Die Belgiese nasionale rugbyspan (Duits: Belgische Rugby-Union-Nationalmannschaft; Frans: Équipe nationale de Belgique de rugby à XV; Nederlands: Belgisch rugbyteam) is die nasionale rugbyspan wat België in internasionale wedstryde (toetswedstryde) verteenwoordig. Rugby word in België geadministreer deur Belgium Rugby (BR) wat in 1931 gestig is. Hulle dra die bynaam “Swart duiwels”. België word deur Wêreldrugby as ’n vlak drie-span erken. Die Belgiese rugbyspan is tans (Maart 2026) 21ste op Wêreldrugby se wêreldranglys gelys.

België het in 1930 sy eerste nieamptelike toetswedstryd teen Nederland gespeel; hul eerste amptelike toetswedstryd het twee jaar later gevolg. In die daaropvolgende jare het albei spanne mekaar gereeld ontmoet. Van die ander teenstanders in die begintydperk was Italië en Duitsland. In 1934 was België een van die stigterslede van die Fédération internationale de rugby amateur (FIRA; nou Rugby Europa, RE) wat as mededinger tot die destydse eksklusiewe, Angel-Saksies oorheersde Internasionale Rugbyvoetbalraad (IRVR; nou Wêreldrugby) gestig is. Sedert die 2000’s het die rugbysport in België verder ontwikkel en die keurspan lok intussen gereeld skare van sowat 1 000 tydens tuiswedstryde. België speel die meeste van sy toetswedstryde tydens die Europese Rugbykampioenskap, waar hulle met ander ontluikende rugbyspanne meeding. Die nasionale span se beste prestasies tot dusver is die promosie na die eerste vlak in 2010, 2014 en 2022. Hulle kon tot dusver nog nie vir ’n rugbywêreldbekertoernooi kwalifiseer nie; in 2025 het hulle die Rugbywêreldbeker 2027 naelskraap misgeloop ná ’n gelykop teen Samoa in die internasionale uitspeelrondte. Die Belgiese span speel tradisioneel in rooi-swart-gestreepte truie met swart broeke en swart sokkies.

Beheerliggaam

Die beheerliggaam vir rugby in België is Belgium Rugby (BR), tot in 2019 die Belgiese Rugbyfederasie (Fédération Belge de Rugby, FBRB) genoem. Belgium Rugby is in 1931 gestig en het in 1998 by die Internasionale Rugbyraad (IRR; nou Wêreldrugby) aangesluit. Daarbenewens was die Belgiese beheerliggaam in 1934 ’n stigterslid van die kontinentale beheerliggaam Fédération internationale de rugby amateur (FIRA; nou Rugby Europa, RE).

Die hoogste rugbyliga in België is die Eerste Divisie, waaraan agt spanne deelneem. Die meeste spelers van die Belgiese nasionale span speel in dié liga. Van die ander spelers is veral in Frankryk op professionele vlak aktief. In België aktiewe nasionale spelers draf meestal uit vir die professionele span Brussels Devils wat sedert 2021 aan die Rugby Europa Superbeker deelneem.

Naas die amptelike nasionale span roep Belgium Rugby ook ander keurspanne byeen. Die Belgium Sevens is die Belgiese sewesrugbyspan en hulle neem aan internasionale toernooie soos Wêreldrugby se Sewesreeks, Sewesrugbywêreldbeker en Olimpiese Somerspele deel. Net soos ander rugbylande beskik België oor ’n o/20-nasionale span wat aan die Europese Juniorkampioenskap en die Wêreldrugby o/20-trofee deelneem. Kinders en jongmense word reeds op skool aan rugby bekend gestel en na gelang van hul belangstelling en talent begin hulle met hul afrigting.

Geskiedenis Invoering en vestiging van rugby duimnael|België teen Italië tydens die FIRA-toernooi in 1937 Rugby is in België veral deur Britte en Franse gevestig. Die Rugby Club Français is deur die Fransman Jean Rey gestig en hy het later die eerste hoofafrigter van die nasionale span geword. Britte was later by die stigting van die Britse Sportklub in Antwerpen (gestig in 1919) en Brussel (gestig in 1925) betrokke wat rugby in België verder versprei het. België het op 1 Julie 1930 in sy eerste wedstryd weg in Den Haag gespeel en hulle kon Nederland met 6–0 klop, waarmee die tot op hede aanhoudende mededinging met die noordelike buurland afgeskop het. Later dieselfde jaar het die tweede wedstryd in Brussel gevolg, wat hulle met 11–0 kon wen. Albei wedstryde word deur Belgium Rugby egter nie as amptelike toetswedstryde erken nie omdat beide die Belgiese en die Nederlandse rugbybeheerliggam nog nie bestaan het nie. In 1931 is die Belgiese Rugbyfederasie (Fédération Belge de Rugby, FBRB; nou Belgium Rugby, RB) gestig. Die eerste raadsvergadering is op 20 Januarie 1932 gehou. Op 13 Maart dieselfde jaar is in Amsterdam die eerste amptelike, deur die Belgiese rugbybeheerliggaam erkende, toetswedstryd teen Nederland beslis en dit het in ’n 6–6-gelykop geëindig. Tot in 1937 het die Belge jaarliks teen die Nederlanders te staan gekom, maar telkens verloor.

