regs|200px|duimnael|Eitemal, oftewel prof. dr. W.J. Du P. Erlank. duimnael|regs|230px|Eitemal het in 1945 ingestaan as model vir die gewonde voortrekker op die marmerfries van die Voortrekkermonument.
Eitemal (* 22 Junie 1901, Wolmaransstad – † 24 Junie 1984, StellenboschGeni: http://www.geni.com/people/Willem-Jacobus-du-Plooy-Erlank/6000000030028907546) is 'n nom de plume vir Wilhelm Jacobus du Plooy Erlank, 'n Afrikaanse skrywer, digter, redenaar en vertaler. Hy was ’n professor in Nederlandse letterkunde aan die Universiteit van Stellenbosch en kultuurattaché van die Suid-Afrikaanse ambassade in Nederland.Esaach: http://www.esaach.org.za/index.php?title=Erlank,_Willem_Jacobus_du_Plooy Hy is ook die skrywer van ’n gedig wat later aangepas en getoonset is om die bekende volkslied, Lied van Jong Suid-Afrika te vorm. Die woorde van die lied lui: "En hoor jy die magtige dreuning? Oor die veld kom dit wyd gesweef, die lied van 'n volk se ontwaking, wat harte laat sidder en beef."
Lewe en werk
Vroeë lewe en herkoms Willem Jacobus du Plooy Erlank is op 22 Junie 1901 op die plaas Uitkyk in die distrik Wolmaransstad gebore. Hy is die middelste kind en tweede seun van Andries Gustav Stephanus Erlank en Anna Margaretha Louisa du Plooy en het ook ’n jonger suster. Sewe maande na sy geboorte word die plaashuis tydens die Anglo-Boereoorlog (Tweede Vryheidsoorlog) afgebrand en word hy saam met sy moeder, broer, ouma en tante na ’n konsentrasiekamp by Klerksdorp geneem en daarvandaan in oop trokke na ’n ander kamp by Pietermaritzburg. In die konsentrasiekamp oorleef hy die gevreesde maagsiekte danksy onwettige sop wat sy ma van vleisekstrak gemaak en die kamp ingesmokkel het. Na die oorlog word hy groot op die familieplaas Uitkyk in die distrik van Wolmaransstad. Reeds as plaasseun kry hy die bynaam Duke, wat al sy goeie vriende in later jare gebruik. Hy en sy broer kry onderrig van ’n goewernante en sy word daarna onderwyseres op die naburige staatsondersteunde plaasskool waar hy later skoolgaan. Sy was ’n mej. Van Zyl en die onderrig was alles in Engels. Later smelt die skool saam met die nuwe laerskool op Wolmaransstad en sy vader word lid van die Skoolkommissie. Die gesin verkoop in hierdie stadium die plaas en verhuis na Wolmaransstad. Daar was nog nie ’n hoërskool op Wolmaransstad nie en hy en sy broer skryf met selfstudie in Engels al hulle vakke vir die junior matriek. So leer hy homself Latyn, Wiskunde en Natuur- en Skeikunde. Wanneer die superintendent van onderwys in die Transvaal, dr. Adamson, van die twee begaafde broers hoor, bied hy vir hulle beurse aan om verder te studeer aan die Engelsmedium Potchefstroom Boys High, waar hy in 1917 matrikuleer en die hoogste punte in sy skool behaal.Esat: http://esat.sun.ac.za/index.php/W.J._du_P._Erlank
Verdere studie Vanaf 1918 studeer hy verder deur medium Engels aan die Transvaalse Universiteitskollege in Pretoria. Hy beywer hom van vroeg af vir die erkenning en gebruik van Afrikaans, sodat die gesin se huistaal van 1914 Afrikaans word. Op universiteit betoog hy vir die opheffing van Afrikaans tot amptelike onderrigtaal, veral in Sielkunde, maar die Senaat van die universiteit keur dit af, hoewel hulle toelaat dat die studente in Afrikaans eksamen kan skryf. Tydens die griepepidemie van 1918 werk hy deeltyds as verpleër in ’n hospitaal in Pretoria en tydens vakansies in die noodhospitaal op Wolmaransstad, wat tydelik in die plaaslike laerskool ingerig is. In sy tweede jaar in 1919 wen hy die Tielman Roos-prys as beste redenaar op die kampus, waar hy meeding met onder andere Toon van den Heever en J.R.L. van Bruggen. Sy toespraak het gehandel oor The present is the time for reconstruction – socially, politically and ethically. Ook in 1919 moet hy sy studies tydelik staak omdat hy ’n Union Jack wat op die universiteitsterrein gehys is na die suksesvolle vredesonderhandelings aan die einde van die Eerste Wêreldoorlog, afhaal en verbrand. Hy word vir ses weke geskors as gevolg hiervan en verbeur ook sy studiebeurs. Hy behaal steeds die B.A.-graad in 1920 met lof met Hollands, Engels, Latyn, Grieks en Wiskunde as vakke. Dit is veral sy studie in Latyn waarin hy opgaan en hy vertaal op eie inisiatief ’n keuse uit die werk van Tibullus, Catullus en Horatius in Engelse verse, terwyl hy Thomas Gray se gedig Elegy written in a country churchyard in Latyn vertaal.
