Die begrip self-vertroue dui op 'n mens se dunk van homself wat persoonlike oordeel, sy vermoë krag ens. betref. 'n Mens se selfvertroue neem toe na ervarings waar sekere aktiwiteite bemeester is. Dit is 'n positiewe oortuiging dat 'n mens oor die algemeen kan bereik wat 'n mens wil doen in die toekoms. Self-vertroue is nie dieselfde begrip as selfbeeld nie. Selfbeeld is 'n evaluering van 'n mens se eie waarde, terwyl self-vertroue meer spesifiek vertroue in die mens se vermoë is om 'n doel te bereik. 'n Meta-analise het beweer dat selfvertroue soortgelyk is aan algemene self-doeltreffendheid. Abraham Maslow en baie ander na hom, het die behoefte beklemtoon om te onderskei tussen selfvertroue as 'n algemene persoonlikheidseienskap, en selfvertroue met betrekking tot 'n spesifieke taak, vermoë of uitdaging (d.w.s self-doeltreffendheid). Selfvertroue verwys gewoonlik na algemene selfvertroue. Dit word onderskei van self-doeltreffendheid, wat die sielkundige Albert Bandura gedefinieer het as 'n "geloof in die mens se vermoë om te slaag in spesifieke situasies of om 'n taak te voltooi" en daarom verwys die term meer akkuraat na spesifieke self-vertroue. Sielkundiges het bevind dat 'n persoon self-vertroue kan hê om 'n spesifieke taak te voltooi (self-doeltreffendheid) (bv. om 'n goeie maaltyd te kook of 'n goeie roman te skryf), maar 'n gebrek aan algemene self-vertroue kan hê. Aan die ander kant kan iemand algemene self-vertroue hê, al is hulle nie self-doeltreffend om 'n spesifieke taak te voltooi nie (bv. om 'n roman te skryf). Hierdie twee tipes selfvertroue korreleer met mekaar en om hierdie rede kan hul maklik gekombineer word.
Geskiedenis Idees oor die oorsake en gevolge van selfvertroue het verskyn in Engelse taalpublikasies. Dit het selfvertroue beskryf as eienskappe van 'n godsdienstige houding teenoor God, die karakter van die Britse ryk en die kultuur van die Amerikaanse samelewing van die koloniale era (waar dit skynbaar as arrogansie en 'n negatiewe eienskap gesien is.)
In 1890 het die filosoof William James in sy The Principles of Psychology geskryf: "Glo wat in lyn is met jou behoeftes, want slegs deur so 'n oortuiging word die behoefte vervul... Hê vertroue dat jy suksesvol sal wees, en jou voete sal jou in die regte rigting lei," wat suggereer dat selfvertroue 'n deug kan wees. In daardie selfde jaar het dr. Frederick Needham in sy presidensiële toespraak met die opening van die British Medical Journal se Sielkunde-afdeling ('n groter nuwe gebou van 'n toevlugsoord vir kranksinnige pasiënte) hulle geprys. Hy het gesê dat hulle selfvertroue verhoog kon word deur aan hulle groter "vryheid van beweging te gee, uitgebreide oefening en beoefening van 'n beroep te bied, wat sodoende selfvertroue skep. Nie net is dit uitstekende toetse vir die gesonde verstand van die pasiënt nie, maar dit werk ook kragtig om herstel te bevorder. " Daardeur het hy toe reeds beweer dat selfvertroue in 'n wetenskaplike verhouding tot geestesgesondheid staan.
Met die koms van die Eerste Wêreldoorlog het sielkundiges selfvertroue aangeprys as 'n hulpmiddel om senuweespanning te veminder, vrees te besweer en die slagveld se angs te verminder. Hulle het beweer dat soldate wat 'n sterk en gesonde liggaam gekweek het ook groter selfvertroue sou kry terwyl hulle veg. Tydens die hoogtepunt van die Temperance Social Reform beweging van die 1920's het sielkundiges selfvertroue vereenselwig met mans wat tuis gebly het om die gesin te versorg. Tydens die Groot Depressie het Philip Eisenberg en Paul Lazerfeld waargeneem hoe 'n skielike negatiewe verandering in omstandighede, veral die verlies van 'n werk, kan lei tot minder selfvertroue. Dit het tot nog minder selfvertroue gelei indien die werklose persoon die skuld van sy werkloosheid op homself neem. Hulle het ook waargeneem dat as 'n persoon 'n werk nie lank genoeg kon behou nie, so persoon apaties geraak het en alle selfvertroue verloor het.
