Die Alfa Romeo Alfa 6 (Tipe 119) is 'n luukse uitvoerende motor wat van 1979 tot 1986 deur die Italiaanse vervaardiger Alfa Romeo gebou is. Sy naam verwys na die ses silinders van die Alfa Romeo V6, wat sy eerste verskyning in hierdie motor gemaak het.

Met sy bekendstelling in 1979 was die Alfa 6 die vlagskip van die Alfa Romeo-reeks. Die vierdeurbakwerk was 'n redelik konvensionele styl, en het 'n groot aantal dele met die bestaande Alfetta gedeel, bv. die deurpanele. Die ontwerp vir die 6 is reeds voor die Alfetta gedoen, maar die brandstofkrisis van 1973 het verdere ontwikkeling vertraag en gelei tot die 6 se debuut eers teen 1979. Die stilering was nie besonder aerodinamies nie, maar 'n goeie sleursyfer van 0.41 is nietemin behaal. Krag is verkry uit 'n heelnuwe 2.5 V6-enjin wat 156 kW teen 5600 rpm gelewer het, met 'n totaal van ses vergassers en 'n enkele, bandgedrewe nokas in elke silinderkop.

Kragstuur, elektriese vensters, sentrale sluiting, elektriese kantspieëls en 'n 25% beperkte glipewenaar was standaardtoerusting, wat die Alfa 6 prysmededingend gemaak het in vergelyking met soortgelyke sedans van sy tyd, aangesien sulke toerusting normaalweg 'n duur ekstra was. Die motor was ook ontwerp om nuwe standaarde vir veiligheid daar te stel; dit het bv. 'n skoksensor in die kattebak gehad wat die brandstoftoevoer kon afsny in die geval van 'n botsing.

Verwysings

Alfa 6