Fraserburg is 'n dorp in die Hantam-Karoo in die provinsie Noord-Kaap, Suid-Afrika. By Faserburg is 'n paleo-oppervlak uit die Perm gevind met spore van Synapsida uit daardie tyd. Die dorp lê 1267 m bo seevlak.

duimnael|links|400px|Skemer in Fraserburg. Dié tipe windpompe is algemeen in die Karoo te sien. duimnael|400px|Die Synapsida-spoor

Agtergrond duimnael|links|180px|Fraserburg is deels genoem na ds. Colin Fraser van die NG gemeente Beaufort-Wes en deels na ouderling C.J. Meyburgh van die plaas Blydevooruitzicht. Daarom is die dorp se naam in die ou dae soms "Fraserburgh" geskryf.

Tussen die jare 1780 en 1830 is die Wes-Nuweveld-gedeelte van die Karoo net so mak gemaak deur trekkers soos ander grensgebiede van daardie tyd. Ná die verdrywing van die Boesmans is die streek stap vir stap geannekseer. Van behoorlike godsdienstige bearbeiding van lede van die Kerk was daar in die dae om en by die stigting van die gemeente van Fraserburg nie sprake nie. Die intrekkers het uit verskillende rigtings die gebied begin bewoon. Sommige is aangeneem op Tulbagh, ander op Worcester, nog ander op Graaff-Reinet. Daar was ook diegene wat op een plek gedoop is en op 'n volgende, honderde myle daarvandaan, lidmaat geword het. Kerklik het die latere Fraserburg deel uitgemaak van die gemeente van Beaufort-Wes, wat omstreeks 1830 maar 'n baie klein plekkie was. Dit het slegs 'n paar inwoners en geen kerk gehad nie. Oorspronklik was dit bedoel as 'n voorpos om drosterslawe en ontvlugte misdadigers te keer en te verhoed dat hulle die kolonie se grens oorsteek en vrykom. Die eerste predikant daar was ds. John Taylor, en onder sy wydverspreide kudde het ook die Nuweveldse pioniers getel. Die taak van hierdie predikant was byna bo-menslik. Op die dorp moes hy kerk hou in 'n tent van waseile. Sy gemeente was uiters mobiel en in omvang het dit die grootste gedeelte van die oppervlakte tussen Tulbagh en Graaff-Reinet beslaan.

In Desember 1824 is ds. Colin Fraser aangestel om hom op te volg as herder van die uitgetrekte gemeente. Hy het jare lank 'n groot rol in sy nuwe werkkring gespeel en in sy tyd, en gedeeltelik danksy sy bemoeiinge, is die gemeente, wat ook sy naam dra, teen 1851 gestig. Ds. Fraser het in Februarie 1828 getrou met Anna Amalia Muller, van Graaff-Reinet, uit welke huwelik sewe kinders gebore is. Sy is op 22 September 1838 oorlede. Op 20 Februarie 1840 is hy vir die tweede maal in die huwelik bevestig en wel met Maria Elizabeth Sieberhagen. Uit hierdie verbintenis is nege kinders gebore. Sir John Fraser, die skrywer van Episodes in my Life, was die oudste. Hierdie seun van ds. Fraser het 'n paar episodes uit die lewe van sy vader as diensdoende predikant ook van Wes-Nuweveld verhaal. Hy het die streek beskryf as wild, dunbevolk en oortrek van allerlei soorte wilde diere, insluitende roofdiere soos leeus, tiere, luiperds, wolwe, ens. Sir John het gesê hy kan nog meer as een outentieke ondervinding van sy vader en sy ouderlinge in herinnering roep.

Dan was daar nog die avonture met die duisende trekbokke. So het dit eenmaal gebeur dat 'n verwilderde smous op die dorp aankom met die tyding dat ontelbare trekbokke in Fraserburg se rigting in aantog was, en dat hulle soos 'n verwoestende golf oor alles trek en die wêreld kaal agterlaat. Hierdie verhaal is nie te ernstig opgeneem nie, en was sowat geheel en al vergeet na die vertrek van die smous toe die mense 'n week daarna op 'n môre wakker word van 'n gedruis soos die van 'n sterk wind voor 'n donderstorm. Dit was die gedruis veroorsaak deur die stampende kloue. van duisende van allerhande soorte wild — wildebeeste, blesbokke, springbokke, kwaggas en elande. Strate en tuine, sowel as die wêreld buiteom, sover as die oog kon sien, was oortrek met wild wat alles wat gewei kon word, voor hulle verslind het. Ook alle bekombare waters uit vore, fonteine en damme is uitgedrink. Dit het omtrent drie dae geduur voordat al die bokke klaar deurgetrek het, asof deur vuur verbrand agtergelaat het. Dit moes inderdaad 'n wonderlike, hoewel tragiese, gesig gewees het.

