Malta (Maltees: [ˈmɐltɐ]; Engels: [ˈmɒltə] of [ˈmɔːltə], ), amptelik die Republiek Malta (Maltees: Repubblika ta' Malta; Engels: Republic of Malta), is 'n klein Suid-Europese eilandstaat sentraal geleë in die Middellandse See, 80 km suid van Sisilië, 284 km oos van Tunisië en 333 km noord van Libië, met Gibraltar 1 755 km na die weste en Alexandrië 1 508 km na die oostekant.
duimnael|links|Nasa-satellietbeeld van Malta Malta beslaan net meer as 316 km² in landoppervlak, wat dit een van die wêreld se kleinste state maak. Die Maltese argipel bestaan uit die eilande Malta, Gozo, Comino en verskeie klein onbewoonde eilande onder andere Cominotto en Filfla. Dit is ook een van die lande met die hoogste bevolkingsdigtheid ter wêreld. Malta se de facto hoofstad is Valletta en die grootste stad is Birkirkara. Die hoofeiland bestaan uit heelwat dorpe wat saam 'n Groter stedelike gebied (GSG) vorm met 'n totale bevolking van 368 250, volgens Eurostat. Die land het twee amptelike tale, Maltees (grondwetlik die nasionale taal) en Engels.
Regdeur die geskiedenis was Malta se unieke ligging van groot strategiese belang, met die gevolg dat opeenvolgende ryke en moondhede oor die eilande geheers en regeer het. Dit sluit in die Fenisiërs, Grieke, Romeine, Arabiere, Normandiërs, Aragonese, Habsburg-Spanjaarde, Orde van Malta, die Franse en die Britte. In 1964 verkry Malta onafhanklikheid van die Verenigde Koninkryk en word in 1974 'n republiek. Malta behou lidmaatskap tot die Britse Statebond na onafhanklikheidswording. Malta tree in 1964 toe tot die Verenigde Nasies en in 2004 tot die Europese Unie. Malta is ook 'n ondertekende van die Schengen-ooreenkoms en het in 2008 deel geword van die Eurosone.
Malta het 'n lang Christelike geskiedenis en nalatenskap en is 'n Apostoliese bisdom. Volgens die Bybelboek Handelinge het Paulus skipbreuk gelei op "Melite", soos die Grieke dit genoem het, en het daar 'n bediening gehad. Die Rooms-Katolieke geloof is die amptelike geloof in Malta soos verklaar deur die Maltese grondwet.
Malta is wêreldwyd bekend as 'n toeristebestemming. Die eilande het talryke toeristebestemmings en historiese monumente, insluitend drie Unesco-wêrelderfenisgebiede, onder andere die baie prominente Megalitiese tempels wat van die oudste losstaande strukture ter wêreld is.
Etimologie Die oorsprong van die term Malta is onduidelik. Die moderne variasie spruit uit die Maltese taal. Die mees algemene etimologie is dat die woord Malta afkomstig is van die Griekse woord μέλι (meli), "heuning". Die Grieke het die eiland Μελίτη (Melitē) genoem wat "heuningsoet" beteken (ook die naam van 'n Nereïde ). Dit is heel moontlik as gevolg Malta se unieke heuningproduksie deur 'n endemiese byspesie en daarom ook Malta se populêre bynaam "land van heuning". Die Romeine het voortgegaan en die eiland Melita genoem wat die verlatynsing van die Griekse Μελίτη is. Nog 'n teorie stel voor dat die woord Malta afkomstig is van die Fenisiese woord Maleth wat "toevlugsoord" beteken verwysende na Malta se vele baaie en inhamme.
Geskiedenis
Prehistoriese geskiedenis Erdewerk deur argeoloë gevind by Skorba toon ooreenkomste met erdewerk in Italië gevind en dui daarop dat die Maltese eilande moontlik vir die eerste keer in 5200 v.C. bewoon is deur jagters en landbouers vanaf die groter eiland Sisilië, heel moontlik die Sikane. Die uitsterf van die dwergseekoei en dwerg-olifant word gekoppel aan die eerste aankoms van mense op Malta. Prehistoriese boerdery nedersettings wat terugdateer na die vroeë Neolitiese tydperk is ontdek in oop gebiede en ook in grotte, soos Ghar Dalam.
