Eerw. Stephanus Johannes Gerhardus Hofmeyr (Kaapstad, 3 Junie 1839 – Kranspoort, Soutpansberg, 26 Julie 1905) was ’n beroemde 19de-eeuse sendeling in die Nederduitse Gereformeerde Kerk, die eerste Afrikaanssprekende buitelandse sendeling en een van die mees toegewyde sendelinge van dié kerkverband. Hofmeyr, W. Lou(w); Hofmeyr, Nico J.; Hofmeyr, S.M.; Hofmeyr, George S.; Hofmeyr, Johannes W. (samestellers). 1987. Die Hofmeyrs: 'n Familiegeskiedenis. Lynnwoodrif en Bloemfontein: Die Samestellers.
In sy werkie Baanbrekers onder die Suiderkruis, "biografiese sketse van enige voortreflike voorlopers op sendinggebied in Suid-Afrika", sluit prof. G.B.A. Gerdener net een Afrikaner in, naamlik Stephanus Hofmeyr. Hy noem die hoofstuk oor hom "'n Stuk brandhout uit die vuur geruk" en skryf: "Altyd as ons die merkwaardige loopbaan van Stephanus Hofmeyr in oëskou neem en sy treffende bekeringsgeskiedenis lees, dink ons onwillekeurig aan hierdie woorde van Sagaria. Maar dan sien ons hom ook later as die ligtende fakkel in die heidenwêreld, besig om die lig van die evangelie in Afrika te help versprei. In die donker dele van Noord-Transvaal het hy 40 jaar lank deur Gods genade die fakkel van die evangelie omhoog gehou en 'n fondament gelê waarop die Transvaalse Kerk, wat intussen die werk oorgeneem het, vandag (1940) met vrug kan voortbou." Gerdener, prof. G.B.A. 1941. Baanbrekers onder die Suiderkruis. Stellenbosch: Die Christen-Studentevereniging van Suid-Afrika.
Herkoms links|170px|duimnael|Eerw. Hofmeyr se vader, adv. Jan Hendrik Hofmeyr, was magistraat op Bredasdorp. Hofmeyr stam af van ’n merkwaardige familie. Sy vader was adv. Jan Hendrik Hofmeyr (11 September 1796 – 12 Oktober 1877), magistraat op Bredasdorp, en sy moeder Anna Marthina Neethling (28 Januarie 1801 – 9 September 1885). Sy oupa aan vaderskant, ook Jan Hendrik Hofmeyr (23 Junie 1759 – 20 Januarie 1838), was die oudste seun van die Hofmeyr-stamvader in Suid-Afrika, Johan Heinrich, Jan Hinrick of Jan Hendrik Hofmeier, Hoffmeyer of Hofmeyr (17 Maart 1721 – 4 Julie 1908). Stephanus was die derde jongste van die nege (volgens ’n ander bron 11) kinders van Jan Hendrik en Anna Hofmeyr, ’n tante van ds. J.H. Neethling van die moedergemeente Stellenbosch. Sy moeder was, volgens iemand wat haar goed geken het, "een edelaardige vrouw, zonder het te zoeken of mogelik zelfs te denken al de dagen haars levens links en rechts hulp en troost verspreidden". Dreyer, eerw. A. 1924. Eeuwfeest-Album van de Nederduits Gereformeerde-Kerk in Zuid-Afrika 1824 - 1924. Kaapstad: Publikatie-kommissie van de Z.A. Bijbelvereniging.
Kleintyd het sy Hofmeyr-grootmoeder, Elisabeth Margaretha de Waal (3 Mei 1761 – 25 Junie 1846), wat volgehou het dat hy eendag ’n groot voorbidder sou word, gesê: "Fansie is de lieve Heere Jezus sijn kindje en lieve Jezus is in Fansie sijn hartje." Maar volgens sy eie mededeling was hy ’n wilde en ongehoorsame kind. Op Bredasdorp, waar hy deels grootgeword het, het hy nie eintlik gedeug nie. Van sy onbeteuelde jeug het hy self gesê: "Er was eens een jongeling die God niet vreesde. Vrolik en onbedachtsaam holde hij den breeden weg des verderfs af, die eindigt in de hel." Elders het hy gesê (deur prof. G.B.A. Gerdener uit die Hollands vertaal): "Van my kindsheid af het die Here aan my siel gearbei. Ek wis dat ek onbekeerd was. Dit is my gedurig voorgehou, want ek was die wildste, ongehoorsaamste, ondeundste onder die kinders in die huis. As daar ooit 'n ernstige boek of traktaatjie was, dan was dit net vir my geskik. As 'n leraar ernstig gepreek het, veral oor die hel en verdoemenis, dan was die vraag van elkeen na die kerk: Stephanus, het jy goed geluister?"
