duimnael|270px|regs|Die Ou Apostoliese kerk, Swellendam.

Die Ou Apostoliese Kerk is ’n Christelike denominasie wat hoofsaaklik in Suider-Afrika voorkom. Dit het sy oorsprong in die 19de-eeuse apostoliese beweging en het in Suid-Afrika ontwikkel uit sendingwerk wat verband gehou het met die Nuwe Apostoliese Kerk.

Geskiedenis Die Ou Apostoliese Kerk het sy oorsprong in die Katoliek-Apostoliese beweging wat in die 1830’s in die Verenigde Koninkryk ontstaan het. Uit hierdie beweging het verskeie apostoliese groepe ontwikkel, insluitend die Nuwe Apostoliese Kerk.

Die kerk in Suidelike Afrika het ontwikkel deur die sendingwerk van Carl Georg Klibbe, ’n voormalige Lutherse predikant, wat in 1889 in Suid-Afrika aangekom het. Aanvanklik het hy in Kaapstad gewerk, maar het later na Oos-Londen verhuis waar hy ’n gemeente onder Duitse immigrante gevestig het.

Sendingwerk het daarna uitgebrei na stede soos Port Elizabeth, Durban en Johannesburg, en verder na omliggende dorpe.

’n Meningsverskil het ontstaan tussen Klibbe en ander leiers binne die apostoliese beweging. In 1913 is Georg Heinrich Wilhelm Schlapphof in Duitsland as apostel bevestig, terwyl Klibbe uit die Nuwe Apostoliese Kerk verban is, ’n besluit wat hy nie erken het nie.

Vanaf 1913 het twee groepe in Suid-Afrika onder die naam "Nuwe Apostoliese Kerk" bestaan. Hierdie situasie het gelei tot ’n regsdispuut wat in 1926 deur die Hooggeregshof van Suid-Afrika besleg is. Die hof het bepaal dat Klibbe se groep onder ’n ander naam moes funksioneer, waarna die naam "Ou Apostoliese Kerk van Afrika" gebruik is.

Klibbe is in 1931 oorlede en is opgevolg deur C. F. W. Ninow. In 1953 is S. Hlatshwayo as apostel georden, een van die eerste swart apostels in die kerk.

Leer en praktyk Die Ou Apostoliese Kerk leer dat die Bybel die Woord van God is en die grondslag vorm van sy leerstellings. Hierdie leerstellings word verder uiteengesit in die kerk se kategismus en geloofsbelydenis.

Die kerk bely geloof in een God, die Vader, in Jesus Christus as die Seun van God, en in die Heilige Gees. Hierdie leer weerspieël ’n Drie-eenheid verstaan van God.

’n Kenmerkende aspek van die kerk is die rol van lewende apostels, wat beskou word as geestelike leiers met gesag oor leer, bestuur en die bediening van sakramente.

Die kerk erken drie hoofsakramente: die doop, die heilige nagmaal en die verseëling. Die doop word met water bedien as teken van bekering. Die nagmaal word beskou as deelname aan die liggaam en bloed van Christus. Verseëling word bedien deur handoplegging deur ’n apostel en word verbind met die ontvangs van die Heilige Gees.

Volgens kerklike riglyne vind verseëling ook plaas in verband met die afgestorwenes. Die kerk se huishoudelike reëls bepaal dat “die verseëling van die siele in die doderyk plaasvind onmiddellik ná die verseëling van lewende lidmate”.

Die kerk beklemtoon gehoorsaamheid, ’n morele leefwyse en betrokkenheid by die geloofsgemeenskap.

Groepe wat weggebreek het vanuit die Ou Apostoliese Kerk In 1925 het Apostel Klibbe se skoonseun, Hendrik Velde, met 'n groep volgelinge weggebreek. Sy kerk is later opgeneem in die Apostoliese Eenheid. Geskiedenis van die Apostel Eenheid In 1972 het die Hervormde Ou Apostoliese Kerk, onder leiding van Apostel Robert Lombard weggebreek, as gevolg van die OAK se ongewilligheid om by politieke debat betrokke te raak.Old Apostolic Church of South Africa v Non-White Old Apostolic Church of Africa 1975 (2) SA 684 (C) at 687 D-E. 4. In 1978 het die Twelve Apostles Church in Christhttp://www.twelveapostlescc.co.za/index.php?menu=about onder leiding van Apostel Ndlovu weggebreek, nadat hy van sy amp onthef is deur die Apostelaat van die OAK.

Organisasie en administrasie Die hoogste gesag van die Ou Apostoliese Kerk is 'n beheerliggaam, bekend as die Apostolaat, ook genoem die Konferensie van Apostels. Hierdie liggaam bestaan uit alle aktiewe en uitgetrede apostels. Alle aangeleenthede rakende die kerk, geestelik en temporaal, word deur hierdie liggaam beheer.

