Slowakye (Slowaaks: Slovensko, [ˈsloʋensko], ), amptelik die Slowaakse Republiek (Slovenská republika, [ˈsloʋenskaː ˈrepublika], ), is 'n landingeslote land en jong republiek in Sentraal-Europa wat op 1 Januarie 1993 met die ontbinding van Tsjeggo-Slowakye gevorm is.
duimnael|links|'n Ongewone argitektoniese huldeblyk aan die Europese Unie: Op die stadjie Komárno se Europaplein het huise ontstaan wat die tipiese boukuns van alle EU-lidlande uitbeeld Die land word begrens deur Tsjeggië (die tweede opvolgerstaat van Tsjeggo-Slowakye) in die weste, Pole in die noorde, Oekraïne in die ooste, Hongarye in die suide en Oostenryk in die suidweste. Die hoofstad Bratislava is ook die grootste nedersetting in die land.
Die land is grotendeels bergagtige gebied, wat tydens die twintigste eeu 'n geheel gevorm het met die taalkundige en kulturele nou-verwante Tsjeggië, wat egter 'n heel ander ontwikkeling meegemaak het. Tussen die laat 5de en vroeë 6de eeu n.C. het Slawiërs hulle in die gebied gevestig. Hul vroegste politieke entiteit was die 7de eeuse Ryk van Samo, 'n Frankiese koopman. Later was Slowakye een van die kerngebiede van die vroeg-Middeleeuse Morawiese Ryk.
Slowakye het vanaf die 10de eeu die noordelike deel van die Koninkryk Hongarye gevorm. Ná die Mongole-inval van 1241 het Duitse setlaars hulle in die gebied gevestig. Saam met Hongarye het Slowakye in 1526 deel van die Habsburgse monargie, in 1804 van die Keiserryk Oostenryk en in 1867 van die Oostenryks-Hongaarse dubbelmonargie geword. Die emansipasie van die Slowaakse volk, wat vir die grootste deel van sy geskiedenis onder Hongaarse bewind was, het betreklik laat ontwikkel, en eers vanaf die 16de eeu het die Slawiese bewoners na hulself as Slowake begin verwys.
Slowakye was tot in die 18de eeu 'n gebied van groot politieke, ekonomiese en kulturele belang vir Hongarye, veral nadat baie ander landsdele deur die Ottomaanse Ryk beset is. Hongaarse konings is in Bratislava gekroon, terwyl Sentraal-Slowakye tot 'n beduidende mynbougebied ontwikkel het. Nog tot die middel van die 19de eeu was Slowakye die mees ontwikkelde streek in Hongarye. Die industrialisering van die gebied was egter beperk tot enkele streke en het ook nie gepaard gegaan met 'n verstedelikingsproses nie. Die landelike karakter van Slowakye het sodoende bewaar gebly.
'n Nasionale Slowaakse beweging het gaandeweg in die 19de eeu ontstaan, alhoewel baie Tsjegge die Slowaakse volk indertyd nie as 'n selfstandige nasie erken het nie. Gewoonlik is hulle as deel van die Tsjeggiese volk beskou.
Slowakye is tans een van die lidstate van die Europese Unie. Die bevolking het op 18 Mei 2003 in 'n referendum vir toetreding gestem. Dit het uiteindelik plaasgevind op 1 Mei 2004. Sedert 29 Maart 2004 is Slowakye ook 'n lidstaat van die Noord-Atlantiese Verdragsorganisasie (NAVO).
Etimologie duimnael|links|Die berglandskap van die Hoë Tatra (Vysoké Tatry) Die naam "Slowakye" beteken "land van die Slawiërs" (Die Slowaakse Slovensko is ontleen aan Sloven/Slovienin) en verwant aan Slowenië en Slawonië. In Middeleeuse Latyn, Duits en ook verskeie Slawiese bronne is die naam gebruik as 'n algemene naam vir Slowake, Slowene, Slawoniërs en Slawiërs. Volgens een van die teorieë het tussen die 13de een 14de eeue 'n nuwe vorm van die nasionale naam vir die voorouers van die Slowake ontstaan, moontlik vanweë buitelandse invloed: die Tsjeggiese woord Slovák (van 1291 af in Middeleeuse bronne). UHLÁR, V.: O pôvode názvov Slovák, Slovensko a slovenčina Dié vorm het geleidelik die naam vir die manlike lede van die gemeenskap vervang, maar die vroulike naam (Slovenka), die naam vir die bewoonde land (Slovensko) en die taalnaam (slovenčina) het almal behoue gebly, gebaseer op die ouer vorm (vergelyk met die Sloweense eweknieë). Die meeste buitelandse vertalings is ontleen aan hierdie nuwer vorm (onder andere Slovakia in Engels, Slowakei in Duits, Slovaquie in Frans en "Slowakye" in Afrikaans).
