Gacrux (ook bekend as Gamma Crucis of γ Cru) is die naaste rooireus aan die Son: volgens parallaksmetings tydens die Hipparcos-sending sowat 88,6 ligjare weg.

Met ’n skynbare magnitude van 1,63 is dit die derde helderste ster in die suidelike sterrebeeld Suiderkruis (Crux) en een van die helderstes aan die naghemel. ’n Lyn van Alpha Centauri deur Beta Centauri lei tot binne ’n paar grade van dié ster.

Eienskappe + Pulseringsperiodes Periode(dae) Amplitude(magnitude) 12,1 0,016 15,1 0,027 16,5 0,016 54,8 0,026 82,7 0,015 104,9 0,016

Gacrux het ’n sterreklassifikasie van M3,5 III. Dit het die hoofreeks verlaat, maar is waarskynlik in die rooireusetak eerder as die asimptotiese reusetak. Hoewel sy massa net 30% groter as die Son s’n is, het dit uitgesit tot 84 keer so groot.

Sy ligsterkte is sowat 1 500 keer dié van die Son. Met ’n effektiewe temperatuur van 3 626 K het Gamma Crucis ’n prominente rooi-oranje kleur, soos ander sterre met dié klassifikasie. Dit is ’n halfreëlmatige veranderlike met veelvoudige periodes. (Sien tabel links.)

Die atmosfeer van die ster bevat baie barium, wat verduidelik kan word aan die hand van materiaal wat van ’n verder ontwikklede ster af oorgedra word. So ’n metgesel sou gewoonlik ’n witdwerg geword het.

Geen so ’n metgesel is egter nog ontdek nie. ’n Optiese metgesel met ’n skynbare magnitude van 6,4 lê wel sowat 2 boogminute weg teen ’n posisiehoek van 128 grade en kan met ’n verkyker gesien word.

Name Die ster se Bayer-naam is "Gamma Crucis". Die historiese naam, "Gacrux", is deur die sterrekundige Elijah Hinsdale Burritt gevestig. Dit is ’n verkorte vorm van Gamma Crucis.

In 2016 het die Internasionale Astronomiese Unie se sternaamwerkgroep (WGSN) die naam "Gacrux" vir die ster goedgekeur.

Verwysings

Eksterne skakels

15px Hierdie artikel is vertaal uit die Engelse Wikipedia

Kategorie:Bayer-voorwerpe Kategorie:Henry Draper-voorwerpe Kategorie:Sterre met eiename Kategorie:Suiderkruis Kategorie:Veranderlike sterre Kategorie:M-tipe reusesterre