Oostenryk (Duits: Österreich, [ˈøːstɐˌʁaɪç], ), amptelik die Republiek Oostenryk (Republik Österreich, ), is 'n federale republiek in Sentraal-Europa wat uit nege deelstate (waaronder die hoofstad Wene) bestaan. Die land grens in die weste aan Switserland en Liechtenstein, in die noorde aan Duitsland en Tsjeggië, in die ooste aan Slowakye en Hongarye, en in die suide aan Italië en Slowenië. Die huidige grense is in die Vredesverdrag van Saint-Germain in 1919 vasgelê wat die ontbinding van Oostenryk-Hongarye ná die Eerste Wêreldoorlog gereël het.

duimnael|links|Personifikasie van Austria op die Austriafontein in Wene duimnael|links|'n Kapelletjie bo-oor 'n see van mis. Uitsig vanaf die bergpiek Oberfallenberg in die deelstaat Vorarlberg oor die Switserse Alpe Die vroegste gedokumenteerde gebruik van die Duitse landsnaam Österreich as Ostarrichi is in 'n Oudhoogduitse teks van 996 oorgelewer. Daarnaas was ook die Latynse naam Austria gebruiklik. In 1156 het Oostenryk, wat oorspronklik hoofsaaklik deur setlaars uit die aangrensende Beiere ontwikkel is, 'n selfstandige hertogdom in die Heilige Romeinse Ryk geword. Nadat die Babenberg-dinastie in 1246 uitgesterf het, het die land onder Habsburgse bewind gekom. Die gebied, wat as Oostenryk bekendgestaan het, het later die hele Habsburgse monargie behels en uiteindelik die Keiserryk Oostenryk, wat in 1804 gestig is, en die Oostenrykse helfte van die dubbelmonargie Oostenryk-Hongarye wat van 1867 af as veelvolkestaat bestaan het.

Die huidige republiek, aanvanklik vanweë die oorheersende taal ook Duits-Oostenryk genoem, is in 1918 gevorm nadat Oostenryk-Hongarye 'n nederlaag in die Eerste Wêreldoorlog gely het en die seëvierende geallieerdes die vereniging van Duits-Oostenryk met die Duitse Ryk (retrospektief ook Republiek van Weimar genoem) verbied het. As selfstandige republiek het Oostenryk tussen die twee wêreldoorloë tot 'n diktatoriese korporatiewe staat ontwikkel voordat dit in 1938 met die sogenaamde Anschluss of aansluiting by die Nasionaal-Sosialisties oorheerste Duitse Ryk ingelyf is.

Die geallieerde moondhede, wat Oostenryk – net soos Duitsland – ná die Tweede Wêreldoorlog as besettingsmagte geadministreer het, het Oostenryk se selfstandige status herstel. Ná die einde van die geallieerde besetting het Oostenryk homself in 1955 tot 'n permanent onsydige, onafhanklike republiek verklaar en tot die Verenigde Nasies toegetree. Oostenryk is sedert 1 Januarie 1995 'n lidland van die Europese Unie. In 1999 is die Euro-geldeenheid ingevoer; Euro-banknote en -muntstukke is sedert 2002 in omloop.

Etimologie duimnael|links|Die eerste verskyning van die woord "Ostarrîchi", omring in rooi. Die moderne Republiek Oostenryk beskou hierdie dokument van 996 as die stigting van die nasie. Die Duitse naam vir Oostenryk, Österreich, is ontleen aan die Ou Hoogduitse Ostarrîchi, wat "oostelike ryk" beteken en vir die eerste keer 966 in die "Ostarrîchi-dokument" verskyn het. Dit is dalk 'n vertaling van die Middeleeuse Latyn Marchia orientalis in 'n plaaslike (Beierse) dialek.

Oostenryk is in 976 as 'n Beierse prefektuur gestig. Die woord Austria is 'n Latinisering van die Duitse naam en het in die 12de eeu vir die eerste keer verskyn. Teen dié tyd was die Donaubekken van Oostenryk (Opper- en Neder-Oostenryk) die mees oostelike dele van Beiere.

Geografie duimnael|links|Nasa-satellietbeeld van Oostenryk links|duimnael|Die Donau naby Linz duimnael|Engelstalige kaart van Oostenryk duimnael|Topografiese kaart van Oostenryk Oostenryk se gebied strek in 'n oos-wes-rigting oor 'n afstand van maksimaal 575 km en in 'n noord-suid-rigting oor 'n afstand van maksimaal 294 kilometer.