In Middeleeuse Latynse bronne is die terme Slavus, Slavonia of Slavorum (en ander variante soos vroeg as 1029) gebruik. In Duitse bronne is die Slowaakse lande "Windenland" of "Windische Lande" genoem (vroeë 15de eeu), . terwyl die vorme "Slovakia" en "Schlowakei" in die 16de eeu begin verskyn het. Die huidige Slowaakse vorm Slovensko is vir die eerste keer in die jaar 1675 gebruik.
Reeds in die 15de eeu is na die gebied van die huidige Slowakye as Slováky verwys, en in die 18de eeu het benamings soos Slovakia, Slavonia, Sclavonic en Slowakey/Slowakei in die plaaslike Slawiese en die Duitse taalgebied gebruiklik geraak.
Aangesien die gebied van Slowakye al in die laat 5de eeu deur Slawiese stamme bewoon is, wat vanaf die 9de eeu na hulself as Slověne verwys het, is die benaming Slowakye vermoedelik reeds vroeër gebruik. Die oorspronklike Slawiese woordvorm leef voort in afleidings soos die plaaslike eiename Slovák (manlik) en Slovenka (vroulik) en die byvoeglike naamwoord slovenský.
Die Hongare het sedert die 18de eeu na die gebiede van die Koninkryk Hongarye, wat noord van die Theiss- en Donauriviere geleë was, in nieamptelike taalgebruik dikwels as Bo-Hongarye verwys, terwyl die res van die land Neder-Hongarye genoem is.
Tussen die 16de en 18de eeu het die term Bo-Hongarye in geografiese opsig net die ooste van Slowakye en die aangrensende gebiede van die huidige Noord-Hongarye ingesluit wat nie deur die Turkse Ottomane beset was nie. Die term Neder-Hongarye het na Wes- en Sentraal-Slowakye), maar soms ook na die res van die land verwys.
Geografie duimnael|Nasa-Satellietbeeld van Slowakye duimnael|Kaart van Slowakye duimnael|Topografiese kaart van Slowakye Slowakye is 'n landingeslote land en het gemeenskaplike grense met Oostenryk (91 kilometer), Pole (444 kilometer), Tsjeggië (215 kilometer), Hongarye (515 kilometer) en Oekraïne (90 kilometer). Sy maksimale lengte in wes-oostelike rigting beloop 428 kilometer, sy maksimale wydte in noord-suidelike rigting 195 kilometer.
Die land word in die noorde en in sy sentrum oorheers deur die Hoë Tatra (Vysoké Tatry) en Lae Tatra (Nízke Tatry), wat albei deel uitmaak van die Karpate, die Klein en Groot Fatraberge (Malá Fatra en Veľká Fatra), die Slowaakse Ertsgebergte (Slovenské rudohorie) en baie ander kleiner bergreekse. Veral in die Tatra word Slowakye deur Alpynse landskapsvorme gekenmerk. Slowakye beslaan 'n klein gedeelte van die Bieszczady langs die grens met Pole en Oekraïne.
In die suide strek die land tot by die Hongaarse Laagvlakte. Die grootste riviere is die middelloop van die Donau met 'n lengte van 170 kilometer, wat grotendeels ook die grens met Hongarye vorm, Tisa, Waag (Váh, met 'n lengte van 400 kilometer vloei dit deur sowat die helfte van Slowakye se grondgebied), Morava en Hron. Gerlachovský štít in die Hoë Tatra is die hoogste bergspits (2 655 meter bo seevlak).
Die Slowaakse klimaat is kontinentaal en gematig, met warm en droë somers en koue, vogtige winters. Die gemiddelde temperature is 0 °C in Januarie, die koudste maand, en 21 °C in Julie en Augustus, die warmste maande. Die hoër geleë gebiede is gewoonlik 130 dae per jaar met sneeu bedek.
Riviere Die Europese hoofwaterskeiding tussen die Swartsee (met die Donau as belangrikste rivier) en die Oossee (Vistula) loop deur Slowakye, waarby meer as 90 persent van die land binne die Donau se stroomgebied val. Die Donau (Slowaaks: Dunaj) vloei oor 'n lengte van 172 km deur Suidwes-Slowakye (insluitende die grenslyne van 22,5 km elk wat met Oostenryk en Hongarye gedeel word). Met 'n gemiddelde afloop van sowat 2000 m³/s naby Bratislava is dit verreweg die waterrykste rivier in die land.
Die Váh is die langste Slowaakse rivier met 403 km. Dit vloei deur die hele noorde en weste van die land. Ander belangrike riviere is Morava aan die grense met Tsjeggië en Oostenryk, Hron in Sentraal-Slowakye, Ipel' aan die grens met Hongarye, en Sajó, Hornád, Laborec, Latorica en Bodrog in Oos-Slowakye. Die Tisarivier vloei deur die suidoostelike uithoek van die land. Poprad en Dunajec, wat oos van die Tatra-bergreeks langs die grens met Pole vloei, is die enigste twee riviere wat binne die Vistula se stroomgebied val.
