", en ten einde 'n onmisbare posisie in te neem aan die teenoorgestelde kant van die Nazisme. Hy sou later in sy lewe as lid van die Joodse godsdiens identifiseer .
1901–1914: eksperimente in atonaliteit duimnael|links|Schönberg-gesin, 'n skilderye deur Richard Gerstl, 1907 In Oktober 1901 het Schoenberg met Mathilde Zemlinsky, die suster van die dirigent en komponis Alexander Zemlinski, onder wie Schoenberg sedert ongeveer 1894 studeer het, getrou. Schoenberg en Mathilde het twee kinders gehad, Gertrud (1902–1947) en Georg ( 1906–1974). Gertrud sou in 1921 met Schoenberg se leerling Felix Greissle trou .
Gedurende die somer van 1908 het Schoenberg se vrou Mathilde hom vir 'n paar maande verlaat vir 'n jong Oostenrykse skilder, Richard Gerstl (wat selfmoord gepleeg het in November, nadat Mathilde haar huwelik hervat het). Hierdie tydperk het 'n duidelike verandering in Schoenberg se werk ingelui. Dit was tydens die afwesigheid van sy vrou dat hy Du lehnest wider eine Silberweide gekomponeer het, wat die dertiende lied in die siklus Das Buch der Hängenden Gärten, Op.15, was en gebaseer is op die gelyknamige versameling deur die Duitse mistieke digter Stefan George. Dit was die eerste komposisie sonder enige verwysing na 'n sleutel .
Ook in hierdie jaar voltooi Schoenberg een van sy mees revolusionêre komposisies, die Strykkwartet nr. 2. Die eerste twee bewegings, hoewel chromaties van kleur, gebruik tradisionele sleutels. Die laaste twee bewegings, wat weereens gebruik maak van die poësie van George, bevat 'n sopraan-vokale lyn wat breek met die vorige praktyk in strykkwartette, en die koppeling met tradisionele tonaliteit op waagmoedige wyse verswak. Albei bewegings eindig op toniese akkoorde, maar tog is die werk nie volledig nie-tonaal nie.
Gedurende die somer van 1910 het Schoenberg sy Harmonielehre (Teorie van Harmonie, Schoenberg 1922) geskryf, wat steeds een van die mees invloedryke boeke oor musiekteorie is. Schoenberg het van omtrent 1911 af aan 'n sirkel van kunstenaars en intellektuele behoort wat Lene Schneider-Kainer, Franz Werfel, Herwarth Walden en Else Lasker-Schüler ingesluit het.
In 1910 ontmoet hy vir Edward Clark, 'n Engelse musiekjoernalis wat toe in Duitsland werksaam was. Clark het sy enigste Engelse student geword, en in sy latere hoedanigheid as produsent was hy verantwoordelik vir die bekendstelling van baie van Schoenberg se werke, en ook Schoenberg self, aan Brittanje (asook Anton Webern, Berg en andere).
'n Verdere werk van groot belang uit hierdie atonale of pantonale periode is die uiters invloedryke Pierrot Lunaire, Op. 21, uit 1912. Dit is naamlik 'n nuwe siklus van ekspressionistiese liedere wat gekomponeer is na aanleiding van die Duitse vertaling van gedigte deur die Belgies-Franse digter Albert Giraud. Met behulp van die tegniek van Sprechstimme, of melodramaties gesproke resitasie, koppel die werk 'n vroulike sanger met 'n klein ensemble van vyf musikante. Die ensemble, wat tans algemeen na verwys word as die Pierrot-ensemble, bestaan uit fluite, klarinet, viool, tjello, spreker en klavier.
Wilhelm Bopp, direkteur van die Weense konservatorium in 1907, wou 'n breuk daarstel met die verouderde omgewing wat vir hom deur Robert Fuchs en Hermann Graedener verpersoonlik is. Nadat hy baie kandidate oorweeg het, het hy Schoenberg en Franz Schreker in 1912 onderwysposte aangebied. In die tyd het Schoenberg in Berlyn gewoon. Hy was nie heeltemal van die Weense konservatorium afgesny nie, aangesien hy 'n jaar tevore 'n privaat teorie-kursus aangebied het. Hy het die aanbod ernstig oorweeg, maar tog uiteindelik geweier. Daarna het hy aan Alban Berg geskryf en sy "weersin van Wene" as die hoofrede vir sy besluit aangegee. Hy het oorweging geskenk aan die idee dat dit finansieel die verkeerde besluit was, maar was tog uiteindelik tevrede daarmee. 'n Paar maande later het hy aan Schreker geskryf en gesuggereer dat dit ook vir hom 'n slegte idee sou wees om die onderwyspos te aanvaar. .
