Jacobus Johannes (Koos) Venter (distrik Colesberg, Kaapkolonie, 22 Maart 1814 – plaas Broekpoort, Bethulie, Oranje-Vrystaat, 28 Januarie 1889) was ’n Vrystaatse boer, politikus asook stigter van die Gereformeerde Kerk in die Oranje-Vrystaat en leier in dié kerkverband. Hy was 'n lid van die Volksraad van die Oranje-Vrystaat, voorsitter van die Saamgestelde Kommissie vir die Bestuur van die Regering in 1855 en het gedien as Waarnemende Staatspresident in 1859 tot 1860 en weer van 1863 tot 1864. Vir datums, kyk na Suid-Afrika by Worldstatesman.org

Met uitsondering van 'n kort onderbreking was Venter volksraadslid vir Bloemfontein-distrik en later vir Bethulie van 1854 tot 1881, bes moontlik die langste diens in die Vrystaatse Volksraad. Hy het hom veral onvermoeid vir die landbou beywer en Hollandse taalregte in die Vrystaat warm verdedig. Ook het hy pleidooie gelewer vir 'n nasionale onderwysstelsel vir die behoud van die Hollands-Afrikaanse kultuur en vir die vrywillige beginsel (1867), ingevolge waarvan elke kerk sy eie predikant sonder staatshulp onderhou. Hy was ook bekend vir ondersteuning van alle kerke, ook ander as sy eie, die Gereformeerde.

Ten spyte van geringe skoolonderwys is hy in 1861 selfs tot voorsitter van die appèlhof verkies, hoewel regsgeleerdes soos sy vriend H.A.L. Hamelberg beskikbaar was, maar hy het die benoeming nie aanvaar nie. Hy het as een van die eerste ouderlinge van die Gereformeerde kerk Reddersburg, wat hy help stig het, gedien en dikwels as voorsitter van die kerkraad gedurende die vakature. So het hy 'n leidende aandeel geneem in die aanleg en stigting van die dorp Reddersburg, waar hy in 1861 die hoeksteen van die eerste Gereformeerde kerkgebou gelê het.

Herkoms Koos Venter was die vyfde kind uit die huwelik van Jan Adriaan Venter (Tulbagh, 16 Februarie 1779 – Bloemfontein, 19 Mei 1870),Genealogiese besonderhede op geni.com. URL besoek op 3 Desember 2016. in 1860 een van die stigters van die Gereformeerde kerk Colesberg (saam met J.A. Venter se dogter Hester Venter en haar man, I.D. du Plessis) midde-in ’n hewige kerkstryd, en sy tweede vrou, Margaretha Johanna Louw (Swellendam, 15 Maart 1791 – Colesberg, 22 Mei 1854).Genealogiese besonderhede op geni.com. URL besoek op 3 Desember 2016. Twaalf kinders is uit dié huwelik gebore, onder wie ook (later ds.) Sarel Daniël Venter. Uit Jan Adriaan Venter se eerste huwelik, met Aletta Sophia Bezuidenhout, is sewe kinders gebore.Genealogiese besonderhede op geni.com. URL besoek op 3 Desember 2016.

Vroeë politieke betrokkenheid Venter het in 1852, toe hy nagenoeg 38 jaar oud was, uit die wyk van veldkornet Gideon Joubert in die distrik Colesberg na De Hoop aan die Kaalspruit naby Bloemfontein. Tien jaar later het hy hom metterwoon op die plaas Broekpoort in die distrik Bethulie gevestig, waar hy dan ook oorlede en begrawe is.

Venter het die wyk waarin hy gewoon het, op die byeenkoms van Vrystaatse volksverteenwoordigers verteenwoordig wat op 5 September 1853 met die Britse spesiale kommissaris, sir George Clerk, onderhandel het met die oog op die toekenning van onafhanklikheid aan die Oranjerivier-Soewereiniteit. Hy het lid van die voortsettingskomitee van 25 geword en in Desember 1853 die geleentheid vir onafhanklikheid aangegryp soos Clerk in die vooruitsig gestel het, in weerwil van heftige teenkanting gegrond op Britse lojaliteit en die vrees vir die Basoeto wat deur sy predikant, ds. Andrew Murray, dr. A.J. Frazer, sakelui en Britse setlaars gekoester is.

