Schwarzbuch WWF is 'n boek waarin Wilfried Huismann die Wêreldnatuurlewefonds (WWF) beskou as 'n gebruiksmiddel van die transnasionale firmas, wat heel toevallig lede van die WWF is, om hul handelsbedrywighede wêreldwyd uit te brei. Deur 'n soort aflaathandel (waarin 'n geringe som geld boete doen vir ernstige omgewingskade) word die "groen" of "panda"-keurmerk toegeken om die lede tevrede te stel, terwyl die niksvermoedende klant oorsee produkte koop wat opsetlik as "volhoubaar" voorgehou word. Die Panda-embleem volgens Wilfried Huismann is van nul en gener waarde.

Die boek vergesel Huismann se twee dokumentêre rolprente, Lachsfieber (2010) en Der Pakt mit dem Panda: Was uns der WWF verschweigt (2011).

Modus operandi volgens Huismann Die WWF het jarelank die natuurbeskermende beeld uitgestraal deur hartroerende advertensies en skokkende beelde van die natuurlewe wat bedreig word. Deur 'n SMS te stuur en sodoende geld te skenk, sal dadelik opgetree word om 'n charismatiese dierespesie (tier, luiperd, olifant, renoster, walvis, panda, ens.) van uitwissing te red.

Volgens die klassieke redenasie van 'n ou lid van die WWF se geheime Club of 1001, Prof. Bernhard Grzimek ('n Frankfurtse dieretuinkurator) het ons mense die wilde diere vir eeue lank van hul lewensruimte en habitat afgerokkel en verwoes: nou moet opgetree word; die geskiedenis het getoon dat die mensdom 'n verwoester is; daarom moet die mense uit die omgewing padgee sodat die dierelewe kan herstel, aangesien die diere se habitat deur menslike bedrywighede versteur word. Die plaaslike wetenskaplikes wys anders daarop, maar die Westerse onkunde het hardnekkig bly vasklou: Die natuur moet 'n mensvrye plek wees. Nou is daar die kollektiewe skuldgevoel in die Globale Noorde van die ongerepte oerwoud van die Globale Suide wat gered moet word. In der waarheid gebeur net mooi die teendeel met dieselfde SMS- en skenkersgeld.

Natuurreservate Dieselfde modus operandi, wat wildtuine en wildreservate betref wat die WWF goedkeur, verloop soos volg:

1. Met die goedkeuring van regerings aan wie die ekonomiese voordele van ekotoerisme soos 'n wortel voor die neus gehou word, word die plaaslike bosbewoners of woudbewoners of vissersvolke of jagterversamelaars (wat dikwels nie ekonomies magtig is nie) in die geoogmerkte WWF-projekgebied, "vrywillig" gevra om hul grond te verkoop. Die propaganda van 'n beter "kans in die lewe", "ekonomiese vooruitgang", "julle troeteldiere sal veilig wees", "julle sal jul kinders na die skool kan stuur", "enigiets is beter as om rubber te tap of woudvrugte te versamel", asook ander leë beloftes word gemaak om die grond te verkoop, of te verlaat. Ander kere word die inwoners deur wetgewing van die grond verdryf. In Indië het die tierprojek (wat in 1972 begin is) die gevolg gehad dat omtrent 'n miljoen mense van hul grond verdryf is. Party natuurvolke dreig dikwels om elke tier af te maai, sodat daar geen rede is om hul van hul grond af te jaag nie.

2. Indien die natuurvolk saamspeel, word hulle verskuif na net buitekant die geoogmerkte terrein en word omhein en afgesny van hul oorspronklike woongebied waar hulle bv. rubber of heuning getap het, wildevrugte versamel en hul heilige aanbiddingsplekke besoek het. Dikwels is hierdie natuurvolke juis nie materialisties ingesteld nie en is tevrede met hul doodgewone bestaan. Dit is ook nie hierdie volk wat, onder normale omstandighede, hul eie bosgode sal jag om aan die Europese of Asiatiese mark uit te voer nie (wat in elk geval nie sou bestaan het as die buitelanders nie ingemeng en die buitelandse handel van tiervel oopgedwing het nie).

