Hierdie artikel handel oor die Skotse nasionale mansrugbyspan. Vir die artikel oor die nasionale vrouerugbyspan, sien Skotse nasionale vrouerugbyspan.

Die Skotse nasionale rugbyspan (Engels: Scotland national rugby union team; Skots-Gaelies: Sgioba nàiseanta rugbaidh na h-Alba) is die nasionale rugbyspan wat Skotland in internasionale wedstryde (toetswedstryde) verteenwoordig. Rugby word in Skotland deur die Skotse Rugbyunie (Scottish Rugby Union, SRU) geadministreer. Skotland neem aan die jaarlikse Sesnasies-toernooi deel, saam met Engeland, Frankryk, Ierland, Italië en Wallis. Skotland is ook een van die lande wat deel uitmaak van die Britse en Ierse Leeus – spelers wat vir Skotland mag speel mag dus ook gekies word vir die Leeus.

Skotland se belangrikste internasionale verskyning is tydens die vierjaarlikse rugbywêreldbekertoernooi wat sedert 1987 beslis word. Sedert die eerste Rugbywêreldbeker 1987 het die span aan al tien toernooie deelgeneem. Hulle beste uitslag was in 1991 toe Skotland die klein finale om die derde plek teen die Nieu-Seelandse All Blacks verloor het.

Skotse rugby dateer terug na 1871 toe Skotland Engeland in die eerste internasionale rugbywedstryd op Raeburn Place verslaan het. Sedert die voorganger van die Vyf- en Sesnasies-toernooi, die Tuisnasies, in 1883 ’n aanvang geneem het, het die span 15 keer die toernooi gewen – waaronder in die laaste Vyfnasies in 1999 – en nog nege ander kere die titel gedeel. Sedert Italië in 2000 by die kompetisie aangesluit het om die Sesnasies te vorm, het Skotland nog nie ’n titel verower nie. Daar is nog altyd strawwe wedywering tussen Skotland en hul Britse buurland Engeland. As deel van die Sesnasies-toernooi ding Skotland met England om die Calcuttabeker mee, die oudste trofee in rugby.

Skotse spelers dra tradisioneel donkerblou truie, wit broeke en blou sokkies – wat aan die kleure van die vlag van Skotland ontleen is. Die span se tuisstadion is Murrayfield in Edinburg waar hulle vir die eerste keer in 1925 gespeel het. Veral tydens tuiswedstryde skep die Skotse aanhangers, begelei deur tradisionele doedelsakke, ’n unieke atmosfeer wanneer hulle The Flower of Scotland sing. Die beheerliggaam Wêreldrugby beskou Skotland as ’n vlak-een rugbyland. Tien voormalige Skotse rugbyspelers is in Wêreldrugby se Heldesaal opgeneem. Skotland is tans (Maart 2026) sewende op Wêreldrugby se wêreldranglys gelys.

Beheerliggaam

duimnael|Die wespawiljoen van Murrayfield toon die gewildheid van Skotse rugby tydens toetswedstryde Die beheerliggaam vir rugby in Skotland is die Skotse Rugbyunie (Scottish Rugby Union, SRU). Die SRU is in 1873 as Skotse Voetbalunie (Scottish Football Union, SFU) gestig en is ná die Engelse Rugbyvoetbalunie (RFU) die tweede oudste beheerliggaam in die rugbygeskiedenis. In 1886 het die SFU saam met die Ierse Rugbyvoetbalunie (IRFU) en die Walliese Rugbyunie (WRU) die Internasionale Rugbyvoetbalraad (IRVR; nou Wêreldrugby) gestig. Sedert 1924 gebruik die Skotse beheerliggaam sy huidige naam. Daarbenewens het die SRU in 1999 by die vastelandse beheerliggaam FIRA-AER (nou Rugby Europa, RE) aangesluit. Die belangrikste rugbyliga in Skotland is die Verenigde Rugbykampioenskap, waaraan 14 spanne uit Ierland, Italië, Skotland, Suid-Afrika en Wallis deelneem, waaronder die twee Skotse spanne Edinburgh Rugby en Glasgow Warriors. Benede word die Skotse Premierskap tussen tien spanne beslis. Bo die nasionale kampioenskap word jaarliks saam met klubs uit Engeland, Frankryk, Ierland, Italië en Wallis die Europese Rugbykampioenskapbeker en die Europese Rugbyuitdagingsbeker beslis.

