Die NG Kerk Vrystaat is een van die nege streeksinodes van die Nederduitse Gereformeerde Kerk. Sy grense stem min of meer ooreen met dié van die provinsie Vrystaat.
Die Kerk anderkant die Oranje duimnael|links|180px|Eerw. Erasmus Smit was die Trekkers se eerste geestelike leier, maar onder meer sy onaantreklike persoonlikheid het daartoe gelei dat sommige trekkers liewer 'n Engelse sendeling se dienste bygewoon het.
duimnael|regs|180px|Eerw. Daniel Lindley was die Trekkers in Transgariep se geestelike leier van Januarie 1841 tot 1847.
duimnael|regs|200px|Toe Gert Maritz by Blesberg (nou Thaba Nchu) in die Vrystaat aankom, was daar reeds 28 waens. Hier is die Vrystaat se eerste kerkraad gekies.
links|duimnael|180px|Sarel Cilliers, die groot Voortrekkerleier, was een van die eerste diakens wat op Blesberg bevestig is.
Die eerste draers van die NG Kerk en die Christelike godsdiens na die gebied wat vandag as die Vrystaat bekend is, was agtereenvolgens die trekboere of veeboere, die sendelinge en die Voortrekkers. Die doel van die beweging of trek van die trekboere was nie om van die koloniale gesag los te kom nie, maar om voldoende plaasgrond en weiveld te verkry. Hierdie trek is in die begin van die negentiende eeu versnel deur herhaalde droogtes en die vernietiging van die weiveld suid van die Oranjerivier deur sprinkane en trekbokke; daarenteen was die Groot Trek 'n doel-bewuste, georganiseerde massabeweging van ongeveer 10 000 mense om sodoende hulle van alle Britse gesag vry te maak en in die binneland 'n onafhanklike staat te stig. Oberholster, dr. J.J. Die Ned. Geref. Kerk in die Oranje-Vrystaat.
Hierdie mense was nie fortuinsoekers of ongelowiges nie, want Piet Retief stel die gesindheid van die trek in sy Manifes baie duidelik : "Wy verlaten nu het vruchtbare land onzer geboorte, waarin wy enorme verliezen geleden hebben, en gedurige ergernis, en staan gereed een vreemd en gevaarlyk gebied in te gaan, maar wy gaan met een vast vertrouwen op een alzienden, rechtvaardigen en genadigen God, dien wy altoos vreezen zullen, en in alle nederigheid zullen trachten te gehoorzamen."
Die eerste geestelike bearbeiding In die eerste jare was daar geen sprake van gereelde geestelike bearbeiding van die wydverspreide Trekkers nie, veral weens die geweldige tekort aan leraars in die Kaapkolonie en ook weens verskil van oordeel oor die Trekkers. Daarby het die "Goewerment van onze nieuwe Republiek nog geen vaste fonds tot onderhoud" van 'n leraar nie, sê Erasmus Smit in sy dagboek. Juis toe was dit die sendelinge wat 'n groot aandeel geneem het in die vestiging van die kerk oorkant die Groot Rivier. ’n Voorbeeld van die Trekkers se reis na die noorde en hul wedervaringe is die trek van Gerrit Maritz, wat op 15 November 1836 uit Olifantshoek (vandag Alexandria) vertrek het. Hul eerste bestemming was Blesberg (vandag Thaba Nchu) waar eerw. James Archbell 'n Wesleyaanse sendeling, daar naby onder die Barolongs gearbei het. Saam met Gerrit Maritz wat op 19 November by hierdie versamelplek aankom, waar nou reeds 28 waens in die trekgeselskap was, kom Erasmus Smit en sy eggenote, 'n eie suster van Gerrit Maritz.
Om die een of ander rede wou veral die Potgieter-groep van die trek nie Smit se geestelike leierskap erken nie en 'n deel van die Trekkers bly gevolglik van sy dienste weg en woon dié van Archbell by. Moontlike faktore wat tot hierdie situasie kon bydra, was sy ouderdom (59 jaar), sy swak gesondheid, sy onaantreklike persoonlikheid en sy vroeëre verbinding vanaf 1814 met die Londense Sendinggenootskap en dr. J.T. van der Kemp. Nogtans lewer hy getroue dienste aan die "reizende Kerkgemeente" of "reizende Gereformeerde Kerkgemeente in de woestyn," soos hy die trek in sy dagboek bestempel.