Volgens Muthamma, 'n woordvoerder en leier van die Adivasi:

Dit alles te midde van die WWF se verklaring dat die bosvolke juis nut het in die natuur:

Maar nou is daar geen manier hoe die woudbewoners of vissersvolke se ou leefwyse herstel kan word nie: hul ou lewensbestaan wat eeue lank bestaan het uit visvang, heuningtap ens. is onherroeplik verander. Hul kultuur verwesters, waar alles volgens Rand en sent geweeg word:

Die natuurvolke kan kies: hulle kan hul kultuur (deur danse of momento's) as goedkoop vermaak kommersialiseer aan ekotoeriste (vir aalmoese) of vir die nuwe grondeienaars as personeel werk, of by onwettige bedrywighede (soos tierjag) betrokke raak om kop bo water te hou in 'n nuwe kapitalistiese stelsel wat aan hulle onbekend en vreemd was. Andersins bevolk hierdie ontworteldes reeds oorvol dorpe en stede en word vervreem van hul kultuur en stam. In Indië het net enkele van die verdrewene 'n werk gekry in die toerismebedryf, die res werk almal vandag soos slawe in die plantasies wat orals rondom die reënwoude opgeskiet het.

3. Die grond wat onteien en ondertussen staatsgrond of in private besit beland het, word, ironies genoeg, nie volgens Grzimek se uitkyk "mensloos" en "mensvry" nie: dit word 'n ekotoerismemekka. Tot so 'n mate dat dit nie eens vergelyk kan word met die ou bosbewoners se doen en late nie. Waar die ou bevolking so nou en dan 'n tier sou teëkom, maar nie tier of mens mekaar sou hinder nie, sak toeriste en wetenskaplikes (wat deur die WWF befonds word, want die geld moet uitgegee word) in Jeeps dag en nag op die dier se habitat toe, gewapen met kameras en geïnstalleerde kameravalle. Die indringing maak die eens vredeliewende diere aggressief. Dierevrektes op die teerpaaie van voortsnellende voertuie het ook nie voorheen bestaan nie. Die grondpaaie is intussen geteer om die toeriste na hul uitkykpunt so gou as moontlik te vervoer en die rit te vergemaklik. Grondwater word weer onttrek om luukse wonings met swembaddens (en vermaak) te bou om veral diegene te beloon wat ruim geld aan die WWF of ander programme geskenk het. Soortgelyk is 'n hotel op die Kraterrand in Afrika opgerig – al was wetgewing ook sus en so – met en deur die geld van sy hoogheid Prins Karim Aga Khan IV. Hier doen die Massai kultuurdansies vir aalmoese – sonder ander heenkome. Die Massai is die eerste keer gedwing om 'n onteieningsdokument te onderteken, al kon hulle nie lees nie. Die tweede maal was in 1974. Die derde maal lyk nie so afsienbaar in die toekoms nie: soetwater word uit die krater gepomp deur die hotel, met die gevolg dat die omliggende woude sterf. Maar dit skeel die toeriste nie veel nie, want weer word die Massai verantwoordelik gehou – dit is glo hul beeste wat die grond vertrap en verpoeier. In Indië sal die doodnormale bevolking, sonder geld of $10 000-skenking vir die tierprogram, nooit hul heimat weer sien nie. Ondertussen verkeer die meeste ekotoeriste en weldoeners (of skenkers) in die waan dat "ons die laaste mense op aarde is wat tiere ooit weer lewend sal sien." Oor sulke mense, skryf Huismann: "Die apokalyptisch angehauchte Tigerkampagne des WWF hat in ihr ein dankbares Medium gefunden."

Terselfdertyd is in Indië, spesifiek in die Nagarhole Park, die voormalige Adivasi-dorpe platgestoot, om plek te maak vir Bloekomboom- en kiaatboomplantasies. Maar ook houtfirmas en mynbouondernemings en fabrieke het hul weg na die nasionale parke oopgebaan.

4. Pleks daarvan om eenvoudig die diere, soos tiere, met rus te laat, volgens Dr. Latika Nath Rana, sodat die dierebevolking self weer kan aanwas, word geld gemors op verdere reklame, prag-en-praalinterieur en straat- en padmooimaak wat absoluut niks met die tierbeskerming verband hou nie. Die skenker se geld beland ook in die koffers van die funksionarisse. En in sake wat bestaan uit beamtes, tierdeskundiges en politici wat almal van die nasionale tierbegrotingsgeld leef. Met al die geld wat byvoorbeeld in Indië se tierprogram ingepomp is, kon elke liewe tier vier wagte gekry en elkeen van die 39 natuurreservate met 'n beskermende muur omhein geword het. Die geld kon verder gebruik word om die ontwortelde mense voor werk te skep, sodat hulle nie die tiere sal doodmaak nie, en daar geen rede is vir die tiermafia om te ontstaan nie. Daar is in die dorpies wat rondom die natuurreservaat ontstaan het tans altyd 'n handlanger onder die werklose bevolking te vinde en daar is 'n mark: tee uit tierbeenmeel kos in Chinatown in New York intussen meer as heroïen.

