Die Frankiese Ryk (Latyn: Francia en later imperium Francorum) was in historiese opsig die belangrikste ryk wat ná die ondergang van die Wes-Romeinse Ryk in die 5de eeu ontstaan het en die Wes- en Sentraal-Europese geskiedenis tussen die 5de en 9de eeu oorheers het. Die etnies-kulturele basis daarvan was oorspronklik Wes-Germaanse volke uit die tyd van die Volksverhuising, veral 'n bond van Frankiese stamme, wat reeds sowat eenhonderd jaar voor die begin van die Volksverhuising deur die Romeinse kultuur beïnvloed is. Die Frankiese elite het ná die verowering van Gallië met die plaaslike Galloromeinse adel versmelt en sodoende saam met die destyds invloedryke Rooms-Katolieke Kerk as bewaarder van die kultureel-godsdienstige Romeinse erfenis die magsbasis vir die nuwe Frankiese monargie geskep.
Binne drie eeue het die Frankiese Ryk tot 'n Europese groot moondheid ontwikkel wat deur die Merovingiese en Karolingiese dinastieë geregeer is. Die Karolingiese veldheer Karel Martel het in 732 met sy oorwinning in die Slag naby Tours en Poitiers aan die Loire-rivier die uitbreiding van die Islamitiese More na Sentraal-Europa verhinder. Onder Karel die Grote was die Frankiese Ryk op sy hoogtepunt en het sy grootste uitbreiding bereik.
Die Frankiese domein is as 'n politieke eenheid regeer wat in verskillende regna (koninkryke of onderkoninkryke) verdeel is; 'n reling wat die geskiedenis nog vir eeue sou oorheers. Die geografie en aantal subkoninkryke het oor die bestaan van die ryk gewissel. Die verdeling van die enorme ryk na die dood van die heerser daarvan het egter nog ingrypender gevolge gehad en die resultate daarvan kan tot vandag toe nog in die geografie van Europa gesien kan word.
Die Frankiese Ryk is in 843, na die dood van Lodewyk die Vrome, volgens die Verdrag van Verdun verdeel onder sy drie seuns. Hieruit sou in die weste Frankryk ontstaan en in die ooste die Heilige Romeinse Ryk wat uiteindelik Duitsland sou word. Deels as gevolg van die twee groter ryke, het die Middelryk wat van die Noordsee tot by die Middellandse See gestrek het gesukkel om volledig te ontwikkel. Met die Verdrag van Meerssen van 870 is die Middelryk verdeel onder die Westelike en Oostelike dele. Dit sou egter nooit heeltemal daarby behoort nie en uit die gebied het uiteindelik Nederland, België, Luxemburg, Switserland en Italië ontstaan.
Geskiedenis Oorsprong van die Frankiese Ryk duimnael|350px|Die uitbreiding van die Frankiese magsgebied Die Romeine was reeds sedert die middel van die eerste millennium v.C. bewus van die bestaan van die Germane. Dit was egter eers in die 3de eeu, toe probleme binne die Romeinse Ryk daartoe gelei het dat troepe aan die grens by die Ryn- en Donou onttrek moes word, wat betekenisvolle interaksie tussen die twee groepe begin plaasvind het. Die vroegste verwysing na die Franke dateer uit die 3de eeu.Volgens die Engelse Wikipedia artikel is die woord Francia in die Panegyrici Latini in die begin van die 3de eeu gebruik -- die artikel verskaf egter nie 'n bestaan eksterne bron vir die bewering nie Die Franke was 'n versameling Germaanse stamme wat net oos van die Benede-Ryn gewoon het.Katherine Fischer Drew, The Laws of the Salian Franks, p3 Dit het oënskynlik die Ampsivare, Chasuarii, en Chatii, en moontlik ook die Chamave, ingesluit. Vanaf die 260's het die Franke deelgeneem aan die Barbaarse invalle van Romeinse grondgebied.Ian Wood, Defining the Franks in From Roman Provinces to Medieval Kingdoms, saamgestel deur Thomas F. X. Noble, p113 Die strooptogte het die Franke tot diep in Romeinse grondgebied geneem en van hulle het so ver as die Pireneë gevorder voor Romeinse magte hulle weer oor die Ryn teruggedryf het. Geen groot groepe Franke het hulle op die stadium in die Romeinse Ryk gevestig nie. Individue en kleiner groepe is egter wel in die Ryk toegelaat, hoofsaaklik om die militêre probleme van die Ryk te help verlig. In die 4de eeu het individuele Franke soos Ricimer en Abrogast opgang gemaak in die Romeinse hiërargie.Katherine Fischer Drew, The Laws of the Salian Franks, p4