In 'n landstreek sonder paaie met hoë berge om te perd oor te sukkel, was die taak van ds. Fraser sekerlik geensins benydenswaardig nie. Die mense het ver van mekaar gewoon en sommige baie ver van sy sentrum. Gedurig moes hy met agterryer en 'n handperd op pad wees om sy gemeentelede soos verdwaalde skape op die wye Karoovlaktes op te soek. Baie wat nog nooit 'n predikant gesien het nie, moes aangeneem en gedoop word, en in ander gevalle moes huwelike voltrek word. Dikwels het hy toe ook op die plaas gekom waar Fraserburg later ontstaan het. Soms het die jong mense 'n heilige vrees vir hom gekoester, en dikwels het dit gebeur dat hy geen mense op 'n plaas aangetref het nie omdat almal laat vat het veld toe, toe hulle van sy aankoms gehoor het. Die werksaamhede van die predikant in die steeds groeiende gemeente het later so veeleisend geword dat hy dit onmoontlik as geheel kon behartig. Daar is toe gedink aan die afstigting van die Wes-Nuweveld-gedeelte van die gemeente en die vorming van 'n nuwe gemeente. Maar nie alleen was die werk te veel vir die leraar nie, die begeerte het ook by godvrugtige lidmate ontstaan om 'n eie middelpunt te hê waar daar 'n dorp gestig kon word en 'n godshuis opgerig kon word, om te dien as sentrum vir die bevordering van onderrig in die Christelike beginsels aan die verwaarloosde jeug.

Stigting van die gemeente duimnael|regs|170px|Jacobus Olivier, van die plaas Ezelsfontein, was mede-ondertekenaar van die eerste kerkraadsnotule, 26 November 1851. duimnael|links|320px|Die opstal op die plaas Rietfontein, wat die NG Kerk in 1852 by die heer Visser gekoop het as kerkplaas vir Wes-Nuweveld, staan vandag nog aan die buitewyke van die dorp wat rondom die kerk ontwikkel het.

As gevolg van die gunstige verloop van voorlopige reëlings kom daar op 24 Februarie 1851 42 lede van die NG Kerk te Ayesfontein byeen "met goedkeuring en toestemming van die Kerkraad te Beaufort … ter verkiesing van 'n geskikte kerkplaas te Wes-Nuweveld." Die voorsitterstoel is ingeneem deur die leraar van Beaufort wat tot die verrigtinge van die geleentheid oorgegaan het met die stel van die volgende vrae: 1. Sal daar 'n nuwe gemeente te Wes-Nuweveld gestig word of nie? "Op dezen vraag was het eenparig antwoord van Ja." 2. Watter is die geskikste plaas as 'n middelpunt ten einde aldaar 'n kerk te bou? "Op dezen vraag werden twee plaatsen voorgedragen Rietfontein en Kichererskerk." Die uitslag van die stemming was 34 teen een ten gunste van Rietfontein. Diegene wat buite stemming gebly het, het as rede daarvoor aangevoer dat hulle die plek Kichererskerk nie geken het nie. Hierna is die eienaar van Rietfontein genader ten einde te verneem of hy bereid sou wees om sy plaas te verkoop. Hiervoor was die heer Visser te vinde. Hy sou verkoop teen die som van 25 000 riksdaalders (sowat £1 870), op voorwaarde dat sy woonhuis en perdemeul sy eiendom bly. Die kopers kon die koopsom skuldig bly vir vyf jaar teen betaling van ses persent rente. Tot 31 Oktober 1852 bly die plaas in sy besit, tot welke datum geen rente aan hom betaal word nie. Die delging van die kapitaal hoef nie noodwendig te geskied as die vyf jaar om is nie; dit kon ook voor die datum geskied. Die koopbrief is opgetrek namens die kopers en onderteken deur 'n kommissie bestaande uit: J.S. Cilliers, Aysfontein; C.J. Meyburgh, Blydevooruitzicht; H.R. Sieberhagen, Klipkraal; D.J. van Schalkwyk, Wagenmakersvallei; W.T. van Schalkwyk, Moutonsfontein; J. Olivier, Ezelsfontein ; W. F. Sieberhagen, Van Rhynsplaats; W. F. Kruger, De Dam; C.J.G. Kruger, Grootfontein; en C.G. Immelman, Quaggasfontein. Die notule van hierdie vergadering sluit af met die woorde dat die kommissie van tyd tot tyd sitting sou hou te Aysfontein "beide om eenige bepalingen voor hare werkzaamheden te maken, en alles ter behartiging van de zaak des Heeren in die Nieuwe Gemeente van West Nieuweveld."