Mere duimnael|Štrbské pleso, 'n gletserbergmeer in die Hoë Tatra Die meeste Slowaakse mere word in die Hoë Tatra-bergreeks aangetref waar gedurende die ystydperk talle bergmere as gevolg van vergletsering gevorm het. Die grootste van hierdie mere, waarvan die getal op 175 beraam word, is Veľké Hincovo pleso met 'n wateroppervlak van 20 hektaar en 'n diepte van 53 meter. In ander landsdele kom natuurlike mere nouliks voor. Mensgemaakte damme vir vloedbeheer en hidroëlektriese kraglewering het orals in Slowakye, veral langs die Váh-rivierloop, ontstaan.
Die grootste hiervan is die Oravadam wat ook tot 'n gewilde toeriste-aantreklikheid ontwikkel het. Die suidelike en suidoostelike oewers lok watersportentoesiaste en duikers, terwyl bote toeriste na 'n eiland in die dam neem wat die laaste oorblyfsel van voormalige dorpe vorm wat tydens die bou van die dam oorstroom is.
Štrbské pleso is 'n bergmeer in die Hoë Tatra wat deur gletsersmeltwater gevorm is en net soos die Oravadam tot 'n gewilde toeristeoord ontwikkel het. Die meer is 1 346 m bo seevlak geleë, met 'n oppervlak van byna 20 hektaar en 'n maksimale diepte van 20 meter. Die meer is op 'n gemiddeld van 155 dae per jaar met ys bedek, en daar is geen natuurlike bogrondse wateraf- of -toevloei nie.
Ook vir die Donau-waterkragsentrale Gabčíkovo is damme aangelê. Die kunsmatige mere rondom Banská Štiavnica is deur die plaaslike mynboubedryf aangelê.
Demografie Etniese groepe duimnael|links|Etniese groepe in Slowakye duimnael|Die Donau in Bratislava, met die Ou Brug (Starý most) en Apollobrug duimnael|Die magtige vesting van Spiš, een van die grootste kastele in Europa en Unesco-wêrelderfenisgebied Slowakye se bevolking het sedert onafhanklikwording op sowat 5,4 miljoen gestagneer. Met 'n gemiddelde ouderdom van 35,5 jaar behoort Slowakye tot die jonger lande in Europa.
Naas etniese Slowake (85,8 persent van die totale bevolking) is daar minderhede van Hongare (9,7 persent), 1,7 persent Roma, 0,8 persent Tsjegge, 0,4 persent Ruthene, 0,2 persent Oekraïners, 0,1 persent Duitsers en klein groepe Pole en Russe.
In die laaste sensus van 2011 het 106 000 inwoners hulself as etniese Roma beskryf. Volgens meer realistiese beramings is daar egter tussen 300 000 en 'n halfmiljoen Roma in Slowakye. Hulle is veral in die ooste van die land as gevolg van hul relatief lae opleidingsvlakke, hoë werkloosheid en die gebrek aan integrasie in die Slowaakse samelewing aan diskriminasie blootgestel.
Godsdiens Volgens die sensus van 2001 is 68,9 persent van die bevolking Rooms-Katolieke, 12,9 persent ongebondes, 6,9 persent Lutherane (Augsburgse Kerk), 4,09 persent Grieks-Katolieke, 2,04 persent Gereformeerdes, 1,24 persent Jode en 0,94 persent Oosters-Ortodokses. Die Joodse bevolking, wat tans op sowat 2 300 beraam word, het skerp gedaal in vergelyking met die 120 000 mense voor die Tweede Wêreldoorlog. Daar is ook minderhede van onder meer 5 000 Moslems.
Taal duimnael|links|Taalstruktuur van Slowakye in 2021 Slowaaks, wat deel uitmaak van die Wes-Slawiese taalfamilie, is die amptelike taal van Slowakye. Hongaars word veral in die suide gepraat en word, net soos Tsjeggies, Bulgaars, Kroaties, Duits, Pools, Romani, Rusyn en Oekraïens amptelik as minderheidstaal erken. Nedersettings, waar 'n nie-Slowaakse minderheid in twee of meer sensusse 'n aandeel van ten minste 20 persent van die totale bevolking bereik, kwalifiseer vir die status van "nedersettings met 'n minderheid". Hier word die betrokke taal of tale naas Slowaaks as ampstaal gebruik, terwyl ook inskripsies op openbare geboue twee- of meertalig is. Ondanks die teenkanting van opposisiepartye is die minimum-persentasie Slowaakssprekendes vir die status van "nedersetting met minderhede" in 'n wet van 2011 verlaag tot 15 persent.
Verstedeliking