Nebukadnesar IISpelling in die 1983-vertaling van die Afrikaanse Bybel (ook bekend as Nebukadrésar II;Asimov, I. (1968) The Near East, Boston: Houghton Mifflin Co., p. 62 Babiloniese wigskrif: 105px, Nabû-kudurri-uṣur, "O god Nabu, bewaar my erfgenaam"; Bybelse Hebreeus: נְבוּכַדְנֶאצַּר) was die tweede koning van die Nieu-Babiloniese Ryk. Hy het regeer van sy vader, Nabopolassar, se dood in 605 v.C. tot met sy eie dood in 562 v.C. Hy is histories bekend as Nebukadnesar die Grote en word algemeen beskou as die ryk se grootste monarg.

Nebukadnesar is steeds bekend vir sy militêre veldtogte in die Levant, vir sy bouprojekte in sy hoofstad, Babilon, insluitende die Hangende Tuine van Babilon, en vir sy rol in die Joodse geskiedenis. Hy het 43 jaar lank regeer, die langste in die Babiloniese dinastie. Teen die tyd van sy dood was hy een van die magtigste heersers in die wêreld.

Hy is waarskynlik genoem na sy oupa met dieselfde naam of na Nebukadnesar I (bewind: omstreeks 1125-'04 v.C.), een van Babilonië se grootste antieke vegter-konings. Nebukadnesar II het reeds tydens sy vader se bewind naam gemaak deur leërs aan te voer in die Babiloniese verowering van die Assiriese Ryk. By die Slag van Karkemis in 605 v.C. het Nebukadnesar die Egiptiese leër van farao Necho II oortuigend verslaan en verseker dat die Nieu-Babiloniese Ryk die Nieu-Assiriese Ryk sou opvolg as die oorheersende mag in die antieke Nabye Ooste. Kort ná dié oorwinning het Nabopolassar gesterf en Nebukadnesar koning geword.

Ondanks sy suksesvolle militêre loopbaan tydens sy vader se bewind, het Nebukadnesar in sowat die eerste derde van sy eie bewind geen groot militêre prestasies behaal nie, maar wel 'n rampspoedige mislukking toe hy Egipte probeer inneem het. In dié tyd het sommige van Babilonië se vasals, veral in die Levant, begin om Babilon se mag in twyfel te trek omdat dit nie op die vlak van die Assiriese Ryk was nie. Die situasie het so ernstig geword dat mense in Babilonië self ongehoorsaam aan die koning begin word het. Sommige het selfs in opstand gekom teen sy heerskappy.

Hierna het Nebukadnesar beter sukses behaal. In die 580's v.C. was hy betrokke in 'n reeks militêre optredes in die Levant teen die vasalstate wat daar in opstand was, moontlik met die uiteindelike doel om die Egiptiese invloed in die streek aan bande te lê. In 587 v.C. het Nebukadnesar die Koninkryk Juda en sy hoofstad, Jerusalem, verwoes. In die verowering van Jerusalem is die stad se inwoners en mense van die omringende grondgebied gevange geneem en na Babilon gedeporteer. Hy was die Jode se grootste vyand tot op daardie punt. Die Bybelboek Jeremia skilder Nebukadnesar as 'n wrede vyand, maar ook as God se aangestelde heerser van die wêreld en 'n goddelike instrument om ongehoorsaamheid te straf.

Met die vernietiging van Jerusalem, die verowering van die rebelse Fenisiese stad Tirus en ander veldtogte in die Levant het Nebukadnesar die Nieu-Babiloniese Ryk se transformasie in die nuwe groot mag van die antieke Nabye Ooste voltooi.

Benewens vir sy militêre veldtogte word Nebukadnesar onthou as 'n groot bouer-koning. Die rykdom wat met sy oorloë versamel is, het hom in staat gestel om groot bouprojekte in Babilon en elders in Mesopotamië aan te pak. Die moderne beeld van Babilon is grootliks van die stad soos dit was ná Nebukadnesar se projekte. Hy het onder meer die stad se godsdiensgeboue herbou, die huidige paleis herstel en 'n nuwe paleis laat bou. Hy het ook die seremoniële middestad mooigemaak deur restourasiewerk aan die Prosessiestraat en Isjtarpoort. Omdat die meeste van Nebukadnesar se inskripsies handel oor sy bouprojekte en nie sy militêre suksesse nie, is hy histories lank beskou as 'n bouer eerder as 'n vegter.

Agtergrond Naam links|thumb|240px|'n Gebakte moddersteen van Babilon, gestempel met die naam en titels van Nebukadnesar II.

