Die Goggomobil was 'n reeks mikromotors wat na die Tweede Wêreldoorlog deur Glas in die Beierse dorp Dingolfing geproduseer is.

Glas het drie modelle op die Goggomobil platform geproduseer: die Goggomobil T sedan, die Goggomobil TS koepee, en die Goggomobil TL wa. Die enjin was 'n lugverkoelde, tweeslag, inlyntweesilindereenheid wat oorspronklik 245 cc verplaas het, maar later vergroot is na 293 cc en 392 cc. Dit het 'n elektriese pre-selektiewe oordragkas gehad, vervaardig deur Getrag, en 'n voetkoppelaar. Die enjin was agter die agterwiele gemonteer. Die vering was deur die aanwending van kronkelvere en swaaiasse rondom onafhanklik.

Altesaam 214 313 sedans, 66 511 koepees en 3 667 transportwaens en bakkies is van 1955 tot 1969 gebou.

Glas Hans Glas GmbH is 'n voormalige Duitse motormaatskappy, wat in Dingolfing gebaseer was. Glas was oorspronklik 'n vervaardiger van plaasmasjinerie, en het ontwikkel tot 'n vervaardiger van bromponies en mettertyd ook motors. BMW het die firma in 1966 aangekoop, hoofsaaklik om toegang tot Glas se patente te verkry, aangesien hulle die eerste was om 'n tydreëlband te gebruik vir 'n oorhoofse nokas in 'n motoraanwending.

Verwysings

Kategorie:Motorvoertuie