Hierdie artikel handel oor die Australiese nasionale mansrugbyspan. Vir die artikel oor die nasionale vrouerugbyspan, sien Wallaroos.
Die Wallabies is die nasionale rugbyspan wat Australië in internasionale wedstryde (toetswedstryde) verteenwoordig. Die Wallabies is na die wallaby, een van verskeie spesies uit die familie van die kangaroes genoem, wat die nasionale dier van Australië is.
Vir die Wallabies is hul belangrikste internasionale verskyning om aan die vierjaarlikse rugbywêreldbekertoernooi deel te neem. Die Wallabies het aan al die wêreldbekertoernooie tot nou deelgeneem en is met twee titels die derde suksesvolste span in die geskiedenis van dié toernooi ná die Suid-Afrikaanse Springbokke en die Nieu-Seelandse All Blacks. Die Wallabies het die eindstryde van die Rugbywêreldbeker 1991 teen Engeland, en die Rugbywêreldbeker 1999 teen Frankryk gewen. Die Wallabies het daarbenewens in ekstra tyd die eindstryd in 2003 teen Engeland en in 2015 teen Nieu-Seeland verloor.
Die Wallabies neem sedert 1996 jaarliks aan die Rugbykampioenskapstoernooi (tot in 2011 die Drienasiesreeks) deel. Aan dié toernooi neem die vier beste spanne van die Suidelike Halfrond deel, naamlik die Nieu-Seelandse All Blacks, die Suid-Afrikaanse Springbokke, die Argentynse Poemas en die Wallabies. Tydens die Rugbykampioenskapstoernooi ding die Wallabies teen Argentinië om die Poematrofee, teen Nieu-Seeland om die Bledisloebeker en teen Suid-Afrika om die Mandela Uitdaagplaat mee. Die Wallabies het vorige Drienasiesreekse reeds drie keer gewen (in 2000, 2001 en 2011), en later ook een keer die uitgebreide Rugbykampioenskapreeks (in 2015). Op 2 Julie 2007 het die span, ná ’n verrassende oorwinning oor die All Blacks in die Drienasies, na die tweede plek op die IRR se wêreldranglys verbeter.
In 1899 het die Wallabies in hul eerste internasionale wedstryd teen die Britse Leeus in Sydney te staan gekom. Rugby word in Australië geadministreer deur Rugby Australia (Rugby AU), wat deur Wêreldrugby saam met tien ander beheerliggame as ’n vlak-een-span beskou word. Die Australiese rugbyspan is tans (Oktober 2025) sewende op Wêreldrugby se wêreldranglys gelys en in 2001 is die Wallabies deur Wêreldrugby as die “span van die jaar” aangewys. 16 voormalige Wallabies is in Wêreldrugby se Heldesaal opgeneem. Die Wallabies speel beide hul tuis- en wegwedstryde in goud en groen, die tradisionele sportkleure van Australië.
Beheerliggaam
duimnael|’n Kaart van die Australiese plaaslike beheerliggame en hul spanne Die beheerliggaam vir rugby in Australië is Rugby Australia (Rugby AU), tot in 2017 die Australiese Rugbyunie (Australian Rugby Union, ARU) genoem. Rugby Australia is in 1949 as die Australiese Rugbyvoetbalunie (Australian Rugby Football Union, ARFU) gestig en het in dieselfde jaar ’n volle lid van die Internasionale Rugbyvoetbalraad (IRVR; nou Wêreldrugby) geword. Daarbenewens was die Australiese beheerliggaam in 2000 ’n stigterslid van die Vereniging van Oseaniese Rugbyunies (Federation of Oceania Rugby Unions, FORU; nou Oseanië Rugby, OR). Rugby Australia bestaan uit agt plaaslike beheerliggame, wat elkeen ’n deelstaat of gebied verteenwoordig. Die belangrikste rugbyliga in Australië is Superrugby wat saam met spanne uit Nieu-Seeland en een elk uit beide Fidji en die Stille Oseaan-eilande (feitlik die Cookeilande, Fidji, Samoa en Tonga) beslis word.
Naas die amptelike nasionale span roep Rugby Australia ook ander keurspanne byeen. Die Junior Wallabies is die o/20-nasionale span en hulle neem aan die o/20-Rugbykampioenskap en die Wêreldrugby o/20-kampioenskap deel. Kinders en jongmense word reeds op skool aan rugby bekend gestel en na gelang van hul belangstelling en talent begin hulle met hul afrigting. Australië beskik oor ’n nasionale span vir studente, die Australian Schoolboys, wat as ’n voorbereiding op die Australiese nasionale rugbyspan dien.
