Chicago 280px Kaart Seël 180px|senter 75px|senter Vlag 90px|senter Land Deelstaat 20px Illinois Counties Cook, DuPage Koördinate Stigting ca. 1780 Geïnkorporeer op 4 Maart 1837 Oppervlakte: - Totaal 607,44 vk km - waarvan land 589,82 vk km Hoogte bo seevlak 182,02 m Bevolking: - Totaal (2020) 2 746 388 - Bevolkingsdigtheid 4 656,33/vk km - Metropolitaanse gebied 9 618 502 Tydsone UTC -6 (CST) - Somertyd UTC -5 (CDT) Klimaat - Tipe Kontinentale klimaat - Gemiddelde jaarlikse temperatuur 10,5 °C - Gem. temp. Januarie/Julie -3,3 / 24,3 °C - Gemiddelde jaarlikse neerslae 937,1 mm Burgemeester Brandon Johnson (D) Amptelike webwerf chicago.gov
Chicago (Engels: [ʃɪˈkɑːɡoʊ], ; plaaslik ook: [ʃɪˈkɔːɡoʊ], ) is die grootste stad in die Amerikaanse deelstaat Illinois, in die Middelweste op die suidwestelike oewer van die Michiganmeer. Met 'n bevolking van byna drie miljoen is dit ook die derde grootste stad in die Verenigde State. Dit is ’n belangrike nywerheid- en sakesentrum, bekend vir sy talle wolkekrabbers.HAT Taal-en-feitegids, Pearson, Desember 2013,
Die groter sogenaamde Chicagoland, 'n verstedelikte gebied wat oor die noordooste van Illinois tot in die suidooste van Wisconsin en die noordweste van Indiana strek, is die derde grootste metropolitaanse gebied in die Verenigde State en die oorheersende metropool in die Amerikaanse Middelweste met 'n bevolking van meer as nege miljoen. Encyclopædia Britannica: Chicago. Besoek op 18 Junie 2015
Chicago, wat in die noordweste van Illinois aan die Michiganmeer lê, is die finansiële, sake- en kulturele spilpunt van die Amerikaanse Middelweste en word deur die Loughborough University Globalization and World Cities Study Group & Network as alfa-wêreldstad gelys. Die stad het in sy lang geskiedenis verskillende byname soos Windy City, Chi-Town en Stad van die Groot Skouers (volgens Carl Sandburg se gedig Chicago) gekry.
Die stad is in 1833 as 'n dorp gestig wat die Groot Mere met die Mississippirivierstelsel verbind het en het vinnig tot 'n belangrike vervoersentrum in die Noordwesgebied ontwikkel, met stoomboot-, kanaal- en (sedert 1855) spoorwegverbindings na ander belangrike gebiede in die VSA. In 1890 is dit reeds by die tien invloedrykste wêreldstede gereken en was dit ook 'n belangrike nywerheids-, politieke, geneeskundige en opvoedkundige sentrum.
Ná die groot brandramp van die jaar 1871 is Chicago binne 'n kort tydperk as moderne stedelike nedersetting herbou. Dit was in die laat 19de eeu die bakermat van die staalskelet-wolkekrabber, terwyl sy modernistiese 20ste eeuse boukuns rigtingwysende ontwerpe van internasionaal befaamde argitekte soos Louis H. Sullivan, Frank Lloyd Wright en Ludwig Mies van der Rohe insluit.
Ná die Tweede Wêreldoorlog het Chicago 'n nuwe oplewing van boubedrywighede beleef, alhoewel 'n groot deel van die stedelike bevolking na die voorstede verhuis het.
Etimologie Chicago se naam is afgelei van 'n Franse weergawe van die inheemse Miami-Illinois-woord shikaakw vir 'n wilde familielid van die ui; dit staan onder plantkundiges bekend as Allium tricoccum, terwyl die meer algemene naam ramps is. In 1679 was René Robert Cavelier de La Salle die eerste persoon wat in sy memoires na die huidige stad Chicago as Checagou verwys het. In 1688 het Henri Joutel in sy joernaal opgemerk dat die gelyknamige wilde "knoffel" in die gebied se woude volop gegroei. Volgens sy dagboek in laat September 1687:
Die stad het in sy geskiedenis verskeie byname gehad, soos die Windy City, Chi-Town, Second City en City of the Big Shoulders.
Geografie duimnael|'n Landsat-beeld van Chicago Chicago lê in die noordooste van die deelstaat Illinois aan die suidwestelike oewer van Michiganmeer en op die kontinentale waterskeiding by die Chicago Portage, wat die waterskeidings van die Mississippirivier en die Groot Mere met mekaar verbind.
