Hierdie artikel handel oor die Duitse nasionale mansrugbyspan. Vir die artikel oor die nasionale vrouerugbyspan, sien Duitse nasionale vrouerugbyspan.
Die Duitse nasionale rugbyspan (Duits: Deutsche Rugby-Union-Nationalmannschaft) is die nasionale rugbyspan wat Duitsland in internasionale wedstryde (toetswedstryde) verteenwoordig. Rugby word in Duitsland geadministreer deur die Duitse Rugbybond (Duits: Deutscher Rugby-Verband, DRV) wat in 1900 gestig is. Hulle dra die bynaam “swart arende” (Schwarze Adler), ontleen aan die wapendier van die land, die Bondsarend. Duitsland word deur Wêreldrugby as ’n vlak drie-span erken. Die Duitse rugbyspan is tans (Maart 2026) 35ste op Wêreldrugby se wêreldranglys gelys.
Duitsland is reeds op die Olimpiese Somerspele 1900 in Parys deur die SC Frankfurt 1880 verteenwoordig en het die silwermedalje met Groot-Brittanje gedeel. Die span het in 1927 sy eerste internasionale wedstryd teen Frankryk gespeel. In 1934 was Duitsland een van die stigterslede van die Fédération internationale de rugby amateur (FIRA; nou Rugby Europa, RE) wat as mededinger tot die destydse eksklusiewe, Angel-Saksies oorheersde Internasionale Rugbyvoetbalraad (IRVR; nou Wêreldrugby) gestig is. Duitsland speel die meeste van sy toetswedstryde tydens die Europese Rugbykampioenskap, waar hulle met ander ontluikende rugbyspanne meeding. Die nasionale span se beste prestasies tot dusver is die derde plek in onderskeidelik 1952 en 2018. Duitsland het tot dusver nog nie vir ’n rugbywêreldbekertoernooi gekwalifiseer nie. Duitsland speel tradisioneel in swart truie met swart broeke en swart sokkies.
Van 1951 tot 1990 het die Duitse Demokratiese Republiek oor sy eie nasionale rugbyspan beskik; albei spanne het mekaar egter nooit ontmoet nie.
Beheerliggaam
duimnael|Die Duitse Rugbybond se 13 plaaslike beheerliggame in blou Die beheerliggaam vir rugby in Duitsland is die Duitse Rugbybond (Duits: Deutscher Rugby-Verband, DRV) met sy hoofkantoor in Hannover. Die DRV is op 4 November 1900 gestig en het in 1988 by die Internasionale Rugbyvoetbalraad (IRVR; nou Wêreldrugby) aangesluit. Daarbenewens was die DRV in 1934 ’n stigterslid van die kontinentale beheerliggaam Fédération internationale de rugby amateur (FIRA; nou Rugby Europa, RE).
Die hoogste rugbyliga in Duitsland is die Rugby-Bundesliga wat in 1971 gestig is en waaraan 16 spanne deelneem. Daaronder word die Tweede Bundesliga tussen 18 spanne in drie plaaslike groepe en in die 13 plaaslike beheerliggame se ligas beslis. Die meeste spelers van die Duitse nasionale span speel in dié liga. Van die ander spelers is veral in Frankryk aktief.
Naas die amptelike nasionale span roep die DRV ook ander keurspanne byeen. Net soos ander rugbylande beskik Duitsland oor ’n o/20-nasionale span wat aan die Europese Juniorkampioenskap deelneem. Kinders en jongmense word aan rugby bekend gestel veral deur klubs, skoolsportorganisasies en plaaslike beheerliggame, wat in die Duitse Rugbyjeug saamgevat is.
Geskiedenis Invoering en vestiging van rugby Welvarende Britte se nakomelinge het rugby na Duitsland saamgebring. Van die jong mans het in die Duitse Bond vername privaat hoërskole besoek of in Heidelberg gestudeer, ander het in die residensiële stad Hannover hul militêre diensplig verrig en in hul vrye tyd ’n vroeë weergawe van rugby beoefen. Die Universiteit Heidelberg beweer, dat hulle rondom 1850 as eerste instelling aan hul studente rugby aangebied het. In die plaaslike Badiese dialek van die stad verwys die jong mense na die spel ook as Durchtragerles. William Cail word as diegene beskou wat rugby in 1865 in Bad Cannstatt gevestig het. Onafhanklik daarvan, waar en wanneer rugby vir die eerste keer gespeel is, het die eerste Duitstalige teks oor dié sport in 1875 verskyn. Op vroeë pogings om “Die wette van sokker soos gespeel by Rugbyskool” (The Laws of Football as played at Rugby School) te verduidelik, het joernale en niefiksieboeke gevolg, waarin die sport beskryf is.