Loopbaan as onderwyser Hy gee daarna vanaf 1921 tot 1928 onderwys in Latyn by die Hoërskool Wolmaransstad. In hierdie tyd tree hy op as redenaar by verskeie volksfeeste en rig ook die skool se eerste rugbyspan af tot twee eindstryde in die Administrateursbekerkompetisie. Vanaf 1929 tot 1935 gee hy Afrikaans aan die Hoër Seunsskool Helpmekaar in Johannesburg. Die Transvaalse Onderwysvereniging (TO) versoek hom in 1929 om Jochem van Bruggen op te volg as hoofredakteur van die Christelike Skoolblad. Deur hierdie posisie raak hy outomaties betrokke by taalsake en die bevordering van Afrikaans as onderrigtaal in opposisie met die ander twee onderwysverenigings, die Transvaalse Middelbare Onderwysvereniging (wat neutraal was ten opsigte van taalkwessies) en die Transvaal Teachers Association (wat Engels bevorder het). Oor “Die kulturele betekenis van die volkslied” skryf hy ’n insiggewende artikel in Die Huisgenoot van 29 Januarie 1932. In hierdie tyd behaal hy aan die Universiteit van die Witwatersrand onder C.M. van den Heever die B.A. Honneurs-graad en dien saam met Van den Heever en andere op die bestuur van die Afrikaanse Skrywerskring. Later verwerf hy die M.A.-graad met deeltydse studie aan die Universiteit van Suid-Afrika.
Op 17 Desember 1931 tree hy in die huwelik met Hester Cornelia (Hettie) Visser van Hanover en ’n seun, Willem, word in 1947 uit die huwelik gebore. Eitemal word in 1935 lid van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns. Vanaf 1936 tot 1938 studeer hy verder onder professor N.A. Donkersloot in die letterkunde aan die Gemeentelijke Universiteit in Amsterdam, Nederland. Sy vrou studeer in hierdie tyd in die Koninklike Toneelschool in spraakproduksie en spraakkorreksie. Hulle keer terug weens die dreigende oorlog en hy promoveer (D.Litt.-graad) in 1939 aan die Universiteit van Pretoria met die proefskrif Slauerhoff en het zoeken naar nieuwe vormbeginselen in de naoorlogse poëzie van Nederland. In 1939 word hy verkies tot die Raad van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns en dien hierna meermale op kommissies wat moet besluit oor die toekenning van letterkundige pryse.
