Hierdie artikel handel oor die Nederlandse nasionale mansrugbyspan. Vir die artikel oor die nasionale vrouerugbyspan, sien Nederlandse nasionale vrouerugbyspan.
Die Nederlandse nasionale rugbyspan (Nederlands: Nederlands rugbyteam) is die nasionale rugbyspan wat Nederland in internasionale wedstryde (toetswedstryde) verteenwoordig. Rugby word in Nederland geadministreer deur Rugby Nederland (RN) wat in 1932 gestig is. Hulle dra die bynaam Oranje. Nederland word deur Wêreldrugby as ’n vlak drie-span erken. Die Nederlandse rugbyspan is tans (Maart 2026) 27ste op Wêreldrugby se wêreldranglys gelys.
Nederland het in 1930 sy eerste nieamptelike toetswedstryd teen België gespeel; hul eerste amptelike toetswedstryd het twee jaar later gevolg. In die daaropvolgende jare het albei spanne mekaar gereeld ontmoet. Van die ander teenstanders in die begintydperk was Duitsland en Roemenië. In 1934 was Nederland een van die stigterslede van die Fédération internationale de rugby amateur (FIRA; nou Rugby Europa, RE) wat as mededinger tot die destydse eksklusiewe, Angel-Saksies oorheersde Internasionale Rugbyvoetbalraad (IRVR; nou Wêreldrugby) gestig is. Sedert die 2000’s het die rugbysport in Nederland verder ontwikkel en die keurspan lok intussen gereeld skare van sowat 1 000 tydens tuiswedstryde. Nederland speel die meeste van sy toetswedstryde tydens die Europese Rugbykampioenskap, waar hulle met ander ontluikende rugbyspanne meeding. Die nasionale span se beste prestasies tot dusver is die promosie na die eerste vlak in 2020. Nederland kon tot dusver nog nie vir ’n rugbywêreldbekertoernooi kwalifiseer nie. Die Nederlandse span speel tradisioneel in oranje truie met blou broeke en blou sokkies.
Beheerliggaam
Die beheerliggaam vir rugby in Nederland is Rugby Nederland (RN), tot in 2014 die Nederlandse Rugbybond (Nederlandse Rugby Bond, NRB) genoem. Rugby Nederland is in 1932 gestig en het in 1988 by die Internasionale Rugbyvoetbalraad (IRVR; nou Wêreldrugby) aangesluit. Daarbenewens was die Nederlandse beheerliggaam in 1934 ’n stigterslid van die kontinentale beheerliggaam Fédération internationale de rugby amateur (FIRA; nou Rugby Europa, RE).
Die hoogste rugbyliga in Nederland is die Ereklasse, waaraan agt spanne deelneem. Die meeste spelers van die Nederlandse nasionale span is uit dié liga afkomstig. Van die ander spelers is veral in Frankryk op professionele vlak aktief. In Nederland aktiewe nasionale spelers draf meestal uit vir die professionele span The Delta wat sedert 2021 aan die Rugby Europa Superbeker deelneem.
Naas die amptelike nasionale span roep Rugby Nederland ook ander keurspanne byeen. Die Dutch Sevens is die Nederlandse sewesrugbyspan en hulle neem aan internasionale toernooie soos Wêreldrugby se Sewesreeks, Sewesrugbywêreldbeker en Olimpiese Somerspele deel. Net soos ander rugbylande beskik Nederland oor ’n o/20-nasionale span wat aan die Europese Juniorkampioenskap en die Wêreldrugby o/20-trofee deelneem. Kinders en jongmense word reeds op skool aan rugby bekend gestel en na gelang van hul belangstelling en talent begin hulle met hul afrigting.
