duimnael|Joseph Szigeti Joseph Szigeti (Hongaars: Szigeti József,ˈjoːʒɛf ˈsiɡɛti; 5 September 1892 – 19 Februarie 1973) was 'n Hongaarse violis.
Szigeti is in 'n musikale familie gebore, en het sy kinderjare in 'n klein dorpie in Transsilvanië spandeer. Dit het gou geblyk dat hy 'n wonderkind met die viool was. Hy het saam met sy vader na Boedapest getrek ten einde onder die gerekende pedagoog Jenő Hubay te studeer. Nadat hy sy studies onder Hubay in sy vroeë tienerjare voltooi het, het Szigeti sy internasionale konsertloopbaan van stapel gestuur. Op daardie tydstip was sy uitvoerings meestal beperk tot salon-styl uitvoerings sowel as die virtuose repertorium. Nadat hy egter met die pianis Ferruccio Busoni kennis gemaak het, het hy begin om 'n meer deurdagte en intellektuele benadering tot musiek te toon, wat uiteindelik aan hom die noemnaam "Die Skolastiese Virtuoos" besorg het.
Na 'n aanval van tuberkulose het Szigeti in 'n gesondheidsinrigting in Switserland aangesterk. Hy het hom daarna in Genève gevestig waar hy in 1917 'n professor in viool by die plaaslike konservatoria geword het. Dit was in Genève waar hy sy toekomstige vrou, Wanda Ostrowska (1895-1969), ontmoet het, en terselfdertyd bevriend geraak het met die komponis Béla Bartók. Beide hierdie verhoudinge sou lewenslank duur.
Szigeti het van die 1920's tot 1960 gereeld uitvoerings gehou en breedvoerig opnames gemaak. Hy het hom ook as 'n sterk voorstaander van nuwe musiek onderskei, en verskeie nuwe werke deur kontemporêre komponiste is aan hom gewy. Van die mees noemenswaardige stukke wat vir hom geskryf is, is Ernest Bloch se Vioolconcerto, Bartók se Rapsodie No. 1, en Eugène Ysaÿe se Sonate No. 1, G mineur, "Joseph Szigeti". Na sy aftrede van die konsertverhoog in 1960, het hy tot en met sy afsterwe in 1973 op die ouderdom van 80 onderrig gegee en steeds geskryf.
Biografie Vroeë lewe duimnael|links|270px|Toneel van Máramaros-graafskap, naby Szigeti se woning tydens sy jeug. Szigeti is as Joseph "Jóska" SingerCampbell, bl. 159 in 'n Joodse gesin in Boedapest, Oostenryk-Hongarye gebore. Sy moeder is oorlede toe hy slegs drie jaar oud was, en kort daarna het hy saam met sy grootouers in die klein Karpatiese dorp Máramaros-Sziget (derhalwe die naam Szigeti) gaan woon. Hy het grootgeword in die teenwoordigheid van musiek, aangesien die musiekgroep van die dorp byna geheel en al uit sy ooms bestaan het. Na 'n paar informele lesse op die cimbalom wat deur sy tante gegee is,Szigeti: With Strings Attached, bl. 36 het hy op die ouderdom van ses jaar sy eerste lesse met die viool van sy Oom Bernat ontvang.Szigeti: With Strings Attached, bls. 3–4
Szigeti het 'n groot begaafdheid vir die viool getoon. Verskeie jare daarna het sy vader hom na Boedapest geneem sodat hy behoorlike opleiding by die konservatoria kon ontvang. Na 'n vlugtige tydperk van onderrig by 'n onbevoegde onderwyser, het Szigeti 'n onderhoud by die Franz Liszt Akademie van Musiek gehad. Hy is gevolglik sonder die gebruiklike vertragings en formaliteite direk in die klas van Jenő Hubay ingeskryf.Szigeti: With Strings Attached, bls. 12–13
Hubay, wat 'n student van Joseph Joachim in Berlyn was, het teen die tyd homself reeds as 'n vooraanstaande onderwyser in Europa, en as hoeksteen van die Hongaarse viooltradisie, gevestig.Campbell, bl. 104 Szigeti het in Hubay se ateljee aangesluit by violiste soos Franz von Vecsey, Emil Telmányi, Jelly d'Arányi en Stefi Geyer.
In daardie tyd het Europa baie wonderkinders opgelewer; geïnspireer deur die fenomenale sukses van die jong Tsjeggiese virtuoos Jan Kubelik en gevorm deur streng oefening en entoesiastiese ouers. Die Hubay-ateljee was geen uitsondering hierop nie; Szigeti en sy medestudente het breedvoerig in spesiale uitvoerings en salonkonserte gespeel gedurende hul studie aan die Liszt-akademie.