In 1934 was België een van die stigterslede van die vastelandse beheerliggaam Fédération internationale de rugby amateur (FIRA; nou Rugby Europa, RE) wat onder Franse leiding as mededinger tot die destydse eksklusiewe, Angel-Saksies oorheersde Internasionale Rugbyvoetbalraad (IRVR; nou Wêreldrugby) gestig is. Nogtans was internasionale ontmoetings skaars. In 1937 is die Eerste Divisie, die nasionale kampioenskap, vir die eerste keer beslis. In dieselfde jaar het die span, tydens die tweede FIRA-toernooi in Parys (die Europese Rugbykampioenskap se voorloper), ook teen Italië gespeel, maar hulle is verslaan. Hulle kon in die uitspeelwedstryd om die vyfde plek Nederland klop.

Gereelde internasionale kontak Ná die einde van die Tweede Wêreldoorlog het die Belgiese span in die laat 1940’s slegs teen Nederland te staan gekom. In 1952 is die Europese Rugbybeker ná ’n onderbreking van vyftien jaar hervat, maar die Belge is deur Wes-Duitsland geklop en daarmee in die eerste rondte uitgeskakel. Tydens die Europese Rugbybeker 1954 het hulle vir die eerste keer Spanje ontmoet, maar hulle is weer in die eerste rondte uitgeskakel. Tot en met 1969 het die Belge in minstens een jaarlikse vriendskaplike wedstryd teen die noordelike buurland gespeel.

Toe die FIRA die Europese Rugbykampioenskap ná ’n onderbreking van meer as tien jaar hervat het (onder deelname van Noord-Afrikaanse spanne), het die Belge in die tweede afdeling begin. Tydens die FIRA-nasiesbeker 1965/66 het hulle ná ’n gelykop teen Portugal op eie bodem promosie na die eerste afdeling misgeloop. Tydens die FIRA-nasiesbeker 1966/67 het hulle in die eindstryd teen Tsjeggo-Slowakye vasgeval. In 1967/68 is hulle deur Spanje, Marokko en Portugal verslaan. In 1968/69 het die span ná ’n oorwinning oor Nederland die finale rondte gehaal, maar hulle is deur Italië en Spanje geklop. In 1970/71 is België in die groepfase uitgeskakel.

Ná ’n herstrukturering van die FIRA-beker het België tydens die FIRA-beker 1974/75 in die tweede afdeling aangebly, maar albei groepwedstryde verloor. Daarmee is hulle na die derde afdeling gerelegeer, waar hulle ná drie oorwinnings regstreekse promosie behaal het. In 1977/78 het die span ’n nederlaag teen Marokko gely, terwyl hulle nie teen Joego-Slawië gespeel het nie en dié wedstryd ook as ’n nederlaag geag is. Tot in die middel-1980’s het die Belge veral in die derde afdeling gespeel, maar ná nog ’n herstrukturering ná die FIRA-beker 1984/85, toe die FIRA die tweede en derde afdeling saamgevat het, het hulle in die derde afdeling aangebly.

In 1985 het die Internasionale Rugbyvoetbalraad (IRVR; nou Wêreldrugby), wat destyds baie eksklusief was en slegs agt lede gehad het, op die invoering van die rugbywêreldbekertoernooi besluit. Vir die eerste Rugbywêreldbeker 1987 het die IRVR nege spanne vir deelname genooi, maar België het geen uitnodiging ontvang nie. Die Belge se eerste deelname was tydens die Rugbywêreldbeker 1991-kwalifisering, waar hulle in die tweede rondte van die Europese kwalifisering slegs die vierde plek kon behaal, nadat België al drie sy wedstryde verloor het.

