Cristina Elisabet Fernández de Kirchner ([kɾisˈtina eˈlisaβet ferˈnandes ðe ˈkiɾʃneɾ], * 19 Februarie 1953 in La Plata), algemeen bekend as Cristina Kirchner of kortweg CFK, het tussen 10 Desember 2007 en 10 Desember 2015 as president van Argentinië gedien. Van 10 Desember 2019 tot 10 Desember 2023 het Kirchner gedien as Adjunkpresident van Argentinië onder die staatshoof Alberto Fernández.

Cristina Kirchner, 'n boorling van La Plata in die provinsie Buenos Aires, is die weduwee van die vroeëre president Néstor Kirchner. Sy is die sewende Peronis en die eerste vrou wat as Argentynse staatshoof verkies is, asook die tweede vrou ná Isabel Martínez de Perón (1974–1976) wat hierdie amp beklee het. Kirchner is op 28 Oktober 2007 vir haar eerste ampstermyn verkies en vier jaar later vir 'n tweede termyn herverkies. Tydens haar politieke loopbaan is sy as afgevaardigde in die Argentynse parlement (een termyn) en as nasionale senator (drie ampstermyne vir die provinsies Santa Cruz en Buenos Aires) verkies.

Binne die breë spektrum van politieke strominge in die Peronistiese Party (Partido Justicialista) word Cristina Fernández de Kirchner, net soos haar wyle man, by die nuwe linkses gereken. Jill Hedges: Argentina. A Modern History. Kindle e-boek. Londen en New York: I.B. Tauris 2011, pos. 228 Argentynse politiek is, veral tydens Kirchner se tweede ampstermyn, deur toenemende polarisering en magskonsentrasie in hande van die president en haar seun Máximo (wat geen politieke amp beklee nie, maar as invloedryke raadgewer optree) gekenmerk. www.spiegel.de: Máximo Líder, 21 Oktober 2013. Besoek op 13 Januarie 2014

Biografie Cristina Fernández is op 19 Februarie 1953 in Tolosa, 'n westelike voorstad van La Plata, die hoofstad van die provinsie Buenos Aires, as dogter van Eduardo Fernández (van Spaanse afkoms) en Ofelia Esther Wilhelm (van Wolga-Duitse afkoms) gebore. Ná voltooiing van haar laerskoolopleiding het sy twee jaar by die voormalige handelskool San Martín (tans Middelskool 31) en drie jaar by die Rooms-Katolieke meisiesskool Colegio Nuestra Señora de la Misericordia in La Plata skoolgegaan.

In die 1970's het sy aan die Universiteit van La Plata in regswetenskappe studeer. Hier het sy kennis gemaak met Néstor Kirchner, een van haar medestudente. Die paar het op 9 Maart 1975 getrou, en uit die huwelik is twee kinders gebore, Máximo (* 1977) en Florencia (* 1990). Die Kirchners was tydens die militêre bewind of Proceso tussen 1976 en 1983 as suksesvolle advokate in Río Gallegos, 'n stad in die uiterste suide van Argentinië, werksaam en het hul politieke loopbaan ná die demokratisering in 1983 begin.

Op 8 Oktober 2013 is Cristina Kirchner ná 'n ongeluk vir breinbloeding geopereer. Beeld, 9 Oktober 2013: Argentinië se leier ongesteld. Besoek op 13 Januarie 2014

Politieke loopbaan duimnael|links|Kirchner in haar jeugjare duimnael|links|Cristina Fernández de Kirchner en haar eggenoot Néstor Kirchner In haar studentejare het Cristina en Néstor Kirchner met die Peronistiese Jeugbeweging gesimpatiseer, maar was self nie polities aktief nie. Toe die verkose president Isabel Peron ná die militêre staatsgreep van 1976 gedeporteer is, het die Kirchners La Plata verlaat en hulle in Río Gallegos, Patagonië gevestig om daar as advokate te werk. Nadat haar eggenoot Néstor in 1987 tot burgemeester van Río Gallegos verkies is, het ook Cristina in die laat 1980's tot die politiek toegetree. Sy is in 1989 as afgevaardigde tot die provinsiale parlement van Santa Cruz verkies en het haar setel ook in die volgende verkiesing vier jaar later behou.