Sowat sestig persent van Oostenryk se oppervlakte is bergagtige gebiede wat deel uitmaak van die Oos-Alpe, waaronder die Tirolse Sentraal-Alpe, Hohe Tauern en Niedere Tauern, Noordelike Kalkalpe, Suidelike Kalkalpe en Wienerwald. In die omgangstaal word derhalwe na die land soms as die Alperepubliek verwys. Noord van die Donau lê die graniet- en gneisplato van Opper- en Neder-Oostenryk wat deel uitmaak van die ou Boheemse Plato. Sy uitlopers strek tot in Tsjeggië en die Duitse deelstaat Beiere. In die ooste grens die Rompgebergte aan die Klein Karpate.

Die grootste vlaktes lê in die ooste van die land langs die Donau, veral die Alpevoorland en die Weense Bekken met die Marchfeld, en in die suidelike Stiermarke. Die laasgenoemde streek word vanweë sy landskaplike ooreenkomste met die Italiaanse Toskane dikwels ook die Stiermarkse Toskane genoem.

Burgenland, die gebied oos van die Alpe-Karpate-boog, gaan in die Pannoniese Laagvlakte oor en toon in landskaplike en klimatiese opsig baie ooreenkomste met sy oostelike buurland Hongarye waarvan dit tot in die jaar 1921 deel uitgemaak het.

Sowat 'n kwart van Oostenryk se totale oppervlakte van 83 878,99 vierkante kilometer word deur vlaktes en heuwellande beslaan. Slegs 32 persent van die land lê benede 500 meter bo seevlak, terwyl 43 persent bebos is.

Die vyf hooflandskappe van Oostenryk is: Die Oostenrykse gedeelte van die Oos-Alpe (52 600 vierkante kilometer of 62,8% van die totale oppervlakte), die Oostenrykse gedeelte van die Alpynse en Karpate-voetheuwels (9 500 vierkante kilometer of 11,3%), die graniet- en gneisplato wat deel uitmaak van die Boheemse Massa (ook Boheemse Massief of Plato genoem, 8 500 vierkante kilometer of 10,2%) en op meerdere plekke tot suid van die Donau strek, en die Oostenrykse gedeelte van die Weense Bekken (3 700 vierkante kilometer of 4,4%).

Die laagste punt is Hedwighof in die munisipaliteit Apetlon (deelstaat Burgenland) met 114 meter bo seevlak.

Berge duimnael|Großglockner is die hoogste bergpiek van Oostenryk Die hoogste bergpieke in Oostenryk toring op hoogtes van meer as 3 000 meter bo seevlak. Die hoogste pieke is Großglockner in die Hohe Tauern-bergreeks met 3 798 meter, Wildspitze (Ötztaler Alpe, 3 774 meter) en Weißkugel (eweneens Ötztaler Alpe, 3 738 meter).

Oostenryk se berglandskappe speel 'n belangrike rol vir die toerismesektor. Daar is 'n groot aantal wintersportgebiede, terwyl bergtoere en bergklim in die somers gewild is.

Mere duimnael|'n Wintertoneel by die Neusiedlermeer Die Neusiedlermeer in die deelstaat Burgenland is die grootste meer in die land (77% van sy totale oppervlakte van 315 vierkante kilometer is in Oostenryk en die res in Hongarye geleë) en naas die Balatonmeer in Hongarye een van min steppemere in Europa. Met 'n gemiddelde diepte van ongeveer een meter is dit een van die vlakste mere in Oostenryk.

Ander groot mere sluit die Attermeer (46 km²) en die Traunmeer (24 km²) in Opper-Oostenryk in. 'n Klein gedeelte van die Bodenmeer met 'n totale oppervlakte van 536 km² is eweneens op Oostenrykse gebied geleë, alhoewel die internasionale grenslyne op hierdie meer nog nie noukeurig bepaal is nie.

Gedurende die somer is die Oostenrykse mere gewilde toeristetrekpleisters, veral die mere van Karintië en die Salzkammergut. Die bekendste mere is die Wörthermeer, die Millstättermeer, die Ossiachse-meer en die Weissenmeer in Karintië. Ander bekende mere sluit in die Mondmeer en Wolfgangmeer aan die grens tussen Salzburg en Opper-Oostenryk.

Administratiewe verdeling Oostenryk word administratief verdeel in nege federale deelstate (Bundesländer), waaronder die federale hoofstad (Bundeshauptstadt) Wene. Die deelstate word verder verdeel in 79 distrikte en in 2100 munisipaliteite. Vyftien stedelike nedersettings het 'n besondere administratiewe status as sogenaamde statutêre stede (Statutarstädte) en oefen self die bevoegdhede van 'n distrik uit.

