Suid-Korea (Koreaans: 한국, Hanja: 韓國, Hanguk), amptelik die Republiek Korea (Koreaans: 대한민국, Hanja: 大韓民國, Daehanminguk, , letterlik: "Groot Han-Republiek" of "Groot Koreaanse Republiek"), is 'n grondwetlike republiek in Oos-Asië wat die suidelike helfte van die Koreaanse Skiereiland en eilande langs die kus beslaan. Jeju, die grootste eiland, is ongeveer 82 km suid van die vasteland af geleë. Die land word in die noorde begrens deur die Demokratiese Volksrepubliek Korea (Noord-Korea), in die ooste deur die See van Japan (wat in Suid-Korea egter Oossee genoem word), die Oos-Chinese See in die suide en die Geelsee in die weste. Die land word in die suidooste deur die Straat van Korea van die Japannese eiland Tsushima geskei. Die Volksrepubliek China is oorkant die Geelsee geleë.
duimnael|links|Seoel, Suid-Korea se hoofstad en grootste stad duimnael|links|Nasa-satellietbeeld van Suid-Korea duimnael|links|Korea staan tradisioneel as die "Land van die Oggendstilte" bekend duimnael|links|Lotte World Tower in Seoel in Augustus 2015 – een van die wêreld se hoogste wolkekrabbers Die hoofstad en grootste metropolitaanse gebied is Seoel aan die Hanrivier waar byna die helfte van die Suid-Koreaanse bevolking saamgetrek is. Seoel is die ekonomiese spilpunt van dié land en het sentraal gestaan in die sogenoemde "Wonder aan die Hanrivier", die vinnige industrialisering en verstedeliking van Suid-Korea ná die Korea-oorlog (1950–1953) wat van die republiek – oorspronklik 'n arm agrariese samelewing – binne enkele dekades een van die vernaamste en tegnologies gevorderdste nywerheidslande ter wêreld gemaak het. Multinasionale ondernemings en konglomerate soos Samsung, LG, Hyundai en Kia het in globale rolspelers ontwikkel.
Suid-Korea het, net soos sy buurland Japan, 'n etnies uiters homogene bevolking van meer as 52 miljoen. Koreane se nasionale identiteit en selfbeskouing as lotgemeenskap spruit voort uit hierdie eendersheid en 'n geskiedenis as 'n onafhanklike land wat tot in die 7de eeu n.C. terugstrek. So word die politieke verdeling van Korea ná die Tweede Wêreldoorlog volgens 'n ooreenkoms tussen die Verenigde State en die Sowjetunie steeds as 'n traumatiese en smartvolle gebeurtenis ervaar. Die stigting van Suid-Korea in 1948 is voorafgegaan deur die Japannese besetting van Korea van 1910 af.
Nadat die kommunistiese Noord-Korea op 25 Junie 1950 die suide binnegeval het, het die Korea-oorlog as internasionale konflik, waarby ook Suid-Afrika militêr betrokke was, drie jaar lank op die skiereiland gewoed. Die oorlogshandelinge is in 1953 met 'n wapenstilstandsooreenkoms beëindig waarvolgens Noord- en Suid-Korea deur 'n gedemilitariseerde sone met 'n wydte van vier kilometer van mekaar geskei word. Dié sone, wat oor 'n afstand van 240 km loop en ongeveer die 38ste noordelike breedtegraad vanaf die monding van die Hanrivier aan die weskus van die Koreaanse Skiereiland tot 'n punt aan die ooskus, net suid van die Noord-Koreaanse nedersetting Kosŏng, volg, kom grootliks ooreen met die wapenstilstandslyn van 1953. Sedert republiekwording het Suid-Korea vyf groot grondwetlike veranderinge ondergaan wat dié land van outokrasieë en militêre diktature tot 'n volwaardige veelpartydemokrasie gelei het.
Etimologie duimnael|links|Die naam Korea is ontleen aan die verkorte vorm van Goguryeo: Goryeo (Koryŏ) Die naam Korea is 'n eksoniem ontleen aan die naam van die historiese koninkryk Goryeo (hersiene romanisering) of Koryŏ (McCune-Reischauer-transkripsie). Goryeo is die verkorte naam wat deur Goguryeo in die vyfde eeu amptelik in gebruik geneem is en die naam van sy 10de-eeuse opvolgerstaat Goryeo. Besoekende Arabiese en Persiese handelaars het die naam uitgespreek as "Korea". Die moderne naam Korea het in 1568 vir die eerste keer verskyn op die eerste Portugese kaart deur João vaz Dourado as Conrai en later in die laat 16de eeu en vroeë 17de eeu as Corea (Korea) op die kaarte deur Teixeira Albernaz in 1630.