In 1995 is Cristina Kirchner as afgevaardigde van Santa Cruz tot die Argentynse Senaat verkies. Twee jaar later het sy setel in die Argentynse parlement, die Kamer van Afgevaardigdes, gewen, maar het in 2001 tot die Senaat teruggekeer. Cristina het haar man tydens sy suksesvolle presidensiële verkiesingsveldtog van 2003 ondersteun, alhoewel sy nooit saam met hom aan openbare politieke vergaderings deelgeneem het nie. In die eerste rondte van die verkiesing op 27 April 2003 het die vroeëre president Carlos Saúl Menem met 25 persent die hoogste persentasie van die uitgebragte stemme op hom verenig, maar het nogtans nie die nodige algehele meerderheid behaal nie.

Die tweede en finale rondte van die verkiesing, met Menem en Kirchner as enigste kandidate, is vir 18 Mei geskeduleer. Menem het egter besef dat hy 'n verpletterende neerlaag sou ly en hom as kandidaat onttrek. Sodoende is Kirchner outomaties met 22 persent van die uitgebragte stemme as Argentinië se nuwe president verkies – die laagste persentasie ooit in die geskiedenis van die land.

Gedurende haar man se ampstermyn het Cristina Kirchner as Argentinië se Eerste Dame gedien, 'n rol wat sy as rondreisende ambassadeur vir sy regering vervul het. Kirchner se strydende toespraakstyl het Argentynse politiek gepolariseer en sy word dikwels met Eva Perón vergelyk. Alhoewel sy die vergelyking meermale verwerp het, het sy later in onderhoud gesê dat sy met "die Evita met die hare in 'n bolla en die gebalde vuis voor 'n mikrofoon" identifiseer (die tipiese beeld van Eva Perón tydens toesprake), eerder as die "wonderbaarlike Eva" van haar ma se tyd, wat gekom het "om werk en die reg om te stem aan vroue te bring".

In die algemene verkiesing, wat in Oktober 2005 gehou is, was Cristina Kirchner haar party se hoofkandidaat vir die senatorsetel in die provinsie Buenos Aires. Ná 'n vurige verkiesingsveldtog teen Hilda González de Duhalde, die vrou van die vroeëre president Eduardo Duhalde, het sy dié setel met 45,77 persent van die uitgebragte stemme verower, teenoor González de Duhalde se 20,43 persent.

Verkiesing tot president duimnael|Cristina vier die verkiesingsuitslae saam met haar man Néstor In die verkiesing op 28 Oktober 2007 het Cristina Kirchner 'n relatiewe meerderheid van meer as 44 persent van die uitgebragte stemme op haar verenig en die verkiesing sodoende met 'n voorsprong van sowat 20 persent bo Elisa Carrió reeds in die eerste rondte gewen. Volgens die Argentynse wette word 'n kandidaat al in die eerste rondte tot wenner verklaar sodra sy of hy of meer as 45 persent van die uitgebragte stemme op haar of hom verenig of meer as 40 persent van die stemme en tegelykertyd 'n voorsprong van meer as 10 persent bo die kandidaat in die tweede plek behaal.

Die verkiesingsuitslae was in geografiese opsig baie uiteenlopend. Cristina, wat as 'n boorling van Patagonië die bynaam "Pikkewyn" gekry het, het sowel in haar tuisprovinsie asook in die noorde van die land meer as 70 persent van die uitgebragte stemme op haar verenig en in sommige distrikte van die provinsies Salta en Santiago del Estero selfs sowat 95 persent behaal. Sy het egter in die drie grootste stede, Buenos Aires, Córdoba (waar sy 'n derde plek behaal het) en Rosario, verloor.

In haar eerste toespraak ná die verkiesing het Cristina Kirchner aangekondig dat die grondbeginsels waarop die beleid van haar eggenoot en voorganger Néstor Kirchner gebaseer was, ook die uitgangsbasis van haar eie beleid sal wees.

Eerste ampstermyn (2007–2011) Ná haar ampsaanvaarding op 10 Desember 2007 het Kirchner die beleid van haar man voortgesit, veral ten opsigte van haar ekonomiese beleid wat voorsiening vir invoervervangende industrialisasie en (aanvanklik) beperkte proteksionistiese maatreëls gemaak het, en haar menseregtebeleid waarmee sy met die ondersoek van misdade, wat tydens die militêre bewind tussen 1976 en 1983 gepleeg is, voortgegaan het.