Geskiedenis Invoering en vestiging van rugby Rugby word in Nederland sedert 1918 gespeel, maar aan die begin slegs by ’n handjievol klubs. In 1915 is tydens die Eerste Wêreldoorlog, waartydens Nederland neutraal gebly het, ’n groot aantal Britse offisiere geïnterneer en hulle het rugby gespeel teen Suid-Afrikaanse uitruilstudente, waardeur Nederlandse studente belangstelling begin toon het en in 1918 is die Delftse Studenterugbyklub (Delftsche Studenten Rugby-Club, DSR-C) gestig, die oudste rugbyklub in Nederland. Op 7 September 1920 was die DSR-C by die stigting van die beheerliggaam Nederlandse Rugbybond (Nederlandsche Rugbybond, NRB) betrokke, saam met twee ander federasies: die Amsterdamse Studenterugbyvereniging en die Groningse Studenterugbyklub, ’n rugbytak van die Groningse Voetbalvereniging “Forward”. Later het die Rotterdamse klub RSSV aangesluit. Die beheerliggaam is egter ná enkele jare ontbind, aangesien in die naoorlogse jare die buitelandse troepe onttrek en die verenigings die aanbieding van wedstryde gestaak het. Die DSR-C het as die enigste rugbyklub oorgebly, waardeur daar nie meer ’n behoefte vir ’n beheerliggaam was nie. Volgens die huidige beheerliggaam Rugby Nederland is sy voorganger in 1923 ontbind, die Leidsch Dagblad het egter nog in 1924 oor ’n federale besluit berig, waarvolgens die rugbyspelers aan die Olimpiese Somerspele 1924 se rugbytoernooi in Parys nie wou deelgeneem het nie, wat ook die bewering weerlê dat die beheerliggaam slegs vriendskaplike kompetisies kon reël.
Nederland het op 1 Julie 1930 in sy eerste wedstryd tuis in Den Haag gespeel, maar hulle is met 6–0 deur België geklop, waarmee die tot op hede aanhoudende mededinging met die suidelike buurland afgeskop het. Later dieselfde jaar het die tweede wedstryd in Brussel gevolg, wat hulle met 0–11 verloor het. Albei wedstryde word deur Rugby Nederland egter nie as amptelike toetswedstryde erken nie omdat beide die Nederlandse en die Belgiese rugbybeheerliggam nog nie bestaan het nie. Die eerste amptelike toetswedstryd volgens Rugby Nederland is op 13 Maart 1932 in Amsterdam weer teen België beslis en het in ’n 6–6-gelykop geëindig. Terloops, volgens Rugby Nederland kon daardie wedstryd nie as ’n toetswedstryd erken word nie, maar dit word wel erken aangesien die Belgiese beheerliggaam reeds bestaan het en die stigting van die Nederlandse eweknie reeds ver gevorderd was. Op 1 Oktober 1932 is in Amsterdam ’n nuwe beheerliggaam onder die naam Nederlandsche Rugbybond gestig (later Nederlandse Rugbybond; nou Rugby Nederland, RN). Die vierde wedstryd op 18 Desember 1932 in Eindhoven teen Duitsland, waarin hulle met 24–11 verslaan is, was die eerste toetswedstryd ná die stigting van die Nederlandse beheerliggaam. Tot in 1937 het die Nederlanders jaarliks teen die Belge te staan gekom en telkens geseëvier.
In 1934 was Nederland een van die stigterslede van die vastelandse beheerliggaam Fédération internationale de rugby amateur (FIRA; nou Rugby Europa, RE) wat onder Franse leiding as mededinger tot die destydse eksklusiewe, Angel-Saksies oorheersde Internasionale Rugbyvoetbalraad (IRVR; nou Wêreldrugby) gestig is. Nogtans was internasionale ontmoetings skaars. Een jaar later is die Ereklasse, die nasionale kampioenskap, vir die eerste keer beslis. In 1937 is die span, tydens die tweede FIRA-toernooi in Parys (die Europese Rugbykampioenskap se voorloper), in die uitspeelwedstryd om die vyfde plek deur België geklop.
Gereelde internasionale kontak duimnael|Toetswedstryd teen Wes-Duitsland in Hilversum in 1980 Ná die einde van die Tweede Wêreldoorlog het die Nederlandse span in die laat 1940’s slegs teen België te staan gekom. Nog in 1952 het hulle verveeld geraak om elke keer dieselfde teenstanders te ontmoet. In die 1960’s het die Nederlandse rugby egter ’n sterk groei ervaar. Tussen 1963, toe die koop van spelerbroeke ’n uitdaging was, en 1969, toe daar 2 500 geregistreerde spelers was asook gereelde verslae op Sondagaande gebeeldsend is en Danie Craven ’n nasionale rugbysentrum geopen het, het die aantal spelers vervierdubbel. Tot en met 1969 het die Nederlanders in minstens een jaarlikse vriendskaplike wedstryd teen die suidelike buurland gespeel.
Toe die FIRA die Europese Rugbykampioenskap ná ’n onderbreking van meer as tien jaar hervat het (onder deelname van Noord-Afrikaanse spanne), het die Nederlanders in die tweede afdeling begin. Tydens die FIRA-nasiesbeker 1965/66 het hulle in die halfeindstryd teen België vasgeval. Tydens die FIRA-nasiesbeker 1966/67 het die span ná nederlae teen Tsjeggo-Slowakye en Spanje, maar ook ’n afgelaste wedstryd teen Marokko die laaste groepplek beklee. In 1967/68 is hulle deur Pole geklop en kon Swede verslaan. In 1968/69 het die span ná ’n nederlaag teen België die finale rondte misgeloop. In 1969/70 is Nederland in die groepfase uitgeskakel.
