Dr. Kwame Nkrumah (gebore Francis Nwia-Kofi Ngonloma, 21 September 1909 – 27 April 1972)"Biography of Kwame Nkrumah" . was 'n Afrika-politikus. Hy was die Eerste Minister en later die President van Ghana. Hy het groot bydraes tot die ideologie van Pan-Afrikanisme gelewer. Ná 'n veldtog van tien jaar teen die Britse koloniale regering het Ghana op 6 Maart 1957 onafhanklik geword met Nkrumah as sy eerste Eerste Minister; hy het op 1 Julie 1960, toe Ghana 'n republiek geword het, die eerste President geword.

Nkrumah was Eerste Minister van die Goudkus van 1952 tot 1957, toe die kolonie sy onafhanklikheid van die Verenigde Koninkryk verkry het. Hy was daarna die eerste Eerste Minister en van 1960 af die eerste President van Ghana, tot 1966. As invloedryke voorstander van Pan-Afrikanisme was hy 'n stigterslid van die Organisasie vir Afrika-eenheid en het hy in 1962 die Sowjetunie se Lenin-vredesprys ontvang.

Ná twaalf jaar in die buiteland, waar hy verder studeer, sy politieke denke ontwikkel en met ander pan-Afrikaniste van die diaspora saamgewerk het, het Nkrumah na die Goudkus teruggekeer om sy politieke loopbaan as voorstander van nasionale onafhanklikheid te begin. Hy het die Convention People's Party gestig, wat vinnig sukses behaal het deur 'n beroep op die gewone kieser wat tot dan ongekend was. Sy bewind was hoofsaaklik sosialisties en nasionalisties: dit het nasionale industrie- en energieprojekte gefinansier, 'n sterk nasionale onderwysstelsel opgebou en 'n pan-Afrikanistiese kultuur bevorder.

Ná 'n beweerde sluipmoordkomplot teen hom, saam met toenemend moeilike ekonomiese toestande in die land, het sy regering in die 1960's steeds meer outoritêr geword: hy het die politieke opposisie onderdruk en verkiesings gehou wat nie vry of regverdig was nie. 'n Grondwetwysiging het Ghana in 1964 'n eenpartystaat gemaak, met Nkrumah as lewenslange president van sowel die land as die party. Hy is in 1966 deur 'n staatsgreep van die Nasionale Bevrydingsraad afgesit en het die res van sy lewe in Guinee deurgebring, waar hy tot ere-mede-president benoem is. In 1999 is hy deur luisteraars van die BBC as Afrikaan van die millennium verkies.

Vroeë lewe en opleiding Kinderjare en skoolopleiding duimnael|links|150px|Nkrumah in die jaarblad van Lincoln University, 1942. Nkrumah is op Dinsdag 21 September 1909 in Nkroful in die suidweste van die Goudkus gebore, naby die grens met die Franse kolonie Ivoorkus. Hy was sy moeder Elizabeth Nyanibah se enigste kind; sy vader, Opanyin Kofi Nwiana Ngolomah, was 'n goudsmid wat in Half Assini gewerk het. Toe hy drie was, het hy en sy moeder na Half Assini getrek, waar hy na die laerskool van 'n Katolieke sendingstasie gestuur is en 'n bekwame leerling geblyk te wees.

Hy het die tienjarige laerskoolloop in agt jaar voltooi, was in 1925 'n student-onderwyser by die skool en is in daardie jaar in die Katolieke geloof gedoop. Die skoolhoof van die staatsopleidingskollege in Accra – wat kort daarna Achimota-skool sou word – het hom opgemerk en gereël dat hy daar as onderwyser opgelei word. By Achimota het die adjunkhoof Kwegyir Aggrey, wat aan die Columbia-universiteit studeer het, hom aan die denke van Marcus Garvey en W. E. B. Du Bois blootgestel. Aggrey en die ander by Achimota het gemeen daar moet noue samewerking tussen die rasse in die regering van die Goudkus wees, maar Nkrumah het gou – in navolging van Garvey – tot die oortuiging gekom dat daar slegs harmonie tussen die rasse kan wees wanneer die swart mense hulself regeer.

Ná sy onderwysersertifikaat in 1930 het hy in 1931 by die Katolieke laerskool in Elmina begin klasgee, is 'n jaar later skoolhoof in Axim – waar hy die Nzema Literêre Vereniging gestig het en by die politiek betrokke geraak het – en is in 1933 as onderwyser by die Katolieke seminarie in Amissano aangestel. Hy het die joernalis en latere Nigeriese president Nnamdi Azikiwe hoor praat, en Azikiwe se invloed het sy belangstelling in swart nasionalisme aangewakker; op sy advies het Nkrumah besluit om by Lincoln University in Pennsilvanië te gaan studeer.

