Beta Aquarii (β Aqr), met die tradisionele naam Sadalsuud, is ’n dubbelster in die sterrebeeld Waterdraer (Aquarius). Dit is sowat 540 ligjare van die Son af geleë.

Eienskappe Sadalsuud is die helderste ster in die Waterdraer, met ’n skynbare magnitude van 2,87 en ’n sterreklassifikasie van G0 Ib. Sedert 1943 dien die ster se spektrum as een van die stabiele punte waarvolgens ander sterre geklassifiseer word. Die ster se massa is sowat 6 tot 6,5 keer dié van die sonmassa, maar sy ligsterkte 2 300 keer die Son s'n; dit dui op ’n radius van 50 keer dié van die Son. Dit is sowat 60 miljoen jaar oud, oud genoeg vir ’n ster van sy massa om ’n superreus te word. Die geskatte effektiewe temperatuur van die ster se buitenste skil is sowat 5 700 K, en dit gee dit die kenmerkende geel skynsel van ’n G-tipe ster.

X-strale van die ster se kroon is waargeneem met die Chandra-X-straalsterrewag; een van die eerste kere vir ’n G-tipe superreus. ’n Sekondêre X-straalbron naby Beta Aquarii kom waarskynlik van ’n bron buite die ster se sterrestelsel.

Name Die dubbelster se Bayer-naam is "Beta Aquarii" en sy Flamsteed-naam "22 Aquarii". Die tradisionele naam, "Sadalsuud", kom van die Arabiese سعد السعود sa‘d al-su‘ūd, "die geluk van gelukke". Ander spellings wat soms aangetref word, is Sad es Saud, Sadalsund en Saad el Sund.

In 2016 het die Internasionale Astronomiese Unie se sternaamwerkgroep (WGSN) die naam "Sadalsuud" vir die A-komponente van die ster goedgekeur omdat hulle eiename aan individuele sterre toegeken het in plaas van aan stergroepe.

Verwysings

Eksterne skakels An Atlas of the Universe: Wentelbane van veelvoudige sterre Harvard Map Collection Mercator Globes β Aquarii by AladinPreview

15px Hierdie artikel is vertaal uit die Engelse Wikipedia

Kategorie:Bayer-voorwerpe Kategorie:Dubbelsterre Kategorie:Sterre met eiename‎ Kategorie:Waterdraer (sterrebeeld) Kategorie:Henry Draper-voorwerpe Kategorie:Flamsteed-voorwerpe Kategorie:G-tipe superreuse