Die kerk is vir administratiewe doeleindes in verskeie distrikte opgedeel. Elke distrik bestaan uit een distrikshoofkantoor, wat gelei word deur een tot soveel as vyf en meer apostels. Die distrikshoofkantoor is verantwoordelik vir die instandhouding en oprigting van sale en ander eiendom in die distrik. Die gesamentlike beheer van die distrik is die gesamentlike verantwoordelikheid van die apostels in die distrik. Elke distrik word administratief bestuur deur 'n distriksekretaris, wat verslag moet doen aan die distriksapostolaat.

Elke apostel is verantwoordelik vir 'n gebied wat bekend staan as 'n apostelskap. 'n Apostelskap bestaan uit tussen 12 en 15 lede en selfs meer opsienerskappe. 'n Apostel is verantwoordelik vir die geestelike welstand van die apostelskap. Die apostel is die enigste amp wat die sakrament van Heilige Verseëling kan bedien.

Die apostel word bygestaan in sy taak deur die Viervoudige Bediening bekend as die profete, evangeliste en opsieners (herders en leraars). 'n Opsiener word aangestel vir elke opsienerskap en word deur 'n profeet en evangelis bygestaan, wat al drie gesamentlik verantwoordelik is vir die opsienerskap se geestelike welstand. Gewoonlik word 'n profeet en evangelis aangestel vir elke twee opsienerskappe. Die Viervoudige Ampte (profeet, evangelis en opsiener) is gelyk in status en word vergelyk met die Rooms-Katolieke en Anglikaanse amp van Biskop.

Elke Opsienerskap bestaan uit drie tot ses Oudsteskappe uit. Aan die hoof van die Oudsteskap is die Oudste (Ouderling), wat ook genoem word die "Geneesheer in Israel" omdat hierdie amp handelinge (gebed tot genesing) kan doen. 'n Oudste kan verantwoordelik wees vir ses tot twaalf priesters. 'n Oudsteskap kan tot selfs uit twee gemeentes uit bestaan.

'n Priester is verantwoordelik vir 'n aantal gesinne se geestelike welstand en tree op as die herder in die gemeente. Sy verantwoordelikheid is 'n kombinasie van die amp van dominee en ouderling in die Gereformeerde Kerke. Die Priester het ook die bevoegdheid om die sakramente van Heilige Avondmaal (Nagmaal) en Heilige Doop te bedien.

Elke Priester word bygestaan deur 'n Onderdiaken. Die verantwoordelikheid van die Onderdiaken is om die gemeente te onderrig in die Bybel en om Bybelstudies te lei.

Daar is ook ander hulpkragte in die Ou Apostoliese Kerk soos koorleier, Sondagskool-onderwyser, sekretaris, toneelmeester en deurwag.

Vroue word glad nie verordineer in die amp nie, maar word wel toegelaat om te dien as hulpkragte.

Geen ampsdraers in die Kerk ontvang enige besoldiging nie, insluitend Apostels.

Kerklike aktiwiteite

Sang en musiek Die algemene sangbundel van die Ou Apostoliese Kerk was die "Evangelie Liedere" gewees, totdat dit later deur die kerk se eie "Sing Emmaneul" in die vroeë 1990's vervang is.

Die "Evangelie Liedere" word nog deur kore gebruik, tesame met die "Alexander Hymns, "Sacred Songs and Solos" en "Sing Emmanuel".

Die kerk hou gereeld verskeie sangfeeste waarin lede aangemoedig word om aan deel te neem.

Die OAK se musiekstyl is baie tradisioneel, soortgelyk aan die "Psalms en Gesange", waarvan sommige tesame met ander tradisionele en gewyde liedere in hulle sangbundel opgeneem is. 'n Spesiale uitgawe van die "Evangelie Liedere" was vir die OAK gedruk in Rooi met die OAK se naam in Goud op die buiteblad. Drie uitgawes van die "Sing Emanuel" is beskikbaar. Die rooi uitgawe word aan lede verkoop teen kosprys. 'n Swart uitgawe word in gemeentes gehou vir besoekers. 'n Koorbundel met 'n rooi omslag met die bladmusiek is ook beskikbaar. Die "Sing Emmanuel" is soos die "Evangelie Liedere" tweetalig (Afrikaans en Engels).

Kore en die gemeente word deur 'n orrel begelei, en in die meeste gevalle sing die kore sonder instrumentale begeleiding.

Musiek wat kenmerkend is aan die Pinkster en Charismatiese Bewegings word in die OAK beskou as onaanvaarbaar en uitspattig.

