Fomalhaut (ook bekend as Alpha Piscis Austrini of α PsA) is die helderste ster in die sterrebeeld Suidelike Vis (Piscis Austrinus) en een van die helderste sterre in die lug. Dit is ’n A-tipe hoofreeksster sowat 25 ligjare van die Son af. Die ster se spektrum dien sedert 1943 as een van die stabiele ankerpunte waarvolgens ander sterre geklassifiseer word. Dit word geklassifiseer as ’n Vega-agtige ster wat ’n oormaat infrarooi uitstraal omdat dit deur ’n sirkumstellêre skyf omring word. Dit is eintlike ’n driedubbele ster, wat bestaan uit Fomalhaut, die K-tipe hoofreeksster TW Piscis Austrini en die M-tipe rooidwerg LP 876-10. Die komponente is egter verskeie grade van mekaar af.
Fomalhaut is belangrik in die bestudering van eksoplanete, want dit is die eerste sterstelsel met ’n eksoplaneetkandidaat (Fomalhaut b, later hernoem tot Dagon) wat teen sigbare golflengtes afgeneem is. Die foto is in November 2008 in die tydskrif Science gepubliseer. Fomalhaut is die derde helderste ster van die Aarde af met ’n planeetstelsel, naas die Son en Pollux.
Name Die sterstelsel se Bayer-naam is "Alpha Piscis Austrini" en sy Flamsteed-naam "24 Piscis Austrini". Die klassieke sterrekundige Ptolemeus het dit in die sterrebeelde Suidelike Vis én Waterdraer geplaas. In die 1600's het Johann Bayer dit in sy primêre posisie in die Suidelike Vis geplaas. John Flamsteed het in 1725 Ptolemeus se voorbeeld gevolg en dit "79 Aquarii" ook genoem. Die huidige konsensus is dat die ster in die Suidelike Vis hoort. Volgens die reëls vir name van veelvoudige sterstelsels word die drie kompnente – Fomalhaut, TW Piscis Austrini en LP 876-10 – onderskeidelik A, B en C genoem. Toe ’n planeet in die stelsel ontdek is, is dit Fomalhaut b genoem.
Die ster se tradisionele naam kom van die Arabiese فم الحوت Fom al-Haut, "die bek van die (Suidelike) Vis" (letterlik "die bek van die walvis"), ’n vertaling van hoe Ptolemeus dit genoem het.Richard Hinckley Allen:Star Names — Their Lore and Meaning (Piscis Australis, the Southern Fish) In 2016 het die Internasionale Astronomiese Unie (IAU) se sternaamwerkgroep besluit om name eerder aan individuele sterre as stergroepe te gee; hulle het die naam "Fomalhaut" vir komponent A goedgekeur.
In Julie 2014 het die IAU ’n veldtog met die hulp van die publiek begin om name aan sekere eksoplanete toe te ken.NameExoWorlds: An IAU Worldwide Contest to Name Exoplanets and their Host Stars . IAU.org. 9 Julie 2014 In Desember 2015 is aangekondig die wennaam vir Fomalhaut b is Dagon.Final Results of NameExoWorlds Public Vote Released , International Astronomical Union, 15 Desember 2015. Dagon was ’n Semitiese godheid wat dikwels uitgebeeld word as halfman, halfvis.
Fomalhaut A duimnael|210px|links|’n Stofring om Fomalhaut A, deur ALMA.
Met ’n deklinasie van -29,6° is Fomalhaut suid van die hemelewenaar geleë en dus beter uit die Suidelike Halfrond sigbaar, maar ook uit diele van die Noordelike Halfrond.
Dit is ’n jong ster. Daar is lank geglo dit is net 100 tot 300 miljoen jaar oud, met ’n moontlike lewensduur van ’n miljard jaar. Volgens ’n studie in 2012 is dit effens ouer ().
Die ster se oppervlaktemperatuur is sowat 8 590 K. Sy massa is omtrent 1,92 keer dié van die Son, sy radius 1,84 keer en sy ligsterkte 16,6 keer die Son s'n.
Fomalhaut het effens minder metale (elemente swaarder as waterstof en helium) as die Son – volgens verskillende studies tussen 93% en 78%, of selfs so min as 46%.
Sirkumstellêre skyf en planeet Fomalhaut word deur verskeie sirkumstellêre skywe omring. Die binneste skyf is sowat 0,1 AE van die ster af en bestaan uit klein asdeeltjies wat ryk is aan koolstof. Daarop volg ’n skyf met groot deeltjies, met sy binneste deel 0,4-1 AE van die ster af.