Eerste Wêreldoorlog duimnael|links|upright|Arnold Schoenberg, deur Egon Schiele, 1917 Die Eerste Wêreldoorlog het 'n krisis in sy ontwikkeling meegebring. Sy lewe is deur militêre diensplig ontwrig toe hy op 42-jarige ouderdom na die leër opgeroep is. Hy kon nooit ononderbroke of oor 'n uitgerekte tydperk werk nie, en gevolglik het hy baie onvoltooide werke en onderontwikkelde pogings nagelaat. By een geleentheid het 'n offisier met 'n hoër rang geëis om te weet of hy "daardie berugte Schoenberg" was .
In wat die musiekresensent Alex Ross 'n "daad van oorlogspsigose" noem, het Schoenberg vergelykings getref tussen Duitsland se aanslag op Frankryk en sy aanslag op dekadente burgerlike artistieke waardes. Terwyl hy die musiek van Bizet, Strawinski en Ravel in Augustus 1914 verwerp het, het hy geskryf: "Nou kom die afrekening! Nou sal ons hierdie middelmatige karnallies in slawerny ingooi en hulle leer om die Duitse gees te vereer en die Duitse God te aanbid".
Die verslegtende verhouding tussen die kontemporêre komponiste en die publiek het daartoe gelei dat hy die Verein für musikalische Privataufführungen in 1918 in Wene gestig het. Hy wou 'n forum bied waarin moderne musikale komposisies sorgvuldig voorberei en beoefen kon word, en behoorlik uitgevoer kon word onder omstandighede wat beskerm is teen die voorskrifte van hedendaagse modes en die druk van die kommersiële wêreld. Vanaf die ontstaan daarvan, tot 1921, toe dit weens ekonomiese redes beëindig is, het die Genootskap 353 opvoerings aangebied aan betaalde lede, soms teen 'n koers van een opvoering per week. Gedurende die eerste jaar en 'n half van die bestaan daarvan het Schoenberg geen van sy eie werke laat uitvoer nie . In plaas daarvan het gehore by die konserte van die Vereniging moeilike kontemporêre komposisies van Skriabin, Debussy, Mahler, Webern, Berg, Reger en ander leidende figure van die vroeë 20ste-eeuse musiek laat hoor.
Ontwikkeling van die twaalftoon metode duimnael|upright|Arnold Schoenberg, 1927, deur Man Ray Later sou Schoenberg die invloedrykste weergawe van die twaalftoon-metode van komposisie ontwikkel, wat in Frans en Engels deur René Leibowitz en Humphrey Searle in 1947 die alternatiewe benaming serialisme gegee is. Hierdie tegniek is deur baie van sy studente opgeneem, wat die sogenaamde Tweede Weense Skool gevorm het. Hulle het Anton Webern, Alban Berg en Hanns Eisler ingesluit, wat almal diep beïnvloed is deur Schoenberg. Hy het 'n aantal boeke gepubliseer, wat wissel van sy beroemde boek Harmonielehre (Teorie van Harmonie) tot Grondbeginsels van Musikale Komposisie , waarvan verskeie steeds in druk is en gebruik word deur musici en ontwikkelende komponiste.
Sy eerste vrou het in Oktober 1923 gesterf en in Augustus die volgende jaar het Schoenberg met Gertrud Schoenberg (née Kolisch; 1898–1967), die suster van sy leerling, die violis Rudolf Kolisch, getrou(; ). Hulle het drie kinders gehad: Nuria Dorothea (gebore in 1932), Ronald Rudolf (gebore in 1937) en Lawrence Adam (gebore in 1941). Gertrude Kolisch Schoenberg het die libretto vir Schoenberg se eenbedryf opera getiteld Von heute auf morgen onder die skuilnaam Max Blonda geskryf. Op haar versoek is Schoenberg se (uiteindelik onvoltooide) stuk Die Jakobsleiter voorberei vir uitvoering deur Schoenberg se student Winfried Zillig. Na haar man se dood in 1951 het sy Belmont Music Publishers gestig, wat gewy is aan die publikasie van sy werke . Arnold het gebruik gemaak van die note G en E (Duits: Es, m.a.w., "S") vir "Gertrud Schoenberg", in die Suite vir septet, Op. 29 (1925) .