In 1943 het Abraham Maslow in sy navorsingsstuk "A Theory of Human Motivation" aangevoer dat 'n individu net gemotiveer is om selfvertroue te ontwikkel (een komponent van "agting") nadat hy of sy gekry het wat hulle benodig vir fisiologiese oorlewing, veiligheid, liefde en geborgenheid. Dit het weer op sy beurt gelei tot die bevordering van selfverwesentliking. Namate materiele omstandighede van die meeste mense na die Tweede Wêreldoorlog vinnig in ontwikkelde lande verbeter het, het 'n massa van algemeen aangehaalde akademiese navorsing oor vertroue en baie verwante begrippe soos selfbeeld en selfdoeltreffendheid na vore getree.
Teorieë en ooreenkomste met ander veranderlikes en faktore
Selfvertroue as 'n intra-psigologiese veranderlike Sosiale sielkundiges het bevind dat selfvertroue met ander sielkundige veranderlikes by individue, soos die spaar van geld, invloed kan uitoefen op ander individue, deur bv 'n verantwoordelike student te word. Bemarkingsnavorsers het bevind dat algemene selfvertroue by 'n persoon negatief ooreenkom met hul vlak van angs.
Sommige studies het bevind dat verskeie faktore buite die individu se beheer hulle selfvertroue kan beïnvloed. Hippel en Trivers stel voor dat mense hulself mislei oor hul eie positiewe eienskappe en negatiewe eienskappe van ander sodat hulle groter selfvertroue kan toon as wat hulle andersins kan voel, waardeur hulle sosiaal en materieel kan vooruitgaan. Ander het bevind dat nuwe inligting oor 'n individu se prestasie in wisselwerking is met 'n individu se vorige selfvertroue oor hul vermoë om te presteer. As hierdie spesifieke inligting negatiewe terugvoering is, kan daar interaksie wees met 'n negatiewe emosionele toestand (lae selfvertroue). Dit veroorsaak dat die individu gedemoraliseer word, wat op sy beurt 'n selfvernietigende houding veroorsaak wat die waarskynlikheid van mislukking in die toekoms meer verhoog as hulle wat nie selfvertroue gehad het nie. Aan die ander kant vind sommige ook dat selfvertroue 'n persoon se algemene welsyn en 'n mens se motivering en dus dikwels prestasie kan bevorder. Dit verhoog ook jou vermoë om stres en geestesgesondheid te hanteer.
'n Meta-analise van 12 artikels het bevind as individue hul sukses aan 'n stabiele oorsaak toeskryf ('n saak onder hulle beheer), is hulle minder geneig om selfversekerd te wees oor hulle sukses in die toekoms. As individue hul mislukkings aan 'n onstabiele oorsaak toeskryf ('n faktor buite hul beheer, soos 'n skielike en onverwagse storm), is hulle minder geneig om selfversekerd te wees dat hulle sal sukses behaal in die toekoms. Daarom, as 'n individu glo dat hy/sy en/of ander nie 'n doel bereik het nie (bv. ophou rook) as gevolg van 'n faktor wat buite hul beheer was, is hy of sy meer geneig om meer selfversekerd te wees dat hy of sy die doel in die toekoms kan bereik. As 'n persoon 'n besluit moet neem en addisionele bronne van inligting soek, hang dit af van hul vlak van selfvertroue spesifiek vir daardie gebied. Namate die kompleksiteit van 'n besluit toeneem, is 'n persoon meer geneig om deur 'n ander persoon beïnvloed te word en ekstra inligting te soek. Maar mense kan ook relatief selfversekerd wees oor wat hulle glo as hulle inligtingbronne raadpleeg wat ooreenstem met hul wêreldbeskouings (bv New York Times vir liberale, Fox News vir konserwatiewes), selfs al weet hulle nie wat môre sal gebeur nie. Verskeie sielkundiges het voorgestel dat mense wat selfversekerd is, meer geneë is om bewyse te ondersoek wat hul standpunte ondersteun of in stryd is daarmee. Daarteenoor kan mense wat minder selfversekerd is oor hul argumente en meer verdedigend is oor hulle persoonlike standpunt voorkeur gee aan inligting wat hulle eie standpunt bevestig. (Sien ook Byrne, 1961; Olson & Zanna, 1982b; vir verwante sienings in ander domeine, sien Tesser, 2001).