Die Koninkryk Goryeo het vir die eerste keer aan Westerlinge bekend geword, toe Afonso de Albuquerque in 1511 Malacca verower en die mense beskryf het wat met dié wêrelddeel handel gedryf het, wat deur die Portugese die Gores genoem is. Ondanks die naasbestaan van die spellings Corea en Korea in 19de-eeuse publikasies meen sommige Koreane, dat die Japannese Keiserryk tydens die Japannese besetting doelbewus die spelling na Korea gestandaardiseer het, waarvolgens Japan in die alfabet eerste verskyn.
Nadat Goryeo in 1392 deur die Koninkryk Joseon (조선; 朝鮮; Chosŏn) opgevolg is, het Joseon die amptelike naam vir die hele gebied geword, hoewel dit nie algemeen aanvaar is nie. Die nuwe amptelike naam het sy oorsprong in die antieke koninkryk Gojoseon (2333 v.C.). In 1897 het die Joseon-dinastie die land se amptelike naam verander van Joseon na Koreaanse Keiserryk (대한제국; 大韓帝國; Daehan Jeguk; Taehan Cheguk; letterlik: "Keiserryk Groot-Korea"). 'n Deel van die Koreaanse Keiserryk se naam Daehan (대한; 大韓; letterlik: "Groot Han") is afgelei van Samhan ("Drie Han") en verwys na die drie koninkryke van Korea, maar nie na die antieke konfederasie in die Suidelike Koreaanse Skiereiland nie. Hoewel dit nie meer die amptelike naam was nie, is die naam Joseon egter steeds gebruik deur die meeste Koreane om na hul land te verwys. Tydens die Japannese heerskap is die twee name Han en Joseon langs mekaar gebruik.
Ná die oorgawe deur Japan in 1945 is Republiek Korea (Koreaans: 대한민국; 大韓民國, Daehan Minguk, , letterlik: "Groot Han-Republiek") goedgekeur as die amptelike Afrikaanse naam vir die nuwe land. Dit is egter nie 'n regstreekse vertaling van die Koreaanse naam nie. Vervolgens word soms die Koreaanse naam "Daehan Minguk" deur Suid-Koreane as 'n metoniem gebruik om na die Koreaanse etniese groep (of "ras") in sy geheel te verwys pleks vir slegs die Suid-Koreaanse staat.
Geskiedenis Prehistoriese Korea Paleolitikum duimnael|'n Ou Paleolitiese handbyl uit die Imjin-Hantan-gebied by die grens tussen Noord- en Suid-Korea Die Koreaanse Skiereiland is vermoedelik in die Ou Paleolitiese tydperk vir die eerste keer deur mense bevolk. Daarop dui sowat 30 vondsplekke uit die Paleolitikum wat oor die hele Koreaanse Skiereiland en die grootste deel van Noordoos-China versprei is. 'n Groot deel van dié vondse bestaan uit steen-, horing- en beengereedskap, met gepoleerde klipgereedskap wat domineer.
Ander vondse behels klipdierefigure of in klip gegraveerde dierefigure wat op kunssinnige of magies-religieuse handelinge dui. Daarbenewens is bene van Homo erectus opgegrawe, waaronder twee volledige kinderskelette. Volgens die radiokoolstofdatering is die vondse sowat 400 000 tot 500 000 jaar oud.
Die Koreaanse Skiereiland se vroeë bewoners het gebly in grotte of hutte wat hulle self opgerig het, dikwels op sonnige plekke naby waterbronne. Hulle het vuur gebruik vir verhitting en kook en staat gemaak op jag, visvang en die versameling van vrugte, bessies en eetbare wortels. Deesdae se Koreane is meestal egter geen etniese nakomelinge van hierdie vroeë bewoners nie.
Jeulmun-tydperk Argeologiese vondse dui daarop dat die skiereiland sowat 18 000 tot 12 000 jaar gelede bevolk was. Die skiereiland se ou bevolking het uit inheemse Noordoos-Asiatiese kusbewoners en aan die Jomon-verwante groepe bestaan. Sogenoemde Kamkeramiek met visgraatpatrone is in al die landsdele gevind. Die Jeulmun-kultuur, wat op 6000 tot 1500 v.C. gedateer word, toon groot ooreenkomste met die gelyktydige kultuur van die Japannese Argipel. Die mense in hierdie tydperk het bestaan gemaak as jagter-versamelaars en vissers en het wilde rys, manna, gars en sorghum verbou. Met garsverbouing is omstreeks 4500 v.C. begin. Die Jomon-volk toon 'n groot genetiese verwantskap met Oos-Asiatiese kusvolke soos Ainoe, Japannese, Koreane, Oeltsje, Nifchers en die inheemse volke van Taiwan (Amis en Atayal).