Die Sikane, algemeen beskou as verwant aan die Iberiërs, was die enigste stam sover bekend om die eiland op daardie tydstip te bewoon. Die bevolking op Malta het graan verbou, met vee geboer en, in ooreenkoms met ander antieke Mediterreense kulture, 'n vrugbaarheidsfiguur aanbid. Die figuur word verteenwoordig in groot hoeveelhede Maltese prehistoriese artefakte en soortgelyke beeldjies, insluitend die Venus van Willendorf.
duimnael|250px|links|Megalitiese tempelkompleks duimnael|250px|Die tempelkompleks van Mnajdra Erdewerk van die Ghar Dalam-tydperk stem ooreen met erdewerk gevind in Agrigento, Sisilië. 'n Kultuur van megalitiese tempelbouers het ook in hierdie vroeë periode ontstaan of sy weg tot hier gevind. Gedurende 3500 v.C. het hierdie mense sommige van die wêreld se oudste vrystaande strukture gebou in die vorm van die megalitiese Ġgantija tempels op Gozo; ander vroeëre tempels sluit die van Ħaġar Qim en Mnajdra in.
Die tempels het 'n kenmerkende argitektuur, tipies 'n komplekse drieblaarklawervormige ontwerp, en is gebruik vanaf 4000 tot 2500 v.C. Dierbeendere en 'n mes gevind agter 'n verwyderbare altaarsteen dui op moontlike tempelrituele wat dierofferandes ingesluit het. Voorlopige inligting dui daarop dat offerandes gebring is aan die godin van vrugbaarheid, wie se standbeeld nou staan in die Nasionale Museum van Argeologie in Valletta. Hierdie kultuur het blykbaar vanaf die Maltese eilande verdwyn omstreeks 2500 v.C. Argeoloë spekuleer dat die tempelbouers slagoffers was van plae en siektes. Ander weer het gespekuleer oor die ooreenkoms tussen die gebeurtenis en Plato se weergawe van die verdwyning van Atlantis.
'n Ander interessante argeologiese kenmerk van die Maltese eilande, dikwels toegeskryf aan die antieke bouers, is ewewydige eenvormige groewe genoem wa spore of wa groewe. Dit kan op verskeie plekke regoor die eilande gevind word met die mees prominente in 'n area van Malta genaamd "Clapham junction". Hierdie verskynsels is moontlik veroorsaak deur die wegvreet van sagte kalksteen deur houtwiel waens.
Na 2500 v.C. het die Maltese eilande ontvolk en was dit onbewoon vir 'n hele paar dekades tot die koms van 'n nuwe instroming van bronstydperk immigrante. Dit was 'n kultuur wat hulle dooies veras het en kleiner megalitiese strukture genaamd doldems aan Malta bekend gestel het. .
Grieke, Fenisiërs en Romeine
Rondom 700 v.C. vestig die Antieke Grieke hulle op Malta, meestal in en om die gebied waar Valletta nou is. 'n Eeu later sluit Fenisiese handelaars by die plaaslike bevolking op die eiland aan. Hulle het die eilande as 'n stop op hulle handelsroetes vanaf die oostelike Middellandse see na Cornwall gebruik. Die Fenisiërs bewoon die gebied nou bekend as Mdina, asook die omliggende dorp Rabat wat hulle Maleth noem. Die Romeine, wat ook in Mdina gebly het, het na Mdina (en die eiland) as Melita verwys.
duimnael|250px|links|Roomse mosaïek uit Rabat, Malta Na die val van Fenisië in 400 v.C. kom die gebied onder die beheer van Kartago, 'n voormalige Fenisiese kolonie. Gedurende hierdie tyd het die mense op Malta hoofsaaklik olywe en karob verbou, en tekstielware geproduseer.
Tydens die Eerste Puniese Oorlog om 264 v.C. veroorsaak spanning dat die Maltese teen Kartago rebelleer en beheer van hulle garnisoen oorgee aan die Romeinse konsul Sempronius. Malta bly lojaal aan Rome tydens die Tweede Puniese Oorlog en die Romeine beloon hulle met die titel van Foederata Civitas, 'n benoeming wat beteken dat hulle vrygestel is van die betaling van skatting of die heerskappy van die Romeinse reg, alhoewel Malta in hierdie tydstip onder die jurisdiksie van die provinsie van Sisilië val.