Rugby-ondersteuners het betrokke geraak by reeds bestaande sportklubs wat verskeie sportsoorte aangebied het en eie afdelings gestig. Daar was ook klubs wat verskeie balsporte saam aangebied het. Die vroegste bekende voorbeeld hiervan is die in 1878 deur die destyds sowat 15-jarige leerling Ferdinand Wilhelm Fricke en 24 in dieselfde ouderdom gestigte Duitse sportklub Hannover 78. In 1891 het Heidelbergse studente onder aanleiding van hul onderwyser Edward Hill Ullrich by die Heidelbergse Roeiklub ’n rugby-afdeling gestig. Sedertdien word albei stede, saam met die Ryn-Main-streek, as Duitsland se rugbyvestings beskou.
Die vroegste probeerslag om ’n nasionale rugbybeheerliggaam te stig dateer uit 1886, toe verskeie Noord-Duitse klubs die Duitse Rubyvoetbalbond gestig het. Nadat dié probeerslag egter misluk het, het die DSV Hannover 78 aangesluit by die Duitse Sokker- en Krieketbond (Deutscher Fußball- und Cricket Bund), terwyl Suid-Duitse klubs by die Suid-Duitse Sokkerunie (Süddeutsche Fußball-Union) aangesluit het. Tydens ’n “rugbydag” op 13 Februarie 1898 in Heidelberg het Ullrich hom beywer vir nouer bande tussen Suid- en Noord-Duitse klubs en die stigting van ’n nasionale beheerliggaam, waarvoor hy egter min ondersteuning ontvang het. Nadat dié voorstel verder bespreek is, het tydens die “rugbydag” op 11 Maart 1900 in Hannover 19 klubs ooreengekom om in die toekoms saam op te tree, die rugbywette in Duits te vertaal, die eerste Noord-Suid-wedstryd te reël en by die enkele weke vroeër gestigte Duise Sokkerbond (Deutscher Fußball-Bund, DFB) aan te sluit.
Eerste internasionale verskynings duimnael|Frankryk (wit) teen Duitsland (donker gestreep) tydens die Olimpiese Somerspele 1900 Reeds aan die Olimpiese Somerspele 1900, wat in 1900 saam met die Wêreldtentoonstelling in Parys gehou is, het ’n Duitse span deelgeneem en ná ’n 17–27-nederlaag teen die gasheer Frankryk met Groot-Brittanje die tweede plek gedeel. Pleks van ’n nasionale span, wat weens die gebrek aan ’n nasionale beheerliggaam nog nie bestaan het nie, het die SC Frankfurt 1880 deelgeneem. Op 4 November 1900 is die Duitse Rugbyvoetbalbond (Deutscher Rugby-Fußball-Bund) binne die DFB as ’n afdeling op sy eie gestig met Fricke van die DSV Hannover 78 as sy eerste voorsitter. Presies een jaar later het die rugby-afdeling sy bande met die DFB verbreek en homself herstig as Duitse Rugbybond (Deutscher Rugby-Verband, DRV). In 1909 is die Duitse Rugbykampioenskap vir die eerste keer beslis. Hoewel die rugbysport in Frankryk aanvanklik stadiger ontwikkel het, het dit met Pierre de Coubertin, die stigter van die moderne Olimpiese Spele, ’n invloedryke ondersteuner gehad wat homself beywer het vir ’n spoedige verspreiding. Duitsland het nie oor só ’n prominente ondersteuner beskik nie, waarvolgens die ontwikkeling lank stagneer en spoedig agter sokker s’n teruggeval het.
Van die beheerliggaam se stigting tot die eerste amptelike toetswedstryd het dit meer as twee en ’n half dekades geneem. Dit is op 17 April 1927 op Stade Olympique in die Paryse voorstad Colombes teen die Franse nasionale span gespeel en het in ’n 5–30-nederlaag geëindig. Vier weke later het die Duitsers op 15 Mei in Frankfurt met 17–16 oor die Franse geseëvier. Op 1 Maart 1928 het die derde ontmoeting tussen albei spanne in Hannover meer as 14 000 toeskouers gelok, tot op hede die rekord vir ’n rugbywedstryd in Duitsland. Duitsland het ná Frankryk homself as die naasbeste nasionale span op die Europese vasteland gevestig. In die jaarlikse ontmoetings tussen albei spanne was die resultate aanvanklik heelwat ten gunste van die Franse, maar mettertyd het van die uitslae al hoe skraler geword. In 1929 het die Duitsers vir die eerste keer te staan gekom teen Spanje, in 1931 teen Tsjeggo-Slowakye en in 1933 teen Nederland.
