Die Tweede Chinees-Japannese Oorlog (7 Julie 1937 tot 9 September 1945) was 'n oorlog tussen die Republiek China en die Japannese Keiserryk, beide voor én tydens die Tweede Wêreldoorlog.
Alhoewel die twee lande reeds sedert 1931 elke nou en dan militêr gebots het, het 'n volskaalse oorlog in 1937 begin en is eers met die oorgawe van Japan in 1945 beëindig. Die oorlog was die gevolg van 'n dekade-lange Japannese imperialistiese beleid wat ten doel gehad het om China beide op politieke en militêre vlak te domineer, asook om toegang tot die land se enorme grondstofbronne en ander bronne te bekom. Terselfdertyd het die groeiende Chinese nasionalisme en idees oor selfbeskikking dié versettingsoorlog onvermydelik gemaak.
Voor 1937 het die twee kante in klein, plaaslike gevegte betrokke geraak, waarna verwys word as "insidente": vir 'n verskeidenheid redes het beide nasies hulself daarvan weerhou om 'n volskaalse oorlog te verklaar. Die 1931 inval van Mantsjoerye deur Japan staan bekend as die "Mukden-" of "Mantsjoerye-insident". Die laaste van hierdie "insidente" was die Marco Polo-brug-insident van 1937, wat die begin van 'n volskaalse oorlog tussen die twee lande ingelei het.
China het van 1937 tot 1941 alleen teen Japan geveg, maar na die aanval op Pearl Harbor het die Tweede Chinees-Japannese Oorlog met die groter konflik van die Tweede Wêreldoorlog saamgesmelt.
Verwysings
Eksterne skakels
Kategorie:Geskiedenis van Japan Kategorie:Geskiedenis van China Kategorie:Tweede Wêreldoorlog