Lid van die eerste Vrystaatse regering Venter het vergaderings in Transoranje gehou om die bevolking te oortuig dat hulle die aanbod van Brittanje moet aanvaar. Hierin het sy beeldryke taal sy saak voortgehelp. Hy het 'n memorie rondgeneem wat hy oral laat onderteken en self aan sir George Clerk oorhandig het; daarin is die Britse regering saaklik gevra om die land te beskerm of dit te verlaat. Die vyandige Engelstalige pers in die Soewereiniteit wat sy onafhanklikheidstrewe as bekrompenheid beskou het, het Venter reeds bestempel as die leier van 'n politieke seksie wat "Doppers" genoem is. As medeondertekenaar van die Bloemfontein-konvensie in Februarie 1854, het Venter lid van die eerste Vrystaatse regering geword.

Sy sterk sin vir demokrasie en reg het hy reeds op 8 September 1854 geopenbaar toe hy as lid van die uitvoerende raad bedank omdat die anti-Transvaalse gevoelens syns insiens die regering onverskillig gemaak het ten opsigte van die volk se wil om met die oog op die Basoeto-gevaar met Transvaal te verenig. In Februarie 1855 is hy gedurende 'n ernstige politieke krisis na die regering teruggeroep en het 'n leidende aandeel gehad in die afsetting van president J.P. Hoffman. As waarnemende president het hy Bloemfontein beveilig en sy invloed in sy geslaagde onderhandeling en ooreenkoms met Moshoeshoe bewys. Indertyd het hy ’n ryper politieke beleid geproklameer, naamlik vereniging van die Vrystaat en Transvaal, maar eers nadat die Vrystaat as veilige en welvarende staat gekonsolideer sou wees. Gedurende sy politieke loopbaan het hy sy land dikwels as voorsitter van die uitvoerende raad en op talle diplomatieke sendinge na Moshoeshoe, Transvaal en die Kaapkolonie gedien.

Onder pres. Boshoff Op 29 Augustus 1855 het hy ’n mosie van vertroue van die volksraad ontvang. Hy het ook waargeneem in die kritieke tussentydperk ná pres. Hoffman se afsetting en het, sonder dat hy daarna gestreef het, 'n aantal stemme in die volgende presidentsverkiesing ontvang. Tog was hy uit die staanspoor ’n warme ondersteuner van pres. van meet af aan 'n warme ondersteuner van pres. J.N. Boshoff (1855–'59).

Toe pres. M.W. Pretorius van Transvaal die Basoeto-probleem in Mei 1857 wou gebruik om in die Vrystaat 'n staatsgreep in belang van sy verenigingstrewe tussen die republieke uit te voer, het dit by die Renosterrivier feitlik op broederoorlog tussen die Vrystaat en Transvaal uitgeloop. Op dié kritieke tydstip het Venter met kmdt. S.J.P. Kruger van Rustenburg begin onderhandel sodat 'n vredesverdrag tot groot teleurstelling van die prokoloniale party in Bloemfontein op 1 Junie 1857 tussen die twee republieke onderteken is. Die burgerskapwetsontwerp, wat die dubbele lojaliteit van sommige Vrystaters aan die Britse en Vrystaatse owerheid wou beëindig, het hy in 1858 weer ter tafel gebring ten spyte van die verguising in die Engelstalige pers en die teenstand van pres. Pretorius.

Venter was al leier wat op die afsonderlikheid van die Vrystaat ten opsigte van Transvaal en die Kaapkolonie gestaan het, en 'n bondgenootskap tussen die twee Boererepublieke bepleit het, toe sir George Grey aan die hand van die Basoeto-vraagstuk druk op die Vrystaat begin uitoefen ten gunste van federasie met die Kaapkolonie, Al was hy onbewus van wat Grey agter die skerms bedryf het, was hy politiek skerpsinnig genoeg om aan te voel Grey se federasieplan was gemik op die vernietiging van die Boererepublieke se onafhanklikheid. So het Venter die vader van die beleid geword wat later deur presidente J.H. Brand en M.T. Steyn voortgesit is.