Twee riviere vloei heeltemal of gedeeltelik deur die stadsgebied van Chicago – die Chicagorivier in die middestad en die Calumetrivier in die industriële voorstad South Side. Die Chicago Sanitary and Ship Canal verbind die Chicagorivier met die Des Plaines-rivier wes van die stad.
Toe Chicago in die 1830's gestig is, het die meeste beboude gebiede by die monding van die Chicagorivier ontstaan. Tans beslaan Chicago 'n totale oppervlakte van 607,44 km² (234,53 vierkante myl), waarvan 589,82 km² (227,73 vierkante myl) land en 17,62 km² (6,80 vierkante myl) of 2,90% water is.
Die gemiddelde hoogte bo seevlak is 182,02 meter (579 voet), met die laagste punte langs die meeroewer (176 meter) en die hoogste, 'n vullisterrein, in die suide (224 meter/735 voet).
Die Chicagorivier duimnael|Plesierbote op die Chicagorivier Die Chicagorivier is tans 'n waterwegstelsel wat uit 'n verskeidenheid riviere en kanale met 'n totale lengte van 156 myl (251 km) bestaan en regdeur die stad, insluitende die stadskern, loop. Alhoewel dit 'n betreklik kort waterloop is, het Chicago nogtans sy ontstaan aan dié rivier te danke, met die sogenaamde Chicago Portage as 'n belangrike geografiese verbindingstuk tussen die Groot Mere, die waterweë van die Mississippivallei en uiteindelik die Golf van Meksiko.
Net so merkwaardig is die rivier se natuurlike en mensgemaakte geskiedenis. In 1887 het Illinois se Algemene Vergadering, onder meer vanweë rampspoedige weerstoestande wat in 1885 watervoorsiening in Chicago bedreig het, besluit om die Chicagorivier se vloeirigting om te keer. So is water uit die Michiganmeer herlei na die Mississippirivier-waterskeiding. In 1889 het die Vergadering die Chicago Sanitary District geskep om die Illinois-Michigankanaal, wat omrede Chicago se vinnige groei ontoereikend geword het as rioolwaterafloop en kommersiële waterweg, met die aansienlik groter Chicago Sanitary and Ship Canal te vervang.
Die Chicago Sanitary District het die verbinding tussen die Groot Mere en die Mississippi-waterskeiding in 1900 voltooi deur die waterloop van die rivier se sogenaamde Main Stem en suidelike tak deur middel van 'n reeks kanaalsluise omgekeer. Daarnaas is ook die rivier se watertoeloop uit die Michiganmeer vergroot en na die nuwe kanaal herlei. Dié projek is deur die American Society of Civil Engineers (ASCE) in 1999 as 'n "Jaarduisendmonument van siviele ingenieurswese" aangewys. Top 10 Achievements & MIllennium Monuments. Besoek op 28 Maart 2017
Op Chicago se stadsvlag word die rivier deur twee horisontale strepe versinnebeeld. Die Chicagorivier het daarnaas ook as inspirasie vir een van die stad se alomteenwordige simbole – 'n drieledige, Y-vormige simbool wat die Chicagorivier se drie vertakkings versinnebeeld en op talle geboue en ander strukture in die hele stadsgebied aangetref word.
Die Michiganmeer duimnael|'n Lugfoto van Chicago se middestad Die geskiedenis van Chicago is nou verbind met dié van die Michiganmeer en reeds voor die stigting van die stad is setlaars en goedere met skepe na die gebied vervoer. Die Michiganmeer is die derde grootste van die Groot Mere met 'n maksimum diepte van 282 m (925 voet) en 'n oppervlakte wat effens groter is as dié van Kroasië in Europa. Die meer bereik net voor Chicago 'n gemiddelde diepte van tussen 4,5 en 10,6 meter. 'n Aantal skeepswrakke, waaronder skoeners, sleepbote en veerbote, maar ook vliegtuie uit die Tweede Wêreldoorlog lê hier op die meerbodem.
Duiktogte en plesiervaarte langs die kus is baie gewild onder die inwoners. In 1988 is sebramossels in Lake Saint Clair ontdek en hulle het vinnig in die Groot Mere uitgebrei. Die mossels het 'n groot impak op die plaaslike ekostelsel. Hulle verstop waterpype en het 'n negatiewe uitwerking op die basiese voedselketting. 'n Onverwagte gevolg van hulle uitbreiding was die suiwering van die meerwater – terwyl sigbaarheid onderwater in die 1970's nog slegs 'n gemiddelde 1,5 tot 4,8 meter was, het dit tans gestyg tot gemiddeldes van meer as ses en soms selfs twaalf meter.
