Iwan IV Wasiljewitsj (Russies: Иван IV Васильевич) (25 Augustus 1530 - 18 Maart 1584) was van 1533 tot 1547 grootprins van Moskowië en van 1547 tot met sy dood die eerste amptelike tsaar van Rusland. Hy is beter bekend as Iwan die Verskriklike (Russies: Иван Грозный, letterlik Iwan die Ontsagwekkende of Formidabele). Iwan se bewind is gekenmerk deur Rusland se oorgang van 'n Middeleeuse staat tot 'n ryk, maar teen 'n ontsaglike prys vir sy volk en vir die land se ekonomie op lang termyn.

Iwan was die oudste seun van Wasili III by sy tweede vrou, Jelena Glinskaja, en 'n kleinseun van Iwan III. Hy het sy pa ná dié se dood opgevolg toe hy drie jaar oud was. 'n Groep hervormers het in 1547 om Iwan byeengekom en hom as tsaar gekroon toe hy 16 jaar oud was. In die vroeë jare van sy bewind het Iwan saam met 'n groep hervormers bekend as die Verkose Raad regeer en die Zemski Sobor as 'n nuwe vergadering gestig. Hy het ook die regskode hersien en hervormings ingestel, insluitende elemente van plaaslike selfregering. Verder het hy die eerste Russiese staande mag, die streltsi, gestig. Iwan het die khanate Kazan en Astrachan verower en Rusland se gebied aansienlik uitgebrei.

links|thumb|220px|'n Portret van Iwan IV in die Tsarski titoeljarnik, 'n boek met illustrasies van Russiese monarge en ander leiers (1672). Nadat hy sy mag gekonsolideer het, het Iwan ontslae geraak van sy raadgewers in die Verkose Raad en die Lyflandse Oorlog van 1558 tot 1583 begin. Dit het Rusland verwoes weens 'n onvermoë om beheer oor Lyfland te neem en die verlies van Ingermanland, maar hom in staat gestel om groter outokratiese beheer oor die Russiese adel te kry. Hy het dit gewelddadig reggekry met behulp van Rusland se eerste politieke polisie, die opritsjniki. Die latere jare van Iwan se bewind is gekenmerk deur die slagting van Nowgorod en die afbrand van Moskou deur die Tartare. Iwan het ook kulturele verbeterings aangebring, soos die invoer van die eerste drukpers, en verskeie prosesse begin wat vir eeue sou duur, soos die verbetering van bande met ander Europese state, veral Engeland, oorloë teen die Ottomaanse Ryk en die geleidelike oorwinning van Siberië.

Kontemporêre bronne het uiteenlopende menings van Iwan se komplekse persoonlikheid gegee. Hy is beskryf as intelligent en toegewy, maar ook geneig tot paranoia, woede en oomblikke van geestelike onstabiliteit, wat met die ouderdom vererger het.Shvidkovskiĭ, Dmitriĭ Olegovich (2007) Russian Architecture and the West. Yale University Press. p. 147. .Yanov, p. 208Del Testa, David W. (2001) Government Leaders, Military Rulers and Political Activists. Greenwood Publishing Group. p. 91. Historici glo hy het sy oudste seun en erfgenaam, Iwan Iwanowitsj, in 'n woedeaanval vermoor, en hy was dalk ook verantwoordelik vir die miskraam van laasgenoemde se ongebore kind. Dit het veroorsaak dat sy jongste seun, die polities onbekwame Fjodor Iwanowitsj, die troon geërf het – 'n man wie se bewind en kinderlose dood regstreeks gelei het tot die einde van die Rjoerik-dinastie en die begin van die Tyd van Beroeringe.

Bynaam Die Afrikaanse woord "verskriklik" word gewoonlik gebruik om die Russiese грозный (grozni) in Iwan se bynaam te vertaal, maar dit is nie heeltemal reg nie: Die woord "verskriklik" hier weerspieël die ouer gebruik van "die inboeseming van vrees", "gevaarlik", "magtig". Dit dra egter nie die moderner betekenis oor van "verskriklik" soos "skrikwekkend" nie. Volgens Edward L. Keenan kom die beeld van Iwan in populêre kultuur as 'n tiran van verpolitiseerde Westerse geskrifte oor die Renaissance-tydperk. Anti-Russiese propaganda gedurende die Lyflandse Oorlog het Iwan uitgebeeld as 'n sadistiese, Oosterse despoot. Vladimir Dal definieer grozni as 'n argaïese gebruik en 'n bynaam vir tsaars: "dapper, voortreflik en gesaghebbend; "iemand wat vrees by die vyand inboesem, maar 'n volk gehoorsaam hou".Dal, Vladimir, Explanatory Dictionary of the Live Great Russian language, article ГРОЗИТЬ.]