Om aan Albertus Abraham Visser sy 25 000 riksdaalders te betaal, was nie so maklik gedaan as gesê nie. Maar die kommissie het sonder verwyl aan die werk gespring en dikwels vergader om belangrike besluite te oorweeg. Vir die insameling van geld word dit dan ook gereël dat daar kollektelyste sou rondgaan en dat erwe opgemeet en verkoop moes word. Hierdie besluite is op 10 Maart 1851 geneem te Aysfontein op 'n goed bygewoonde vergadering onder voorsitterskap van G.J. Meyburgh. Daar is onder meer ook besluit om 'n memorie aan die goewerneur te rig om kwytskelding van herereg op die plaas Rietfontein. Op 10 Mei 1851 is die tenders van die landmeters Auret en Thwaits behandel, en die opmeting van erwe toegewys aan eersgenoemde wat ook die goedkoopste getender het. Op 12 Mei 1851 is met die opmeting 'n aanvang gemaak en die hele kommissie was verplig om teenwoordig te wees. H.R. Sieberhagen word, selfs al het hy mooi om verlof om afwesig te wees gevra, verplig om die opmeting by te woon. Hierdie erwe is te koop aangebied en op 15 September 1851 is die eerstes van die hand gesit. Die meeste was geleë langs die hoofstraat.

So het die plaas Rietfontein stadigaan die gedaante van 'n dorpie aangeneem. Daar is gevoel dat die dorp 'n nuwe naam moes kry. En uit dankbaarheid jeens die onbaatsugtige dienste van ds. Fraser en ouderling Gerrit Jacobus Meyburgh is die owerheid versoek om die naam Fraserburg, wat aan beide herinner, aan die gemeente en dorp goed te keur. Die volgende Goewermentskennisgewing, geteken op gesag van die Goewerneur op 5 November 1850 (hierdie datum is foutief maar die korrekte is nie bekend nie), spreek vir homself: Daar die komitee van die nuwe gemeente van die NG Kerk van Wes-Nuweveld, in die afdeling van Beaufort, versoek het dat die naam Fraserburg gegee word aan die gemeente, en daar sy Eksellensie, die Goewerneur sy toestemming daartoe verleen het, sal dit dienooreenkomstig hierna die naam Fraserburg dra. 'n Ander Goewermentskennisgewing gedateer Koloniale Kantoor, 12 Desember 1853, verklaar dat dit sy Eksellensie behaag het, op aanbeveling van die Ring van Graaff-Reinet van die NG Kerk, om die grenslyne van die gemeente Fraserburg goed te keur. Hiermee was die stigtingswerksaamhede van die kommissie feitlik afgehandel.

Eerste kerkraadsvergaderings duimnael|320px|links|Fraserburg se eerste kerkgebou is in 1852 opgerig. Op 8 September 1966 het Die Burger 'n foto van dié gebou geplaas met die onderskrif: "Baie Fraserburgers, veral die ouer garde, voel ontsteld omdat hierdie ou kerksaal binnekort gesloop gaan word. Plaaslik is wel pogings aangewend om die gebou te red, maar sonder welslae. Die saal, wat in 1852 opgerig is, is een van die oudste geboue op die dorp. Dit is as skool gebruik tot 1910, toe 'n nuwe skool op die dorp opgerig is. Daarna is dit jare lank as kerksaal, en soms ook vir kerkdienste gebruik."

duimnael|320px|regs|Fraserburg se kerkraad het in 1854 'n kontrak met die bouaannemer H.J.R. Burnett opgetrek vir die bou van 'n pastorie teen £1 100. Aan dié gebou, nou bekend as die Ou Pastorie, is met die jare telkens veranderings aangebring, maar dis tydens 'n groot restourasiepoging omstreeks 1979 grotendeels ongedaan gemaak. Dit dien al baie jare as die dorpsmuseum.