Stedelike nedersettings en agglomerasies duimnael|links|Die federale hoofstad Wene (soos gesien vanuit die noordweste) Die metropolitaanse gebied van Wene is by verre die grootste stedelike agglomerasie in Oostenryk met 'n bevolking van 2,4 miljoen. Die feit dat sowat 'n kwart van die Oostenrykse bevolking in die hoofstadgebied saamgetrek is, weerspieël Wene se vroeëre funksie as administratiewe setel en vernaamste nywerheidsgebied in die dubbelmonargie Oostenryk-Hongarye.

Ander groot agglomerasies het rondom die deelstaathoofstede Graz (Stiermarke), Linz (Opper-Oostenryk), Salzburg (in die gelyknamige federale deelstaat) en Innsbruck (Tirol) ontstaan. Ander belangrike stedelike nedersettings sluit in (van wes na oos) Feldkirch, Dornbirn en Bregenz (deelstaat Vorarlberg), Villach en Klagenfurt (Karintië), Wels (Opper-Oostenryk), St. Pölten en Wiener Neustadt (Neder-Oostenryk). Altesaam 201 nedersettings, waarvan die bevolkingsgetal grootliks wissel, het stadstatus. Net in die geval van die vyftien statutêre stede is besondere administratiewe bevoegdhede aan hierdie stadsregte verbonde. Migrasie vanuit ekonomies minder ontwikkelde gebiede na die digbevolkte stedelike agglomerasies is 'n belangrike vraagstuk.

Klimaat duimnael|links|Köppen-Geiger klimaat-klassifikasie vir Oostenryk duimnael|Donker wolke oor die historiese middestad van Salzburg Oostenryk het 'n gematigde klimaat, alhoewel die land in die oorgangsgebied tussen die Atlantiese en kontinentale klimaatsones van Sentraal-Europa geleë is. Die land ervaar vier seisoene met tipiese kenmerke ten opsigte van temperatuur en ander klimatiese karakteristieke.

Oostenryk kan in drie groot klimaatsones verdeel word: Die ooste toon met sy Pannoniese klimaat reeds sterk kontinentale invloede – die gebied kry minder reënval as die res van die land en het baie warm somers en koel winters. Die bergstreke het 'n Alpynse klimaat met hoë reën- en sneeuval (met die uitsondering van sommige valleie soos die Bo-Innvallei), kort somers en lang winters. Die res van die land is 'n klimatiese oorgangsgebied met Atlantiese invloede in die weste en kontinentale invloede in die suidooste.

Politiek Staatsorganisasie duimnael|links|upright|Die huidige Bondspresident Alexander Van der Bellen duimnael|Die Presidensiële Kanselary is die ampswoning van die Oostenrykse Bondspresident duimnael|Die Federale Kanselary is die ampswoning van die Oostenrykse Bondskanselier duimnael|links|upright|Sebastian Kurz het twee keer as Oostenrykse Bondskanselier gedien duimnael|Die Parlementsgebou in Wene, setel van beide die nasionale raad en die federale raad Oostenryk is volgens sy grondwet (Bundesverfassung) uit 1920, in die 1929-weergawe wat in 1945 heringestel is, 'n federale, parlementêre demokratiese republiek. Sy hoofstad en regeringsetel is Wene. Oostenryk is in administratiewe opsig verdeel in nege deelstate (Länder), wat gedeeltelik selfregerend is.

Die Bondspresident (Bundespräsident) fungeer as die staatshoof en verteenwoordiger van die republiek op internasionale vlak. Sy amp is veral seremonieel en simbolies van aard. Die president van die nasionale raad (Präsident des Nationalrates), die Bondskanselier (Bundeskanzler) en die president van die federale raad (Präsident des Bundesrates) volg as ampsdraers in die rangorde.

Die Bondskanselier is die regeringshoof en bepaal die grondbeginsels van die regering se binne- en buitelandse beleid.

In ooreenstemming met die federale staatsbestel beskik ook die deelstate oor hulle eie uitvoerende, wetgewende en regsprekende gesag. Die Bundesrat (Raad van die Deelstate, letterlik "Bondsraad") het net soos die Nationalrat, die nasionale parlement, uitvoerende bevoegdhede. Besluite oor voorgestelde nasionale wetgewing word deur die nasionale raat beraadslaag en dan deur die federale raad goedgekeur of verwerp. Wetsontwerpe van die nasionale parlement wat die regte van die deelstate sou raak, moet deur die Bundesrat goedgekeur word. Die Oostenrykse Grondwet mag met 'n tweederdes-meerderheid in beide die nasionale en federale rade gewysig word, waarna 'n referendum oor die voorgestelde verandering deurgevoer moet word.