Geskiedenis Vroeë jare duimnael|Die Australiese span in 1899 Europese immigrante het al vroeg aan sokker verwante sportsoorte beoefen, en die eerste persberig is in 1829 in Sydney gepubliseer. Die meeste van hierdie vroeë wedstryde het tydens plaaslike feeste plaasgevind, maar geen algemene reëls of gekodifiseerde weergawe het bestaan nie. Van die destydse weergawes het elemente van vandag aparte stel reëls bevat, waaronder Australiese voetbal, sokker en rugby. As twee spanne ontmoet het, moes hulle vooraf op die toepaslike reëls besluit. Aangesien destyds alle weergawes algemeen “sokker” genoem is, is dit nie meer moontlik om te bepaal watter weergawe in watter gebied oorheers het nie. Die eerste span buite die moederland Groot-Brittanje, wat ’n stel gekodifiseerde rugbyreëls gebruik het (die wêreldwyd agtste oudste), was die in 1863 gestigte Sydney Universiteitsvoetbalklub, wat op 19 Augustus 1865 sy eerste wedstryd gespeel het.
In 1874 is die eerste beheerliggaam gestig, die Suidelike Rugbyunie (vandag Nieu-Suid-Walliese Rugbyunie), wat in dieselfde jaar die eerste plaaslike kampioenskap aangebied het. Twee jaar later het die eerste kampioenskap rondom Brisbane gevolg, wat vanaf 1883 deur die Noordelike Rugbyunie (vandag Queensland Rugbyunie) aangebied is. Rugby het toe die gewildste sportsoort in Nieu-Suid-Wallis en Queensland geword, veral als gevolg van die vanaf 1882 gereelde wedstryde tussen die keurspanne van albei kolonies. Daarteenoor was rugby in die ander kolonies (Victoria, Suid-Australië, Wes-Australië en Tasmanië) minder gewild, en is veral deur Australiese voetbal oorskadu. Die aanhangers van Australiese voetbal het ook probeer om hul sport in Nieu-Suid-Wallis te laat vestig. ’n In 1880 gestigte plaaslike beheerliggaam het aan die begin effens daarin geslaag, maar verskeie sosiale en ekonomiese faktore het daartoe bygedra, dat hy homself in 1893 weer ontbind het en die twee oostelike kolonies en latere deelstate deur rugby oorheers is.
In 1882 het die Suidelike Rugbyunie die wêreldwyd eerste beheerliggaam geword om ’n oorsese toer aan te pak, toe hul keurspan, die Waratahs, in Nieu-Seeland vyf wedstryde gespeel het. Die eerste besoek deur ’n Britse span het in 1888 plaasgevind toe ’n privaat georganiseerde Britse Eilande-span Australië en Nieu-Seeland besoek het; geen toetswedstryde (internasionale wedstryd) is egter gespeel nie. Die spelers was meestal afkomstig uit Engeland en die Scottish Borders, alhoewel daar verteenwoordigers uit al vier die Tuisunies was. In 1896 het Queensland se span, die Reds, die Waratahs se voorbeeld gevolg. Die eerste toetswedstryd van ’n die hele Australië verteenwoordigende span is op 24 Junie 1899 op die Sydney-krieketveld aangebied, toe hulle teen die Britse Leeus te staan gekom het. Hulle het die eerste wedstryd met 13–3 gewen, maar die Leeus het in die oorblywende drie toetse geseëvier. Die Australiese span het ses spelers uit Queensland en nege uit Nieu-Suid-Wallis ingesluit. In Sydney het hulle in die blou trui van Nieu-Suid-Wallis en in Brisbane in die maroen trui van Queensland uitgedraf, maar met ’n Australiese wapen pleks van die twee beheerliggame se kentekens.