Studiejare in Amerika en Brittanje duimnael|regs|170px|60 Burghley Road in Kentish Town, Londen, waar Nkrumah tussen 1945 en 1947 gewoon het. Nkrumah, wat die toelatingseksamen van die Universiteit van Londen gedruip het, het geld vir die reis en sy studie by familie bekom en in Oktober 1935 in die Verenigde State aangekom – op weg daarheen het hy in Brittanje tot sy verontwaardiging van die Italiaanse inval in Ethiopië verneem. Hy het in 1939 'n baccalaureusgraad in ekonomie en sosiologie by Lincoln voltooi, waarna die universiteit hom as assistentlektor in filosofie aangestel het. In 1942 het hy 'n graad in teologie – as die beste student in die kursus – en die volgende jaar 'n meestersgraad in filosofie en 'n meestersgraad in opvoedkunde by die Universiteit van Pennsilvanië verwerf. Om die pot aan die kook te hou, het hy handearbeid gedoen: hy het vis en pluimvee verkoop, skoongemaak en skottelgoed gewas.

Hy het sy somers in Harlem deurgebring, waar hy baie aande na straatredenaars geluister en met hulle geredekawel het – volgens die geskiedkundige John Henrik Clarke was dié aande "'n wesenlike deel van Kwame Nkrumah se Amerikaanse opvoeding … die universiteit van die Harlemse strate". Hy was 'n aktivistiese student: hy het 'n groep Afrikaanse studente in Pennsilvanië georganiseer en dit tot die African Students Association of America and Canada uitgebou, waarvan hy voorsitter geword het. Waar sommige lede gemeen het elke kolonie moet op sy eie onafhanklik word, het Nkrumah 'n pan-Afrikaanse strategie bepleit. Hy het die voornaam Francis in die seminarie aangeneem en het in 1945 die naam Kwame Nkrumah gekies.

Nkrumah het in Mei 1945 na Londen gegaan en as doktorale kandidaat in die antropologie by die London School of Economics ingeskryf. Hy het ná een kwartaal onttrek en die volgende jaar by University College London ingeskryf met die bedoeling om 'n filosofieverhandeling oor "Kennis en logiese positivisme" te skryf; sy studieleier, A. J. Ayer, het hom later beskryf as iemand wat "antwoorde te vinnig wou hê" en gemeen dat hy nie hard aan sy verhandeling gewerk het nie omdat hy net tyd gemerk het totdat hy na Ghana kon terugkeer. Hy het uiteindelik ook regte by Gray's Inn ingeskryf sonder om dit te voltooi.

Sy tyd het hoofsaaklik aan politieke organisasie gegaan. Hy en George Padmore was van die hoofreëlaars – en die mede-tesouriers – van die vyfde Pan-Afrikaanse Kongres in Manchester van 15 tot 19 Oktober 1945, wat 'n strategie uitgewerk het om die kolonialisme met Afrikaanse sosialisme te vervang: 'n federale Verenigde State van Afrika met onderling verbonde streeksorganisasies, en 'n nuwe Afrikaanse kultuur sonder stamverdeeldheid, indien moontlik langs geweldlose weg. Onder die aanwesiges was W. E. B. Du Bois en verskeie mense wat later hul lande na onafhanklikheid sou lei, waaronder Hastings Banda van Njassaland (later Malawi), Jomo Kenyatta van Kenia en Obafemi Awolowo van Nigerië. Nkrumah het sekretaris van die Wes-Afrikaanse Nasionale Sekretariaat geword.

Politieke ontwaking Kwame Nkrumah, wie se regte naam Francis Nwia Kofi was, het vanaf 1930 vir predikant studeer. Op advies van Nnamdi Azikiwe, die latere president van Nigerië, het hy vanaf 1935 ekonomie, sosiologie, teologie, reg en pedagogie in die Verenigde State gestudeer. Hy het in al hierdie vakke geslaag. Nkrumah was baie geskok deur die Italiaanse inval in Ethiopië. Ethiopië, saam met Liberië, was destyds die enigste onafhanklike lande in Afrika. Tydens die Tweede Wêreldoorlog het hy die Geallieerdes ondersteun.

Ná die oorlog het Afrika-nasionalisme en die Afrika-eenheidsidee gegroei. Nkrumah het gou as 'n voorstander van Afrika-nasionalisme opgetree. Eerstens het hy gestreef na die onafhanklikheid van sy Britse Goudkus (later Ghana). Hy het dit net as 'n begin gesien. In sy visie moes alle ander Afrika-state hul onafhanklikheid verkry en die swart Afrika-state moes op 'n sosialistiese basis 'n federasie vorm.