Skool en bekering duimnael|links|300px|Eerw. en mev. Hofmeyr as pasgetroudes. duimnael|regs|270px|Die "Publieke Kantore" op Bredasdorp, afgeneem in 1870. Dit het moontlik ook die magistraatskantoor gehuisves waar Hofmeyr omstreeks 1853 as klerk gewerk het.
Hofmeyr het sy vroegste onderwys deels aan die skool Tot Nut van 't Algemeen in Kaapstad ontvang. Hy was buitengewoon skrander op skool, maar van sy tiende jaar af het die huisgesin in armoedige omstandighede verkeer (die beskikbare bronne sê nie hoe dit gebeur het nie; trouens net prof. Gerdener noem hierdie feit) sodat Hofmeyr sy onderrig tuis van een van sy susters moes ontvang. Hy moes in dié tyd ook ander werk doen om die wolf van die deur af weg te hou. Veral koeie oppas, messe slyp, lepels en vurke skuur en stryk was van die take wat hy van jongs af gedurig moes verrig. Hy het blykbaar, toe dit weer beter met sy gesin gaan, sy skoolkursus voltooi en toe lesse aan die Zuid-Afrikaansche Athenaeum (Suid-Afrikaanse Kollege) gevolg. Later sou hy sê: "Onder dr. Adamson het ek meer vergeet as geleer. Later, onder dr. Dale, het ek goed begin leer: Latyn, Grieks, skeikunde. Maar, o, die wildheid en ondeundheid! Geen kattekwaad te bedink of ek was daarin."
Op sestienjarige leeftyd het hy die skool verlaat om op te tree as waarnemende klerk van sy vader, wat as magistraat op Bredasdorp aangestel is. In 1858, toe hy min of meer 19 jaar oud was, het hy by 'n agent en afslaer in Kaapstad gaan werk, maar dié vroeë werkperiode was minder geslaagd. Sy ouers het dit toe die beste beskou om hom na ’n oom aan moederskant, "oom Hendrik", te stuur sodat hy die boerdery op dié se eensame en afgeleë plaas, Remhoogte, sowat vyf uur te perd van Prins Albert af. Volgens eerw. Andries Dreyer was Hofmeyr toe nog ’n "wêreldling wat graag te koop geloop het met sy vervreemding van God deur alles te spot wat goddelik was".
In die jaar 1862 het sy oom ’n biduur in die omgewing ingestel. Daarheen moes hy na ’n naburige plaas te perd ry en sy jong susterskind het die perd na hom gebring. Toe hy die perd bestyg, vra hy Stephanus of hy dan nie saamkom nie. Hy het sy oom se uitnodiging vriendelik van die hand gewys, maar die ruiter was net enkele treë weg toe, so skryf eerw. Dreyer, "deur die Gees van die Here Stephanus se antwoord (aan sy oom) hom die eerste blik in die sondigheid van sy eie hart gee. Sy hart is gebreek en hy moes, toe hy in sy kamer kom, kniel en bely: 'O God, ek is ’n sondaar!'" Van toe af was dit nooit weer nodig om hom te vra of hy saamgaan na ’n biduur nie. Hy het die siel van die bidgeselskap geword en, begaaf met ’n aangename stem, het hy altyd voorgegaan by die sang. En mettertyd het in hom ’n seldsame gawe ontwikkel om te bid en oor die Bybel te praat sodat selfs ’n klein kind dit kon verstaan.
Volgens ’n ander weergawe van sy inkeer het hy "in April 1862 by die stookketel in die wynkelder tot 'n kragdadige bekering (gekom) en ontstaan by hom die begeerte om as sendeling onder die heidene te gaan werk". Maree, W.L. in De Kock, W.J. (hoofred.) 1968. Suid-Afrikaanse Biografiese Woordeboek, deel I. Kaapstad: Nasionale Boekhandel Beperk. Prof. G.B.A. Gerdener skryf as volg: "Tussen drie en vier jaar het hy geskommel tussen hoop en vrees, die prooi van diepe onsekerheid, totdat in Maart 1862 die lig op sy lewenspad geval het soos weleer op die Damakuspad, waar 'n Saulus herskep is tot die groot apostel Paulus. So was dit daar by die brandewynsketel op Remhoogte waar die lig op sy siel geval het en hy die nuwe ingestap het."
Opleiding en roeping regs|duimnael|180px|Ds. J.H. Neethling van die Stellenbosse moedergemeente, was eerw. Hofmeyr se swaer en jare lank voorsitter van die Kaapse Kerk se Sendingkommissie.