Vroeë 20ste eeu duimnael|Die Australiese span tydens die 1905-toer duimnael|Die span wat in 1908–09 getoer het Die eerste toetswedstryd tussen Australië en die Nieu-Seelandse All Blacks is op 15 Augustus 1903 op die Sydney-krieketveld gespeel en met 22–3 deur Nieu-Seeland gewen. Die All Blacks se toer het tot ’n tydelike toename in gewildheid van rugby in beide Sydney en Brisbane gelei, nadat meer toeskouers die wedstryde in albei stede bygewoon het. ’n Jaar later het die Britse Leeus Australië weer besoek en het die Australiërs in al drie toetswedstryde verslaan. Die stigting van die Nieu-Suid-Walliese Voetballiga (New South Wales Football League, NSWFL) in 1903 het ’n verswakking van die rugbysport in Nieu-Suid-Wallis meegebring, aangesien verskeie toonaangewende private skole vir enkele jare slegs Australiese voetbal pleks van rugby aangebied het. Vir ’n kort tyd het Australiese voetbal blykbaar ook die guns van die gehoor geniet. Die suiwer amateursport rugby is deur die invoering van rugby league in 1905 erg geraak. Baie klubs rondom Sydney het na die professionele weergawe oorgeskakel en ’n beheerliggaam gestig, wat veral Rooms-Katolieke skole van ’n oorskakeling na rugby league kon oortuig. Van dié skole vorm tot vandag toe die fondament van rugby league se dominansie rondom Sydney. Bekende nasionale spelers soos Dally Messenger het ook by rugby league aangesluit en gehelp om van dié sportkode die dominerende een te maak. In dieselfde jaar het die eerste toer na Nieu-Seeland plaasgevind.
In 1908 het ’n die Britse Eilande verteenwoordigende span, genoem die Anglo-Welsh aangesien dit slegs uit Engelse en Walliese spelers bestaan het, Australië besoek, maar in geen toetswedstryd gespeel nie. Later dieselfde jaar het die nasionale span vanaf Sydney vir die eerste keer op ’n maandelange toer na die Britse Eilande en Noord-Amerika vertrek. Tydens die Olimpiese Somerspele 1908 in Londen, wat tydens die Australiese toer plaasgevind het, het Australië ná ’n 32–3-oorwinning oor ’n keurspan uit Cornwall in die enigste wedstryd van die toernooi met die goue medalje weggestap. Tydens die eerste toetswedstryd teen Wallis is Australië met 9–6 verslaan, maar hulle het Engeland in hul eerste wegoorwinning met 9–3 geklop. Engelse koerante het aanvanklik na dié span as rabbits (“konyne”) verwys. Die Australiese rugbyspelers het dié bynaam as neerhalend beskou en dit met Wallabies vervang. Ná hul terugkoms het elf spelers, wat saam gereis het, na rugby league-klubs oorgeskakel. In 1909, toe die nuwe “Noordelike Unie” se kode in Australië nog in sy kinderskoene was, is ’n wedstryd tussen die Kangaroos (die Australiese nasionale rugbyligaspan) en die Wallabies voor ’n skare van 20 000 gespeel, wat deur die rugbyligaspan met 29–26 gewen is.
Naas die verskil tussen amateurisme en professionalisme het daar ook ’n kulturele verskil begin ontwikkel: rugby is meer en meer as sportsoort van die opgevoede, Britse hoër- en middelklas beskou, terwyl rugby league veral in die werkersklas, wat uit Rooms-Katolieke Iere bestaan en die Britse Ryk verwerp het, aanhangers gewerf het. Die tradisionele rugby is deur hulle as ’n simbool van Imperialisme beskou. Dikwels was die personeel van rugby league klubs dieselfde as by filiale van die Australiese Werkersparty. Binne enkele jare het rugby league die dominerende kode geword, terwyl rugby unie agteruitgegaan het.
Impak van die wêreldoorloë duimnael|Australië teen Suid-Afrika in 1937 Nog erger is rugby in Australië deur die Eerste Wêreldoorlog geraak. Al die plaaslike beheerliggame het die vraag in die gesig gestaar of dit gepas is om met rugby voort te gaan, terwyl op Europa se slagvelde duisende jong Australiërs sneuwel. Die beheerliggame van Australiese voetbal en rugby league het met hul toernooie voortgegaan, terwyl rugby se beheerliggame daarop besluit het om tydens die oorlog alle aktiwiteite te staak en die ander sportsoorte herhaaldelik van onpatriotiese optrede beskuldig het. Die sosiale skeurings wat destyds ontstaan het, sou die verhoudings tussen die sportsoorte en hul aanhangers vir die volgende dekades oorheers. Tydens die oorlog het meer as 35 nasionale spelers in Europa geveg, waarvan tien gesneuwel het. Ná die oorlog het weer baie spelers by rugby league klubs aangesluit. In 1920 moes Queensland se beheerliggaam weens die gebrek aan spelers homself ontbind.