Prof. Tjaart van der Walt (15 Februarie 1934 – 22 Februarie 2019) was die rektor van die Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys van 1 Mei 1977 tot 31 Desember 1988. Tydens sy beroepsjare was hy 'n vertaler van die Bybel en later 'n diplomaat.
Lewensloop Van der Walt is op 15 Februarie 1934 in Pietersburg, Transvaal gebore. Hy was die seun van Johannes Jacob van der Walt en Maria Jacoba de Klerk. Hy is op 30 Desember 1958 met Heiltje Johanna Gertruida Snyman getroud. Sy was die dogter van Johannes Jurie Snyman en Maria Magdalena Venter. Hy het in Johannesburg skoolgegaan en in 1950 Standerd 10 (graad 12) aan die Jongenskool Helpmekaar geslaag.
Onderwys Hy behaal die grade BA, BA (Hons) in Semitiese Tale en ThB aan die Potchefstroomse Universiteit. Hy behaal ook 'n BA (Hons) in Klassieke Tale aan die Universiteit van die Witwatersrand. Hy studeer verder aan die Protestantse Teologiese Universiteit in Kampen, Overijssel, Nederland en ontvang in 1962 'n PhD aldaar.
Beroepsloopbaan By sy terugkeer na Suid-Afrika word hy predikant in die Gereformeerde kerk Krugersdorp. Daarna ontvang hy in 1969 'n professoraat aan die Potchefstroomse Universiteit vir Nuwe-Testamentiese Wetenskap. Van 1971 tot 1973 was hy die hoof van die Teologiese Sentrum in Potchefstroom.
Hy word op 1 Mei 1977 as rektor van die Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys aangestel en tree op 31 Desember 1988 af. In 1983 oortuig hy die Raad van die Universiteit om swart studente op voorgraadse vlak toe te laat. In sy tyd as rektor is die Fakulteit Farmasie en die Fakulteit Ingenieurswese gestig.
Hy was ook betrokke by die nuwe Bybelvertaling van Grieks in Afrikaans.
Verwysings
Kategorie:Afrikaners Kategorie:Suid-Afrikaanse akademici Kategorie:Geboortes in 1934 Kategorie:Sterftes in 2019 Kategorie:Akademiese personeel van Noordwes-Universiteit