Nasionaalsosialisme en naoorlogse tydperk As gevolg van die NSDAP se magsoorname in Januarie 1933 en die aansluitende gelykskakeling is die DRV net soos al die ander Duitse beheerliggame met dwang in Nazi-Duitsland se sportsambreelorganisasie ingelyf. Binne die Nasionaal-Sosialistiese Ryksbond vir liggaamlike oefening was dit ondergeskik aan die professionele kantoor 2, wat ook toesig gehou het oor sokker en krieket. Die destydse DRV-voorsitter Hermann Meister het as ’n oortuigde kampvegter van ’n verenigde Europa en ’n frankofiel te vergeefs gepoog om aan sy ideale te voldoen, maar rugby het teen die ideologiese instrumentalisering nie meer weerstand ontbied as enige ander sportsoort nie. Soos in Engeland was rugby destyds veral die hoër middelklas se sportsoort. Onder die Nasionaalsosialiste en veral onder die SA het sekere kringe op ’n sterker ondersteuning en verspreiding gemik. Volgens hulle was rugby die “mees manhaftige groot vegspel”, wat se “invoering op skole en jeugorganisasies […] ten sterkste aanbeveel” is. Die vernaamste ondersteuner was Albert Speer wat die spel op skool in Heidelberg leer ken het. Nogtans is rugby as “te Engels” beskou en deur sokker en die doelgerig bevorderde handbal oorvleuel.
Ná Frankryk se tydelike skorsing uit die Vyfnasies is op inisiatief van die Franse Rugbyfederasie die wêreldbeheerliggaam Fédération internationale de rugby amateur (FIRA; nou Rugby Europa, RE) gestig as mededinger tot die destydse eksklusiewe, Angel-Saksies oorheersde Internasionale Rugbyvoetbalraad (IRVR; nou Wêreldrugby). Die DRV was op 2 Januarie 1934 een van die stigterslede. Twee jaar later, tydens die eerste FIRA-toernooi 1936 in Berlyn (die Europese Rugbykampioenskap se voorloper), het die Duitsers ná ’n oorwinning in die halfeindrondte oor Italië die eindstryd gehaal, wat deur Frankryk met 19–14 gewen is. Ook in 1936 het die Duitsers vir die eerste keer Roemenië en in 1937 België ontmoet. Tydens die FIRA-toernooi 1937 in Parys het hulle in die halfeindstryd teen Italië vasgeval en tydens die FIRA-toernooi 1938 in Boekarest het hulle na Frankryk die tweede plek behaal. Op 27 Maart 1938 het Duitsland in Frankfurt sy tweede en tot op hede laaste oorwinning oor Frankryk aangeteken. Die laaste toetswedstryd gedurende die Nazi-bewind was in Mei 1940 weg teen Italië.
Die Tweede Wêreldoorlog het vir die Duitse rugbysport verwoestende gevolge gehad, aangesien 16 nasionale spelers in dié oorlog dood is. Van dié verlies kon die Duitse nasionale rugbyspan nie herstel nie. Die naoorlogse tydperk se sosiale omwentelinge het die vooruitgang wat voor die oorlog behaal is, grootliks ongedaan gemaak. Rugby was al sy finansiële ondersteuning kwyt en het die meeste van sy gewildheid verloor wat dit voorheen verwerf het. Van die vestings is slegs Heidelberg, later die Amerikaanse Gewapende Magte se hoofkwartier in Wes-Duitsland, gespaar in die bomaanvalle. Die eerste internasionale rugbywedstryd in die naoorlogse tydperk is op 13 Maart 1946 sonder Duitse deelname gehou, toe tydens die Victory Internationals in Wuppertal die Britse Rynleër en die Nieu-Seelandse Ekspedisiemag mekaar ontmoet het. Dit het etlike jare geneem vir die DRV en die plaaslike beheerliggame om hulleself te herorganiseer. In die 1947/48-seisoen is die Duitse Rugbykamioenskap hervat. As gevolg van die Duitse deling is in 1950 in die Duitse Demokratiese Republiek by die Duitse Sokkerbond die tegniese komitee vir rugby gestig, wat een jaar later sy eie nasionale span byeengeroep en in 1958 homself in Duitse Rugbysportbeheerliggaam (Deutscher Rugby-Sportverband, DRSV) hernoem het.
Gedurende die Duitse deling duimnael|Toetswedstryd tussen Nederland en Wes-Duitsland in 1958 duimnael|Toetswedstryd tussen Italië en Wes-Duitsland in Venesië in 1968 duimnael|Toetswedstryd teen Nederland in Hilversum in 1980