Ná ’n herstrukturering van die FIRA-beker het Nederland tydens die FIRA-beker 1974/75 in die tweede afdeling aangebly en in die tweede plek onder vier deelnemers geëindig, waarmee hulle na die eerste afdeling gepromoveer is. Tydens die FIRA-beker 1975/76 se eerste afdeling het hulle onder andere vir die eerste keer Italië ontmoet, maar die laaste plek beklee, waarmee hulle weer na die tweede afdeling gerelegeer is. In 1976/77 het hulle die derde plek onder vyf deelnemers beklee. Met uitsondering van die 1984/85-seisoen het die Nederlanders ná nog ’n herstrukturering, toe die FIRA die tweede en derde afdeling saamgevat het, in die derde afdeling aangebly.
In 1985 het die Internasionale Rugbyvoetbalraad (IRVR; nou Wêreldrugby), wat destyds baie eksklusief was en slegs agt lede gehad het, op die invoering van die rugbywêreldbekertoernooi besluit. Vir die eerste Rugbywêreldbeker 1987 het die IRVR nege spanne vir deelname genooi, maar Nederland het geen uitnodiging ontvang nie. Nederland het in 1988 amptelik by die IRVR aangesluit en neem sedertdien aan kwalifiserende toernooie deel. Die Nederlanders se eerste deelname was tydens die Rugbywêreldbeker 1991-kwalifisering, waarin hulle die finale fase van die Europese kwalifisering kon behaal, maar hulle het op die vierde plek geëindig nadat Nederland al drie sy wedstryde verloor het.
Die FIRA het die Europese toernooi weereens herstruktureer, maar Nederland het tydens die FIRA-beker 1994–1997 in die tweede afdeling aangebly. Tydens die Rugbywêreldbeker 1995-kwalifisering kon die span Tsjeggië klop, maar hulle is deur Italië verneder.
Die jare van 1997 tot 1999 was ’n tyd van veranderinge in Europese rugby, aangesien FIRA homself onder die IRVR as vastelandse beheerliggaam geskik en gelyktydig die nie-Europese lede ontslaan het. Buitendien het met Frankryk en Italië die twee sterkste spanne nie meer aan die Europese kampioenskappe deelgeneem nie. Om dié redes is ander toernooie beslis, wat nie as vastelandse kampioenskappe geag is nie. Tydens die FIRA-toernooi 1996/97 het die Nederlanders die agtste plek behaal. Tydens die daaropvolgende Rugbywêreldbeker 1999-kwalifisering, wat in die wintersemester 1997/98 beslis is, het hulle die uitspeelrondte gehaal, maar hulle het met ’n algehele telling van 45–108 teen Korea vasgeval.
Op 14 November 1998 het Nederland sy ergste nederlaag gely, toe hulle deur Engeland met 110–0 op die Alfred McAlpine-stadion in Huddersfield verneder is. Die Europese Nasiesbeker 1999/2000, die eerste toernooi van die Europese toernooi se nuwe formaat, het die Nederlanders in die eerste afdeling begin. Nederland het die wedstryd teen Portugal gewen, maar hulle het die ander wedstryde teen Spanje, Roemenië en Georgië verloor.
In die nuwe millennium duimnael|Die Nederlandse nasionale rugbyspan, soos in Januarie 2008 duimnael|Nederland speel teen Pole tydens die Europese Nasiesbeker 2012 In die moderne professionele era het die span gesukkel, maar daar was nuwe hoop met ontluikende spelers soos Bart Viguurs, Allard Jonkers, Rik Roovers en Koeraad Buseman. Die Europese Nasiesbeker 2000/01 en die Europese Nasiesbeker 2001/02 was gelyktydig die eerste en tweede rondte van die Rugbywêreldbeker 2003-kwalifisering en die Nederlanders het as deelnemers aan die eerste afdeling die derde rondte gehaal, maar hulle het teen Tsjeggië en Rusland vasgeval.
Tydens die Europese Nasiesbeker 2002–2004 het die Nederlanders die derde plek behaal. Die Europese Nasiesbeker 2004–2006 het gelyktydig as die Rugbywêreldbeker 2007-kwalifisering se eerste deel gedien. Dit het vir die span in die tweede rondte geëindig, nadat hulle die derde plek behaal het.