Maar vir Ullash Kumar is die hele nasionale tierbegroting en -program net 'n voorwendsel vir geld en grondroof. Die WWF is medeverantwoordelik vir die huidige stand van sake:

5. Die agteruitgang van die wilde diere word nie gestop nie en/of die wilddiewery neem toe. Die gemeganiseerde reklame en pleidooie word eenvoudig voortgesit. Waar daar wel sukses met die aanteling of aanwas van die dierespesies is, gebeur dit dikwels dat 'n oorbevolking diere ontstaan wat uitgedun moet word. Verskuiwing kan 'n dierspesie, soos die luiperd, aggressief teenoor die mens maak wat hom van sy habitat ontwortel het. Die ander opsie is trofeejag, met die ou stereotipe wat herhaal word van die groot blanke en manlike wildjagter uit Europa en die VSA wat uit die koloniale dae in 'n heel eksklusiewe jagreservaat die natuur tem en oorwin – teen 'n sommetjie geld, natuurlik. Om hierdie rede word die uitsetting van die woudbewoners byvoorbeeld dikwels beskou as rassisties en neokoloniaal. Ondertussen verkondig die WWF luidkeels wyd en syd aan die wêreldpubliek tot watter mate die betrokke dierespesie en sy habitat steeds op die randjie van uitsterwing staan. Die geld rol steeds in, alles onder die dekmantel van "volhoubaarheid". En dikwels word WWF-werkers ook deur die ou bosbewoners vir 'n losprys ontvoer.

Duistere transnasionale bedrywighede Die modus operandi van transnasionale maatskappye, wat lede is van die WWF, wyk nie te veel van die natuurreservate s'n af nie. Vir Huismann is dit vir die publiek en veral vir omgewingsdrukgroepe soos Greenpeace en Friends of the Earth geen geheim meer dat die lede wat die WWF met groot geld toegooi juis die grootste omgewingsondaars is nie. Van nader beskou word die volgende roete gevolg.

1. In die Globale Noorde word reëls neergelê hoe om meer omgewingsvriendelik te wees, soos om omgewingsuitlaatgasse te verminder, hoe om produkte te verbou wat teoreties minder besoedeling sal afgee, hoe om die koolstofvoetspoor te verminder, en hoe om voedselsekerheid te verbeter. Dikwels word na onbeproefte strooihalms gegryp, soos biodiesel. Die Europese ooreenkoms het byvoorbeeld 'n kunsmatige wêreldmark vir biobrandstof geskep. Tot die jaar 2020 moet 10 persent van die biobrandstof in Europese voertuie uit plante kom. Die VSA volg 'n soortgelyke reël. Terwyl die landbougrond in Europa te waardevol en te skaars was, word die biobrandstof uit plante in die Globale Suide verbou. Twee Duitse politici was veral van besondere diens by die werwing van belangstelling in hierdie biobrandstof: Angela Merkel en Renate Künast. Dit was in hul tyd as Duitse omgewingsministers dat die droombeeld voorgehou is van die Europese Unie wat wêreldwyd die voorloper van biobrandstof moet word. Künast het selfs sover gegaan om die boere die "Oliesjeiks van môre" te noem. Intussen het hulle besef dat hul politiekery 'n fout was, maar gister se foute en omgewingsvernietiging kan nie meer ongedaan gemaak word nie – selfs al sou hulle ook wou. Die gevolg was in Latyns-Amerika, Asië of Afrika dieselfde: Bioimperialisme.

Die ander "probleem" is die voedselsekerheid wat uit 'n Malthusiaanse siening met die bevolkingsgroeikoers moet ooreenstem. Vir Huismann is dit loutere snert. "Meer mense = meer kos produseer" is 'n Malthusiaanse drogredenasie, aangesien die helfte van alle voedsel bederf, nie verkoop word nie, of weggegooi word (dikwels omrede dit as lelik beskou word, ander kere om prysregulering), voordat dit die verbruiker bereik. Die probleem lê in wese in die eweredige verspreiding van die voedsel, nie die verbouing daarvan nie.