Die eerste kerkraad en leraar Op 8 Februarie 1837 is Stefanus Maritz as eerste ouderling en Sarel Cilliers en Christiaan Viljoen as eerste diakens vir die trekkende gemeente gekies. Op 21 Mei 1837 is Smit deur Piet Retief, die "goewerneur" van die Trekkers, aan die gemeente "voorgestel" as die eerste leraar nadat hyself die Bevestigingsformulier gelees en daarop geantwoord het. Nou kon hy, ondanks voortdurende ontevredenheid, die werk voortsit deur twee maal op 'n Sondag onder 'n bokseil te preek, katkisasie te hou, huwelike te bevestig en verdere ampspligte uit te voer.
Op Sondag 11 Junie 1837 is Retief as goewerneur en opperbevelhebber van die trek in die toekomstige "vrye provincie van Nieuw Holland in Zuid Oost Afrika" deur Erasmus Smit aan die gemeente voorgestel nadat hy 'n rede oor 1 Kron. 11:1-13 gelewer het. Daarna versoek hy Retief wat op 'n kussing voor 'n tafel wat as preekstoel dien, neerkniel om sy linkerhand op 'n geopende Bybel te lê terwyl hy met opgesteekte vingers van die regterhand die ampseed as goewerneur aflê. Ná die bevestiging van die leraar, die verkiesing van kerkraadslede en die inswering van die goewerneur, gaan sake 'n vaster en gereelder gang.
Erasmus Smit het gereeld notule van kerkvergaderings gehou en 'n Doopregister aangelê waarin die eerste doopsbediening onder die Trekkers op 17 Maart 1837 van Adryana Petronella Janse van Vuuren, gebore op 1 Desember 1836 te Blesberg, geregistreer is. Dit is die eerste selfstandige geregistreerde doopsbediening in die Nederduitse Gereformeerde Kerk in die Transgariep. Eerw. J. Archbell het op 6 Oktober 1837 'n tweede Doopsregister in die laer van Petrus Lavras Uys aangelê. Die eerste bediening van die Nagmaal het op 28 Oktober 1837 plaasgevind. Op 31 Oktober 1837 meld Smit in sy dagboek dat hy vier jong dogters in die veldtent van J.D. Hattingh voorberei om belydenis van geloof af te lê.
Die eerste Vrystaatse gemeentes Winburg duimnael|260px|regs|Winburg se ou NG kerkgebou.
Reeds 1838 ruil Hendrik Potgieter die hele gebied tussen die Vet- en Vaalrivier vir 42 beeste en, ná heelwat meningsverskil, word eindelik algemeen gevoel dat die plaas Waaifontein (later Wenburg en nog later Winburg) die geskikte plek vir die aanlê van 'n dorp is. Dit word ook die middelpunt van die gemeentelike lewe. In 1842 bring eerw. Daniel Lindley (die opvolger van eerw. Smit van 16 Januarie 1841 tot 1847) vanaf Pietermaritzburg, 'n eerste besoek aan Winburg en in daardie jaar word die eerste Doop- en Lidmateregister aangelê. Dit is die stigtingsjaar van dié gemeente.
Gedurende sy drie besoeke (1842, 1844, 1845) doop hy 1 303 kinders en sy medereisiger, ouderling Gert Naudé, skryf die name in "de Gereformeerde Christelyke Kerk by de gemeente van Winburg, zedert 31 Maart 1842." Die eerste huwelik is op 20 September 1843 geregistreer en tydens die besoek van di. Andrew Murray sr. en P.K. Albertyn word kerkraadslede gekies, te wete T.F. Theron en H.W. Wessels as ouderlinge, en C.J. Louwrens, J.J. Pienaar, P.J. Naudé en A.H. le Roux as diakens. Die eerste leraar is ds. Dirk van Velden, bevestig deur ds. A. Murray in 1850. Die kerk waarvan die hoeksteen in 1853 gelê word, is in 1858 ingewy. Tussen 1842 en 1848 is die eredienste onder bokseile gehou.
Fauresmith 270px|links|duimnael|Fauresmith se ou NG kerk.
In Mei 1846 besoek ds. W. A. Krige (Victoria-Wes) as deputaat van die Ring van Graaff-Reinet die Trekkergemeenskap aan die Rietrivier waar hy huisbesoek doen en 94 kinders doop. Hierdie besoek is van die allergrootste belang omdat dit die begin is van die herstel van goeie verhoudings tussen die Kaapse Kerk en die Trekkers. Hy samel ook £700 in vir die aankoop van kerkplaas en £124 per jaar vir vyf jaar vir 'n leraar. Sy verslag oor die geestelike nood van die Trekkers en hul brandende behoefte aan "en behoorlyk Godshuis en eenen leraar" dien voor die Ring van Graaff-Reinet en voor die Sinode van 22 Oktober 1847.