Die buitenste stofskyf is minstens 133 AE van die ster af en het ’n baie skerp binnerand. Dit is sowat 25 AE breed, is vermoedelik ’n protoplanetêre skyf, en straal aansienlike infrarooi uit. Metings van Fomalhaut se rotasie dui aan die skyf lê om sy ewenaar, soos verwag kan word uit teorieë oor planeetvorming.
Op 13 November 2008 het sterrekundiges die waarneming aangekondig van ’n voorwerp, wat hulle aangeneem het ’n eksoplaneet is, wat net binne die buitenste stofring om die ster wentel. Dit was die eerste ekstrasolêre wentelende voorwerp wat in sigbare lig gesien is; dit is deur die Hubble-ruimteteleskoop afgeneem. Voorheen is die teenwoordigheid van ’n planeet vermoed vanweë die skerp binnerand van die skyf. Die massa van die planeet, Fomalhaut b, is geraam as nie meer as drie keer dié van Jupiter nie, en minstens so groot soos Neptunus s'n.
| Warm buiteskyf | colspan="4"| 0,21-0,62 AE of 0,88-1,08 AE | — | —
Fomalhaut B (TW Piscis Austrini) Fomalhaut vorm ’n dubbelster met die K-tipe hoofreeksster TW Piscis Austrini (TW PsA), wat omrent 0,91 ligjare van hom af lê.
Die naam TW Piscis Austrini is dié van ’n veranderlike ster. Fomalhaut B is ’n opvlamster van die soort bekend as BY Draconis-veranderlikes. Dit wissel effens in skynbare magnitude, tussen 6,44 en 6,49 oor ’n tydperk van 10,3 dae. Hoewel dit kleiner as die Son is, is dit taamlik groot vir ’n opvlamster. Die meeste opvlamsterre is M-tipe dwergsterre.
Die moontlikheid van ’n eksoplaneet bestaan, maar is nog nie bevestig nie. As dit wel bestaan, het die planeet ’n radius van sowat 0,92 keer die Aarde s’n en wentel dit elke 10,05 dae om die ster op ’n afstand van rofweg 0,082 AE.
Fomalhaut C (LP 876-10) In Oktober 2013 het Eric Mamajek en medewerkers van die RECONS-konsortium aangekondig die voorheen bekende ster LP 876-10, met ’n groot eiebeweging, het ’n afstands-, snelheids- en kleurmagnitude-posisie wat ooreenstem met ’n lid van die Fomalhaut-stelsel. Die ster is aanvanklik deur Willem Luyten aangeteken in sy eiebewegingkatalogus van 1979; ’n presiese trigonometriese parallaks en radiale snelheid is agter eers onlangs gemeet.
LP 876-10 (Fomalhaut C) is ’n rooidwerg van spektraaltipe M4 V, en lê nog verder van Fomalhaut A as TW PsA: sowat 5,7° in die naburige sterrebeeld Waterdraer, terwyl Fomalhaut A en TW PsA albei in die Suidelike Vis lê. Sy huidige ligging is sowat 2,5 ligjare van Fomalhaut A en 3,22 ligjare van TW PsA af. Dit lê heeltemal binne die getyradius van die Fomalhaut-stelsel, wat 6,2 ligjare is. In Desember 2013 het Kennedy et al. die ontdekking aangekondig van ’n koue stofskyf om Fomalhaut C met behulp van infrarooibeelde van die Herschel-ruimtesterrewag. Stelsels met verskeie sterre wat verskeie stofskywe het, is uiters skaars.
Verwysings
Eksterne skakels
Herdruk van planeet se ontdekkingsartikel Astrobites summary of Janson et al. 2012, "The Spitzer IR non-detection of Fomalhaut b" Astrobites summary of Boley et al. 2012, "The ALMA observations of the Fomalhaut ring system" "Researchers find that bright nearby double star Fomalhaut is actually a triple" (Astronomy, 8 Oktober 2013)
15px Hierdie artikel is vertaal uit die Engelse Wikipedia
Kategorie:Bayer-voorwerpe Kategorie:Flamsteed-voorwerpe Kategorie:Henry Draper-voorwerpe Kategorie:Sterre met eiename Kategorie:Veelvoudige sterre Kategorie:A-tipe hoofreekssterre Kategorie:K-tipe hoofreekssterre Kategorie:M-tipe hoofreekssterre Kategorie:Veranderlike sterre Kategorie:Suidelike Vis