Wetshotsile Joseph Seremane (gebore 26 Augustus 1938) is 'n Suid-Afrikaanse politikus en voormalige federale voorsitter van die land se voormalige hoofopposisieparty, die Demokratiese Alliansie (DA).
Seremane het sy loopbaan as onderwyser in Bekkersdal aan die Wesrand begin, totdat hy as gevolg van sy betrokkenheid by politiek verbied is om onderwys te gee. Hy was 'n politieke gevangene op Robbeneiland van 1963 tot 1969 totdat hy deur die Apartheidregering na die Bophuthatswana-tuisland verban is. Hy is weer sonder verhoor aangehou van 1976 tot 1978 en verskeie kere tussen 1982 en 1984.
Seremane het Burgerlike Organisasies (Civics) in voorspraak en later in mediasie en konflikbeslegging gedien. Hy was Direkteur van Geregtigheid en Versoening van die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke en Hoofgrondeisekommissaris na volle demokrasie in 1994 in Suid-Afrika gevestig is.
In 1994 het hy by die Demokratiese Party (DP), die voorganger van die DA, aangesluit en is in 1998 tot parlementslid verkies. In Maart 2000 is hy tot federale voorsitter van die DP verkies waarna hy vervolgens stigtersvoorsitter van die DA geword het.
Seremenae was aanvanklik 'n lid van die Pan Africanist Congress (PAC), 'n swartbewussynsorganisasie wat van die ANC af weggebreek het. Hy verwerp egter nou rassepolitiek en word gesien as die mees prominente swart politikus in die DA.
Na die aankondiging van die DA-leier Tony Leon dat hy van plan is om in Mei 2007 af te tree is Seremane gesien as 'n moontlike kandidaat om Leon op te volg. Op 26 Februarie 2007 kondig hy dan ook aan dat hy vir verkiesing as DA-leier sal staan. Alhoewel hy in die verkiesing deur Helen Zille verslaan is, is hy tot voorsitter van die DA herkies.
In 2008, na die bedanking van pres. Thabo Mbeki, is Seremane deur die DA vir die presidentspos benoem. Hy het 50 stemme in hierdie verkiesing ontvang, die eerste betwiste presidentsverkiesing in Suid-Afrika sedert 1994.
Eksterne skakels Parliament portfoilo vir Joe Seremane by parliament.gov.za Joe Seremane profiel op die DA webwerf Last black man standing in die Mail & Guardian
Kategorie:Geboortes in 1938 Kategorie:Lewende mense Kategorie:Lede van die Nasionale Vergadering van Suid-Afrika Kategorie:Suid-Afrikaanse politici