Haar eerste noemenswaardige politieke besluit was die aankondiging van 'n energieplan om die land se krag- en gastekorte te verlig. Dié plan het voorsiening gemaak vir die bou van nuwe kragsentrales en die kortstondige herinvoering van 'n somertyd vanaf die einde van 2007. Dit was egter beperk tot drie maande en is daarna weer afgeskaf. Daarnaas is 'n Departement vir Wetenskap, Tegnologie en Produktiewe innovasie in die lewe geroep.

Krisis tussen regering en landbouverenigings (Maart tot Julie 2008) duimnael|links|Padblokkade in Villa María, provinsie Córdoba, in 2008 duimnael|President Cristina Fernández de Kirchnerr in 2007. Amptelike foto van die presidentskantoor 'n Aankondiging van die minister van ekonomie, Martìn Lousteau, op 11 Maart 2008 het die eerste regeringskrisis veroorsaak. Lousteau was van plan om teen die agtergrond van stygende wêreldmarkpryse vir sojabone en sonneblomprodukte ook die uitvoerbelasting vir hierdie landbougoedere per ministeriële verordening te verhoog. In sy dekreet, wat as Resolución 125 bekend gestaan het, het die minister ook kennis van sy voorneme gegee om die uitvoerbelastingtariewe vir 'n groot verskeidenheid agrariese produkte aan die wêreldmarkprys te koppel. 'n Styging in die wêreldmarkprys vir 'n bepaalde produk sou sodoende 'n outomatiese verhoging van die uitvoerbelasting, wat daarop gehef word, beteken (sogenaamde retenciones móviles).

Belangegroepe in die landbousektor het vir 'n onbepaalde staking en ander protesoptredes soos die aanbring van padblokkades gevra om die verordening te kelder. Kirchner het die uitvoerbelastingverhogings in 'n openbare verklaring op 25 Maart bevestig en aangekondig dat sy nie bereid was om aan die belangegroepe se eise in te gee nie. Die bevolking het die gevolge van die wydverspreide stakings op verskeie terreine begin voel. Die aanbod van landbouprodukte het verminder, terwyl kospryse die hoogte ingeskiet het.

Die regering het onder die druk geswig en die uitvoerbelastingverhogings vir klein en middelgroot ondernemings herroep deur reeds betaalde belasting terug te betaal. Onderhandelinge tussen die regering en agrariese belangegroepe is vervolgens in 'n ontspanne atmosfeer hervat, maar sonder enige sukses. Minister Lousteau het op 25 April bedank. Die belangegroepe het hul staking vanaf 24 Mei hervat.

Op 17 Junie het die regering 'n wetsontwerp by die parlement ingedien om die belastingverhogings deur die afgevaardigdes te laat legitimeer. In die Kongres is enkele hervormings ten gunste van klein produsente bygewerk. Die wetsontwerp is deur die Huis van Afgevaardigdes op 6 Julie met 'n klein meerderheid aanvaar en na die Senaat verwys. Hier was die stemming op 17 Julie gelykop, met 36 stemme aan elke kant. Die Senaatspresident en Adjunkpresident van die Kirchner-regering, Julio Cobos, het derhalwe besluit om sy beslissende stem teen die wetsontwerp uit te bring.

Die regering het Resolución 125 op die volgende dag uitgestel en uitvoerbelastingtariewe sodoende weer tot die oorspronklike vlak van 2007 verlaag. Die konflik tussen regering en landbou-belangegroepe is amptelik beëindig, alhoewel enkele verteenwoordigers die regering opgeroep het om hervormings ten gunste van klein en middelgroot produsente in te stel.

Verkiesingsneerlaag en nuwe sosiale programme (2009) duimnael|Cristina Fernández de Kirchner met 'n Che-Guevara-plakkaat in die Universiteit van Havana (2009) Gedurende die stryd met agrariese belangegroepe het Kirchner heelwat steun onder kiesers verloor. In meningspeilings, wat in 2008 en vroeg in 2009 gedoen is, is Kirchner se hantering van presidensiële pligte deur minder as 25 persent van Argentyne goedgekeur. In haar ekonomiese beleid het nasionaliserings 'n sentrale rol gespeel. Nog voor die volgende verkiesings in 2009 is groot ondernemings soos die lugvaartmaatskappy Aerolineas Argentinas, die vliegtuigvervaardiger Fábrica Militar de Aviones en privaat pensioenfondse (AFJP), wat deur president Carlos Menem se pensioenhervorming geskep is, genasionaliseer.