Klimaat duimnael|Die stadsilhoeët van Chicago, soos gesien vanuit 'n vliegtuig bo die wolke Chicago se klimaat word, net soos dié van ander gebiede in die Midweste, deur 'n groot verskeidenheid weerstoestande en vier verskillende seisoene gekenmerk. Julie is die warmste maand van die jaar met gemiddelde maksimum temperature van 29 °C (84 °F) en 'n gemiddelde minimum van 17 °C (63 °F). Die kwik daal in Januarie, die koudste maand, tot 'n gemiddelde maksimum van -2 °C (29 °F) en gemiddelde minimum van -10 °C (13 °F). Die hoogste temperature wat volgens die Nasionale Weerdiens ooit amptelik aangeteken is, was 40 °C (117 °F) op 24 Julie 1934, die laagste (-31 °C of -23 °F) op 20 Januarie 1985.
Chicago se gemiddelde jaarlikse neerslag is 965 millimeter (38 duim). Somer is die hoofreënseisoen met oorwegend kortstondige reënval en donderbuie. Die winters is eerder droog en die meeste neerslag val as sneeu. Die sneeurykste winter was dié van 1929–1930 met 'n totale sneeuval van 290 cm. Die sterkste reënval binne 24 uur is met 164 millimeter (6,49 duim) op 14 Augustus 1987 aangeteken.
Geskiedenis Toe die Franse verkenners Louis Joliet en die sendeling Jacques Marquette in 1673 die eerste bekende ekspedisie na die gebied van die huidige Chicago onderneem het, was dit maar 'n modderige en stinkerige vlakte, wat deur die plaaslike Illinois-Miami 'shikaakwa' genoem is – letterlik "Plek van die wilde knoffel". Nogtans het Joliet onmiddellik die strategiese potensiaal van die gebied raakgesien, wat moontlik as 'n bootvervoerroete tussen die Groot Mere en die Mississippi-riviervallei sou kon dien. Sy voorstel om 'n kanaal tussen die Michiganmeer en die Mississippi te bou, is egter nie deur die Franse regering aanvaar nie.
Die eerste nedersetting is dus eers in 1779 gestig, toe Jean Baptiste Point du Sable, 'n pelshandelaar van Haïtiaanse afkoms, hier sy handelspos aan die oewer van die Chicago-rivier opgerig het. Fort Dearborn, 'n militêre pos wat deur die Amerikaanse regering in 1803 oorkant die rivier gebou is, is gedurende die oorlog van 1812 deur die Britte se Indiaanse bondgenote verniel en eers in 1816 heropgebou. Dit het daarna die kern van 'n klein handelsdorp geword.
duimnael|Chicago in die 19de eeu Die deelstaat Illinois se owerhede het Joliet se kanaalplanne in die dertigerjare van die 19de eeu begin heroorweeg en uiteindelik is die dorp Chicago as die beplande oostelike eindpunt van die waterweg aangelê. Die verwagte styging van grondpryse het talle spekulante na Chicago gelok en in 1837 was daar reeds 4 000 inwoners. Die kanaalbouprojek is nogtans eers in die veertigerjare aangepak. Die Illinois-en-Michigankanaal is net soos die eerste spoorweglyn in 1848 geopen en Chicago het in die volgende dekade tot 'n belangrike vervoersentrum ontwikkel. In 1857 het reeds 120 treine per dag in Chicago aangekom of vertrek en die dorp het tot die wêreld se grootse uitvoerhawe vir graan ontwikkel. Ook groot hoeveelhede hout uit die deelstate Wisconsin en Michigan is van hier na die boomlose nedersettings van die Groot Vlaktes vervoer.
Danksy die spoorweglyne en skeepsroetes het groot getalle immigrante in Chicago aangekom en in die dekade tussen 1850 en 1860 het die bevolking van 30 000 tot meer as 100 000 gegroei. Aanvanklik het veral Ierse setlaars hulle in die gebied gevestig en werk gevind by die kanaalbouprojek, maar tussen 1850 en 1920 was Duitsers die grootste groep nuwe aankomelinge. In die dekade tussen 1870 en 1880 het ook talle Skandinawiese immigrante hulle in Chicago gevestig. In 1890 het Chicago reeds met die grootste Skandinawiese gemeenskap van alle Amerikaanse stede gepronk. 'n Derde belangrike groep was Poolse immigrante.
duimnael|links|Union Stock Yards (1947)