In die 1990’s het die span al hoe meer wedstryde teen hulle gereelde Europese teenstanders begin speel en tydens die FIRA-beker 1992–1994 aan die eerste divisie deelgeneem. Tydens die Rugbywêreldbeker 1995-kwalifisering kon die span slegs Switserland klop, maar hulle is deur Portugal en Spanje geklop.

Die FIRA het die Europese toernooi weereens herstruktureer, maar België het tydens die FIRA-beker 1994–1997 in die eerste afdeling aangebly en tydens die hoofrondte die laaste groepplek beklee. België het in 1998 amptelik by die IRR aangesluit. Die jare van 1997 tot 1999 was ’n tyd van veranderinge in Europese rugby, aangesien FIRA homself onder die IRR as vastelandse beheerliggaam geskik en gelyktydig die nie-Europese lede ontslaan het. Buitendien het met Frankryk en Italië die twee sterkste spanne nie meer aan die Europese kampioenskappe deelgeneem nie. Om dié redes is ander toernooie beslis, wat nie as vastelandse kampioenskappe geag is nie. Tydens die FIRA-toernooi 1996/97 het die Belge die agtste plek behaal. Tydens die daaropvolgende Rugbywêreldbeker 1999-kwalifisering, wat in die wintersemester 1997/98 beslis is, het hulle slegs die vyfde groepplek behaal.

Tydens die FIRA-toernooi 1998/99 het België sy wedstryde teen Joego-Slawië en Luxemburg gewen, terwyl hulle deur Tunisië en Duitsland geklop is. Daarmee het die span die derde groepplek behaal, waarmee hulle die Europese Nasiesbeker 1999/2000 se derde afdeling gehaal het, die eerste toernooi van die Europese toernooi se nuwe formaat. België het die wedstryd teen Switserland gewen, maar hulle het die ander wedstryde teen Pole, Tsjeggië en Letland verloor.

In die nuwe millennium duimnael|Duitsland speel tydens die Europese Rugbywêreldbeker 2007-kwalifisering teen België op 29 April 2006 in Hannover, Duitsland duimnael|Pole speel tydens die Europese Rugbywêreldbeker 2011-kwalifisering teen België op 30 Mei 2009 Die Europese Nasiesbeker 2000/01 en die Europese Nasiesbeker 2001/02 was gelyktydig die eerste en tweede rondte van die Rugbywêreldbeker 2003-kwalifisering en die Belge het met hul promosie na die tweede afdeling ook die tweede rondte gehaal, maar daar het hulle slegs die laaste plek behaal.

Tydens die Europese Nasiesbeker 2002–2004 het die Belge die laaste plek behaal. Die Europese Nasiesbeker 2004–2006 het gelyktydig as die Rugbywêreldbeker 2007-kwalifisering se eerste deel gedien. Dit het vir die span in die tweede rondte geëindig, nadat hulle die tweede plek behaal het. Voor die Rugbywêreldbeker 2007 het ’n Belgiese span teen Argentinië gespeel en op 24 Mei 2008 het ’n Belgiese XV teen die Britse Barbarians gespeel.

België het geleidelik verbeter, van die 55ste rang af in 2004 het die “Swart Duiwels” gedurende die volgende jare baie verbeter en goeie resultate teen ander Europese spanne behaal en hulle was in 2010 onder die 30 beste spanne op die IRR se ranglys. Sedert België se toetreding tot die eerste 30 spanne op die internasionale ranglys het hulle daarin geslaag om hul plek te behou. Die Europese Nasiesbeker 2006–2008 het die Belge in die tweede plek afgesluit en sodoende promosie na die eerste afdeling misgeloop. Tydens die Europese Nasiesbeker 2008–2010, wat ook deel gevorm het van die Rugbywêreldbeker 2011-kwalifisering, het die Belge beide promosie en die Europese uitspeelwedstryd misgeloop.

Gedurende die Europese Nasiesbeker 2010–2012 het België ’n baie suksesvolle veldtog gehad en kon tussen Maart 2011 en Desember 2012 tien agtereenvolgende wedstryde wen. Hulle het vir die 2012–14-toernooi tot die ENB 1A gevorder, waar hulle teen spanne soos Spanje en Portugal, maar ook die Rugbywêreldbeker 2011-deelnemers Roemenië, Georgië en Rusland gespeel het. Die span het egter in die sesde plek geëindig en is weer na die afdeling 1B gerelegeer. Aangesien dit ook deel was van die Europese Rugbywêreldbeker 2015-kwalifisering, het die span ook dié toernooi misgeloop. Tydens die Europese Nasiesbeker 2014–2016 het België regstreekse promosie na afdeling 1A behaal.

’n Kontroverse en sy gevolge