Naas die amptelike nasionale span roep die SRU ook ander keurspanne byeen. Scotland A is die tweede nasionale span van Skotland. Net soos ander rugbylande beskik Skotland oor ’n o/20-nasionale span wat aan die o/20-Sesnasies-toernooi en die Wêreldrugby o/20-kampioenskap deelneem. Kinders en jongmense word reeds op skool aan rugby bekend gestel en na gelang van hul belangstelling en talent begin hulle met hul afrigting. Skotland beskik oor ’n nasionale span vir studente, die Schoolboys, wat as ’n voorbereiding op die Skotse nasionale rugbyspan dien.

Dit word as ’n groot prestasie beskou om saam met die Britse en Ierse Leeus na die Suidelike Halfrond te toer, waar hulle sowat al om die vier jaar teen die Nieu-Seelandse All Blacks, die Suid-Afrikaanse Springbokke of die Australiese Wallabies speel.

Geskiedenis Invoering van rugby in Skotland duimnael|Skotland voor hul eerste internasionale wedstryd teen Engeland in Edinburg, 1871 Verskeie nuwe skole is gedurende die eerste helfte van die 19de eeu in Skotland gestig, waaronder die Edinburg Akademie (1824), Loretto (1827), Merchiston Kasteelskool (1833), Glasgow Akademie (1845) en Trinity College, Glenalmond (1847). Dit is bekend dat eenvoudige en kru vorme van voetbal by al dié skole beoefen is. Dit was egter in Edinburg waar die hanteerspel wortel geskiet en na die res van Skotland begin versprei het.

Twee jong broers, Francis en Alexander Crombie, het in 1854 van Durham-skool na Edinburg gekom. Francis het by die Akademie aangesluit, maar Alexander het reeds sy skoolopleiding voltooi. Blykbaar het nie een van die twee broers by Durham-skool voetbal gespeel nie, maar hulle het hulle kennis van die reëls, soos wat dit by Rugby-skool gespeel is, na Skotland saamgeneem. Francis Crombie was die eerste skoolvoetbalspankaptein en Alexander was aan die stigting van die Edinburg Akademie se Voetbalklub aktief betrokke. Hy het vir lidmaatskap gekwalifiseer volgens ’n reël wat familielede van skoolleerlinge toegelaat het om aan te sluit. In 1858 het hy die eerste kaptein van die voetbalklub geword – ’n posisie wat hy vir agt jaar sou beklee. Omtrent dieselfde tyd het nog ’n seun, genaamd Hamilton, in 1856 van ’n Engelse privaatskool na die Koninklike Hoërskool in Edinburg gekom en ’n kopie van die Reëls van Rugbyvoetbal, soos hy dit in die Suide geken het, saamgeneem. Dié dokument was instrumenteel in die aanpassing van die hoërskool se bestaande spel aan die nuwe vorm.

Die eerste gedokumenteerde interskolewedstryd in Skotland was die Koninklike Hoërskool teen Merchiston Kasteelskool wat op 13 Februarie 1858 gespeel is. Dié wedstryd is egter sonder eenvormige reëls en bal gespeel (die Koninklike Hoërskool het oor “reusagtige opgeblase koeëls met ’n groot omvang van ’n groot swaarheid” berig), wat die spelvloei gekniehalter het. Oor verskeie jare heen het die spel egter die Rugby-skool se weergawe oorgeneem. Vroeër was daar verskeie plaaslike weergawes wat binne-in wedstryde noodwendig tot dispute gelei het. Tot laat in die 1870’s het slegs die Edinburg Akademie, Merchiston Kasteelskool en die Koninklike Hoërskool ’n eenvormige vorm van die spel gespeel.

Van die middel-1860’s af het seniorklubs met voormalige leerlinge in beide Edinburg en Glasgow begin vorm. Die klubs het teen mekaar begin speel en gebruik maak van die nuwe riglyne. In die vroeë klubwedstryde is spel gereeld onderbreek sodat kapteins en skeidsregters verskille in die reëls kon besleg; dit was egter nie ’n permanente toestand nie. ’n Stel vergaderings is deur die Edinburg Akademiese Voetbalklub gereël en in 1868 het dié klub, met die instemming van ander skole en klubs, reëls vir die spel in Skotland opgestel en gedruk. Die boekie wat saamgestel is, Laws of Football as played by the Principal Clubs in Scotland, het bekend geword as die “Groen Boek“. Die reëlboekie se titel het egter nie die woord “Rugby” gebruik nie.