Szigeti het in 1905 op die ouderdom van dertien sy Berlynse buiging gemaak met die speel van Bach se Partita vir Viool No. 2 (Chaconne in D mineur), Ernst se Concerto in F-skerp mineur, en Paganini se Heksedans. Ten spyte van die formidabele program, het die geleentheid skamele dekking ontvang; met slegs 'n foto in die Sondaguitgawe van die Berliner Tageblatt met die opskrif: "'n Musikale Wonderkind: Josef Szigeti".Szigeti: With Strings Attached, bls. 41–42 duimnael|links|Hubay (links) en Szigeti, c. 1910 Szigeti het die volgende paar maande saam met 'n somerteatergeselskap in 'n klein Hongaarse vakansiedorp gespandeer. Hy het sy tyd verwyl deur mini-uitvoerings tussen bedrywe van volksoperette te speel. Die volgende jaar het hy by 'n sirkus in Frankfurt gespeel waar hy onder die pseudoniem "Jóska Szulagi" verskyn het.Campbell, bl. 161 Hubay het ook in 1906 vir Szigeti saamgeneem om vir Joseph Joachim in Berlyn te speel. Joachim was beïndruk, en het voorgestel dat Szigeti sy studies onder hom voltooi. Szigeti het egter die aanbod van die hand gewys, beide uit lojaliteit teenoor Hubay, asook 'n vermeende afsydigheid en gebrek aan tussenspel tussen Joachim en sy studente.Szigeti: With Strings Attached, bls. 52–54
Szigeti verbreed sy horisonne Szigeti het kort ná sy ontmoeting met Joachim op 'n konserttoer na Engeland vertrek. Halfpad deur die toer het hy in Surrey 'n paartjie ontmoet wat hom effektiewelik aangeneem het, met 'n aanbod dat hy vir 'n onbepaalde tyd by hulle kon inwoon.Szigeti: With Strings Attached, bl. 62
Szigeti het baie suksesvolle konserte gelewer, insluitend die eerste uitvoering van 'n werk wat aan hom gewy is: Hamilton Harty se Vioolconcerto. Szigeti het ook gedurende dié tyd saam met 'n groep getoer wat onder meer die legendariese sanger Dame Nellie Melba en die pianiste Ferruccio Busoni en Wilhelm Backhaus ingesluit het. Philippe Gaubert, 'n bekende Franse fluitspeler, sowel as die jong sanger John McCormack, was ook deel van die toer.Szigeti: With Strings Attached, bl. 70 duimnael|regs|200px|Szigeti se lewenslange mentor, Ferruccio Busoni Die belangrikste van Szigeti se nuwe kennisse was Busoni. Die bekende pianis en komponis het gedurende hierdie formatiewe jare Szigeti se mentor geword, en die twee sou tot Busoni se afsterwe in 1924 bevriend bly. Volgens Szigeti was sy lewe, voordat hy Busoni ontmoet het, gekarakteriseer deur 'n mate van luiheid en ongeërgdheid wat tipies was van 'n jong wonderkind en opkomende superster.Szigeti: With Strings Attached, bl. 75 Hy het daaraan gewoond geraak om salonminiature voor bewonderende gehore te speel en om skitterende virtuoos-stukke te speel sonder veel ywer en denke. Hy het min kennis gehad van die werke van die groot meesters; hy kon dit met gemak speel, maar nie ten volle begryp nie. Soos Szigeti dit gestel het, het Busoni — veral deur hul nougesette studie van Bach se Chaconne — "my eens en vir altyd uit my adolessente selfvoldaanheid en ongeërgdheid geruk".Szigeti: With Strings Attached, bl. 84
Siekte en 'n nuwe begin In 1913 is tuberkulose by Szigeti gediagnoseer en hy is na 'n sanatorium in Davos, Switserland gestuur om te herstel, welke sy konsertloopbaan onderbreek het. Daar het hy weer kennis gemaak met die komponis Béla Bartók, wat aan't herstel was van longontsteking. Die twee het mekaar slegs vlugtig gedurende hulle dae by die konservatoria gesien, maar het nou 'n vriendskap geknoop wat tot Bartók se afsterwe in 1945 sou duur.