Die Jeulmun-Kultur het tussen 1500 v.C. en 700 v.C. tot 'n einde gekom. Gedurende die Neolitikum het die Mumun-kultuur ontstaan.
Mumun- en Bronstydperk Aanvanklik is koudbestande droë rys verbou. Die verbouing van nat rys het later in Korea en Japan ontwikkel, vanuit Shandong en rondom 1500 v.C. oor die Liaodong-skiereiland Korea bereik. Hierdie verspreiding word met die Mumun-kultuur ná 1500 v.C. op die Koreaanse Skiereiland en die Yayoi-kultuur ná 950 v.C. op die Japannese Argipel geassosieer.
Die vervaardiging van sy, spin en weef dateer uit die eerste eeu v.C. Omtrent 35 000 Dolmen, sowat 40% van al die megaliete wêreldwyd, bevind hulle in Korea, waarvolgens na Korea ook as die "Koninkryk van die Dolmen" verwys word. In hierdie dolmen is brons- en jadejuweliersware gevind.
'n Genetiese studie deur Siska et al. (2017) dui daarop dat moderne Koreane 'n baie sterk verwantskap met beenvondse in die Devil’s Gate in Rusland, naby Noord-Korea toon, saam met die Oeltsje, Oroqe, Nanai en gedeeltelik ook met die Japannese.
Bevolkingsgroepe uit die Mumun- en Yayoi-tydperk is taalkundig verwant aan die Koreaanse en Japannese tale.
In die 3de eeu v.C. verdwyn rysverbouingsplekke uit argeologiese vondse en verskyn weer in die 1ste eeu n.C. Die onderbreking in die verbouing van nat rys gaan gepaard met die ontstaan van die Koreaanse Bronsdolk-kultuur in die 3de eeu v.C. Die met Gojoseon geassosieerde Bronsdolk-vondse van Liaoning se Bronsdolk-kultuur of Koreaanse Bronsdolk-kultuur verdwyn wes van die Liao ná die verowering van die boloop deur die Yan-staat in Noordoos-China.
Gojoseon duimnael|'n Kaart van Korea in 108 v.C. Volgens die Samguk Yusa, oftewel Verhale van die Drie Koninkryke, is die eerste Koreaanse staat Gojoseon (고조선, 古朝鮮, letterlik: "Alt-Joseon") in die 2300's v.C. deur die mitologiese halfgod Dangun gestig. Die voorvoegsel Go- "oud" is 'n moderne konvensie om die antieke staat van die latere Joseon te onderskei. Die eintlike naam was Joseon.
Na Joseon word vir die eerste keer in die Chinese skrifte uit die tydperk van die Lente en die Herfs (8ste tot 5de eeu v.C.) verwys en dit was volgens die bronne in die noordooste van die destydse China en die Bohai-baai geleë.
Die histories verifieerbare Gojoseon se ontstaan word volgens argeologiese vondste op die laatste in die 7de eeu v.C. beraam. In die huidige geskiedskrywing word Gojoseon met die gelyktydige Bronstydperk, veral die verspreiding van blaarvormige bronsdolke in Noordoos-Asië, geassosieer. Soos dit uit 'n vonds van 'n bronsskild met 'n uitbeelding van 'n sjamanistiese paal blyk was daar teen 300 v.C. in Korea sogenoemde sottae met drie voëls bo-op waarmee op die eerste volmaandag van die jaar steeds talle dorpsingange versier word. Die voëls was gunstige draers van graansaad.
In die werk Samguk Sagi word na sy hoofstad as Asadal (아사달, 阿斯達) verwys. In teenstelling met die naam van Wiman Joseon se hoofstad Wanggeomseong is die naam Asadal se fonetiese waarde uit die Oud-Koreaansse alfabet oorgedra pleks van 'n semantiese vertolking. Dit is dalk saamgestel uit die twee woorde *asa vir "opkomende (oggend-)son" (vergelyk Koreaans achim en Middel-Koreaans achóm) en *dal wat "groot veld" beteken.
Wiman Joseon duimnael|'n Kaart van Korea in 1 n.C. Nadat Wei Man (Koreaans Wiman), 'n generaal uit die Noordoos-Chinese Yan wat op sy eie opgetree het, in 194 v.C. na Gojoseon gekom en daar bewind oorgeneem het, is na die land onder hom en sy opvolgers as Wiman Joseon verwys. Dit het vir 'n rukkie langs die China onder die Han-dinastie bestaan, maar is uiteindelik deur dit verower en onder beheer van vier militêre kommandanture geplaas. Teen die einde van sy bestaan het 'n aantal deelstate weggebreek, waaronder Goguryeo in die noorde, Buyeo in Mantsjoerye asook Okjeo en Dongye in die noordooste van Korea, wat een-een by Goguryeo ingelyf is.