Die Rockwell B-1 Lancer is 'n supersoniese, swaaivlerk, langafstand-strategiese bomwerper wat kernwapens dra. Dit is ontwikkel uit 'n 1965-spesifikasie van die Amerikaanse Lugmag vir 'n hoëspoedbomwerper wat op lae hoogtes kan funksioneer om die B-52 Stratofortress te vervang. Konstruksie van die eerste prototipe het in laat-1972 begin en die prototipe het wel op 23 Desember 1974 gevlieg. Teen die einde van Junie 1977 het nog drie prototipes reeds 118 vlugte onderneem en 646 vliegure is aangeteken. As gevolg van kostes wat eksponensieel toegeneem het, is die projek in 1977 gekanselleer. Tog het toetsvlugte met die prototipes voortgeduur tot in 1981.

Na militêre en politieke ingryping op hoë vlak is die program deur die Reagan-administrasie in 1982 hervat. Die nuwe verbeterde produksiemodel het op 18 Oktober 1984 sy nooiensvlug voltooi en was bekend as model B-1B. Die B-1B het van die B-1A verskil; dit het oor verbeterde lugvaartelektronika aanboord beskik, die onderstel is versterk, dit het oor uitskietstoele beskik (B-1A het 'n ontsnappingshok gehad) en kon wapens buite die vliegtuig dra. Die eerste B-1B is aan die Dyess Lugmagbasis in Texas afgelewer in Junie 1985 en op 1 Oktober 1986 as operasioneel verklaar. Die laaste van die 100 B-1B's is op 2 Mei 1988 afgelewer en het elk VS$200 miljoen gekos.

Die Rockwell B-1 Lancer is die laaste strategiese bomwerper met 'n lang togafstand wat gebou is. Dit kan meeste vyandige verdedigingstelsels binnedring en is die ruggraat van die Amerikaanse langtogafstand-bomwerpermag. Dit kan groot vragte dra van 'n verskeidenheid wapens en dit blitsvinnig aflewer of vuur; feitlik enige plek op die aarde op kort kennisgewing. Die B-1 gebruik korter aanloopbane as die B-52, kan laer vlieg en is vinniger as die B-52, dit dra twee keer die bomvrag van die B-52 en het 'n kleiner radarprofiel as die B-52.

Die deurlopende Conventional Mission Upgrade Program verseker dat die B-1 se vermoëns voortdurend verbeter. Dit verbeter die vliegtuig se akkuraatheid en vermoë om te oorleef deur die slim wapens en ander wapens en die aanboord teenmaatreëls te integreer.

Die B-1B se AN/ALQ 161A verdedigingsavionikastelsel bespeur outomaties enige radarbedreiging, insluitende missiele wat die vliegtuig van agteraf aanval. Dit sal self besluit watter teenmaatreëls toegepas moet word bv. of chaff (metaalstrokies) of fakkels uitgeskiet moet word en of daar elektroniese storing van seine moet plaasvind.

Die Sowjetunie het die Toepolef Tu-160 ontwikkel as teenvoeter vir die B-1.

Operasionele geskiedenis

Strategiese Lugbevel Die tweede B-1B, "The Star of Abilene", was die eerste B-1B wat in Junie 1985 aan SAC afgelewer is. Aanvanklike operasionele kapasiteit is op 1 Oktober 1986 bereik en die B-1B is op kernwaarskuwingstatus geplaas. Die B-1 het die amptelike naam "Lancer" op 15 Maart 1990 ontvang. Die bomwerper is egter algemeen die "Bone" genoem; 'n bynaam wat blykbaar afkomstig is van 'n vroeë koerantartikel oor die vliegtuig waarin die naam as "B-ONE" gespel is met die koppelteken per ongeluk weggelaat.