’n Uitdaging aan Engeland duimnael|Die eerste toetswedstryd ter wêreld: Engeland teen Skotland op 27 Maart 1871 in Edinburg In Desember 1870, ná ’n reeks sokkerwedstryde tussen Engeland en Skotland wat in Londen gespeel en almal deur Engeland gewen is, het ’n groep Skotte ’n uitdagingsbrief in die Skotse koerant The Scotsman en in die Londense sportkoerant Bell’s Life gepubliseer, waarin hulle Engeland genooi het om ’n twintigtal vir ’n rugbywedstryd na Skotland te stuur. Die Engelse kon skaars só ’n uitdaging ignoreer, wat gelei het tot die eerste internasionale rugbywedstryd. Dit is op die krieketveld van die Edinburg Akademie, Raeburn Place, op Maandag 27 Maart 1871, gespeel. Dit was nie net die eerste wedstryd tussen albei lande in enige sportsoort nie, maar ook die eerste internasionale rugbywedstryd ooit. Die Skotte het dié stryd voor ’n skare van 4 000 met ’n doel en ’n drie gewen teenoor die enkele drie wat Engeland gedruk het.

Engeland het egter die volgende jaar by die Kennington Ovaal in Londen wraak geneem en met 2–1 doele gewen. Die vroeë wedstryde het nie oor ’n gestruktureerde puntestelsel beskik nie; dit sou eers ná 1890 ingestel word nadat ’n geskikte formaat vir die puntestelsel ontwerp is. Tot in 1875 is – soos in sokker – internasionale rugbywedstryde beslis deur die aangetekende aantal doele (beide doelskoppe en skepdoele), maar van 1876 af het die aantal drieë ’n wedstryd beslis as die spanne gelykop was. Soos dit in die vroeë jare van rugby gebruiklik was, het vir albei spanne 20 spelers uitgedraf; die aantal spelers wat tydens een wedstryd vir een span mag uitdraf is eers in 1877 van 20 tot 15 verminder.

Calcuttabeker en Tuisnasies-toernooi duimnael|links|Engeland teen Skotland in 1893 duimnael|Die Calcuttabeker in 1890 duimnael|links|Die Skotse span in 1896 duimnael|Die Calcuttabeker in 1892 Verteenwoordigers van agt klubs het op 3 Maart 1873 in Glasgow vergader en die beheerliggaam Skotse Voetbalunie (Scottish Football Union) gestig, wat homself eers in 1924 in Skotse Rugbyunie hernoem het. Van die klubs was vyf lede van die Engelse Rugbyvoetbalunie wat op daardie stadium nog nie op Engeland beperk was nie. In 1877 het Skotland vir die eerste keer teen Ierland te staan gekom en met ses doele teenoor nul gewen.

Die Calcuttabeker is in 1878 aan die Rugbyvoetbalunie geskenk deur lede van die kortstondige Calcutta Rugbyklub in die Indiese stad Kolkata. Die lede het besluit om die klub te ontbind. Die beker is geskep uit gesmelte silwerroepees wat beskikbaar geword het toe die klub se fondse uit die bank onttrek en gesmelt is. Die beker is uniek in die sin dat slegs Engeland en Skotland jaarliks daarom kompeteer; dit is die oudste rugbytrofee. Die eerste Calcuttabekerwedstryd is in 1879 in Edinburg gespeel en het gelykop geëindig. Engeland het die beker in 1880 vir die eerste keer verower en Skotland twee jaar later.

In 1882 het die beheerliggame van Skotland, Engeland, Wallis en Ierland die Tuisnasies-toernooi gestig, die voorganger van die huidige Sesnasies-toernooi. Tydens die Tuisnasies-toernooi 1883, die eerste van sy aard, het Skotland vir die eerste keer teen Wallis gespeel en met 1–0 doele gewen. In 1886 het die Skotse beheerliggaam saam met sy Ierse en Walliese eweknieë die Internasionale Rugbyvoetbalraad (IRVR; nou Wêreldrugby) gestig. Ná drie agtereenvolgende tweede plekke het die Skotte tydens die Tuisnasies-toernooi 1886 hul eerste titel ingepalm (gedeel met die volgens punte gelykstaande Engelse). ’n Jaar later het tydens die Tuisnasies-toernooi 1887 die eerste ongedeelde titel gevolg. Tydens die Tuisnasies-toernooi 1890 het Engeland en Skotland weer die titel gedeel. Die daaropvolgende jaar, tydens die Tuisnasies-toernooi 1891, het Skotland sy eerste Driekroon gewen – d.w.s. ’n titel saam met oorwinnings oor al drie die ander Tuisnasies. In 1895 het hulle dié sukses herhaal.