Moderne geleerdes het ook al ander vertalings voorgestel, soos "formidabel"McConnell, Frank D. (1979). Storytelling and Mythmaking: Images from Film and Literature. Oxford University Press. ; p. 78 en "ontsagwekkend".

Vroeë lewe thumb|links|180px|'n Jong Iwan sit op die troon. thumb|links|180px|Iwan word as tsaar gekroon.

Iwan was die oudste seun van Wasili III en sy tweede vrou, Jelena Glinskaja. Wasili se moeder, Sophia Palaiologina, was 'n Oos-Romeinse prinses en lid van die Bisantynse Palaiologos-familie. Sy was die dogter van Thomas Palaiologos, die jonger broer van die laaste Bisantynse keiser, Konstantyn XI Palaiologos (bewind: 1449-'53). Jelena se moeder was 'n Serwiese prinses en haar pa se familie, die Glinski's, was 'n adellike familie wat gebaseer was in die Groothertogdom Litaue en aanspraak gemaak het op afstamming van Ortodokse Hongaarse adellikes en die Mongoolse heerser Mamai (1335-'80).Maureen Perrie & Andrei Pavlov, Ivan the Terrible, Routledge (2014), p. 26Francis Carr, Ivan the Terrible, David & Charles Publishers (1981), p. 61Walter G. Moss, A History of Russia : To 1917, Volume 1, Anthem Press (2003), p. 130

Iwan is op 25 Augustus gebore en is genoem na Johannes die Doper, wat eeue tevore op 29 Augustus onthoof is. Volgens tradisie is die Kerk van die Hemelvaart in Kolomenskoje ter ere van Iwan se geboorte gebou.

Toe Iwan drie jaar oud was, is sy vader aan bloedvergifting dood ná 'n abses en ontsteking in sy been. Benewens Iwan was net twee van Wasili se ses broers oor, Andrei en Joeri. Iwan is op versoek van sy vader uitgeroep tot grootprins. Sy moeder het aanvanklik as regentes opgetree, maar sy is in 1538 oorledeMartin, p. 331Pushkareva, N. (1997) Women in Russian History. M.E. Sharpe. pp. 65–67. . toe Iwan net agt jaar oud was; baie glo sy is vergiftig.

Die regentskap het daarna gewissel tussen verskeie strydende bojarefamiljies wat om beheer baklei het. Volgens sy eie briewe het Iwan en sy jonger broer, Joeri, dikwels verwaarloos en beledig gevoel deur die magtige bojare van die Sjoeiski- en Belski-familie. In 'n brief aan Andrei Koerbski onthou Iwan hy en Joeri is soos die kinders van armes grootgemaak. "Hoe het ek nie gely weens 'n gebrek aan kos en klere nie!"Kurbsky, Andrey, Ivan IV, The Correspondence Between Prince A.M. Kurbsky and Tsar Ivan IV, of Russia, 1564–1579, Cambridge University Press, 1955, 275 pp., p. 75. Die gebeure word deur die historikus Edward Keenan in twyfel getrek omdat hy onseker is oor die egtheid van die bron daarvan.

thumb|180px|Die geboorte van Iwan Iwanowitsj, die seun van Iwan IV en Anastasia Romanowna, 'n miniatuur uit die Geïllustreerde Kroniek van Iwan die Verskriklike. Op 16 Januarie 1547, op 16-jarige ouderdom, is Iwan in die Moskouse Kremlin tot tsaar gekroon. Hy was die eerste Russiese monarg wat as "Tsaar van die Hele Rusland" gekroon is, deels in navolging van sy oupa, Iwan III. Voorheen is heersers van Moskou as grootprinse (groothertoë) gekroon, maar Iwan III het die titel "Monarg van die Hele Rusland" aangeneem en die titel tsaar in sy korrespondensie met ander monarge gebruik. Twee weke ná sy kroning is Iwan die Verskriklike getroud met sy eerste vrou, Anastasia Romanowna, 'n lid van die Romanof-familie, wat die land se eerste tsaritsa geword het.

Deur as tsaar gekroon te word het Iwan 'n boodskap aan die wêreld en aan Rusland gestuur dat hy nou die opperheerser van die land is, en dat sy wense nie bevraagteken moet word nie. Volgens die historikus Janet Martin het die nuwe titel "'n aanname van mag gesimboliseer wat gelykstaande en parallel was met dié van die voormalige Bisantynse keiser en die Tartaarse khan, wat albei in Russiese bronne as tsaar bekend was. Die politieke effek was om Iwan se posisie te verhef."Martin, p. 377 Die titel het nie net die kroon gewaarborg nie, maar ook aan Iwan 'n nuwe dimensie van mag gegee wat op die ou end aan godsdiens verbind was. Hy was nou 'n "goddelike" leier wat aangestel is om God se wil uit te voer, want in "kerklike geskrifte is konings van die Ou Testament "tsaars" genoem en Christus die "Hemelse Tsaar".Bogatyrev, p. 245 Die nuwe titel is daarna van geslag tot geslag oorgedra en "daaropvolgende Moskouse heersers het voordeel getrek uit die goddelike aard van die Russiese monarg se mag".Bogatyrev, Sergei (2006). "10. Ivan IV (1533–1584)". In Maureen Perrie (ed.). The Cambridge History of Russia. Vol. 1: From Early Rus' to 1689. Cambridge Histories Online. pp. 240–63. doi:10.1017/CHOL9780521812276.011. . Besoek op 7 Desember 2011.

