Die Hiawatha-gletser is ’n gletser in Noordwes-Groenland, wat bekend geraak het ná die ontdekking van ’n meteorietimpakkrater onder die oppervlak.

Impakkrater In November 2018 het ’n studie die bestaan van ’n groot impakkrater onder Groenland se yslaag in die Hiawatha-gletserstreek onthul – ’n ronde rotsbodemdepressie van 31 km breed en tot ’n kilometer diep. Volgens bewyse is die krater geskep nadat ys Groenland 3 miljoen jaar gelede bedek het, en dalk so onlangs as 12 000 jaar gelede. Uit ’n interpretasie van die kristalaard van die onderliggende rots en ’n chemiese ontleding van sediment wat uit die krater gewas is, word afgelei die meteoriet was van yster en het ’n deursnee van om en by 1,5 km gehad. ’n Volume van sowat 20 km3 rots sou verdamp of gesmelt het. Dit is een van die grootste 25 impakkraters wat al op die Aarde ontdek is.

Voor die krater se ontdekking het die Inuïete ystermeteoriete in die streek gevind, en in 1963 het Vagn F. Buchwald die Agpalilik-meteoriet van 20 ton (’n fragment van die Kaap York-meteoriet) naby die Moltke-gletser op die Agpalilik-skiereiland van Noordwes-Groenland ontdek.

Verwysings

Kategorie:Groenland Kategorie:Topografie