Loopbaan as akademikus Vanaf 1939 tot 1949 doseer hy metodiek aan die Normaalkollege in Pretoria terwyl hy ook resensies en artikels oor die letterkunde skryf en dramas vertaal of bewerk vir opvoering deur studente. Terwyl hy hier werk, woon hy op ’n plasie naby Lyttelton, waar hy met beeste boer. Hy beklee vanaf 1950 tot 1966 die leerstoel in die Nederlandse letterkunde aan die Universiteit van Stellenbosch. In 1952 word hy lid van die Maatschappij der Nederlandse Letterkunde en hy besoek in 1958 België en Nederland as gasspreker. Na sy aftrede word hy vanaf 1967 tot 1971 kultuurattaché vir Suid-Afrika in Den Haag. Die Nederlandse teenkanting teen die apartheidsbeleid is in hierdie tyd so erg dat hy nie een enkele openbare lesing aan ’n universiteit gelewer het nie, omdat die professore dit nie kon waag om hom aan beledigings en ander onaangenaamhede bloot te stel nie. Per geleentheid tree hy wel in meer geslote en kleiner groepe op universiteite op. By sy terugkeer na Suid-Afrika vestig hy hom op Stellenbosch en dien vanaf 1972 tot 1984 as lid van die Kaapse Paneel van die Publikasieraad. In hierdie hoedanigheid is hy gekant teen die verbod op beide “Kennis van die aand” van André P. Brink en “Magersfontein, O Magersfontein!” van Etienne Leroux, terwyl hy die bedankings van T.T. Cloete, Merwe Scholtz en Anna M. Louw uit die Publikasieraad betreur omdat dit die gebalanseerde beheer van ’n vrye letterkunde sou benadeel. links|duimnael|Willem Erlank wat onder die skuilnaam Eitemal skryf
Kultuurstryder Afgesien van sy werk as skrywer is hy baie aktief op die breër kultuurfront deur sy deelname aan die Federasie van Afrikaanse Kultuurverenigings (FAK) (vir wie se Volksangbundel hy talle bydraes lewer en van watter organisasie hy in 1929 ’n stigterslid is); die Handhawersbond; die Mynwerkersbond; die Spoorbond; die Afrikaanse Skrywerskring; die Voortrekkerbeweging; die Afrikaanse Taal- en Kultuurvereniging (ATKV); die Nasionale Toneelorganisasie; en sy redakteurskap van die Christelike Skoolblad. Vanaf 1929 tot 1935 is hy voorsitter van die Johannesburgse Kunsvereniging (hy is ook stigterslid van hierdie organisasie) en in hierdie hoedanigheid reël hy dikwels sangkompetisies vir solo- en koorsang. Noodgedwonge moet hy dan geskikte musiek vertaal en deurloop so sy leerskool as liriekskrywer.
Hy verwerf veral bekendheid as voortreflike redenaar op volksfeeste en kulturele geleenthede en lewer reeds in 1920 sy eerste Geloftedag-toespraak. Van sy belangrikste openbare optredes is die toesprake wat hy lewer met die inwyding van die Voortrekkermuseum in 1949, die 25e verjaarsdag van die FAK, die 1973 C.J. Langenhoven- gedenklesing en 1975 J.B.M. Hertzog-gedenklesing voor die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, laasgenoemde onder die titel Die verhouding tussen Suid-Afrika en Nederland. Persoonlike indrukke. Pretoria 1975. Op toneelgebied is hy betrokke by die totstandkoming van die Nasionale Toneelorganisasie (NTO) en kort na sy aankoms in Stellenbosch word hy tot die Raad van die NTO benoem. Op Stellenbosch is hy betrokke by die vestiging van ’n outonome Departement van Drama in 1961 en die oprigting van die H.B. Thom-teater in 1966, die vestiging van amateur streekstoneelgroepe in Bellville en Stellenbosch en die uitbouing van Kleurlingtoneel. Na die besluit in 1962 vir die oprigting van streeksrade vir die kunste word hy aangestel as voorsitter van die Tussentydse Toneelraad in die Kaap en dien op die raad van die Kaapse Raad vir Uitvoerende Kunste (KRUIK).
Soms neem hy sterk standpunt in teen wat hy as gevaarpunte in die lewe van die Afrikaner sien. Tydens die Tweede Wêreldoorlog is hy as Stormjaer lid van die Ossewa-Brandwag en tree by verskeie van hierdie organisasie se vergaderings as spreker op. Hy praat Duits vlot en het ’n groot bewondering gehad vir die Duitse kultuurprestasies in veral die musiek en letterkunde. In September 1942 word hy gearresteer op grond van foutiewe beriggewing in Die Volkstem van ’n toespraak wat hy op 11 September 1942 op die jaarvergadering van die Afrikaanse Kultuurvereniging in die Pretoria stadsaal gemaak het. Voordat die redakteur ’n regstelling kan publiseer word Eitemal volgens die noodregulasies tydens die oorlog gearresteer en eers in die Johannesburgse middestad en daarna vir ’n maand in die Sentrale Gevangenis in Pretoria aangehou, eers in eensame afsondering en later saam met ander gevangenes. Teen die selmure krap hy dan strofes uit Die lied van jong Suid-Afrika uit. Hy word deur advokaat Oswald Pirow verdedig en word vrygelaat wanneer die staat nie hulle saak kan bewys nie. In 1946, voor die besoek van Koning George VI aan Suid-Afrika, publiseer hy die anonieme vlugskrif Die koning! Is hy welkom? Sy lewe lank is hy ’n lojale ondersteuner van die Nasionale Party. Hy is op 24 Junie 1984 in sy huis Sommerhier op Stellenbosch weens longversaking oorlede.Stellenbosch Writers: http://www.stellenboschwriters.com/eitemal.html
Skryfwerk
Jeuglektuur