Ankaa (ook bekend as Alpha Phoenicis of α Phe) is die helderste ster in die sterrebeeld Feniks (Phoenix).

Name Die ster se Bayer-naam is "α Phoenicis". Sy tradisionele naam, "Ankaa", kom van die Arabiese العنقاء al-ʽanqāʼ "die feniks" (na aanleiding van die sterrebeeld se naam). Middeleeuse Arabiese sterrekundiges het die sterrebeeld "Dau" geskep (waar Feniks is), en dus is ’n ander gewilde naam vir die ster "Nair al Zaurak", van نائر الزوق nayyir az-zawraq, "die helder (ster) van die boot". Die Latynse vertaling is "Cymbae", van lūcida cymbae. Die Internasionale Astronomiese Unie se sternaamwerkgroep (WGSN) het in 2016 die naam Ankaa vir die ster goedgekeur.

Eienskappe Ankaa is ’n spektroskopiese dubbelster met twee komponente wat elke 3 848,8 dae (10,5 jaar) om mekaar wentel. Die gesamentlike sterreklassifikasie van die stelsel is K0,5 IIIb, wat ooreenstem met die spektrum van ’n reusester. Dit het ’n skynbare magnitude van 2,4 en word dus effens oorskadu deur sy bure van die 1ste magnitude, Achernar (α Eridani) en Fomalhaut (α Piscis Australis). Volgens parallaksmetings is dit sowat 85 ligjare van die Son af. Sy radius is omtrent 15 keer dié van die Son.

Die ster is vermoedelik in die middel van ’n kort maar stabiele heliumverbrandingsfase in sy evolusie, maar sal waarskynlik redelik binnekort sy buitenste lae as ’n planetêre newel wegstoot en ’n witdwerg word.

Verwysings

Eksterne skakels 15px Hierdie artikel is vertaal uit die Engelse Wikipedia

Kategorie:Feniks (sterrebeeld) Kategorie:Bayer-voorwerpe Kategorie:Henry Draper-voorwerpe Kategorie:K-tipe reusesterre Kategorie:Dubbelsterre Kategorie:Sterre met eiename