Kevin John Mileham (gebore op 23 April 1971) is 'n Suid-Afrikaanse politikus, 'n lid van die Nasionale Vergadering van Suid-Afrika vir die Demokratiese Alliansie en tans die skaduminister van minerale bronne en energie. Mileham is op 3 Junie 2013 vir die eerste keer tot die parlement verkies, in die plek van Athol Trollip wat bedank het. Sy eerste parlementêre rol was as die skadu-adjunkminister van grondhervorming en landelike ontwikkeling. Ná die algemene verkiesing in 2014 is hy aangestel as die skaduminister van samewerkende regering en tradisionele sake. In Februarie 2019 word hy aangestel as skaduminister van energie. Ná die nasionale en provinsiale verkiesing op 8 Mei 2019 is Mileham as skaduminister aangestel in die uitgebreide portefeulje van minerale bronne en energie.
Agtergrond Mileham het in 1988 aan die Selborne College in Oos-Londen gematrikuleer en aan die Universiteit van die Witwatersrand gegradueer met 'n B.Comm (regte)-graad. Hy het sy studies voortgesit om 'n nagraadse diploma in reklame en bemarking aan die AAA School of Advertising te verwerf.
Ná sy studies begin hy werk by The Jupiter Drawing Room, 'n bekroonde Suid-Afrikaanse reklameagentskap, wat handelsmerke soos Coca-Cola en 5FM hanteer. In 1996 was hy in diens van Coca-Cola om die Powerade- sportdrankie in Suid-Afrika bekend te stel. In 1998 het hy by Microsoft Suid-Afrika as 'n bemarkingsbestuurder aangesluit, wat aanvanklik slegs verbruikersprodukte gedek het, maar later bevorder is om alle tafelmodel-toepassings (insluitend Microsoft Office en Windows) vir beide die verbruikers- en sakesektor in te sluit.
In 2001 verhuis hy na die Oos-Kaap, waar hy sy eie bemarkings- en bestuurskonsultasieonderneming, Forward Momentum, stig, met die fokus op die ontwikkeling van nie-regeringsorganisasies en klein, medium en mikro-ondernemings.
Mileham het twee kinders uit sy eerste huwelik met Laura Guest. Hy is in Julie 2017 met die Demokratiese Alliansie-lid, Natasha Mazzone, getroud.
Politiek Mileham was tydens die verkiesing in 1994 en 1999 aktief betrokke by partypolitiek vir die voormalige Demokratiese Party as 'n partyagent en aktivis. In 2003 raak hy aktief betrokke by plaaslike politiek as gevolg van die versuim van die plaaslike munisipaliteit om dienste aan minderbevoorregte gemeenskappe te lewer. Hy het hom by die Demokratiese Alliansie in Port Alfred (Ndlambe Plaaslike Munisipaliteit) aangesluit, waar hy kort daarna as voorsitter van die kiesafdeling aangestel is. In 2006 is hy verkies tot die Ndlambe munisipale raad en word hy aangestel as die hoofsweep en woordvoerder van die party.
In 2007 is Mileham gekies om deel te wees van die eerste klas van die Young Leaders-program van die Demokratiese Alliansie, 'n jaarlange kursus in politieke en leierskapsontwikkeling. In 2009 het hy onsuksesvol vir die parlement gestaan. In 2011 is hy verkies as 'n munisipale raadslid van die Buffalo City Metropolitaanse Munisipaliteit, en is hy aangestel as die DA se hoofsweep.
In 2013, na die dood van Pine Pienaar, 'n lid van die Oos-Kaapse provinsiale wetgewer, het die DA se provinsiale leier Athol Trollip verkies om na die provinsie terug te keer na sy nederlaag teen Lindiwe Mazibuko vir die pos as parlementêre leier van die DA. Mileham neem toe Trollip se setel in die parlement op.http://www.sabc.co.za/news/a/8503f2004fe5136d959cf70b5d39e4bb/Trollip-back-in-Eastern-Cape-vows-to-fight-for-rural-development-20130606 Sy aanstelling as skadu-adjunkminister vir grondhervorming en landelike ontwikkeling kom op 'n stadium (net voor die 2014 nasionale en provinsiale verkiesing) toe grondherstel in die nasionale kollig was, en Mileham was spoedig in die kollig.
Na sy herverkiesing in 2014 is Mileham deur die nuwe leier van die opposisie, Mmusi Maimane, as die skaduminister van samewerkende regering en tradisionele sake aangewys. In Februarie 2019 word hy aangestel as skaduminister van energie. Hy het hierdie pos beklee tot Junie 2019, toe Maimane hom as skaduminister van minerale bronne en energie aangestel het.
Verwysings
Kategorie:Lede van die Nasionale Vergadering van Suid-Afrika Kategorie:Geboortes in 1971 Kategorie:Lewende mense Kategorie:Politici van die Demokratiese Alliansie