Tydens sangfeeste word individuele sangitems en veral van kinders aangemoedig.

Elke diensgeleentheid word geëindig deur 'n afsluitingslied, die "Glori Patri", wat as volg lui:

Amen, amen, amen. Ere aan die Vader, en aan die Seun, en aan die Heil'ge Gees Soos dit was in die begin, nou is en altyd sal wees wêreld, sonder end. Amen

Spesiale geleenthede, soos Sangfeeste en Tonele word voor gebed gewoonlik beëindig deur die lied, "One is our Master", wat in die OAK omgangstaal bekendstaan as die "Apostoliese Volkslied".

Tonele Tonele vind een maal 'n maand plaas, op die vierde Sondag. Dit vervang gewoonlik die aanddiens. Dit is 'n morele spel waarin een of ander les geleer word, wat vir die OAK lid positiewe gevolge moet hê.

Getuienisaksies Getuienis aksies vind twee maal per week plaas, maar kan ook ongeorganiseerd plaasvind. Dit is wanneer OAK lede aktief die evangelie verkondig en lede werf.

Ekumeniese betrekkinge en eksklusiwiteit Die OAK beskou homself as die enigste weg tot saligheid.

Die OAK het geen ekumeniese bande met ander kerkgenootskappe of organisasies nie, en verlang ook nie om sulke bande aan te knoop nie.

Die OAK het sedert die negentiger jare ekumeniese bande gehad met 'n Duitse kerk, Apostelamt Jesu Christi. Hierdie bande is in Julie 2006 verbreek toe van die AJC se lede onder leiding van drie AJC Apostels by die OAK aangesluit het. http://www.ekd.de/ezw/42714_informationen_schwere_krise_im_apostelamt_jesu_christi_k_d_oe_r.php] Schwere Krise im Apostelamt Jesu Christi – K.d.ö.R.

Politiek Die OAK weier om by politieke debat betrokke te raak, en steun ook glad geen politieke partye of stelsels nie. Volgens die geloofsbelydenis van die OAK moet alle lidmate van die kerk die regering onderdanig wees, al gaan dit met benoudheid gepaard. Daar word van OAK-lidmate verwag om alle landswette te gehoorsaam.

Die Bybel Die OAK erken en gebruik die Goedgekeurde King James weergawe en die Afrikaanse Ou Vertaling (hersiene uitgawe).

Daar word glad nie geglo in die letterlike interpretasie van die Bybel nie. Die Bybel word geestelik of allegories vertolk. Dit is die geloof van die OAK dat die verhale in die Bybel nie werklike historiese gebeure is nie.

Die Bybel word ook gebruik as enigste gesag om lering te baseer. Die Bybel kan ook nie uit sy eie uit saligheid verskaf nie, maar kan die weg tot saligheid aandui.Nuwe Kategismus: Vraag 39

Saligheid is uit die gesproke woord, wat volgens die OAK se geloof Jesus Christus is en nie die Bybel nie. Die Bybel kan ook nie die Kerk stig nie, slegs Jesus Christus kan, en die Skrifte getuig van Jesus Christus.Nuwe Kategismus: Vraag 40

Sakramente Die OAK erken drie sakramente: Die Heilige Doop, Heilige Avondmaal (Nagmaal) en Heilige Verseëling. Elke sakrament bestaan ook uit twee komponente. Dit is die Heilige komponent wat 'n handeling is wat in die gemeente voltrek word deur 'n ampsdraer van die kerk, en 'n Ware komponent wat die meer mistieke element is. Die Heilige komponent is die bevestiging dat die Ware komponent plaasvind, terwyl die Ware komponent 'n aksie is wat deur God gedoen is met die werking van die Heilige Gees.

Die Heilige Doop Die Heilige Doop met water tot bekering. Die doop word aan alle nuwe bekeerlinge bedien, volwassenes en kinders.Nuwe Kategismus: Vraag 52 Dit geskied deur besprinkeling. Kinders kan glad nie uitgesluit word uit die doopbelofte nie omdat dit 'n afwassing van die natuurlike liggaam is nie, maar 'n proses waardeur die siel opgebou en gevoed word. Wanneer die doopbelofte aan 'n kind bedien word, onderneem die ouers as voogde van die siel om die kind deurlopend in die doopproses te onderwerp. Deur die deurlopende onderwerping in die doopproses groei die kind tot geestelike volwassenheid.Nuwe Kategismus: Vraag 53 In die OAK is die doopproses 'n aanhoudende proses wat begin met die Heilige Doop wat 'n simboliese handeling is. Dit word opgevolg met die Ware Doop wat 'n aanhoudende proses is, wat plaasvind deur die lerende woord en onderrig van die ouers of kerklike onderrig.