Omstreeks 1863 gaan Hofmeyr na die Stellenbosse Kweekskool om hom as predikant te bekwaam sodat hy sendingwerk kon gaan doen. Hy kon egter nie sy voorgenome kursus voltooi nie omdat, volgens eerw. Dreyer in sy Eeuwfeest-Album van de Nederduits Gereformeerde-Kerk in Zuid-Afrika 1824 - 1924, "sijn hoofd te zwak was" of in sy Historisch Album van De Nederduitsche Gereformeerde Kerk in Zuid Afrika "omdat het hem aan de noodige lichaamskrachten ontbrak". Dreyer, eerw. A. 1910. Historisch Album van De Nederduitsche Gereformeerde Kerk in Zuid Afrika. Kaapstad: Cape Times Beperkt. Prof. G.B.A. Gerdener skryf oor die skielike beëindiging van Hofmeyr se studie: "Dog sy hoof het hom reeds die volgende jaar (nadat hy Kweekskool toe is) belet om sy studies voort te sit..."
Nadat Hofmeyr sy godsdiens-onderwyseksamen in 1863 afgelê het, gaan werk hy met groot seën onder wit en bruin op Franschhoek. Sy begeerte om onder die verre heidene te gaan werk en die evangelie aan hulle te kondig, was egter so sterk dat hy skaars ses maande daar was toe hy aan sy neef ds. J.H. Neethling skryf en verklaar dat hy gereed is om te gaan, selfs al is dit dan na die Zambezi. Ds. Neethling het geantwoord: "Mev. MacKidd is oorlede. Br. MacKidd vra hulp. Is jy gewillig om daarheen te gaan." Ds. Alexander MacKidd was ’n sendeling in die Soutpansberg-gebied. Vir Stephanus Hofmeyr was dit gebedsverhoring. ’n Paar maande later is hy in die NG kerk op Stellenbosch plegtig afgevaardig na die sendingveld. Volgens ’n ander weergawe het die Sendingkommissie van die Kaapse Kerk hom genader om ds. MacKidd by te staan." Dit kan ook wees dat ds. Neethling die kommissie versoek het om Hofmeyr te vra om na Soutpansberg te gaan aangesien hy sekretaris van die Buitelandse Sendingkommissie was. Nietemin was hy die eerste Afrikanerseun was sy dienste tot beskikking van die sogenaamde Buitelandse Sending van die Kaapse Kerk te stel; "buitelands" omdat dié kerk indertyd tot die Kaapkolonie beperk was.
Na die sendingveld duimnael|links|180px|Ds. Alexander MacKidd, die NG Kerk se eerste buitelandse sendeling, het die aanvoorwerk in Soutpansberg gedoen.
Vier dae nadat hy op 21 November 1864 in die Stellenbosse kerk vir die sending afgesonder is, vertrek Hofmeyr en ’n bruin helper per eselkar na die noorde. Hulle het die sendingstasie Goedgedacht van ds. Alexander MacKidd in die Soutpansberg op 6 Februarie 1865 bereik. Dié stasie is aangelê aan die voet van Soutpansberg naby die ou Schoemansdal op grond wat ’n boer geskenk het. Ds. MacKidd het aan die begin van 1863 'n versoek deur bemiddeling van ene Cornelis Lottering van kaptein Michael Buys (of De Buys, 'n seun van Coenraad de Buys) ontvang om na Soutpansberg te kom om hom en sy kinders en hul onderhoriges te onderrig. Hy het daarheen gegaan vergesel van sy eggenote, wat hom reeds in 1864 ontval het, 'n slagoffer van die koors. Omdat hy hom toe bitter eensaam gevoel het, vra hy ondersteuning waarna die Sendingkommissie die jeugdige Hofmeyr na hom gestuur het. Oor sy aankoms op die sendingstasie, het eerw. Hofmeyr later geskryf: "Ik kwam op de statie Goedgedacht op 6 Februarie 1865. Broeder MacKidd was juist in de school. Hij was zo verblijd, toen hij vernam, wie ik was, dat hij mij om de hals viel en kuste, weenende." Hoewel MacKidd nog diep bedroef was ná sy vrou se dood, het Hofmeyr hom steeds ywerig aan die werk aangetref. Van sy bevindinge tydens sy aankoms het hy verder geskryf (uit die Hollands vertaal): "Ek het geen enkele bekeerde daar gevind nie, nog minder ’n onderwyser of evangelis en geen ander sendeling buiten br. MacKidd nie. Hy het egter die fondament goed en heg gelê. Hy was in die volste sin van die woord ’n man van gebed, en het ook die mense op die stasie leer bid. Sonder die gebed word niks onderneem nie, en die mense gaan soggens vroeg of ná afloop van die skool veld toe om daar agter die bosse en struike te bid."