Nebukadnesar II se naam in Akkadies was Nabû-kudurri-uṣur, wat beteken "Nabu, bewaar my erfgenaam". Die naam is vroeër vertolk as "Nabu, bewaar die grens", omdat die woord kudurru ook "grens" of "lyn" kan beteken.

In Hebreeus is die naam gewoonlik geskryf as נְבוּכַדְנֶאצַּר (Nəḇūḵaḏneʾṣṣar) en in Grieks as Ναβουχοδονόσορ (Nabouchodonosor). Sommige geleerdes, soos Donald Wiseman, verkies die vorm "Nebukadresar", met 'n "r" in plaas van 'n "n", na aanleiding van die aanname dat "Nebukadnesar" 'n latere, verkeerde vorm van die kontemporêre Nabû-kudurri-uṣur is. Die naam Nebukadnesar is soos dit in die Afrikaanse Bybel (1983-vertaling) gespel word.

Nebukadnesar II se naam, Nabû-kudurri-uṣur, is dieselfde as dié van een van sy voorgangers, Nebukadnesar I (bewind: omstreeks 1125-'04 v.C.), wat meer se vyf eeue voor hom regeer het. Nes Nebukadnesar II was Nebukadnesar I 'n vegter-koning, wat regeer het in 'n tyd van politieke onrus en wat die magte van Babilon se vyande verslaan het (in sy geval die Elamiete).

As Jursa se teorie oor Nabopolassar se oorsprong reg is, is dit ook moontlik dat Nebukadnesar II na sy oupa met dieselfde naam genoem is, want die Babiloniërs het patronieme gebruik, eerder as om iemand na 'n vorige koning te noem.

Stamboom thumb|220px|Die bewaarde deel van die Eannatempel by Uruk. Nebukadnesar was van 626/'25-617 v.C. hoëpriester van die tempel.

Nebukadnesar was die oudste seun van Nabopolassar (bewind: 626-605 v.C.), die stigter van die Nieu-Babiloniese Ryk. Dit word bevestig deur Nabopolassar se inskripsie, wat eksplisiet noem dat Nebukadnesar sy oudste seun is, sowel as inskripsies uit Nebukadnesar se bewind, wat na hom verwys as "eerste seun" van Nabopolassar en as Nabopolassar se "ware" of "wettige erfgenaam". Die Nieu-Babiloniese Ryk is gestig ná Nabopolassar se rebellie en latere oorlog teen die Nieu-Assiriese Ryk. Dit het Babilonië bevry van byna 'n eeu van Assiriese beheer. In die oorlog is Assirië heeltemal verwoes. Die Nieu-Babiloniese Ryk, wat in sy plek ontstaan het, was magtig, maar oorhaastig opgebou en polities onstandvastig.

Omdat Nabopolassar nooit sy stamboom in enige inskripsies duidelik gemaak het nie, is sy oorsprong onseker. Latere historici het hom dus geïdentifiseer as óf Galdees óf Assiries óf Babilonies. Hoewel geen bewyse die feit bevestig dat hy Galdees was nie, word die term "Galdese dinastie" dikwels deur moderne historici gebruik vir die koninklike familie wat hy gevestig het, en die term "Galdese Ryk" is histories 'n alternatiewe naam vir die Nieu-Babiloniese Ryk.

Dit lyk of Nabopolassar, ondanks sy etniese oorsprong, sterk verbind is met die stad Uruk, suid van Babilon. Dit is moontlik dat hy lid van die stad se regerende elite was voordat hy koning geword het. Daar is al hoe meer bewyse dat Uruk sy familie se stad van oorsprong was, byvoorbeeld omdat sy dogters in Uruk gewoon het.

Nebukadnesar II word reeds vroeg in sy vader se bewind genoem. Hy was van 626/'25 tot 617 v.C. hoëpriester van die Eannatempel in Uruk. Hy moes op 'n baie jong ouderdom hoëpriester geword het, veral as 'n mens in ag neem dat sy sterwensjaar, 562 v.C., 64 jaar ná 626 v.C. was.

Kroonprins thumb|220px|Die Slag van Karkemis, soos uitgebeeld in Hutchinson's Story of the Nations (1900). thumb|220px|Die sogenaamde "Kroniek van Nabopolassar". Die inskripsies in wigskrif vertel die kroniek van die jare 608-605 v.C.

Nebukadnesar se militêre loopbaan het tydens die bewind van sy vader begin, hoewel min inligting bewaar gebly het. Geskoei op 'n brief wat aan die administrasie van die Eannatempel gestuur is, lyk dit of Nebukadnesar deelgeneem het aan sy vader se veldtog om die stad Harran in 610 v.C. te verower. Harran was die setel van Assur-uballit II, wat die oorblyfsels van die Assiriese weermag bymekaargemaak en oor die Nieu-Assiriese oorskotstaat regeer het. Die Babiloniese oorwinning in die Harranveldtog en die nederlaag van Assur-uballit in 609 v.C. was die einde van die Assiriese monargie, en dit sou nooit weer herstel nie.