In 1917, toe Szigeti ten volle herstel het, is hy op die ouderdom van 25 aangestel as professor in Viool by die Genève Musiekkonservatoria. Szigeti het gesê dat die werk, alhoewel dit oor die algemeen bevredigend was, dikwels frustrerend was as gevolg van die middelmatigheid van baie van sy studente.Szigeti: With Strings Attached, bl. 206 Die jare van onderrig in Genève het aan Szigeti 'n geleentheid gebied om sy begrip van musiek as 'n kunsvorm te verdiep, saam met ander verwante aspekte soos kamermusiek, orkesuitvoerings, musiekteorie en komposisie.Szigeti: With Strings Attached, bl. 208 Gedurende dié tydperk het Szigeti ook vir Wanda Ostrowska; 'n jong vrou van Russiese afkoms wat in Genève gestrand was as gevolg van die Russiese Rewolusie van 1917 ontmoet en verlief geraak op haar. Hulle is in 1919 getroud.
Amerikaanse buiging
In 1925 het Szigeti vir Leopold Stokowski ontmoet, en Bach se Chaconne in D mineur vir hom gespeel. Szigeti het minder as twee weke later 'n telegram van Stokowski se bestuurder in Philadelphia ontvang wat hom uitgenooi het om later daardie jaar saam met die Philadelphia Simfonieorkes te speel. Dit sou sy Amerikaanse buiging wees.Szigeti: With Strings Attached, bl. 243 Szigeti het nooit vantevore saam met 'n Amerikaanse orkes gespeel nie, en ook nog nie één gehoor nie. Hy het later geskryf dat hy aan verhoogvrees gelei het.
Die Amerikaanse konserttoneel het hom erg ontstig, vernaam die wyse waarop die publisiteit- en populariteitgedrewe agente en bestuurders bepaal het wat in die konsertsale gespeel sou word. Hy was oortuig daarvan dat hulle nie belang gestel het in die werke van die groot meesters nie, maar slegs die populêre ligte salonstukke verkies het wat hy in sy dae as wonderkind gespeel en agtergelaat het.Szigeti: With Strings Attached, bls. 248–250 (Szigeti was tot aan die einde van sy lewe lief gewees daarvoor om een onvergeetlike, sigaar-in-die-mond impresario aan te haal, wat hom in verband met Beethoven se Kreutzersonate, die volgende vertel het; "Wel, laat ek jou vertel Meneer Dzigedy — en ek weet waarvan ek praat — jou Krewtzersonate verveel my gehore die afgrond in!")Campbell, bl. 123
Volwassenheid Szigeti is teen 1930 as 'n vooraanstaande internasionale konsertviolis gevestig. Hy het uitvoerig in Europa, die Verenigde State en Asië opgetree en kennis gemaak met verskeie van die era se voorste instrumentaliste, dirigente en komponiste.
duimnael|links|170px|Béla Bartók, Szigeti se lewenslange vriend en kollega Szigeti het in 1939, ten einde die vervolging van Jode te ontsnap, saam met sy vrou na die Verenigde State geëmigreer waar hulle hul in Kalifornië gevestig het. 'n Jaar later het Bartók ook na Amerika gevlug, en slegs twee dae nadat hy gearriveer het, het hy en Szigeti 'n sonate by die Biblioteek van die Kongres in Washington, D.C. gespeelResensie deur Noel Straus, The New York Times, 1940-04-22
Szigeti het gedurende die 1930's, 1940's en ook die 1950's uitvoerig opnames gemaak, en sodoende 'n beduidende erfenis nagelaat. Noemenswaardige opnames sluit die bogenoemde Biblioteek van die Kongres-uitvoering; die ateljeeopname van Bartók se Kontraste met Benny Goodman wat die klarinet bespeel en die komponis by die klavier; die vioolconcertos van Beethoven, Brahms, Mendelssohn; Prokofiëf se Eerste Vioolconcerto; en die van Bloch onder die dirigeerstok van dirigente soos Bruno Walter, Hamilton Harty en Thomas Beecham; asook verskeie werke deur J.S. Bach, Busoni, Corelli, Händel en Mozart; in. Een van sy laaste opnames was die opname van die Ses Sonates en Partitas vir soloviool deur Bach. Alhoewel sy tegniek teen die tyd versleg het, word die opname hoog aangeslaan vir Szigeti se insig en diepte van interpretasie.Schwarz, Boris: "Joseph Szigeti" , Grove Musiek Aanlyn red. L. Macy. Besoek op 26 September 2007
In 1950 was Szigeti vir verskeie dae by Ellis-eiland aangehou nadat hy van 'n Europese konserttoer teruggekeer het, en amptelik "tydelik uitgesluit" uit die land. Die rede hiervoor bly onbekend."Szigeti By Ellis-eiland aangehou", The New York Times, 18 November 1950 Die volgende jaar het hy 'n genaturaliseerde Amerikaanse burger geword.
Latere jare duimnael|regs|200px|Montreux, Switserland, waar Szigeti sy latere jare spandeer het