Nes monarge van Europa het die eerste Russiese tsaars mitologiese stamboeke aanvaar wat hulle aan antieke Rome gekoppel het. In Die Verhaal van die Prinse van Wladimir is hulle afkoms teruggespeur na Rjoerik, die eerste prins van Nowgorod in Noord-Rusland.

Binnelandse beleid Ondanks die rampspoedige gevolge van die Groot Brand van 1547 in Moskou, was die vroeë deel van Iwan se bewind vol vreedsame hervormings en modernisering. Iwan het die regskode hersien; 'n staande leër (die streltsi) op die been gebring; die eerste Russiese parlement van feodale landgoede (die Zemski Sobor) en die raad van die adellikes (die Verkose Raad) daargestel; en die Kerk se rituele en ekklesiastiese regulasies oor die hele land gelykvormig gemaak. Hy het ook plaaslike selfregering in plattelandse gebiede ingestel.

thumb|180px|'n 16de-eeuse portret van Iwan deur Hans Weigel. In 1553 het Iwan 'n ernstige siekte opgedoen waarvan hy vermoedelik nie sou herstel nie. Terwyl hy op sy veronderstelde sterfbed was, het hy die bojare gevra om 'n eed van getrouheid af te lê aan sy oudste seun, wat toe 'n baba was. Baie bojare het geweier, want hulle het geglo hy sou nie sy siekte oorleef nie. Dit het Iwan woedend gemaak en sy wantroue in die bojare vergroot. Wreedaardige vergeldings en teregstellings het gevolg.

In 1553 het Iwan die stigting van die Moskouse drukkerswerf gelas en die eerste drukpers is ingevoer en in Rusland bekend gestel. Verskeie godsdiensboeke in Russies is in die 1550's en 1560's gedruk. Die nuwe tegnologie het ontevredenheid onder die tradisionele skribas veroorsaak, en die drukkerswerf is afgebrand. Die druk van boeke is egter in 1568 hervat.

Iwan het die Sint Basilius-katedraal in Moskou laat bou ter herdenking van die oorname van Kazan. Ander gebeure uit dié periode sluit in die bekendstelling van die eerste wette wat die beweegbaarheid van die kleinboere beperk het. Dit sou eindelik lei tot die instelling van lyfeienskap onder die bewind van tsaar Boris Godoenof in 1597.Bain, Robert (1911). "Boris Fedorovich Godunov". In Chisholm, Hugh (red.). Encyclopædia Britannica. Vol. 4 (11de uitg.). Cambridge University Press. p. 254.Platon Vasilievich Pavlov, On the Historical Significance of the Reign of Boris Godunov (Moskou, 1850)Sergey Mikhailivich Solovev, History of Russia (2de uitg., vol. vii-viii, Sint Petersburg, 1897).

Die kombinasie van swak oeste, verwoesting wat deur die opritsjnina en Tartaarse plundertogte meegebring is, die uitgerekte oorlog en oorbevolking het 'n ernstige sosiale en ekonomiese krisis in die tweede helfte van Iwan se bewind teweeggebring.

Opritsjnina

thumb|180px|'n Portret van Iwan IV deur Wiktor Wasnetsof, 1897. Probleme in die 1560's het 'n verandering in Iwan se beleide teweeggebring. Rusland is verwoes deur 'n kombinasie van droogte, hongersnood, onsuksesvolle oorloë teen die Pools-Litause Gemenebes, Tartaarse invalle en die seehandelsblokkade wat ingestel is deur Swede, Pole en die Hanseverbond. Iwan se eerste vrou, Anastasia Romanowna, is in 1560 oorlede en vergifting is vermoed. Die persoonlike tragedie het Iwan swaar getref en vermoedelik sy persoonlikheid, indien nie sy geestesgesondheid nie, ernstig beïnvloed. Terselfdertyd het een van Iwan se raadgewers, prins Andrei Koerbski, na Litaue oorgeloop, bevel van die Litause troepe oorgeneem en die Russiese streek Welikije Loeki verwoes. Dié reeks gebeure het Iwan die adel laat wantrou.