In Assirië se oorlog teen die Babiloniërs en die Mede het Assirië 'n bondgenootskap met farao Psamtik I van die 26ste Dinastie van Egipte gesluit. Psamtik wou hê Assirië moes voortbestaan sodat dit 'n bufferstaat tussen Egipte en die Babiloniese en die Mediese koninkryk kon bly. Ná die val van Harran het sy opvolger, farao Necho II, persoonlik 'n leër na die voormalige Assiriese grondgebied gelei om die gang van die oorlog om te keer en die Nieu-Assiriese Ryk te herstel. Dit was egter 'n verlore saak, want Assirie het reeds geval. Terwyl Nabopolassar teen Urartu in die noorde geveg het, het die Egiptenare beheer oor die Levant oorgeneem en gebiede tot so ver noord as Karkemis in Sirië sonder weerstand ingeneem. In Karkemis het Necho die basis vir sy operasies gevestig.

Nebukadnesar se grootste oorwinning in sy tyd as kroonprins was by die Slag van Karkemis in 605 v.C., waarin die Egiptenare oortuigend verslaan is en wat 'n einde gebring het aan Necho se veldtog in die Levant. Nebukadnesar het die leër alleen aangevoer, terwyl sy vader in Babilon gebly het, dalk omdat hy siek was. Necho se magte is heeltemal deur Nebukadnesar se leër uitgewis. Volgens Babiloniese bronne het nie 'n enkele Egiptenaar oorleef nie.

Die storie oor Nebukadnesar se oorwinning by Karkemis het deur die geskiedenis weerklink en is talle kere oorvertel, insluitende in die Bybelboeke Jeremia en Konings. Dit is moontlik om af te lei dat die oorwinning daartoe gelei het dat die hele Sirië en Israel onder beheer van die Nieu-Babiloniese Ryk gekom het, iets wat die Assiriërs onder Tiglat-Pileser III (bewind: 745-727 v.C.) eers reggekry het ná vyf jaar van uitgerekte militêre veldtogte. Die nederlaag van die Egiptenare by Karkemis het verseker dat die Nieu-Babiloniese Ryk die oorheersende mag in die antieke Nabye Ooste en die onbetwiste opvolger van die Nieu-Assiiese Ryk sou word.

Bewind Vroeë veldtogte thumb|220px|'n Kleisilinder van Nabopolassar van Babilon. thumb|220px|Tekste soos dié kleitablet van Babilon besing Nebukadnesar se deugde en vertel watter groot leier hy is.

Nabopolassar is dood 'n paar weke ná Nebukadnesar se oorwinning by Karkemis. Nebukadnesar was steeds op sy veldtog, maar het hom teruggehaas na Babilon, waar hy tot koning verklaar is. Een van sy eerste dade as koning was om sy vader te begrawe. Nebukadnesar het dadelik daarna na Sirië teruggekeer en sy veldtog hervat. Hy het ná 'n paar maande weer na Babilon teruggekeer. Hoewel 'n sekere hoeveelheid buit in die Siriese veldtog geplunder is, het dit nie Nebukadnesar se houvas in die streek gevestig nie. Nie een van die westelike state in die Levant het aan hom trou belowe of heffings betaal nie.

Hoewel min ligting oor sy vroeë veldtogte bewaar gebly het, bevat die Babiloniese Kroniek kort weergawes van sy veldtogte in sy eerste 11 jaar as koning. In 604 v.C. het Nebukadnesar weer 'n veldtog in die Levant gevoer en die stad Askalon verower. Voor dit het 'n veldtog in Sirië gelei tot 'n belofte van trou deur die heersers van Fenisië.

220px|thumb|'n Kaart van die Nieu-Bbailoniese Ryk onder Nebukadnesar. In 603 v.C. het Nebukadnesar 'n veldtog gevoer in 'n land waarvan die naam nie bekend is nie en 'n onbekende stad beleër. In beide 602 en 601 v.C. was daar weer veldtogte in die Levant, maar min is daaroor bekend. Die kroniek verwys in die inskrywing vir 602 v.C. na Nabu-sum-lisir, Nebukadnesar se jonger broer, maar die konteks is onduidelik. Dit is moontlik dat hy 'n opstand teen Nebukadnesar gelei het in 'n poging om die troon oor te neem, want hy word ná 602 v.C. nie weer in enige bronne genoem nie.

alt=Statue probably depicting Pharaoh Necho II|thumb|140px|links|'n Standbeeld wat moontlik van Necho II van Egipte is.