Laura Wolvaardt (gebore 26 April 1999) is 'n Suid-Afrikaanse internasionale vrouekrieketspeler, wat haar land verteenwoordig in toets-, EDI- en T20I-krieket. Sy is 'n openingskolwer en in plaaslike krieket speel sy vir die Westelike Provinsie-vroue. Sy studeer tans aan Parklands College.
In Augustus 2016 word Wolvaardt die jongste centurion, manlik of vroulik, vir Suid-Afrika in internasionale krieket. As 'n 17-jarige het die aanvangskolwer 'n wedstrydwenner van 105 lopies gemoker teen Ierland se vrouespan om 'n 67-lopie oorwinning te verseker in Malahide, Ierland. In Mei 2017 is sy aangewys as "vrouenuweling van die Jaar" by Krieket Suid-Afrika se jaarlikse toekennings.
Sy het onder meer tydens die vrouekrieketwêreldbekertoernooie in 2017, 2022 en 2025, asook die T20I-vrouewêreldbekertoernooie in 2018, 2020, 2023, 2024 en 2026 vir Suid-Afrika gespeel. Tydens die T20I-vrouewêreldbeker 2023 het die Proteas vir die eerste keer ’n wêreldbekereindstryd – beide mans en vroue – gehaal, maar met 19 lopies teen Australië vasgeval. Een jaar later het die vrouespan in hulle tweede agtereenvolgende T20I-vrouewêreldbekereindstryd verskyn, maar dié keer met 32 lopies teen Nieu-Seeland verloor. Tydens die Vrouekrieketwêreldbeker 2025 was die Suid-Afrikaners weer baanbrekers en het vir die eerste keer na ’n krieketwêreldbekereindstryd – beide mans en vroue – deurgedring, waar hulle egter met 52 lopies deur die medegasvroue Indië geklop is.
Verwysings
Eksterne skakels
Laura Wolvaardt by ESPNcricinfo
Kategorie:Suid-Afrikaanse vrouekrieketspelers Kategorie:Geboortes in 1999 Kategorie:Lewende mense