Verhouding tot sosiale invloede Die individu se vlak van selfvertroue kan wissel in verskillende omgewings, soos tuis of in die skool, en met betrekking tot verskillende tipes verhoudings en situasies. Ten opsigte van die algemene samelewing het sommige bevind dat hoe meer selfversekerd 'n individu is, hoe minder waarskynlik sal hulle met ander se standpunte saamstem. Leon Festinger het bevind dat 'n persoon se vlak van selfvertroue net kan verhoog of verminder waar daardie individu homself kan vergelyk met ander persone wat min of meer op dieselfde vlak is in 'n mededingende omgewing. Wat meer is, wanneer individue met 'n lae selfbeeld terugvoering van ander persone ontvang, is hulle nie geneë om inligting oor hul relatiewe vermoë en insiggewende terugvoer te ontvang nie, en meer geneë om positiewe terugvoering te ontvang.
Mense met baie selfvertroue kan ander mense maklik beïndruk, omdat ander hulle waarneem as meer kundig en meer geneig om korrekte oordele te maak ondanks die feit dat daar soms 'n negatiewe korrelasie tussen die vlak van hul selfvertroue en akkuraatheid gevind word van hul- le standpunte Wanneer mense onseker en onkundig is oor 'n onderwerp, is hulle meer geneig om die standpunte te glo, en die advies te volg van diegene wat selfversekerd lyk. By deskundige sielkundige getuienis oor faktore wat ooggetuie geheue beïnvloed, blyk dit egter dat geregtelike afhanklikheid van selfvertroue minder is.
Mense is meer geneig om leiers met groter selfvertroue te kies as dié met minder selfvertroue. Heteroseksuele mans wat meer selfvertroue toon as ander mans, sal meer geneig wees om enkel- en getroude vroue aan te trek. Verkoopsmense wat baie selfvertroue het, sal waarskynlik hoër doelwitte vir hulleself stel en dus meer geneig wees om hulle werk te behou, hoër inkomste te kry en suksesvolle kliëntediensbevrediging beoefen. Wat leierskap betref, is leiers met baie selfvertroue meer geneig om ander te beïnvloed deur oorreding eerder as met dwangmaatreëls. Individue wat nie veel mag het nie en dus min selfvertroue het, is meer geneig om dwangmetodes vir beïnvloeding te gebruik. Hulle sal persoonlik betrokke raak, terwyl diegene wat min selfvertroue het, meer geneig is om probleme na iemand anders te verwys of om burokratiese prosedures te gebruik om ander te beïnvloed bv. beroep op organisatoriese beleid of regulasies). Ander het bevind dat selfvertroue nie leierskap beïnvloed nie, maar slegs met jare se toesighoudende ondervinding en selfbeeld mag verband hou.
Veranderlikes tussen verskillende kategorieë Sosiale wetenskaplikes het bevind dat selfvertroue in verskillende samelewingsgroepe verskillend voorkom.
Kinders By kinders kom selfvertroue anders as by volwassenes voor. Fenton het byvoorbeeld vasgestel dat slegs kinders as 'n groep meer selfversekerd is as ander kategorieë. Zimmerman beweer dat as kinders selfversekerd is, hulle kan besef dat hulle meer geneig is om onmiddellike ontspanningstyd op te offer vir moontlike belonings in die toekoms en daarmee hulle selfregulerende vermoëns kan verbeter. Tydens adolessensie is die jeug wat min kontak met vriende het, geneig om min selfvertroue te hê. Kinders wat suksesvol in musiekopleiding is, het meer selfvertroue en is gemotiveerd om te studeer.
Skoliere