Onder pres. Pretorius Ook aan Boshoff het Venter sy steun onttrek toe die president swig voor die prokoloniale aandrang en begin oorhel na federasie met die Kaapkolonie. Tydens Boshof se verlof en sy daaropvolgende bedanking in 1859, het Venter weer as president waargeneem. Ten spyte van sy leidende aandeel in 'n kerklike afskeiding toe hy in daardie jaar ’n stigter was van die Gereformeerde Kerk in die Oranje-Vrystaat, waardeur hy nie aan gewildheid gewen het nie, het die volksraad Venter as enigste kandidaat in die presidentsverkiesing voorgedra. M.W. Pretorius (president van die ZAR van 1857 tot 1860 en weer van 1864 tot 1871) het hom egter verslaan aangesien die Vrystaters van Pretorius ’n oplossing van die Basoetovraagstuk verwag het.

Onder pres. Brand Ná Pretorius se bedanking in 1863 het Venter weer as president waargeneem en in die presidentsverkiesing die helfte van die stemmetotaal op hom verenig wat op adv. J.H. Brand uitgebring is. Hy tree daarna weer as waarnemende president op tydens pres. Brand se verlof in 1868. Al was hy 'n bittere teenstander van die vergelyk wat Brand in 1876 met die Britse regering aangegaan het toe hy deur die aanvaarding van die bedrag wat Brittanje as skadevergoeding aanbied, die Vrystaatse diamantvelde, na Venter se mening, vir £90 000 "verkoop" het, was hy origens altyd 'n getroue medewerker van Brand.

Kerkleier duimnael|regs|200px|Die buiteblad van Venter se geskrif van 1875, Wat is Waarheid?. Venter was 'n tipiese verteenwoordiger van die Dopper-trekboere van die noordoostelike Kaapkolonie. Sy vader het reeds openlik in die NG gemeente Colesberg met ds. Thomas Reid en gevolglik met die ring van Graaff-Reinet van die NG Kerk gebots omdat hy "nuwighede" en 'n nuwe godsdienstige gees opgemerk het wat afgewyk het van die oorgelewerde Gereformeerde godsdiens. In sy omgewing is Venter jare lank geskool in die lydelike verset. Gevolglik het hy in 1856 in die Vrystaat reeds die mondstuk geword van familie- en geesgenote uit Transvaal, die Vrystaat en die Noordoos-Kaapland.

Hy het probeer om met ds. C. Callenbach, 'n konserwatiewe predikant van die Hervormde Kerk in Nederland, in aanraking te kom. Teen die einde van 1857 het hy onverwags 'n bemoedigende brief van oudl. J. van Andel van die Christelijke Afgescheidene Gereformeerde Kerk te 's-Hertogenbosch ontvang. Hy het dadelik sy geesverwantskap met dié Kerk begryp en aan die begin van 1858 as lidmaat van die NG gemeente Bloemfontein, waar ds. Andrew Murray destyds leraar was, bedank. Met ds. Murray het hy skerp verskil oor dié se prokoloniale simpatie in politieke sake en sy ywer vir 'n Engelse skool op Bloemfontein. Dit was juis van Doppers soos Venter wat ds. Murray se vrou, Emma (née Rutherfoord), by geleentheid gesê het: "The only people I don't like are the Doppers. They are really such a dirty obstinate race." Wie is die Doppers? URL besoek op 25 Januarie 2015.

Venter het aangevoer dat hy ’n nuwe lig (godsdienstige liberalisme) in die NG Kerk opgemerk het en gevolglik het hy op 10 Maart 1858 sy besittings as sekuriteit verpand vir 'n ope beroep wat hy na Nederland gestuur het. Die Christelijke Afgescheidene Gereformeerde Kerk het hom egter laat weet dat ds. Postma reeds na Transvaal afgevaardig is en dat hy met hom oorleg moes pleeg. Ds. Postma het Nederland op 22 Mei 1858 verlaat op 9 Julie voet aan wal in Simonstad gesit. Ná 'n kort ruk in Kaapstad, het hy na Durban vertrek omdat sy eintlike bestemming Transvaal was. Daar het ds. Postma op 11 Februarie daardie jaar op Rustenburg die eerste Gereformeerde kerk gestig. Van der Vyver, dr. G.C.P. 1958 Professor Dirk Postma 1818–1890. Potchefstroom: Pro Rege-Pers Beperk.