Teen die einde van 1990 het enjinbrande in twee Lancers daartoe gelei dat vlugte gestaak is. Die oorsaak is teruggevoer na probleme in die eerstefase-waaier, en die vliegtuie is op "beperkte gereedheidsgrondslag" geplaas; met ander woorde, hulle is gegrond tensy 'n kernoorlog uitbreek. Na inspeksies en herstelwerk is hulle vanaf 6 Februarie 1991 weer in diens gestel. Teen 1991 het die B-1 'n ontluikende konvensionele vermoë gehad, veertig van hulle in staat om die Mk-82 Algemene Doel (GP) bom te laat val, hoewel meestal van lae hoogte af. Ten spyte daarvan dat hulle vir hierdie rol geskik verklaar is, het die probleme met die enjins hul gebruik in Operasie Desert Storm tydens die Golfoorlog verhoed. B-1's was hoofsaaklik gereserveer vir strategiese kernaanvalmissies in hierdie tyd, wat die rol van lug-kernafskrikmiddel teen die Sowjetunie vervul het. Die B-52 was meer geskik vir die rol van konvensionele oorlogvoering en is daarom deur koalisiemagte gebruik.

Oorspronklik streng vir kernoorlogvoering ontwerp, is die B-1 se ontwikkeling as 'n effektiewe konvensionele bomwerper vertraag. Die einde van die Sowjetunie het die B-1 se kernrol in twyfel getrek, wat daartoe gelei het dat president George HW Bush 'n konvensionele opknapping van V$3 miljard gelas het.

Op 26 April 1991 het tien B-1B's net-net 'n direkte trefslag van die 1991 Andover-tornado vermy, terwyl hulle by LMB McConnell gehuisves was. Twee van die bomwerpers was met kernplofkoppe toegerus.

Na die inaktivering van SAC en die stigting van die Air Combat Command (ACC) in 1992, het die B-1 'n groter konvensionele wapenvermoë ontwikkel. Deel van hierdie ontwikkeling was die stigting van die Amerikaanse Lugmag se Wapenskool B-1-afdeling. In 1994 is twee bykomende B-1-bomvleuels ook in die Air National Guard geskep, met voormalige vegvliegtuigvleuels in die Kansas Air National Guard en die Georgia Air National Guard wat na die vliegtuig omgeskakel het. Teen die einde van die 1990's, met die koms van die "Blok D"-opgradering, het die B-1 'n volledige reeks geleide en ongeleide ammunisie gedra.

Die B-1B dra later nie meer kernwapens nie; sy kernvermoë is teen 1995 uitgeskakel met die verwydering van kernwapens en ontstekingsapparatuur. Ingevolge die bepalings van die New START- verdrag met Rusland is verdere omskakelings uitgevoer. Dit het ingesluit die wysiging van vliegtuig vastepunte om te verhoed dat kernwapenmaste aangeheg word, die verwydering van wapenlaai-bedradingbondels vir die bewapening van kernwapens, en die vernietiging van kernwapenmaste. Die omskakelingsproses is in 2011 voltooi, en Russiese amptenare inspekteer die vliegtuie elke jaar om voldoening te verifieer.

Tegniese besonderhede

+ Besonderhede van die Rockwell B-1B Lancer: Item Statistiek Aantal motors 4 Tipe motor Straalmotor Vervaardiger General Electric F-101-GE-102 turbowaaier met nabrander Kraglewering per motor 13 974 kg stukrag Vlerkspan 41,8 m Lengte 44,5 m Hoogte 10,4 m Vlerkoppervlakte 181,0 m² Maks. opstygmassa 216 558 kg Maks. snelheid 1 448 km/h Operasionele hoogte 9 150 m Togafstand 9 654 km met eksterne tenks Klimvermoë 28,86 m per sekonde Bewapening Maksimum bomvrag van 34 050 kgkernwapens of konvensioneel

Bron Crosby, Francis: The World Encyclopedia of Fighters & Bombers. 2015.

Verwysings

Kategorie:Bomwerpers