Op voorstel van ds. Abraham Faure, wat die skreiende nood van die Trekkers in Natal waargeneem het, benoem hierdie Sinode 'n deputasie, bestaande uit ds. Andrew Murray sr. (Graaff-Reinet) en ds. P.K. Albertyn (Prins Albert) en oud. Barend Pienaar (Richmond), om die Trekkers te besoek. Die Trekkers langs die Rietrivier kom, op versoek van ds. Murray, die deputasie op Richmond op 1 Maart 1848 met twee perdewaens haal. Op 3 Maart begin die reis en op 7 Maart 1848 kom hulle op die plaas Groennek aan die Rietrivier uitspan. Op 11 en 12 Maart is hulle op die plaas Groenkloof waar hulle die Woord verkondig en die tweede gemeente in die Transgariep stig, naamlik Fauresmith met die eerste kerkraad bestaande uit A.J. Lubbe en W.J. Coertze as ouderlinge en T.A. du Toit, W.D. Jacobs, R. Weideman en A. Griesel tot diakens. Ds. A. A. Louw is in 1853 as eerste leraar bevestig.
Smithfield duimnael|regs|200px|Die vorige kerkgebou van die NG gemeente Smithfield.
Na aanleiding van die verslag van di. Murray en Albertyn en 'n dringende versoek van die kant van die nuwe gemeente Rietrivier om tog weer 'n besoek te kry, besluit die Sinodale Kommissie op 3 Augustus 1848 om dr. Philip E. Faure (Wynberg, moderator van die Kaapse Sinode) en dr. William Robertson na die emigrante te stuur. Op 16 Oktober vertrek die deputasie uit Kaapland en sou op 31 Oktober by Colesberg wees waar die Kerkraad van Rietrivier 'n span vars perde gereed moes hê om vandaar na Groenkloof in die gemeente Rietrivier te gaan. Van hier gaan hulle al langs die Rietrivier op tot by die plaas Waterval waar hulle op 25 November 1848 Smithfield as die derde gemeente in hierdie gebied stig. Ds. Piet Roux is in 1852 as eerste leraar bevestig. Die eerste kerkraadslede was: J.T. Snyman en H.J. Wessels as ouderlinge en G.H. van der Walt, P. du Plessis, C.J. Rood, J. Vermaak en W. Vogel as diakens. Die hoeksteen van die eerste kerkgebou sou in 1856 gelê word, maar voor voltooiing van die gebou sak die mure ineen en moes van vooraf begin word met 'n ander gebou wat in 1862 ingewy is.
Bloemfontein duimnael|links|270px|Bloemfontein se eerste NG kerkie, ingewy omstreeks 1850, was ook die eerste NG kerkgebou in Vrystaat.
Enkele dae later bereik hierdie deputasie Bloemfontein, die hoofstad van die Soewereiniteit, en stig op 30 November 1848 die gemeente Bloemfontein waar 'n Kerkraad gekies word bestaande uit W. Sterrenberg Pretorius en Jacobus van Zyl as ouderlinge en A.J. Erwee, J.D. Griesel, P.W. Coetzer en J.P. Maree as diakens. Die Nagmaal word aan 25 persone bedien, 31 kinders word gedoop en 33 lidmate bevestig. Op 6 Mei 1849 is ds. Andrew Murray as predikant van Bloemfontein en daarmee as die eerste vaste predikant in die Vrystaat bevestig. Die hoeksteen van die eerste kerkgebou in die Vrystaatse hoofstad word deur maj. Warden gelê en die gebou word op Saterdag 29 Mei 1852 plegtig aan die diens van die Here gewy. Di. Dirk van Velden, John Murray en J.H. Neethling neem deel aan die verrigtinge. Hierdie gebou is ná ongeveer 30 jaar diens vervang deur 'n nuwe gebou, die beroemde Tweetoringkerk, waarvan president J.H. Brand die hoeksteen op 7 Mei 1878 lê en wat op 7 Mei 1880 in gebruik geneem word. Aangesien die gebou op dieselfde terrein opgerig word, word die eredienste intussen in 'n pakhuis wat deur die saak Fichardt Beperk beskikbaar gestel is, gehou. In die latere kerkgebou lê die Vrystaatse presidente J.H. Brand, F.W. Reitz en M.T. Steyn die ampseed af.
Harrismith duimnael|regs|270px|Harrismith se ou kerkgebou voltooi die vyftal van oudste Vrystaatse gemeentes wie se vorige kerkgebou almal gesloop is.