Teen die middel van die 4de eeu het betrekkinge tussen die Romeinse Ryk en die Franke gespanne geraak soos al hoe meer Franke hulle op Romeinse grondgebied gevestig het. In 357 het die Saliese Franke daarin geslaag om 'n permanente Frankiese teenwoordigheid binne die Romeinse Ryk te bekom deur 'n verdrag met Julianus Apostata aan te gaan. 'n Frankiese stam het hiermee die eerste Barbare geword om as 'n groep in die Romeinse Ryk toegelaat te word. Volgens die verdrag kon die Saliese Franke hulle as dediticii (belasting betalende landbouers) in die Scheldevallei en tussen die groot riviere, veral in Toxandrië, vestig.C. R. Whittaker, Rome and Its Frontiers: The Dynamics of Empire, p58
Die verdrag het die Franke se teenwoordigheid binne die Romeinse Ryk gewettig. In praktyk was die Romeine egter nouliks in staat daartoe om te bepaal waar die Franke hulle kon vestig. Die Romeine se aandag was gevestig op probleme met die Gote aan die Donou; nog Franke het oor die Ryn migreer en dié wat reeds op Romeinse grond was het wes en effens suid migreer. Romeine en geromaniseerde bewoners het op die vlug geslaan of die hulle onderwerp aan die nuwe Frankiese elite. Ter selfde tyd is die Germaanse Franke ongetwyfeld ook beïnvloed deur die Romeinse kultuur en gebruike.
Die Frankiese magsentrum is in die stad Doornik gevestig. Vandaar het hulle spoedig die hele provinsie Germania Inferior (die huidige Nederland benede die riviere, België en die huidige Rynland) beset en die meerderheid in die gebied geword. In ongeveer 428 het die Saliese koning Chlodio, wie se koninkryk Toxandrië ingesluit het en die civitatus Tungrorum (Tongeren) Romeinse gebied binnegeval en sy domein so ver as Camaracum (Kameryk) en die Somme uitgebrei. Die koninkryk van Chlodio het die grense verander en vir altyd nuwe betekenis aan die woord "Francia" verleen. Francia was nie meer barbaricum trans Rhenum (barbare anderkant die Ryn) nie, maar hereboere met politieke mag aan beide kante van die rivier wat nou betrokke was by Romeinse politiek. Chlodio se familie, die Merovinge, het Francia selfs verder suid uitgebrei. As gevolg van druk wat deur die Sakse uitgeoefen is, is die noordoostelike grense van Francia suidweswaarts gedwing wat daartoe gelei het dat meeste van die oorspronklike Franke meer suidwestelike gaan woon het, rofweg tussen die Somme en Munster.
Hoewel Sidonius Apollinaris geskryf het dat hy die Franke beveg het en hulle tydelik teruggedryf het (c. 431), het dié periode die begin van 'n situasie aangedui het wat vir baie eeue sou voortduur: die Germaanse Franke het oor 'n al hoe groter aantal of Gallo-Romaanse onderdane geheers. Teen 451 het die Franke saam met ander Germaanse federate (die Boergondiërs en Wesgote) as bondgenote van die Romeine onder Flavius Aëtius gehelp om die Hunne in die Slag van Chalons in die ooste van Frankryk te verslaan. Na die slag het die keiserlike mag in Gallië vinnig begin kwyn met slegs 'n onafhanklike Romeinse eenheid in Soissons naby Letitia (Parys) wat die Franke moes weerstaan.Katherine Fischer Drew, The Laws of the Salian Franks, p5 Die Franke se uitbreidingsdrang is vervolgens gerig op die nog welvarende gebied in die suide, en so het die Merovingiese konings geleidelik dele van Gallië tot aan die Seine verower.