Teen 117 n.C. was die Maltese eilande 'n vooruitstrewende deel van die Romeinse Ryk en word bevorder tot die status van Municipium onder Hadrianus. Katakombes in Rabat getuig van 'n vroeë Christelike gemeenskap op die eilande en Handelinge vertel van Paulus wat daar skipbreuk ly en van sy bediening op die eiland.
Met die verdeling van die Romeinse Ryk in oos en wes in die 4de eeu, word Malta onder beheer van die Griekssprekende Bisantynse Ryk 395-870 geplaas, wat vanuit Konstantinopel regeer het. Hoewel Malta onder Bisantynse heerskappy was vir vier eeue, is nie veel uit hierdie tydperk bekend nie. Daar is bewyse dat Germaanse stamme, insluitend die Gote en Vandale, kortstondig beheer oor die eilande gehad het alvorens die Bisantyne met 'n teenaanval begin het en Malta herower het.
Die Arabiese tydperk en die Middeleeue duimnael|links|upright|Rogier I van Sisilië het Malta terug gedraai na Christelike heerskappy duimnael|Vlag van die Aragonese koninkryk van Sisilië In 870 n.C. word Malta ingesleep by die Arabies-Bisantynse oorloë. Die verowering van Malta word gekoppel aan die van Sisilië nadat Admiraal Eufemius sy mede-Bisantyne verraai het deur die Aghlabid-dinastie te versoek om die eiland binne te val.
Die Arabiese kroniekskrywer en geograaf al-Himyari vertel dat in 870 n.C. na 'n geweldadige stryd in Malta teen die Bisantynse besettingsmagte, die Arabiese invallers, eers gelei deur Halaf al-Hadim, en later deur Sawada ibn Muhammad, die eiland gestroop en geplunder het, die belangrikste geboue vernietig het en vir alle praktiese doeleindes onbewoond gelaat het. Dit was later weer gekoloniseer deur Arabiere vanaf Sisilië in 1048–1049 n.C. Daar heers onsekerheid of die nuwe nedersetting die gevolg van demografiese uitbreiding in Sisilië was, toegeskryf aan hoër lewenstandaarde (in welke geval die kolonisering dan 'n paar dekades vroeër plaasgevind het), of as gevolg van burgeroorlog onder die Arabiese heersers wat in 1038 n.C. in Sisilië uitgebreek het nie. Brincat, M.J. (1995) Malta 870–1054 Al-Himyari's Account and its Linguistic Implications. Valletta, Malta: Said International.
Die Arabiere het nuwe besproeiing asook sommige vrugte en katoen op die eiland bekend gestel. Die Sisilies-Arabiese taal is aangeneem vanaf Sisilië. Die taal ontwikkel tot in moderne Maltees.
Die plaaslike Christene is geloofsvryheid gegun. Hulle moes egter jizya betaal, 'n vorm van belasting vir nie-Moslems. Hulle was gevolglik vrygestel van Zakaat, die belasting wat deur Moslems betaal moes word. Die Normandiërs, as deel van hulle verowering van Sisilië in 1091 n.C., verdryf al die More uit die suide van Italië. Die Normandiese leier Rogier I van Sisilië is verwelkom deur die plaaslike Christene. Graaf Rogier I, volgens die plaaslike mite, het uit dankbaarheid vir die Maltese se lojaliteit tydens sy veroweringstogte, 'n deel van sy rooi en wit banier afgeskeer en as geskenk oorhandig. Dit is volgens die mite die basis vir die moderne Maltese vlag.
duimnael|Ottomaanse kaart van Malta, deur Piri Reis Die Normandiese tydperk was produktief; Malta het deel geword van die nuutgevonde Koninkryk van Sisilië, wat buiten Sisilië en Malta ook die suidelike helfte van die Italiaanse skiereiland ingesluit het. Die Rooms-Katolieke geloof is weer ingestel as staatsgodsdiens met Malta nou onder die bisdom van Palermo. Normandiese argitektuur maak ook plek-plek 'n verskyning, veral in die antieke hoofstad van Mdina. Tancred van Lecce (Tancred van Sisilië), die laaste Normandiese monarg, omskep Malta in 'n leenheerskap of feudale grondeiendom binne die koninkryk en stel 'n Graaf van Malta aan. Weens die eilande se strategiese belang en ligging was besetting deur ander moondhede altyd 'n moontlikheid. Gedurende die tyd is die mans van Malta almal gemilitariseer om potensiële invalle af te weer. Die eerste grawe was almal bekwame Genuese kaapvaarders.