Terugkeer na die Goudkus Die United Gold Coast Convention en die Groot Ses Die Goudkus se grondwet van 1946 het vir die eerste keer 'n Afrikaanse meerderheid op die wetgewende raad gegee, en dit het die kolonie se eerste werklike politieke party voortgebring: die United Gold Coast Convention (UGCC), wat in Augustus 1947 gestig is. Aangesien die vooraanstaande lede almal suksesvolle beroepsmense was, moes hulle iemand betaal om die party te bestuur, en hul keuse het op Nkrumah geval.

Ondanks die feit dat die Goudkus polities meer ontwikkeld was as Brittanje se ander Wes-Afrikaanse kolonies, was daar aansienlike ontevredenheid: die naoorlogse inflasie het openbare woede oor hoë pryse veroorsaak, kakaoboere was ontsteld omdat bome met die swelskootvirus deur die koloniale owerhede vernietig is, en van die sowat 63 000 oudstryders van die Tweede Wêreldoorlog in die kolonie kon baie nie werk kry nie. Toe 'n optog van oudstryders op 28 Februarie 1948 plaasvind om 'n petisie aan die goewerneur te oorhandig, is drie van hulle deur polisiekoeëls gedood, wat die Accra-onluste ontketen het wat oor die hele land versprei het.

Die koloniale regering het aangeneem dat die UGCC vir die onrus verantwoordelik was en het ses leiers gearresteer, Nkrumah en J. B. Danquah onder hulle. Dié "Groot Ses" is saam in Kumasi aangehou, wat die skeuring tussen Nkrumah en die ander vergroot het omdat hulle hom vir die onluste en hul aanhouding blameer het; al ses is in April 1948 vrygelaat. Nkrumah het met sy eie geld die Ghana Nasionale Kollege gestig vir studente en onderwysers wat vir hul vrylating betoog het en geskors is, en het die koerant Accra Evening News en die Komitee vir Jeugorganisasie gestig, wat gou weggebreek en die leuse "Selfregering Nou" aangeneem het.

Die Convention People's Party duimnael|regs|180px|Die rooi haan en die leuse "Forward Ever, Backward Never" van die Convention People's Party. Op 12 Junie 1949 het Nkrumah die stigting van die Convention People's Party (CPP) aangekondig, met die woord convention – volgens hom – gekies "om die massas met ons saam te neem". Die party het die rooi haan as sy simbool aangeneem, 'n bekende beeld vir plaaslike etniese groepe en 'n simbool van leierskap en waaksaamheid, en die partykleure rooi, wit en groen het op klere, vlae, voertuie en huise verskyn. CPP-werkers het in rooi-wit-en-groen bakkies deur die land gery, musiek gespeel en steun vir die party en veral vir Nkrumah gewerf – 'n benadering wat buitengewoon suksesvol was, aangesien vroeëre politieke pogings in die Goudkus hulle uitsluitlik op die stedelike intelligensia gerig het.

Toe die Britte 'n kommissie van middelklas-Afrikane aanstel om 'n nuwe grondwet op te stel wat nie volle dominiumstatus sou gee nie, het Nkrumah 'n veldtog van "positiewe aksie" begin en 'n grondwetgewende vergadering geëis. Toe die goewerneur, Charles Arden-Clarke, hom nie daartoe wou verbind nie, het die vakbonde op 8 Januarie 1950 'n algemene staking begin. Die staking het gou tot geweld gelei, en Nkrumah en ander CPP-leiers is op 22 Januarie gearresteer en die Evening News verban. Nkrumah is tot altesaam drie jaar tronkstraf gevonnis.

duimnael|links|170px|Nkrumah op die voorblad van Time, 9 Februarie 1953. Sy assistent Komla Agbeli Gbedemah het die CPP in sy afwesigheid bestuur, terwyl Nkrumah gebeure met briefies op toiletpapier kon beïnvloed. Hy het uit die tronk vir 'n Accra-setel gestaan, en in die wetgewende verkiesing van Februarie 1951 – die eerste algemene verkiesing onder algemene stemreg in koloniale Afrika – het die CPP 34 van die 38 setels wat op partybasis betwis is, gewen. Arden-Clarke het gesien dat die enigste alternatief tot Nkrumah se vrylating die einde van die grondwetlike eksperiment sou wees: Nkrumah is op 12 Februarie uit die tronk vrygelaat en die volgende dag het die goewerneur hom laat kom en gevra om 'n regering te vorm.

Leier van regeringsake en Eerste Minister