Die Merowingiese Ryk Clovis en die Vereniging van die Franke duimnael|300px|Die politieke onderafdelings van Gallië aan die begin van Clovis se loopbaan. Slegs die Boergondiese koninkryk en die provinsie Septimania was teen sy afsterwe nog nie oorwin nie. 'n Honderd jaar na die verdrag met Julianus Apostata was die Franke steeds nie as 'n enkele groep verenig nie en was hulle verdeel in groepe onder verskillende krygsleiers. Geleidelik het twee hoofgroepe egter begin vorm: die Saliese Franke in die weste en die Ripuariërs verder oos en hoër op teen die Ryn. Groot getalle Franke het ook steeds oos van die Ryn gebly. Chlodio en sy seun Merovech was halflegendariese Konings van die Saliese Franke en min is oor hulle bekend. Wat wel bekend is, is dat Childeric I, moontlik Chlodio se kleinseun, oor 'n Saliese koninkryk uit Doornik as 'n foederatus van die Romeine regeer het. Childeric I was 'n bondgenoot van Aegidius wat oor die oorblywende Romeinse enklave in die noordweste van Gallië, die Domein van Soissons, regeer. Hulle het die Wes-Gote saam in 463 by Orléans verslaan. Na Aegidius se dood in 464 het sy seun, Syagrius hom opgevolg as dux van Soissons, 'n amp wat hy selfs na die val van die Westelike Ryk in 476 instand gehou het.The History Files, Domain of Soissons AD 461 – 486
in 481 het Clovis Childeric I opgevolg as koning van die Saliese Franke. Clovis het sy outoriteit oor die ander Frankiese stamme uitgebrei het en hulle territorium suid en wes in Gallië in uitgebrei het. Clovis het hom tot Rooms Katolisisme bekeer wat gehelp het om goeie verhoudinge met die magtige Kerk en sy Gallo-Romaanse onderdane te vestig. In 'n dertigerjare lange bewind (481–511) het hy as die eerste Koning van die nou verenigde Franke die Romeinse generaal Syagrius verslaan om die Romeinse enklave Soissons te oorwin, die Alemanne in die Slag van Tolbiac verslaan in 504 en Frankiese hegemonie oor hulle gevestig. Hy het ook die Wesgote (Vouillé, 507) verslaan en hulle hele koninkryk (behalwe Septimania) met sy hoofstad by Toulouse verower. Volgens Gregorius van Tours het hy ook die Bretons verslaan en hulle vasalle van Francia gemaak.Gregorius van Tours verskaf belangrike inligting oor die politiek van die sesde eeu en die gebeure wat dit voorafgegaan het. Daar moet egter in ag geneem word dat hy van die standpunt as 'n biskop in die Katolieke Kerk geskryf het met 'n besliste vooroordeel ten gunste van die instansie. Hy was ook 'n lid van die Gallo-Romaanse aristokrasie en was dus moontlike bevooroordeeld teenoor die Franke. Van sy gegewe is definitief onakkuraat en sy verslae oor gebeure baie keer verdraai. Hy is egter in baie gevalle die enigste bron vir gebeure in die tydperk; wat dit moeilik maak om die feite te verifieer. Sien meer in Emily Wilson se The rise of the Carolingians or the decline of the Merovingians? Clovis het meeste of al die naburige Frankiese stamme langs die Ryn oorwin en hulle in sy Koninkryk opgeneem. Hy het ook verskeie Romeinse militêre nedersettings (laeti) wat oor Gallië versprei was verower: die Sakse van Bayeux, die Alane van Armorika, en die Taifale van Poitou om maar net 'n paar van die belangrikes te noem. Teen die einde van sy lewe het hy oor die hele Gallië regeer behalwe die Gotiese provinsie Septimania en die Boergondiese Koninkryk in die suidooste.
Die Merowinge was die eerste Frankiese dinastie en het 'n oorerflike monargiestelsel gebruik. Die Frankiese konings het 'n stelsel aangehang waarvolgens hulle gebied onder hulle seuns verdeel is as deel van 'n enkele ryk wat gesamentlik deur verskeie konings regeer is. Gebeur kon daartoe lei dat die onderdele weer verenig is onder 'n enkele koning. Met Clovis se afsterwe in 511 is sy ryk verdeel en toegeken aan sy vier volwasse seuns op so wyse dat elke seun 'n vergelykbare fiskale grondgebied toegeken is.
Verdeling van die Ryk onder Clovis se seuns duimnael|300px|Die verdeling van Francia na Clovis se dood (511):